Jesus eet die paasmaal met sy dissipels

Lees Matteus 26:20-35

Dis al laat die middag toe Jesus en die ander tien dissipels by die bovertrek aankom waar Petrus en Johannes die ete reggekry het. Jesus gaan neem sy plek aan die tafel in, en al die dissipels volg sy voorbeeld. Toe almal op hulle plek is, staan Hy op. Sy glimlag is stram van die ingehoue spanning. “Ek … Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Dit sal my laaste wees. Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

Toe trek Hy sy bokleed uit en loop na die waskom teen die muur. Daar bind Hy ’n handdoek om sy middel en gooi water uit die kruik in die waskom. Met dié loop Hy na die tafel terug en begin om die dissipels se voete te was, en dit dan af te droog met die handdoek om sy middel.

Dit het doodstil geword in die vertrek. Die dissipels is so skaam, hulle kan deur die vloer sink. Nie een van hulle het daaraan gedink om die ander se voete te was nie. Dis die slaaf se werk, en hulle het nie ’n slaaf nie.

Toe Jesus Judas se voete was, kyk Hy op en glimlag met hom. Judas lyk verward, maar sê niks. “Wat is dit, Judas?” nooi Hy hom om te praat.

Judas skud sy kop heftig. “Niks nie, Rabbi. Niks nie.”

Toe Hy heel laaste by Petrus kom, trek Petrus sy voete onder hom in. Die trane blink in sy oë toe hy sê: “Nee, Rabbi, dit kan nie. Dis verkeerd, heeltemal verkeerd! Ek sal dit nooit as te nimmer toelaat nie.”

Jesus kyk na Petrus se betraande oë en word self ook bewoë. Hier is darem een dissipel wat die moed het om te sê wat hy voel. Dan dwing Hy ’n skewe glimlag op sy gesig en sê: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

Petrus se voete kom skugter onder sy lyf uit. “Rabbi, dan nie net my voete nie maar ook my hande en my gesig.”

“Nee, Petrus, iemand wat klaar gebad is, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

Johannes kyk vraend na Petrus. Wat sou Hy daarmee bedoel? Hy het tog nie een van hulle oorgeslaan nie? Maar Petrus haal ook net sy skouers op.

Toe Jesus weer kom sit, sê Hy: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want dit is wat Ek is. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel; gelukkig is julle as julle ook so maak.”

Jesus glimlag en beduie na die tafel. “Dankie, Johannes, Petrus. Julle het goeie werk gedoen. Kom ons begin.”

As hoof van die maaltyd skink Jesus die eerste beker wyn en meng dit met water. Daarna begin hulle eet. Hulle eet van die voorgereg: stukkies brood wat hulle in die vleissous druk. Die dissipels is honger; dit was ’n lang dag, en hulle lê met mening weg. Maar nie Jesus nie. Hy is besig om in sy hart afskeid te neem van die manne wat drie en ’n half jaar lank dag en nag by Hom was. Manne wat Hy leer liefkry het, soos sy vurige neefs Jakobus en Johannes. Hy glimlag. Johannes kan soms soos ’n donderslag te kere gaan, maar hy het ’n hart van goud. En dan is daar Petrus, die impulsiewe dissipel, die man wat alles met oorgawe doen, segsman van almal. En sy broer Andreas, die stil ou, altyd ingestel op die ander mense om hom, en Tomas, effens skepties oor goed wat hy nie self gesien het nie. Daar is Matteus, en Filippus, en Natanael, en Simon die Seloot, en Jakobus seun van Alfeus, en Judas seun van Jakobus; manne uit een stuk, maar tog ook manne wat naïef is, totaal onbewus van die kragte wat op hierdie aand aan die werk is. En dan is daar natuurlik ook Judas Iskariot: die enigste een van die twaalf wat meer weet van die belangrikheid van hierdie aand.

Jesus se oë rus lank op Judas. Dan sê Hy sag, maar sy stem dra tot by elkeen om die tafel: “Die Skrif sê: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’”

Die dissipels kyk onthuts op, en Jesus vervolg: “Ek sê dit vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is.”

Jesus se stem is vol droefheid toe Hy byvoeg: “Een van julle sal My verraai, een wat saam met My hier aan tafel is.”

Die dissipels kyk na mekaar. Nie een weet wat om te sê nie.

“Dis tog seker nie ek nie, Rabbi?” vra Andreas, na aan trane, en toe vra die ander dit ook.

Petrus se oog vang Johannes s’n. Hy beduie vir hom dat hy moet vra van wie Jesus praat. Johannes is langs Jesus, aan sy regterkant. Hy leun toe oor na Jesus en vra: “Here, watter een van ons is dit?”

Jesus se antwoord is sag, vol ingehoue emosie: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek.”

Judas se hand ruk terug uit die skottel, sodat die sous ’n streep oor die tafel loop. Net sy hand was saam met Jesus s’n in die skottel! Hy loer onderlangs na die ander, maar hulle het dit blykbaar nie gesien nie of nie verstaan nie, want hulle kyk nie na hom nie.

Maar Jesus kyk na hom, en sy oë hou Judas s’n gevange toe Hy saggies vir hom sê: “Die Seun van die mens gaan inderdaad doodgemaak word soos daar oor Hom geskryf staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Dit word koud in Judas se hart, so koud soos ’n stuk ys, en hy skeur sy oë van Jesus se alwetende blik af weg. Hy sit net so, met die stuk brood wat drup van die sous in sy hand. Die sous loop oor sy vingers en langs sy arm af, maar hy kom dit nie agter nie. Dis asof Jesus se oë hom deurboor het.

Eindelik kyk hy weer op, reg in Jesus se oë wat die hele tyd op hom gerig is. Toe sê Hy: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen.”

Judas steek die stukkie brood in sy mond, staan op en loop sonder ’n woord by die deur uit; sonder om eers vir oulaas na sy rabbi te kyk.

 

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Jesus het presies geweet waarmee Judas besig was, en tog was Hy sý voete ook, en laat hom toe om met sy bose plan voort te gaan. Hoekom doen Hy dit?

∙ Wat beteken dit vir jou om Jesus toe te laat om jou voete te was?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 17

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.