Jesus in Getsemane

Lees Matteus 26:36-56

Dis ’n helder volmaan- aand. Hy neem hulle met die trappe af na die straat, en daarvandaan uit die stad, en op in die Kedronvallei na die Olyfberg. Teen die hange is daar ’n tuin met ’n olyfboord en ’n olyfpers: Getsemane. Hulle was al dikwels hier; dit is ook die plek waarheen hulle gewoonlik ná die paasmaaltyd kom, want die bome gee skuiling teen die koue van die lentenag.

“Sit hier en wag vir My,” vra Jesus vir die dissipels. “Ek wil gaan bid.”

Jesus neem net vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom, dieper die tuin in. Daar gaan Hy staan en buig vorentoe met sy kop in sy hande. “Ek is benoud tot die dood toe,” sê Hy vir hulle. “Bly hier en hou wag terwyl Ek bid.”

’n Entjie verder sak Hy op sy knieë neer en bid: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg.”

Dis doodstil in die tuin. Net die hamerslae van sy eie hart verbreek die stilte om Jesus. “Ek is bang, Vader. Ek wil nie die lyding deurgaan wat op My wag nie.”

Die sweet tap Hom af en drup op die grond. As dit net anders kon! Dan bid Hy verder: “Maar nogtans, Vader – nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Uiteindelik kry Hy genoeg krag bymekaar om op te staan en na sy vriende terug te gaan waar hulle waghou. Maar hulle hou nie wag nie, hulle slaap. Hy maak vir Petrus wakker. “Ek is benoud, Petrus, en julle lê en slaap!” sê Hy dringend. “Help My, asseblief! Hou wag terwyl Ek bid.”

Weer ’n keer gaan Hy op sy knieë. Maar hierdie keer bid Hy nie dadelik nie; Hy wag dat die stilte van die nag ook sy hart moet stil maak, maar die benoudheid bly. Dan bid Hy: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil dan geskied.”

Hy gaan soek weer troos en krag by die dissipels, maar hulle slaap weer, sodat Hy ’n derde keer alleen gaan bid.

Toe Hy van sy knieë af opstaan, sien Hy die flikkerende lig van fakkels in die kronkelpad opkom; weet Hy dis die mense wat Hom kom haal. Maar die doodsangs van vroeër is weg. Hy voel vreemd kalm, en weet dat ’n engel Hom kom versterk het. Hy is gereed.

Toe Hy die groep mense sien nader kom, gaan Jesus na sy dissipels toe. “Word wakker! Die tyd het aangebreek. Die Seun van die mens gaan nou in die hande van sondaars oorgegee word. Staan op, kom ons loop. Die man wat My verraai, is hier naby.”

Net toe kom die horde daar aan: party met swaarde in die hand, ander met dik stokke. Daar is ook enkele soldate onder hulle. Judas loop voor met ’n fakkel in die hand. In die gloed van die vlam lyk sy gesig spookagtig bleek; sy oë soos groot vuurballe.

“Waar kom jy nou vandaan?” vra Tomas verbaas. “Jy was so lank weg, jy het die hele paasmaaltyd gemis.”

Judas antwoord nie; hy loop verby, reguit na Jesus toe. Dis nou die oomblik waaraan hy so fyn beplan het. Jesus móét nou net na vore kom en homself as koning laat uitroep. ’n Vlietende twyfel trek deur sy gemoed as hy in sy gedagtes weer Jesus se woorde van vroeër die aand hoor: “Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Dan ruk hy hom reg. Hy kan nie nou meer omdraai nie. Hy moet hierdie geleentheid vir Jesus bied om Homself te bewys. Tog is sy glimlag stram toe hy na Jesus toe loop en Hom met ’n soen groet. “Goeiemôre, Rabbi.”

Daar is ’n diepe pyn in Jesus se stem toe Hy sê: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Maar Judas hoor nie die pyn nie. Hy hoor in sy verwarde gemoed die koninklike opdrag van die Messias. Triomfantlik draai hy om na die klomp wat saam met hom gekom het, en roep uit: “Menere, hier is Hy: die Messias!”

Malgus, die hoëpriester se slaaf, tree vorentoe, dolk in die hand, om die man wat sy eienaar soveel slapelose nagte besorg, in hegtenis te neem.

Die volgende oomblik gaan Petrus oor tot aksie. Hy pluk ’n swaard onder sy kleed uit en storm met ’n brul op die slaaf af, wapen omhoog. Op die laaste moment sien die slaaf die swaard en koes weg vir die hou wat sy kop van sy nek moes kap. Hy is byna betyds; maar sy oor bly in die slag.

“Petrus!” Jesus se stem is soos ’n sweepslag, sodat Petrus verbouereerd gaan staan. “Sit jou swaard terug op sy plek. Almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.”

“Doen dit, Here!” fluister Judas dringend. “Doen dit nou!”

Jesus skud sy kop. “Hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Toe buk Hy, tel die afgekapte oor op en sit dit terug teen Malgus se kop, en daar is sy oor weer reg.

Toe draai Jesus na die mense wat Hom kom vang het. “Het julle met swaarde gekom om My te vang asof Ek ’n skurk is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer. Hoekom het julle My nie tóé gevang nie? Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”

Die kaptein kom uiteindelik tot verhaal en besef waarom hulle daar is. “Neem daardie man in hegtenis!” beveel hy, en die horde storm op Jesus af.

Toe word alles vir die dissipels te veel. Die oormag is heeltemal te groot. Hulle draai om en vlug die nag in. Markus wil ook weghardloop, maar hy het te lank gewag. ’n Man gryp hom aan sy lendedoek vas. Toe hy hom losruk, skeur die doek van sy lyf af, en hy hardloop kaal weg, agter die dissipels aan.

Jesus bly alleen agter. Hy sit Hom nie teë nie, en hou sy hande reg dat hulle Hom kan boei.

Judas staan versteen, kyk verslae hoe hulle sy Messias vasbind. Dít is nie hoe hy dit beplan het nie. Jesus sit Hom glad nie teë nie; Hy roep nie die legioene engele om Hom te help nie; en Hy het selfs vir Petrus beveel om sy swaard weg te sit. Die koue wat daar in die bovertrek sy hart vasgevat het, is terug. Sy voete voel soos lood toe hy omdraai en wegstrompel.

 

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Probeer jou inleef in die toneel by Getsemane. Wat sou jy gedoen het as jy daar was? En as jy vandag moet opstaan vir Jesus se eer?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 13

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.