Jesus voor die Joodse Raad
Lees Matteus 26:57-75
Johannes en Petrus volg die tempelwag op ’n veilige afstand. Oral in die gegoede buurt van die stad brand lig, en mense kom haastig uit hulle huise. Almal is na dieselfde plek op pad: die ampswoning van die hoëpriester. Die lede van die Joodse Raad het kennis gekry dat daar ’n noodvergadering gehou word.
“Het jy ’n plan?” vra Petrus toe hulle die ampswoning nader.
“Nee. Ek wil gaan kyk wat gebeur; miskien kan ons Hom help.”
“Maar hoe gaan ons daar inkom?”
“Ek ken die hoëpriester. Hy is ’n kleinneef van my ma.”
Johannes meld hulle by die deur aan en gaan sonder enige probleme in, maar Petrus steek vas, ontuis in die luukse omgewing. Toe hy ook wil ingaan, keer die diensmeisie wat die deurwag is, hom voor.
“Ek is saam met daardie man,” sê hy en beduie na Johannes.
Die meisie hou haar kop skeef. “Hoe klink jy dan vir my na ’n Galileër? Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, nee, nee. Ek is nie,” verseker Petrus haar, en toe is hy in by die deur.
Die deur loop uit op ’n portaal, en verder lei dit na ’n binnehof. Daar brand ’n vuurtjie, en die wagte en soldate wat Jesus gebring het, staan om die vuur, besig om hulle warm te maak. Petrus kyk rond, maar kan Johannes nêrens sien nie. Met die oponthoud by die deur het hy Johannes uit die oog verloor. Hy gaan staan toe maar saam met die ander by die vuurtjie.
Johannes is intussen na die hoëpriester se banketsaal. Dis ’n groot vertrek met ’n marmervloer. ’n Balkon loop aan drie kante om die saal, en dis hier waar Johannes hom tuis maak. Versigtig om nie aandag te trek nie, loer hy oor die balkonreling.
Jesus staan voor in die saal. Sy arms is agter sy rug vasgebind, en sy kleed is vuilgesmeer soos Hy rondgestamp is en geval het
op pad van die Olyfberg af. Maar Hy staan regop, sy kop hoog.
“Hoekom sê jy niks nie? Verdedig jouself,” sê die ou man wat voor by die tafel sit.
Jesus antwoord, en sy stem is vas en sterk: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom. Ek het niks in die geheim gesê of gedoen nie. Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
’n Wag wat naby Jesus staan, stap na Hom toe en klap Hom deur die gesig. “Antwoord jy die hoëpriester so?”
“Hoëpriester se voet,” brom Johannes. “Dis sy skoonpa Annas.”
Jesus draai na die wag. “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
“Menere!” roep Annas. “Ons het getuies nodig as ons die man wil laat doodmaak. Bring hulle vir my, dat ons kan voortgaan en dié hofsaak oorkry. Ek het nie die hele nag tyd nie.”
’n Ou man stap vorentoe. Hy wys met sy vinger na Jesus en sê: “Hierdie man het in my huis gesit toe boosdoeners my huis se dak oopgebreek en daar ingeklim het, en hy het niks gedoen om hulle te keer nie. Hy het hulle eerder geprys!”
Uitroepe soos: “Skokkend!” en: “Sies!” klink in die saal op.
“Skokkend, ja, maar nie ’n halsmisdaad nie, mense,” sê Annas.
“Ek het gesien hoe hy ’n hele trop varke die see in jaag,” sê iemand anders.
“Dit help ons niks. Varke is onrein,” sê Annas.
“Maar dis vernietiging van ander se eiendom.”
“Goed, ek teken dit aan.”
“Hy verbreek die sabbatswette om elke hoek en draai, en hy moedig mense boonop aan om dit te doen.”
“Ja, dit klink beter. Ek teken dit aan.”
“Hy het die Fariseërs en skrifgeleerdes uitgeskel vir alles wat sleg is. Ek het gehoor hoe hy sê hulle is huigelaars.”
“Onaanvaarbaar, maar nie ’n halsmisdaad nie,” sê Annas.
“Ja, maar hy sê die Fariseërs lei die mense op ’n dwaalspoor, en so maak hy ’n bespotting van die wet van Moses!”
“Goed, ek teken dit aan.”
“Hy het nou die dag soos ’n besetene op die tempelplein tekere gegaan en die hele offerdiens ontwrig.”
“A! Dit klink al nader aan die soort ding wat ons soek.”
Toe kom Kajafas vorentoe. Hy het vir die geleentheid sy volle hoëpriesterlike gewaad aangetrek. Die goue draad in sy blou mantel blink in die lamplig, en die klokkies wat aan sy soom vasgewerk is, klingel terwyl hy stap. Voor in die saal draai hy om en kyk Jesus minagtend aan. “Wat julle tot nou toe gesê het, is aan almal bekend. Maar dis nie genoeg nie, broers. Ons het getuienis nodig, bewyse nodig!”
“Ek wil ’n klag van heiligskennis lê,” sê een. “Hy het drie dae terug, toe hy sake op die tempelplein ontwrig het, gesê dat hy die tempel gaan afbreek.”
“Heiligskennis!
“Ja! Ek het dit ook gehoor. Hy het gesê hy gaan hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.”
“Dis reg. Hy het dit drie dae gelede gesê, in die pilaargang van Salomo.”
“Is nie, dit was eergister op die tempelplein.”
“Stil!” beveel Kajafas. “Julle weerspreek julle eie getuienis, en dan beteken dit niks nie.” Hy stap tot reg voor Jesus en bekyk Hom op en af. “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
Maar Jesus sê niks.
Toe sê Kajafas: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Messias, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?”
“Ja, Ek is,” antwoord Jesus met ’n helder stem. “Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”
Die hoëpriester se kop ruk op en hy steier ’n paar tree terug. Toe vat hy sy wit linnekleed by die hals vas en skeur dit oop. “Hy het God gelaster!” roep hy ontsteld uit. “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het nou net self die godslasterlike woorde gehoor, hier in die Raad. Wat dink julle? Wat moet ons vonnis wees?”
“Hy moet dood!” skree een.
“Dood!” roep nog een, en toe skree almal dit, en wens mekaar geluk.
Toe breek daar pandemonium los. ’n Man storm vorentoe en spoeg Jesus in die gesig. ’n Ander een slaan Hom met die vuis dat Hy agtertoe steier. Nog een gryp Hom van agter vas, en hulle bind sy oë toe. Toe slaan hulle Hom in die gesig en sê: “Jy is mos ’n profeet, Messias! Sê ’n bietjie vir ons wie het jou geslaan!”
Johannes sit dit alles doodstil en dophou, maar uiteindelik raak dit vir hom onhoudbaar. Hy is so naar dat hy wil opgooi toe hy omdraai en stil uit die saal padgee.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Wat kan jy leer uit die manier waarop Jesus Homself gehandhaaf het in hierdie haglike omstandighede?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 8





