Jesus aan die kruis

Lees Johannes 19:25-30

Maria kan nie glo wat besig is om te gebeur nie. Met haar hand oor haar mond kyk sy hoe hulle haar Kind op die kruis laat lê. Haar hart ruk saam met Jesus se liggaam met elke ruwe spyker waarmee die soldate Hom aan die kruis vasspyker, en toe sy hoor hoe Hy saggies van die pyn steun, draai sy haar kop weg. “Ek kan nie langer kyk nie,” snik sy.

Johannes seun van Sebedeus sit sy arm om haar rukkende skouers. “Ai, Tante, ek wens ek kon Hom help.”

“En ek, my kind. As ek maar in sy plek daar kon hang! Destyds toe ons Hom na die tempel geneem het om Hom as eersteling aan God te wy, was daar ’n ou man, Simeon. Hy het allerhande wonderlike dinge oor Jesus gesê. Dis asof ek hom nou nog kan hoor praat: ‘Hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel,’ het hy nog gesê. Hy het ook gesê ’n swaard sal deur my siel gaan. Ek het baie oor sy woorde gedink, maar ek het nooit in my ergste nagmerries kon droom dat die swaard waarvan hy gepraat het, só bitter seer sou maak nie.”

Maria kyk op, vas in sy pyndeurtrekte gesig, en snik. Jesus se oë beweeg stadig van haar na Johannes en toe weer terug na haar, en toe sê Hy: “Daar is u seun.” En vir Johannes sê Hy: “Daar is jou moeder. Sorg vir haar.”

“Ek belowe, Rabbi. Ek sal na haar omsien soos na my eie ma!”

***

Twaalfuur. Die son is weg, skielik, soos ’n lamp wat uitgedoof is. Dis donker. Verstikkend donker. Dis of alles stil geraak het. Daar trek nie ’n luggie nie.

Jesus hang aan die kruis. Dit voel of sy arms uit hul potjies gaan skeur. Die geringste beweging laat die bene in sy voorarms kraak soos dit teen die ysterpenne skaaf. Sy skouerblaaie druk teen mekaar van die hang, sodat dit moeilik is om asem te haal. Die wonde wat die gesel gelaat het, klop pynlik oor sy bors en rug.

Maar dit alles is niks. Dit is deel van sterf.

Veel erger is die angs in Jesus se hart. Hy is in die hel: die hel van sonde. Die sonde van die ganse wêreld, van die skepping af tot by die voleinding, kom op Hom neer, druk Hom plat, walg Hom, wurg Hom, verstik Hom, suig Hom af, af, af.

Dis die wil van die Vader.

“Eli?” My God?

“Eli?”

“Eli!!!”

Maar God antwoord nie; Hy is weg. Dít is die heel swaarste: dat Hy daar moet hang, en sy Vader is weg. Hy het gevlug voor die stank van die sonde. Hy het sy Seun, sy enigste Seun, wat Hy liefhet, geoffer op die altaar van Golgota, en padgegee.

***

Teen drie-uur die middag wyk die duisternis. Die son skyn meteens weer, asof dit weer aangesteek is.

Jesus kyk op na die blou hemel en roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Maria stap na een van die soldate. “Meneer, kan julle nie vir Hom ’n bietjie water gee nie? Hoor net hoe skor is sy stem. Sy keel is kurkdroog.”

“Ja, ou vrou, as dit jou gelukkig sal maak,” sug die soldaat. Hy vat ’n spons vol suur wyn en druk dit teen Jesus se lippe. “Dè, drink!”

Jesus kyk dankbaar na sy ma vir hierdie laaste liefdesdaad, en sê met ’n sug: “Dit is nou afgehandel.” Toe kyk Hy op en roep hard: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”

Sy kop sak op sy bors, en saggies, so saggies, blaas Hy die laaste asem uit.

Die Lam van God is dood.

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Staan ’n rukkie in jou gedagtes stil by Jesus se kruis.

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 8

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.