uit my boek “Die Hemelbodes

Soos altyd wanneer hulle in die troonsaal kom, tref die grootsheid Gabriël weer. Die eerste wat sy oog vang, is God self in sy ewige majesteit op die troon. Rondom die troon is daar ’n reënboog met ’n skitterende smarag-glans. Weerligstrale speel onafgebroke om die troon, en hulle dreunings en donderslae vul die hele ruimte. Voor die troon is dit blink-glad en byna deursigtig, soos helder kristal.

Om die troon vlieg die ses-vlerkige serafs, gereed om elke bevel van God uit te voer. Sonder ophou aanbid hulle Hom wat op die troon sit, en roep mekaar toe:

Heilig, heilig, heilig
is die Here God, die Almagtige,
Hy wat was en wat is en wat kom.
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Eenkant staan die ontslape gelowiges in hulle wit klere, elkeen met ’n oorwinnaarskroon op die kop. Gabriël se oë gly oor die menigte wat daar staan. Hulle is almal daar: Adam en Eva, Henog, Noag, Abraham, Sara, Isak, Israel, Juda, Josef, Moses, Aäron, Mirjam, Josua, Boas, Rut, Dawid … Ook Johannes die Doper staan daar, naby Sagaria en Elisabet. En telkens wanneer die serafs hulle aanbiddingslied voltooi, kniel al die mense voor die troon, haal hulle krone af en aanbid God met die lied:

Here, ons God, U is waardig
om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang
omdat U alles geskep het;
deur u wil het alles ontstaan
en is dit geskep.

Dan is dit hulle, die engele, se beurt. Uit volle bors sing hulle onder leiding van Uriël hulle lied:

Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!

Gabriël se blik beweeg weer na die troon se kant toe, en dan sien hy dit! Die verseëlde boekrol lê nie meer soos altyd op die altaar skuins voor die troon nie. Duidelik onthou hy nog die dae toe die boekrol oop voor die troon gelê het, vol geskryf met alles wat God vir sy skepping beplan. En toe op ’n dag, nadat Lucifer vir Adam en Eva daar in die Tuin van Eden verlei het, was die boekrol opgerol en verseël, nogal met sewe seëls. Van toe af lê die boekrol daar op die altaar, toegemaak. Hy en Migael het daarna baie oor die boekrol gepraat, en tot die gevolgtrekking gekom dat die boek toe is omdat die sonde in die wêreld gekom het en Lucifer probeer om God se Raadsplan met die wêreld omver te werp. Op een of ander manier het Lucifer se streke die ontplooiing van God se Raad aan bande gelê, sodat die geskiedenis van die wêreld so half koersloos voortgedraal het.

Maar nou is die boekrol weg. Waarheen sou die boekrol na al die eeue verdwyn het?

Saggies pomp hy Migael in die ribbes, en beduie dan na die leë plek op die altaar. Migael snap onmiddellik wat hy bedoel, want hy beduie met sy oë na die troon. Toe sien hy dit ook. Hy trek sy asem vinnig in. God het die boekrol in sy hand! Uiteindelik, dink hy. Uiteindelik, na al die eeue, sal God se Raadsplan vir die skepping weer oopvou.

Net toe gee Sariël ’n tree na vore, en roep met daardie pragtige diep basstem van hom uit: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”

Sy vraag weergalm deur die troonsaal, en ’n oomblik lank is dit stil voordat ’n sagte geruis deur die saal trek soos die aanwesiges onder mekaar fluister, onseker oor presies wat volgende gaan gebeur. Talle se oë beweeg na die skare ontslape gelowiges om te kyk of een van die geloofshelde van ouds nie dalk na vore tree nie. Maar uit hulle geledere kom daar niemand. Ander fluister weer saggies Migael se naam, maar Migael staan of hy geplant is. Niemand kan die boekrol oopmaak nie.

’n Swaar stilte sak oor die aanwesiges toe. Selfs die geruis van die serafsvlerke hou op in gespanne afwagting, want almal kan aanvoel dat ’n gewigtige oomblik aangebreek het. Toe roep een van die ontslape gelowiges – dit is Johannes die Doper, sien Gabriël – opgewonde uit: “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak!”

En – daar staan Hy! Jesus Christus, die Seun van God, die Leeu uit die stam van Juda, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, die Koning van die konings en Heer van die here, met die wonde van sy worstelstryd teen Lucifer nog duidelik aan sy liggaam: die deurboorde hande en voete, die deursteekte sy. Toe Hy vorentoe tree en die boek uit die regterhand van Hom wat op die troon sit, ontvang, kniel die ganse hemelse skare voor Hom neer. En daar, by die Seun se troonsbestyging, sing die ontslape gelowiges ’n nuwe lied:

U is waardig om die boek te neem
en die seëls daarvan oop te maak
omdat U geslag is
en met u bloed mense vir God losgekoop het
uit elke stam en taal en volk en nasie.
U het hulle ’n koninkryk
en priesters vir ons God gemaak
en hulle sal oor die aarde regeer.

Die tweede vers sing die engele:

Die Lam wat geslag was, is waardig
om die mag en rykdom,
die wysheid en sterkte,
die eer, heerlikheid en lof te ontvang.

Toe breek daar ’n magtige lied uit waaraan almal, die mense, die engele, die serafs en gerubs, ja, alles wat asem het in die hemel, deelneem:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam
behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid.
Amen!

image_pdfimage_print

Views: 70

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.