uit my boek “Die Hemelbodes”

Tien dae later breek die pinksterfees aan. Jerusalem bars behoorlik uit sy nate soos Jode van oor die hele wêreld na die stad gestroom het vir die jaarlikse oesfees. Dis ’n vrolike fees waarin God geprys word as Besitter van die land en Gewer van reën, as die Een wat die grond vrugbaar maak. Oral in die strate en op die pleine klink die vrolike gelag en gesels op, want die jaar het weer sy vrug gegee sodat mens en dier kan lewe.

Die dissipels is ook bymekaar, maar hulle lag en skerts nie. Hulle bid soos hulle die afgelope tien dae lank al doen, in afwagting op die belofte waarvan die Here Jesus gepraat het. Teen nege uur die oggend, terwyl hulle nog besig is om te bid, is daar skielik ’n loeiende geluid. Die dissipels kyk verbaas na mekaar. Dit klink asof daar ’n geweldige stormwind in die kamer waai en elke hoekie van die vertrek vul, maar tog is daar geen wind nie. Terwyl hulle nog so na mekaar en in die vertrek rondkyk, sien hulle iets soos vuur wat deur die dak afsak. Die volgende oomblik breek daar klein vlammetjies uit die vuurbol weg en beweeg na elkeen van hulle in die kamer. Daar bly die vlammetjie ’n oomblik bokant elkeen se kop hang, en dan lyk dit asof die vlam in hulle koppe intrek.

Jakobus gryp Petrus se arm vas. “Ek het niks gevoel nie,” sê hy verbaas, “maar tog is daar nou ’n vrede hier in my wat voorheen nie daar was nie.”

“Dit moet die gawe van die Heilige Gees wees wat die Here belowe het!” roep Johannes uit. “Prys die Here! Die Vader het sy Gees gestuur om ons te kom lei! Halleluja!”

“Geloofd sy die Here! Maar hoekom praat jy dan nou Latyn?” wil Andreas weet.

“Het ek?” vra Johannes verbaas. “Ja, ek het! En jy praat dan Grieks! En hoor daar, Matteus praat Arabies!” Hy bly ’n oomblik stil en luister, want skielik is almal aan die praat, elkeen in ’n ander taal, en almal is besig om God te prys.

Hulle was later nie seker of dit hulle opgewonde gebabbel was, en of dit die geluid van die stormwind was nie, maar iets moes die mense in die straat se aandag getrek het, want kort voor lank is die hele straat voor die huis waar hulle bymekaar is, volgepak met nuuskieriges. Asof hulle dit vooraf afgespreek het, gaan almal in die bovertrek af straat toe en begin met die mense praat oor die wonderlike dinge wat God besig is om te doen. Party van die omstanders kyk hulle verbaas aan, ander is weer geamuseerd, en nog ander trek die neus op.

“Wat is dit met dié klomp Galiliërs?” vra die een.

“Nee jong, dit verstaan ek nie,” antwoord ’n ander. “Hulle praat dan nou in al die verskillende tale van die wêreld! Wat kan dit beteken?”

“Dit moet God se werk wees!” roep ’n jongerige vrou uit, en trek haar seuntjie styf teen haar vas. “Hulle praat dan almal oor die groot dinge wat God gedoen het.”

“Nee wat,” sê ’n fors man met ’n ruie baard, die misnoeë duidelik op sy gesig te lees. “Dis sommer ’n dronkparty. Hulle het natuurlik te lekker fees gevier. Kom ons loop.”

Net toe kom Petrus met ’n stoel in die hand by die voordeur uit. Hy klim op die stoel en klap sy hande hard teen mekaar om die mense se aandag te kry. Toe dit stil word, sê hy met ’n gloeiende stem: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die oggend. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: ‘So sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree …’”

image_pdfimage_print

Views: 10

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.