Uit my boek “Die Dromer“
Die dag het begin net soos al die ander. Josef het, soos sy gewoonte was, by al die silo’s rondom die stad persoonlik inspeksie gaan doen, en daarna die tweeweeklikse verslae gekry van die graanverkope by die ander verkooppunte reg deur die land.
Dit is reeds laat-oggend toe Sebekhotep hom kom roep. “Daar is weer uitlanders wat graan wil koop, Meneer. Ek het gesê hulle moet wag, Meneer is ’n besige man. Nou wag hulle in die saal.”
Josef sug. Die reëling dat alle uitlanders na hom persoonlik verwys moet word, plaas nogal ’n taamlike las op sy program. Maar hy sien ook nie kans om die verantwoordelikheid te delegeer nie. Sy Semitiese agtergrond kom hom goed te pas wanneer hy die voornemende kopers ontvang.
“Dié klomp uitlanders gee my sommer ’n pyn, Meneer,” babbel Sebekhotep voort terwyl hulle na die saal toe stap. “Van wanneer af moet ons vir die hele wêreld kos verskaf? Ek dink ons moet die hele besigheid net hier stop. Net hier, sê ek vir Meneer!” en hy stamp met sy voet om die dringendheid van die saak te beklemtoon.
“Wag nou, Sebekhotep,” keer Josef. “Ons het genoeg graan om die uitlanders ook te help. Ek dink weer dis wonderlik dat ons in ’n posisie is om ander mense ook te help. Dink jy nie ook so nie?”
“Natuurlik, Meneer,” gooi hy gou sy storie om. “Egipte was nog altyd die graanskuur van die wêreld, en niks sal ons verhinder om dit nou weer te wees nie. Ek sê altyd, Meneer, ek sê altyd: as jy ’n ander mens in nood kan help, moet jy dit doen. Gister nog sê ek vir . . .”
Hulle kom by die saal aan, en Josef stap dadelik binne, dankbaar dat hy nie na die res van Sebekhotep se vertelling hoef te luister nie.
Dis ’n kleinerige saal waar hy die uitlanders te woord staan. Gaso is ook daar om as tolk op te tree. Josef het van die begin af deur ’n tolk gewerk as hy uitlanders ontvang, omdat dit hom meer kans gee om hulle deur te kyk tydens ’n onderhoud. Aanvanklik het hy een van die paleis se tolke gebruik, maar baie gou gereël dat Gaso die tolkwerk doen.
Sebekhotep skree Abrek!, en almal in die saal kniel met hulle voorkoppe teen die grond. Daar is tien uitlanders. Aan hulle kleredrag en baarde lei hy af dat hulle Kanaäniete is.
“Julle kan maar regop kom,” sê hy dan nadat hy sy plek ingeneem het, en Gaso tolk.
Dit is asof ’n groot vuis hom in sy maag tref toe die manne opstaan. Dis mos . . . dis mos Simeon wat daar staan, en Juda, en Ruben, en Levi, en Naftali! Dis sowaar sy broers! Sy oë dwaal vinnig van die een broer na die ander, maar Benjamin is nie daar nie. Waar sou hy wees? Het hulle van hom ook ontslae geraak?
Hy sluk. Wat moet hy doen? Húlle is die laaste mense wat hy voor hom wil sien. Het hy dan nie daardie hoofstuk in sy lewe afgesluit nie? Met ’n bewende hand vat hy aan sy pruik wat deel is van sy ampsgewaad, en dan glimlag hy bitter. Hulle het hom nie herken nie.
“Waarvandaan is julle?” vra hy bars. Hopelik sal hulle nie hoor hoe sy stem bewe nie.
“Ons is van Kanaän, Meneer,” antwoord Ruben namens die broers. “Ons kom koop graan.”
Gmf. Eers verkoop hulle hom as ’n slaaf, en nou moet hy vir húlle van graan voorsien? Dit sal die dag wees! Hulle het hom ’n lewe besorg toe hy nog by hulle was, en hom uitgelag toe hy gedroom het dat hulle eendag voor hom sal buig soos hulle nou hier gedoen het. Hy sal hulle ’n les leer wat hulle nooit sal vergeet nie. Hy sal hulle wys! “Julle is spioene,” sê hy, opeens woedend oor wat hulle hom aangedoen het. “Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”
Met genoegdoening sien hy die verbystering op hulle gesigte as Gaso sy beskuldiging vir hulle vertaal.
“Nee, Meneer, ons is u onderdane. Ons het net kom graan koop. Ons almal het dieselfde pa. Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.” Natuurlik Simeon wat nie omgee om hom te weerspreek nie. Nog net so grootbek soos altyd.
“Dit is nie. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”
Die broers trap ongemaklik rond, en praat saggies onder mekaar. Goed so! Laat hulle maar benoud wees. Hoe benoud was hy nie daar in die put nie, en hulle het hom uitgelag.
“Nee, Meneer. Ons is nie spioene nie. Ons is maar net tien broers uit Kanaän, en ons en ons mense is honger. Dis dié dat ons gekom het.”
“Ag so, nè. Seuns van een pa, sê julle? Leef hy miskien nog?”
“Ja, Meneer, hy leef nog.”
“Nou maar hoekom het hy nie saamgekom nie, hierdie kastige pa van julle?”
“Meneer, ons ou vader is al baie oud. Die reis hierheen sal hom baie vermoei.”
“En het julle nog ander broers, miskien? Manne wat gereed sit om saam met julle die land te kom aanval sodra julle die dinge hier deurgekyk het, of hoe?”
“Nee, Meneer, ons is nie spioene nie. Ons is eerlike mense. U kan maar laat navraag doen in Kanaän. Ons was twaalf broers. Ons het almal dieselfde pa, ’n ou man in Kanaän. Die jongste is nou nog by hom, en een van ons broers leef nie meer nie.”
Josef se emosies is ’n warboel. Hy is baie verlig om te hoor Benjamin is tuis, maar tegelykertyd is hy woedend omdat hulle so maklik praat oor sy eie verdwyning. Hy leef kamtig nie meer nie! Sommer so. Afgehandel. Hulle sal nog agterkom hoeveel probleme ’n dooie broer kan veroorsaak, dié is seker. Laat hulle ’n bietjie van hulle eie medisyne proe.
Met ’n stem wat drup van sarkasme sê hy: “Ek het nie vir ’n oomblik gedink julle sal hier voor my kom staan en pront-uit erken dat julle spioene is nie. Maar dit is presies wat julle is: spioene! Maar ek is ’n redelike mens. Kom ek gee julle ’n toets: Laat haal julle jongste broer. Dan kan ek mos sien julle praat die waarheid.”
“Goed, Meneer,” antwoord Ruben haastig. “Ons sal onmiddellik vertrek en ons broertjie gaan haal.”
“A, a, a, nie so haastig nie, my vriende. Dink julle ek is onnosel? As julle hier by my paleis uitstap, sien ek julle sowaar nie weer nie, en dan sal ek nooit weet of ek reg was nie! Nee, nee, nee, julle bly net hier in Egipte as gaste van sy majesteit farao Apepi. Hy het ’n spesiale gastehuis waar hy die vyande van die staat huisves. Een van julle kan gaan om julle broertjie te gaan haal, en die ander bly net hier in Avanis. En die een wat na Kanaän gaan, moenie dink hy sal julle met een of ander slenter loskry nie. So seker as die farao leef, julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer hierheen gebring is nie. So sal ek vasstel of julle die waarheid praat of nie. So seker as die farao leef: Julle is spioene.”
Sonder om eers verder in hulle rigting te kyk, of te wag dat Gaso klaar tolk, staan hy op. “Neem hulle na die farao se gevangenis, en sê kaptein Sethos moet hulle ekstra goed toesluit!” beveel hy die wagte voordat hy die saal verlaat, met Sebekhotep grinnikend op sy hakke.
***
“My broers het vandag hier aangekom,” vertel hy dié aand vir Asenat nadat die kinders bed toe is, sy stem doelbewus traak-my-nie-agtig.
“Jou broers! En jy sê my nou eers! Waar is hulle?” Asenat spring van die tafel af op. “Toe man, vertel!”
“Ek het hulle laat opsluit,” antwoord hy kalm.
“Jy het wat?”
“Jy het gehoor wat ek gesê het. Ek het hulle na ou Sethos gestuur, dat hulle bietjie kan sweet.”
“Ek glo dit nie! Jou eie broers, en jy sluit hulle op?”
“Wat is so moeilik om te glo?”
“Jy was self in daardie plek. Jy weet presies wat dit beteken om in die tronk te sit, en dan kry jy dit oor jou hart om hulle, jou eie vlees en bloed, daar op te sluit. Ek glo dit nie!” Sy kom staan reg voor hom met haar hande op die heupe. Sy trek haar asem in om iets te sê, maar dan sê sy niks, en draai om en gaan weer sit.
Josef is nie lus om verder te praat nie, maar hy weet hy sal nie die onderwerp kan vermy nie. Dus vra hy maar: “Wat wou jy sê?”
“Ek kan net nie verstaan hoekom jy dit gedoen het nie. Is jy dan nie bly om hulle weer te sien nie? Ék brand om hulle te ontmoet.”
“Dit was nogal vir my ’n skok om hulle weer te sien, en ek moet eerlik sê, ek wil hulle nooit weer sien nie. Hulle het my hele lewe geruïneer, sonder om ’n snars vir my om te gee. Hoekom moet ek nou vir hulle iets voel?”
“Dit was baie lank gelede. Toe was julle almal nog baie jonger as nou,” sê sy saggies, versigtig om nie weer ’n argument te begin nie.
Josef laat sy gesig in sy hande val. “Ek het net gedink my lewe het uiteindelik weer koers gekry, en nou dít. Ek wil nie aan hulle dink nie, ek wíl nie besluit wat om met hulle te maak nie!”
“Maar dis jou mense, Josef,” pleit sy dringend. “Jy kan dit nie wegredeneer nie. En hulle het gekom omdat hulle jou nodig het. Kan jy nie sien nie? Dis net soos jy destyds gedroom het: hulle het jou nou nodig. Nou is die rolle omgekeer: hulle moet nou voor jóú buig, en jy het nou die kans om te wys dat jy anders is as wat hulle destyds was. Jy kan vir hulle wys dat ’n mens nie jou probleme oplos deur die mense van wie jy nie hou nie, uit die weg te ruim nie. Jy moet hulle vergewe. Jy móét!”
Hy kan sy trane nie langer terughou nie. “Jy weet,” sê hy dan as hy weer sy emosies min of meer onder beheer het, “ek het gedink ek is oor alles wat gebeur het. Ek het gedink ek het hulle vergewe. Maar toe hulle daar voor my neerval en buig, skiet die droom van destyds my weer te binne, en toe is al die woede en pyn en seer van destyds in een oomblik terug. Ek is nog niks nader aan vergewe as destyds daar in die put nie. Ek kan hulle dit nie vergewe nie. Ek kan nie.”
“Miskien sal dit help as jy hulle weer leer ken. Miskien is hulle nie meer dieselfde as wat hulle destyds was nie. Miskien het hulle verander. Nooi hulle om hier te kom eet, dan kan jy mos met hulle gesels en vir jouself sien. Vergifnis beteken nie veel as jy hulle nie ken nie.”
“Ek dink nie ek wíl hulle leer ken nie. Hulle het my al seer genoeg gemaak. Ek sien nie kans om weer ’n keer onder hulle hande deur te loop nie. Ek sien net nie daarvoor kans nie.”
“Wil jy nie net daaroor dink nie, asseblief?”
“Nee. Ek is nie gereed om hulle te ontmoet nie.”
Views: 24






