uit my boek “Die Goewerneur

Dit was in die maand Kislef, in die hartjie van die winter, toe Ganani vir my kom sien het. Van toe af het ek gebid en gevas oor hierdie groot opdrag – ja, ek het dit as ’n opdrag van die Here God self beskou, dat ek moes intree vir my mense daar ver in Juda. My hart was stukkend oor die toestand van my volksgenote, en ek het menige nag omgebid en omgehuil. Net bedags, wanneer ek die koning bedien het, het ek ’n vrolike gesig opgesit, want ’n mens durf nie met ’n treurige gesig voor die koning verskyn nie. Hy jaag jou sommer summier weg en sê jy moet jou gesig gaan was en vrolik word voordat jy terugkom, want hy het genoeg probleme met sy ministers en met die landsake dat hy nie nog in lang gesigte aan sy tafel wil vaskyk ook nie. Hy is ook so agterdogtig, hy kan maklik dink ek beplan ’n opstand of iets as ek nie vrolik is nie. So het ek maar op my tande gebyt en geglimlag, al het my hart elke dag binne-in my gehuil, en al het ’n stukkie van my siel elke dag wat verbygaan, ’n klein bietjie gesterwe oor die ellendige lot van my volksgenote daar ver in Juda.

En elke oggend het ek bewend opgestaan met die gebed dat die gewenste geleentheid hom daardie dag moet voordoen, en dat die koning in die regte bui sal wees om my versoek gunstig aan te hoor. Maar die dae het weke geword, en die weke maande. Ek het begin gewig verloor van al die vas en treur, maar die koning kon nooit ’n vinger na my wys en sê dat ek my werk afskeep nie, soos dit ook hoort by iemand wat ’n verantwoordelike posisie beklee soos ek. Dit het later drie maande geword voordat ek my kans gekry het; ’n kans wat my byna onkant gevang het.

***

Dit was die maand Nisan. Die winter was verby en lente was in die lug. Ek sal die dag nooit vergeet nie. Dit was die eerste keer in ’n baie lang tyd dat die koningin saam met die koning aan tafel was. Ek het nogal gedink dis ’n goeie geleentheid, want sy is my altyd baie goedgesind, en die koning is ook baie meer tegemoetkomend as sy by is. Ek het soos gewoonlik die koning en koningin bedien met die wyn – ek moet altyd eers ’n bietjie daarvan drink voordat ek dit vir hulle ingooi, om seker te maak daar is nie gif in nie – en toe gebeur die verskriklike! Ek kan nou nog nie verstaan hoe dit kon gebeur het nie, want ek het ’n punt daarvan gemaak om my smart oor my mense vir myself te hou. Maar miskien het die koningin iets agtergekom. Vrouens het mos maar net ’n beter aanvoeling vir dié soort ding as ons mansmense. Ek verbeel my sy het iets in die koning se oor gefluister terwyl ek die wyn proe, maar of dit nou oor my was, sal ek nooit weet nie.

In elk geval, toe ek my kom kry, sê die koning vir my: “En toe, Nehemia? Hoekom is jou gesig so treurig? Is jy siek?”

Ek skrik so groot dat ek my skoon aan die wyn verstik en nie ’n woord kan uitkry nie. Ek kon net my kop skud, sodat die koning verder vra: “Is dit dalk omdat jou hart treurig binne-in jou is?” Net so sê hy vir my.

“Ag Here, help tog!” bid ek benoud hier in my binneste, en ek voel hoe word my ore rooi van ontsteltenis. Maar ek het besef dis nou of nooit, dis die oomblik waarvoor ek al drie maande lank gebid het. Die koningin is daar, en dis ’n goeie teken, en die koning se raadgewers is nie daar nie, en dit is nog ’n beter teken. Toe antwoord ek: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?”

Net so sê ek vir die koning. Ek skrik eintlik as ek dink wat ek gesê het, want dit het seker alte astrant geklink, maar dis nou eenmaal hoe dit uitgekom het. Die Here het beslis gehelp, want anders het die koning my net daar laat onthoof.

“Jy is mos een van die Judese ballinge, as ek reg onthou?”

“U geheue is net so seker en onfeilbaar soos altyd, U Majesteit. U dienaar se voorvaders kom uit Juda, uit die stad Jerusalem.”

“Is daar iets wat jy op die hart het, Nehemia?” En die koning glimlag vir my! Sowaar. Prys die Here! Hy het my gebed gehoor.

Ek het so lank geloop en dink oor wat ek sal sê as ek die kans kry om met die koning te praat, maar noudat ek uiteindelik die kans kry, borrel alles sommer uit, sonder ’n behoorlike aanloop: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” So ja, dis uit. Verder moet die Here sorg, want dis net Hy wat die toekoms kan laat gebeur soos dit moet.

Toe die koningin na die koning toe oorbuig en iets in sy oor fluister, spits ek my ore. Ek wens so ek kon hoor wat sy sê, maar ek kan ook nie té naby aan hulle staan nie, en ek hoor niks. Maar dit moes iets gunstigs gewees het, want die koning kyk na my en vra, nie onvriendelik nie: “Hoe lank dink jy sal jy nodig hê?”

Prys die Here se groot Naam! Die koning oorweeg die saak! Ek wou op en af spring van blydskap, maar dit mag ’n mens natuurlik nie in die koning se geselskap doen nie. Ek laat darem myself toe om breed te glimlag. “Dis moeilik om te sê, U Majesteit. Die reis soontoe sal seker, saam met die voorbereidings, so ’n maand of drie neem, en dan sal ek moet sien hoeveel werk daar aan die muur is voordat ek presies kan sê hoeveel tyd nodig is. Maar as U Majesteit dit goedvind, sal ek bly wees as u my vir langer sal stuur as net die tyd wat nodig sal wees om die muur te herstel. My mense het leiding nodig, want hulle gemeenskapslewe is ontwrig. Ek sal graag vir ’n tyd wil gaan om te gaan help om my mense te organiseer, U Majesteit; sê maar vir ’n termyn van so twaalf jaar.”

Die koning sit agteroor in sy stoel en kyk my so half geamuseerd aan. Hier kom dit nou, dink ek verslae. Nou het ek my hand oorspeel. Maar tot my verbasing – ek weet ook nie hoekom ek daaroor verbaas is nie, ek en Ganani-hulle het dan so lank hiervoor gebid – vra die koning: “So wat jy eintlik wil hê, is dat ek jou vir twaalf jaar na Juda toe moet sekondeer, met genoeg gesag dat jy die spulletjie daar kan regruk?”

Kyk, ek is mos nie sommer ’n gewone ou amptenaartjie nie, en daarom kan die koning my ook nie sommer as ’n ou hierjy-mannetjie na Jerusalem stuur nie. Dit sal ’n belediging vir my status wees. “U Majesteit, daar is nie op die oomblik ’n goewerneur in die provinsie Juda nie, en ek dink dis die hele moeilikheid. Daar is niemand wat die Jode se belange namens u daar behartig nie. Dis dié dat hulle so swaar kry. Nou het ek gedink, as u dit sou goedvind, dat u my as die goewerneur van Juda …”

Verder kom ek nie, want die koning bars uit van die lag. Hy lag so dat die trane later in stroompies oor sy wange loop.

“U Majesteit?” wil ek later verleë weet, want ek weet nie of die man vir my lag of wat nie, maar hy beduie net iets en lag half histeries verder, sodat die koningin ook later saam lag. Wat kon ek doen? Ek kan tog nie soos ’n soutpilaar daar staan terwyl my koning en koningin brul van plesier nie. Ek dink dit is uiters onwaardig, maar ek moes noodgedwonge ook maar ’n bietjie saam lag.

Toe die man uiteindelik sy asem terugkry en die trane van sy wange afgevee het, sê hy: “Ekskuus dat ek nou so lag, Nehemia, maar ek het my probeer indink in jou as goewerneur, en toe sien ek in my gedagtes vir jou daar in Jerusalem rondloop, nog altyd met my wynbeker in die hand. Vir ’n oomblik was dit so snaaks dat ek myself nie kon help nie. Jou mense daar in Juda is maar bra ongekultiveerd, as jy my sal verskoon dat ek dit sê, en ek kan my net nie voorstel hoe jy, ’n fyn opgevoede man, gewoond aan die beste wat die ryk kan bied, hoe jy daar in die boendoes gaan regkom nie.”

Ek het nie gereageer nie – wat kan ’n mens nou eintlik op so-iets antwoord? – en net my weliswaar plomperige kort postuur reguit getrek, en so waardig soos moontlik daar bly staan. Hy dink miskien nie dit sit in my om my mense te help nie, maar ek sal hom wys.

Die koning moes gesien het ek is vasbeslote, want toe sê hy: “Ai, Nehemia, ek en die koningin gaan jou darem verskriklik mis. Maar goed. Jy kan gaan, maar net vir twaalf jaar, hoor! Dan kom jy terug. Ek maak jou die goewerneur van die provinsie Juda, en ek wil elke maand ’n volledige verslag van jou hê.”

“Dankie, U Majesteit. Baie dankie!”

“Is daar nog iets waarmee ek jou kan help?”

Wat kan ek sê? Die koning is nou eenmaal aan my kant, al dink hy ook ek is ’n potsierlike kêreltjie. Ek sou ook seker so gedink het as ek hy was. Met groot verligting gee ek hom ’n lysie van my dringendste behoeftes: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. Ek het ook ’n brief aan Asaf nodig – dis nou die opsigter oor die staatsbos daar naby Jerusalem, U Majesteit – dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek daar vir my wil laat bou.”

“Maar daar is ’n goewerneurswoning in Jerusalem, as my geheue my nie in die steek laat nie. Hoekom wil jy dan nou jou eie huis bou?”

“Ek weet van die goewerneurswoning, U Majesteit. Maar die goewerneur wat daar gewoon het, was tot op hede altyd ’n uitlander, nie ’n Jood soos ek nie. Ek glo die mense sal my beter aanvaar as een van hulle as ek liewer my eie huis daar kry.”

“Maak soos jy goeddink, Nehemia. Jy sal beter weet wat reg is vir jou mense. Berei die briewe voor en dan bring jy dit môre na my, dat ek my seël daarop kan sit.”

“Dankie, U Majesteit.”

“O ja, nog iets. Gaan reël met Dalfon vir ’n ordentlike geleide na Juda toe. Ek wil nie hê my gunsteling skinker moet langs die pad iets oorkom nie.”

image_pdfimage_print

Views: 15

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.