Here God
Wat ’n heerlike voorreg om hier, aan die einde van die jaar, aan die vooraand van ’n nuwe, onseker jaar, geborgenheid en rus by U te vind. Dankie dat ons ons in u groot arms kan inwurm, dat ons veilig is by U. Dankie dat U nie net God is nie, maar in Christus Jesus ook ons Vader.
Here, ons kyk vanaand onwillekeurig terug op die jaar wat verby is.
• Dankie vir al die mooi dinge van die afgelope jaar.
• Dankie dat daar baie dae en geleenthede was waaraan ons met vreugde kan terugdink vanaand.
• Dankie dat U ons gelei en gedra het, elke dag van die afgelope jaar, sodat ons saam met Ps 68 vanaand kan uitroep: “Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons!”
Maar, Here, vir party van ons was dit nie ’n wonderlike jaar nie.
∙ Party van ons het in die jaar slegte nuus gekry oor gesondheid.
∙ Party moes by die graf van ’n geliefde staan.
∙ Party het probleme in die huis of huwelik beleef.
∙ Ander het in die werk teenspoed beleef, of is eensaam.
Dankie, Here, dat ons hulle vanaand aan U kan opdra. Dankie dat ons kan bid dat U in u ewige liefde en trou vir hulle ’n God van naby sal wees. Dankie dat u genade nou, in ’n tyd waarin baie mense se geduld en moed op is, nooit opraak nie.
Amen.
Views: 77






