TROUE VAN DIE JAAR

Van ons Ou Testament redaksie

Rebekka dogter van Betuel

LAGAI-ROÏ-FONTEIN. – Daar heers groot opgewondenheid in sosiale kringe hier oor die huwelik aanstaande week tussen Isak, seun van die skatryk Abraham seun van Tera, en die beeldskone Rebekka, dogter van Betuel van Haran in Mesopotamië. Heelwat jong dames sal waarskynlik in die volgende paar dae trane van teleurstelling moet wegpink, aangesien Isak, die enigste erfgenaam van Abraham se groot sakeryk, allerweë beskou is as die hubaarste man in Kanaän.

Rebekka is die kleindogter van Abraham se broer Nahor, wat in Mesopotamië agtergebly het toe Abraham hom destyds in Kanaän kom vestig het. Sy het gister saam met Abraham se hoofslaaf, Eliëser, hier aangekom.

Eliëser is vroeër vanjaar deur Abraham na Mesopotamië gestuur met die opdrag om ’n vrou vir sy seun Isak te soek. Op die vraag hoe hy te werk gegaan het om dié moeilike opdrag uit te voer, het Eliëser geantwoord dat dit net gebedsverhoring is. “Ek het haar glad nie gesoek nie. God het haar reguit na my toe gestuur. Wonderlik, nè?”

 

Koning Saul en sy drie seuns sneuwel

GILBOA. – Die ganse Israel is in rou gedompel toe hulle koning Saul seun van Kis en sy drie seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua op die slagveld hier gesneuwel het in een van die grootste nederlae nóg teen die Filistyne.

Die verpletterende nederlaag kom as geen verrassing nie, aangesien die moraal van die koning en sy manskappe reeds baie laag was voor die stryd, sodat hulle eintlik nie weerstand gebied het teen die Filistyne nie. Onbevestigde berigte lui dat koning Saul in ’n desperate poging om die situasie te beredder, selfs ’n dodebesweerder besoek het sodat hy die gestorwe siener Samuel kon raadpleeg. Blykbaar het dit nie lig vir hom gebring nie, want hy was daarna meer terneergedruk as ooit.

Politieke ontleders sê dat koning Saul eintlik sy eie ondergang bewerk het. Hy kon nooit werklik die mas opkom teen die Filistyne nie. Daarby het hy die enigste man wat die Israeliete met sukses teen hulle aangevoer het, Dawid seun van Isai, uit die land gedryf uit vrees dat hy sy koningskap van hom sou afneem. Ironies genoeg lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat dit presies is wat nou sal gebeur, aangesien Saul se enigste oorlewende seun, die jong Es-Baäl wat hom nou opvolg, nie ’n sterk leier is nie.

  • Lees van hierdie stormagtige geskiedenis in 1 Sam. 28 en 31.

 

Jong Joodse balling red land se slimstes

BABEL. – ’n Onbekende jong Joodse balling wat onlangs as koninklike raadgewer aangestel is, Beltsasar, of ook bekend as Daniël, het die land se slimkoppe van ’n gewisse dood gered toe hy ’n droom vir koning Nebukadnesar uitgelê het.

Die koning het ’n droom gehad wat hom hewig ontstel het, omdat hy aangevoel het dat die droom ’n boodskap van die gode is. Hy wou nie die droom bekend maak nie, en het van sy raadgewers verwag om nie net die uitleg nie, maar ook die droom self aan hom bekend te maak, sodat hy kon seker wees sy raadgewers versin nie ‘n antwoord nie. Geeneen van die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers kon dit egter doen nie. Daarop is ’n proklamasie uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Dit was tóé dat Beltsasar na vore getree het en die droom en uitleg aan die koning bekend gemaak het. Die doodsbevel is daarna opgehef.

 


Om oor na te dink

Die Bybel is vol daarvan dat ons ’n lewende God aanbid – ’n God wat ’n hoorder is van die gebed. En dan nie net gebede oor die groot dinge van die lewe nie – dit natuurlik ook. Daarom vertel die Bybel ons hoedat God op Daniël en sy drie vriende se ernstige gebede ’n antwoord gee wat nie net Daniël en sy vriende nie, maar ook baie ander mense se lewe gered het.

Maar God verhoor nie net gebede oor kwessies van lewe en dood nie. Hy wil ook in ons alledaagse lewe betrokke wees. Daarom lees ons van die vrome ou slaaf Eliëser wat in gebedsafhanklikheid sy meester se opdrag uitvoer.

God wil hê dat ons Hom moet raadpleeg oor alles. Tog val Saul se dringende gebede voor die slag van Gilboa op dowe ore, want gebed is nie bedoel as ’n kitsoplossing vir al ons probleme nie. Nee, gebed is die vrug van ’n lewe van innige verbondenheid met God. Wanneer gebed gebêre word net vir die krisistye in ons lewe, wanneer dit bloot ’n “laaste uitweg” is en nie deel is van ’n lewe van afhanklikheid voor die lewende God nie, kan dit gebeur dat die bidder – soos Saul – die verskriklikste antwoord sal kry: “Ek ken jou nie” (vgl. Matt. 25:12).




Godsman vertrek om sy seun te offer

Van ons Ou Testament redaksie

BERSEBA. – Die bekende en eerbiedwaardige handelaar Abraham seun van Tera het eergister te midde van groot spanning hiervandaan vertrek na ’n onbekende bestemming. Hy het net sy seun Isak en ’n paar slawe saamgevat. Volgens ingeligte bronne na aan die gesin, het hy ’n opdrag van God ontvang om die seun te gaan offer op ’n plek wat God hom sal wys.

Lesers sal onthou dat ons ’n tyd gelede berig het oor die opspraakwekkende geboorte van dié einste seun. Wat ons destyds nie vermeld het nie, is dat Isak gebore is nadat God herhaaldelik belowe het dat Hy aan Abraham en Sara ’n nageslag gaan gee. Die egpaar het uiteindelik 25 jaar lank op hierdie beloofde kind gewag. Dit is dus te begrype dat hierdie opdrag om die seun te gaan offer, as ’n groot skok gekom het.

Sara, Abraham se vrou, was nie vir kommentaar beskikbaar nie. Sy is glo ongesteld en het haar in haar tent teruggetrek en laat niemand naby haar toe nie.

 

DAWID VLUG LANDUIT

GAT. – Dawid, die briljante jong krygsheer van die Israeliete, het ’n groot opskudding veroorsaak toe hy gister as vlugteling in hierdie Filistynse stad aangekom het. Dit volg nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Dawid en sy skoonpa, koning Saul, ontstaan het.

Politieke kenners is dit eens dat die kanse op versoening tussen die koning en sy skoonseun gering is. Hulle wys daarop dat koning Saul dit nie kan bekostig om Dawid te vrye teuels te gee nie. Hy is ’n dinamiese krygsheld wat deur baie gesien word as die enigste een wat Israel van die Filistynse bedreiging kan red nadat die koning nie daarin kon slaag om hulle te onderwerp nie. Dit was immers hy wat destyds die Filistynse reus Goliat feitlik kaalhand verslaan het. Daar word al klaar gefluister dat hy die volgende koning van Israel moet word. Hardnekkige gerugte doen ook die ronde dat die siener Samuel hom reeds as die nuwe koning gesalf het. Dawid wou dit egter nie bevestig óf ontken nie.

Dit is ’n vraag of Dawid veilig sal wees in Gat. Die moontlikheid is nie uitgesluit dat koning Akis hom as ’n politieke speelbal kan gebruik om die Israeliete se moraal te breek nie. Dit lyk in elk geval of Dawid vir die afsienbare toekoms baie fyn sal moet trap as hy sy lewe liefhet.

 


Om oor na te dink

Laat ons maar vir mekaar sê: ons verstaan nie God se weë nie. Hoe kan jy dit verstaan dat Hy van ’n pa kan verwag om sy kind, ’n kind vir wie hy jare gewag het, te gaan offer? En dan moet hy boonop drie dae lank reis voordat hy by die plek kom waar hy die offer moet bring! Is dít die dankie wat die vrome Abraham kry na al sy opofferings? Is dít hoe ’n God van liefde lyk?

Vir Dawid was dit ewe onverstaanbaar dat hy, wat gesalf is tot koning van Israel, as banneling vir etlike jare by die gehate Filistyne moes gaan skuil. Speel God dan nou kat en muis met hom?

Jy sit moontlik ook met vrae in jou hart oor dinge wat God toegelaat het in jou lewe, dinge wat jy moeilik kan rym met ’n beeld van ’n liefdevolle Vader wat alles vir ons feil het.

Uit Abraham en Dawid – en ook ander gelowiges uit die ou tyd – se lewe leer ons egter ’n baie groot les: Hulle het aangegaan om agter God aan te loop ten spyte van die onverstaanbare dinge wat oor hulle pad gekom het. Daarom sien ons vir Abraham met sy seun op pad na die berg Moria. Daarom weier Dawid volstrek om ’n hand teen Saul te lig, al kon hy by verskeie geleenthede maklik sy lewe neem.

Dít is ware geloof: om aan God vas te hou en Hom te bly gehoorsaam, al verstaan jy nie sy pad met jou nie. Om aan te hou omdat jy weet: al verstaan ék nie wat aangaan nie, Gód weet wel wat Hy doen. Geloof is om Hom te vertrou, met jou lewe te vertrou. Om te glo, soos Abraham, dat God wel op sy eie wyse sal voorsien (Gen. 22:8), al kan jy nie lig en uitkoms sien nie.

Om die pad agter God aan te loop, is soms bitter moeilik. Maar vir die gelowige is dit die enigste pad. Kom ons loop daarop met oorgawe!




HUWELIKSKLOKKE VIR BOAS EN RUT

BETLEHEM. – Boas, ’n gesiene boer van die stad, het gister in die stadspoort bekend gemaak dat hy en Rut, ’n jong weduwee en skoondogter van Naomi en wyle Elimelek, eersdaags in die huwelik gaan tree.

Rut het inwoners se verbeelding aangegryp deur die liefdevolle wyse waarop sy haar skoonma bygestaan het ná die tragiese heengaan van hulle albei se mans. Dit is ook hoe haar en Boas se paaie gekruis het. Sy het as armlastige gars gaan optel om haar en haar skoonma aan die lewe te hou, en toevallig by Boas se lande uitgekom. Boas het haar opgemerk, en toe hy verneem wie dit is, sy snyers opdrag gegee om ekstra are te laat val sodat sy genoeg kan hê. Daarby het hy ook nog vir haar gevra om vir die duur van die oes by sy werksters te bly, sodat sy nie dalk op ’n vreemde se land gemolesteer sal word nie.

Die een ding het tot die ander gelei, en vandag is die hele stad saam met Rut bly oor die goeie nuus. Rut was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar Naomi is oorstelp van vreugde. “Ek het gedink die Here het ons vergeet, en kyk nou net hoe wonderlik sorg Hy vir ons,” het sy gesê.

Boas wou nie veel oor die hele aangeleentheid sê nie, behalwe dat hy van die begin af met geen bybedoeling vir Rut gehelp het nie. “Ek het gehoor van alles wat sy vir haar skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat sy haar ouers en haar geboorteland verlaat het om haar skoonma by te staan. Daarom wou ek haar help, want ek het sommer geweet sy moet iemand besonders wees. En ek was nie verkeerd nie.”

 

Vrou kom tot haar man se redding

KARMEL. – Die flinke optrede van ’n vrou, Abigajil vrou van Nabal die Kalebiet, het gister hier ’n bloedbad voorkom toe sy haar oor die krygsheer Dawid en sy manne ontferm het.

Nabal, ’n skatryk boer van Maon, het vroeër Dawid grof beledig toe hy by hom gaan aanklop het vir kos. Dit ondanks die feit dat Dawid en sy manne ’n geruime tyd lank Nabal se veewagters en vee beskerm het. Dawid was woedend en het met 400 gewapende manne opgeruk om wraak te neem. Sy oogmerk was om elke manlike lid van Nabal se huis te dood. Abigajil het daarvan te hore gekom en sonder haar man se medewete Dawid voorgekeer voordat hy haar man kon bereik. Sy het namens Nabal, wat sy as ’n dwaas bestempel het, vir Dawid om verskoning gevra en aan hulle kos voorgesit. Dawid het daarop van sy plan afgesien en hulle in vrede gelaat.

Nabal het vanoggend eers van haar optrede gehoor. Hy was só ontsteld dat hy ’n beroerteaanval gekry het. Sy toestand is bedenklik.

  • Lees alles hiervan, en ook die interessante uiteinde van die verhaal, in 1 Sam. 25.

 

PERSOONLIK

Abraham en Sara het gistermiddag onverwags drie onbekende besoekers ontvang. Vir die geleentheid het hy ’n kalf laat slag, terwyl sy 16 kg meel ingesuur het vir roosterkoeke. Die gaste is eers laat die middag verder.

Rabbi Jesus en sy vriende gaan môreaand by die Fariseër Simon, ’n bekende in tempelkringe, eet. Ons korrespondent verwag dat dit ’n uithanggeleentheid sal wees.

 


Om oor na te dink

Die eerste ding wat in ’n mens se gedagtes opkom wanneer jy aan die geloofslewe dink, is die groot geloofsake: ons persoonlike verhouding met die Here Jesus, ons getuienis teenoor ander, ons standvastigheid in versoeking. En dit is natuurlik uiters belangrike bestanddele in ’n gesonde geloofslewe.

Abraham en Sara was in Gen. 18 by ’n laagtepunt in hulle geloof. Té lank al moes hulle leef van beloftes van ’n groot nageslag. Nou was hulle te oud daarvoor: hy 99, sy 89. G’n wonder nie dat Sara uitbars van die lag toe God sy belofte van ’n seun herhaal. Iets wat egter opval in hierdie gebeurtenis is dat, al was hulle op ’n geestelike laagtepunt, hulle tog nie in die klein dingetjies hulle geloof prysgee nie. Let tog op met hoeveel oorgawe en oordadigheid ontvang hulle die vreemdelinge! Hierin leer hulle vir ons ’n baie groot les: Geloof word nie net in die groot dinge uitgeleef nie. In die alledaagse omgang met ander kry ons geloof sin en inhoud.

Dit was ook die geval met Boas in sy optrede teenoor Rut, en Abigajil.

So anders is Simon die Fariseër. Jesus huiwer nie om die vinger op die wond te lê nie: wanneer die ootmoed en dankbaarheid teenoor God uitbly, ly die verhouding met die medemens ook.




SAUL MAGTELOOS TEEN FILISTYNE

Van ons Ou Testament redaksie

GIBEA. – Koning Saul moes die afgelope tyd magteloos toekyk hoe roofbendes van die Filistyne die land plunder.

Dié haglike situasie volg maar enkele maande ná die klinkende oorwinning wat die nuwe koning by Jabes oor die Ammoniete behaal het. ’n Woordvoerder van die koninklike wag het vanoggend aan ons bevestig een van hulle groot kopsere is die feit dat daar geen wapens vir die soldate beskikbaar is nie, omdat die Filistyne ’n monopolie op ystersmeewerk het. Net die koning en prins Jonatan het wapens van yster.

Om alles te vererger, het die profeet Samuel hom ook van die stryd teen die Filistyne gedistansieer. Die probleem het glo ontstaan omdat Saul op die vooraand van die geveg teen die Filistyne by Gilgal self die brandoffer gebring het toe Samuel nie betyds vir die offer opgedaag het nie.

Dit lyk asof die Israeliete maar nog ’n tyd lank in die spelonke en droë putte sal moet wegkruip …

 

’N SEUN VIR ABRAM

HEBRON. – Abram het gister vir die eerste keer pa geword toe sy slavin, Hagar, vir hom ’n fris seun in die wêreld gebring het. Die oorstelpte ma het hom die naam Ismael gegee.

Abram, ’n man van ses en tagtig, woon nou al vir meer as tien jaar in Kanaän, en die groot hartseer in sy en sy vrou Sarai se lewe is dat hulle kinderloos is. Daarom het hy onlangs Sarai se slavin Hagar as byvrou geneem, om op hierdie manier ’n erfgenaam te kry.

Die trotse vader kon vanoggend nie ophou praat oor die groot gebeurtenis in sy lewe nie. Dis duidelik dat hy groot planne het vir sy seun. Ongelukkig was Sarai nie beskikbaar toe ons haar om kommentaar wou nader nie.

 

Koperslang bring redding

OBOT (Sinaiwoestyn). – Baie Israeliete het gesterf toe ’n plaag giftige slange onder hulle ingevaar het. Ironies genoeg was dit nóg ’n slang – een van koper – wat hulle gered het.

Die leier van die volk, Moses, het die koperslang laat maak en op ’n paal gesit met die opdrag dat enige iemand wat gepik is, na die koperslang moes opkyk sodat hy kon bly lewe.

Sover vasgestel kan word, was die slangplaag ’n strafmaatreël van God omdat hulle teen Hom in opstand gekom het.

 


Om oor na te dink

Ongeduld is ’n versoeking wat baie al laat struikel het. Want ons wil so graag hê dat daar vinnig in ons behoeftes voorsien moet word, dat die Here gou moet antwoord wanneer ons oor ’n saak bid, veral wanneer dié saak vir ons gevoel nogal meriete het.

In God se leerskool moes baie mense al op die swaar manier leer dat ongeduld jou niks help nie; trouens, dikwels bring dit op die lange duur vir jou groot probleme. Ongeduld het Abram immers byna sy huwelik gekos, en Ismael, sy eersgeborene, moes van hom af padgee toe hy skaars 17 jaar oud was. Die Israeliete se ongeduld met God se leiding in die woestyn het baie se dood veroorsaak. Saul se koningskap is van hom weggeneem omdat hy nie kon wag dat God se profeet vir hulle bid voor die stryd nie.

Waarom oordeel God dan so kras oor hierdie alte menslike swakheid? Omdat die hart van die ongeduld eiesinnigheid en beterweterigheid is: ek weet beter as God hoe om my sake te reël.

Ons hoef nie verder as die Skrifgedeeltes op hierdie bladsy te gaan soek om te sien wat die “beter” is wat ’n mens kry as jy ’n kortpad deur God se raadsplan vir jou lewe soek nie. Dis om dié rede dat Psalm 130:5-8 ons oproep om op die Here te wag: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.”

In Lied 579:3 sing ons ook daarvan:

God ken alleen die regte pad
wat uitloop op die hemelstad;
Hý weet of voor- of teëspoed
die beste is vir ons gemoed.

Kom ons volg Hom vandag in die vertroue dat Hy weet wat vir ons goed is.




Seun red Israel se eer

Van ons Ou Testament redaksie

SOKO (JUDA). – ’n Jong man met die naam Dawid, seun van Isai, het vandag hier die eer van die ganse volk gered toe hy die Filistynse baasvegter, Goliat, in ‘n tweegeveg verslaan het. Toe die Filistyne sien hulle held is dood, het hulle op die vlug geslaan. Talle is in die agtervolging gedood in een van die grootste oorwinnings nog vir Saul.

Dié dramatiese gebeure bring ’n einde aan ’n vernederende hoofstuk in Israel se krygsgeskiedenis. Goliat het naamlik sewe weke lank elke dag die Israelitiese leër getart en verkleineer. Hy wou ’n tweegeveg afdwing om só die uitslag van die oorlog te bepaal. Niemand het egter kans gesien om teen dié reus van drie meter te veg nie. Dawid, wat ’n skaapwagter van beroep is, het daarvan te hore gekom toe hy voorrade vir sy drie oudste broers weggebring het. Hy het onmiddellik die uitdaging aanvaar.

Koning Saul het sy eie gevegsuitrusting vir Dawid laat aantrek, maar Dawid het dit van die hand gewys omdat dit hom ongemaklik laat voel het. Gewapen met slegs ’n slingervel en ’n herderstaf het hy Goliat tegemoetgegaan. Met die eerste gooi het hy die reus tussen die oë getref, sodat hy op die grond neergeslaan het. Dawid het daarna die reus met sy eie swaard onthoof.

Dié beskeie jong man wou nie eintlik oor sy oorwinning praat nie. Sy enigste kommentaar was: “Dit was vandag ’n oorwinning vir die Here. Hy laat nie met Hom spot nie. Dit was in sy Naam dat ek die reus aangedurf het.”

 

Abram verslaan invalsmag

DAMASKUS. – Abram het gister by Dan in ’n verrassingsaanval die gesamentlike magte van “Die Groot Vier” van Mesopotamië, konings Amrafel van Sinar, Arjok van Ellasar, Kedorlaomer van Elam en Tidal van Gojim, verslaan. Wat die oorwinning so merkwaardig maak, is dat hy dié gedugte bondgenootskap met slegs 318 man aangedurf het.

Dié veldslag maak ’n einde aan Kedorlaomer se houvas van twaalf jaar op die Koningsweg-handelsroete. Sy jongste veldtog in Kanaän was juis ’n strafekspedisie om sy gesag oor die roete te herbevestig nadat ’n aantal kleiner konings in die Siddimvlakte teen sy gesag gerebelleer het. Hy het gou met hulle klaargespeel en baie mense en besittings buitgemaak.

Met Abram se skitterende oorwinning het hy al die mense en ander buit teruggekry, onder andere ook sy nefie Lot.

 

Twee loop op see; een verdrink byna

Van ons Nuwe Testament redaksie

GENNESARET. – ’n Klein groepie geharde vissers het laasnag ’n ongelooflike ervaring gehad toe hulle rabbi, Jesus van Nasaret, tydens ’n storm op die see na hulle skuit geloop het.

Om homself te oortuig dat hy nie ’n spook sien nie, het een van die vissers, Simon bar Jona, uit die skuit geklim en ook op die water na sy rabbi geloop. Halfpad het sy moed hom egter begeef, en hy sou sekerlik verdrink het as dit nie vir die flinke optrede van die rabbi was nie.

Na bewering het die storm bedaar die oomblik toe Jesus in die skuit geklim het.

 


 

Om oor na te dink

Wanneer jy op God vertrou, raak die onmoontlike moontlik. Daarom kon Petrus op die water loop. Daarom kon Abram ’n oorweldigende oormag aandurf met net 318 man, en oorwin. Daarom kon Dawid die reus Goliat tegemoetstap sonder ’n helm, borsharnas en swaard. Want Dawid was bewapen soos Goliat nooit kon wees nie: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (1 Sam. 17:45). Later sing hy in ’n lied: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps. 18:30).

Dis wanneer ons ophou om op God te vertrou, wanneer die realiteite van die wêreld om ons vir ons meer begin tel as die realiteit van God se beskikking, dis dán dat ons geloofslewe kragteloos raak, dat ons begin sink. Daarom roep die Hebreërskrywer sy lesers op: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Heb. 12:3)

Die God van Abram en Dawid en Petrus is ook óns God. Ook op hierdie dag. Ook vir jou hoef daar geen stadsmure te hoog te wees nie!