SIENER STRIEM RYKES OOR UITBUITING

Ou Testament redaksie

BET-EL. – ’n Skaapboer uit Tekoa in Juda het hom die gramskap van die geestelikes hier op die hals gehaal oor sy veroordeling van die land se rykes.

Die boer Amos het dit veral teen die rykes se uitbuiting van arm mense. “’n Mens wat sy rykdom op die ellende van andere bou, moenie dink God sal daaroor swyg nie,” het hy gesê. “Ek was tot in my siel geskok oor wat ek op ’n sakereis hierheen gesien het. Hoe kan jy dit ooit regverdig dat ’n skatryk man iemand wat hom ’n paar sandale skuld, laat verkoop as slaaf net omdat hy hom nie dadelik kan betaal nie? Of dat jy ’n stomme man se enigste bokleed as pand vat totdat hy sy skuld betaal?”

Amos het dit egter nie net teen die onderdrukking van die armes nie. Hy het hom ook uitgespreek teen die geestelike verval in die land en die verkragting van die reg.

Intussen het dit aan die lig gekom dat priester Amasia van die koninklike heiligdom hier in Bet-El ’n klag van insurgensie by koning Jerobeam ingedien het oor Amos se bedrywighede. Volgens priester Amasia is Amos besig om ’n komplot teen die koning te smee en oor die algemeen ’n oorlas van homself te maak met sy prediking. “G’n mens kan dit met dié kwasieprofeet uithou nie,” het Amasia gesê. Hy het Amos belet om langer in Bet-El by die staatstempel te preek.

In ’n verklaring wat Amos na die voorval uitgereik het, het hy gesê hy is nie ’n gewone profeet wat uit ’n profetekring kom nie. Hy is ’n boer. Maar die Here het hom agter sy skape weggevat en beveel om as profeet teen Israel op te tree. “As ’n leeu brul – wie sal nie bang wees nie? En nou het die Here God gepraat. Wie sal dan nie as profeet optree nie?” het die beskeie boer gesê.

 

Boeteprediker lok talle mense na die Jordaan om hulle te laat doop

Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Nuwe prediker het onlangs in die Jordaanstreek begin optree. Met sy dinamiese boete-prediking lok hy daagliks groot getalle mense.

Die prediker is Johannes seun van Sagaria, oftewel Johannes die Doper. Hy het dié bynaam gekry omdat hy die mense wat berou het oor hulle sonde in die Jordaan doop.

’n Kenmerk van sy prediking is dat hy niks of niemand ontsien nie; hy het selfs koning Herodes aangespreek oor sy buite-egtelike verhouding met sy skoonsuster Herodias.

Johannes het die volk se verbeelding aangegryp met sy besliste standpunt teen dit wat verkeerd is. Daar is selfs mense wat wonder of hy nie dalk die Messias is nie. Hieroor is Johannes egter baie beslis. “Die Messias is in ons midde, maar dit is nie ek nie. Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie,” het hy gesê.

 


Neus in die lug?

God was van die begin af begaan oor die lot van gewone mense, hulle wat in eerlikheid en eenvoud elke dag opkyk na Hom vir hulp. Daarom dat Hy by monde van sy profeet Amos vir hierdie mense in die bres tree. En wanneer God mens word, is dit dadelik duidelik dat hierdie sagte plek wat Hy vir gewone mense het, ook in Jesus se lewe sigbaar sal word. Daarom dat die herders die eerste mense is wat die blye tyding verneem dat Jesus gebore is.

In Luk. 3 lees ons van Jesus se eerste openbare optrede. Hier begin sy bediening op aarde amptelik. En die plek waar Jesus sy bediening begin, is baie veelseggend: Hy gaan meld Hom nie aan by die geleerdes en geestelikes in Jerusalem nie; Hy sluit Hom aan by die stroom mense wat na die Jordaan op pad is om hulle te laat doop as teken van hulle berou en hulle begeerte om van hulle sondes gereinig te word.

Jesus laat Hom ook doop, nie omdat Hy vol sonde is en nodig het om skoon gewas te word nie, maar omdat Hy Hom volledig met ons, sondaars, vereenselwig – só volledig dat Hy in ons plek ’n sondaar gemaak is, soos Paulus skryf in 2 Kor. 5:21: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”

Jesus se eerste amptelike daad as die Messias was om Hom te vereenselwig met die gewone mense. En dit sou die kenmerk van sy hele bediening bly. Daarvoor is Hy later deur die Jode verwyt, en uitgeskel as ’n vriend van tollenaars en sondaars.

Moet ons dan nie ook iets van hierdie gesindheid van Jesus openbaar nie – dat ons ons die lot van die eenvoudiges en die geringes aantrek? Ons is immers tog Christene – volgelinge van Christus!

O, om soos Christus te wees!




Josua groet sy volk vir oulaas

Van ons Ou Testament redaksie

SIGEM. – Josua seun van Nun het gister hier vir oulaas sy mense toegespreek. Hy het verlede maand honderd en tien jaar oud geword.

In sy hartroerende toespraak het hy die volk uitgedaag om te kies wie hulle wil dien: die Here, of die afgode van die Amoriete. Nadat die volk eenparig gekies het om die Here te dien, het hulle plegtig hulle verbond met die Here hernu. ’n Gedenksteen is ook op die plek opgerig.

Josua was as jong man sy voorganger, Moses, se regterhand en dus die natuurlike keuse om Moses op te volg toe hy op die vooraand van die intog in die beloofde land gesterf het.

Hy moes die Israeliete lei in die moeilike jare toe Kanaän ingeneem is en die volk gevestig moes raak in hulle nuwe tuiste. Dít het hy met groot onderskeiding gedoen.

Die Bybelkoerant wou by hom weet wat hy as die hoogtepunt van sy lang loopbaan beskou. “Om getuie te wees van al die wonders wat die Here gedoen het, was ’n heerlike ervaring,” het dié godsman geantwoord. “Maar die besliste hoogtepunt was vir my die genade dat die volk hier in die nuwe land te midde van baie versoekings aan die Here getrou gebly het.”

  • Lees Josua se hartroerende afskeidsadres in Jos. 24.

 

SEUN VERMIS; NA DRIE DAE IN TEMPEL GEVIND

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Jong seun van twaalf, wat vanjaar vir die eerste keer die Paasfees saam met sy ouers kom bywoon het, het só verdiep geraak in sy gesprekke met die skrifgeleerdes dat hy skoon uit sy ouers geraak het.

Dié jong knaap is Jesus, seun van Josef en Maria van Nasaret. Na afloop van die Paasfees kon sy ouers hom nêrens kry nie. Hulle het aangeneem dat hy met die reisgeselskap saam teruggegaan het. Toe hulle die volgende dag die geselskap inhaal, was hy egter nie by hulle nie. Hulle moes noodgedwonge terugdraai om hom te gaan soek. Eers drie dae later, rasend van bekommernis, het hulle hom gekry waar hy ewe rustig tussen die geleerdes in die tempel sit en na hulle luister en hulle uitvra!

Die geleerdes was verstom oor die seun se kennis en insig in die geloofswaarhede van die Skrif. “Hy gaan dit nog ver bring,” het ’n rabbi voorspel.

 

PERSOONLIK

Job se sewe seuns en drie dogters hou vanaand weer een van hulle groot partytjies in die oudste broer se huis.
Môreoggend vroeg sal hulle dan as gesin weer die gebruiklike brandoffer aan God gebring.

 

 


Ek en my huis

’n Vrou het só gereageer toe ek haar konfronteer oor die feit dat haar kinders nie in die Sondagskool is nie: “Ek wil nie oor die geloof vir my kinders besluit nie. Wanneer hulle oud genoeg is, moet hulle self besluit of hulle wil glo of nie. Daarom gaan ek hulle nie na enige kant toe beïnvloed nie.”

Dit klink baie mooi, maar in werklikheid het sy klaar vir hulle besluit. Sy het vir hulle besluit dat godsdiens nie die moeite werd is nie. Daarom kan hulle dit gerus maar los as hulle so voel.

Josua het anders oor die saak gedink. Onomwonde sê hy vir die Israeliete in sy afskeidsrede (Jos. 24:15): “Kies dan vandag wie julle wil dien … Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ook Job beoefen nie sy geloof sonder om sy kinders daarby te betrek nie. Want geloof is nie net ’n indiwiduele saak nie, dis ook iets wat gemeenskaplik beoefen moet word, en in besonder in die gesinslewe ’n plek moet kry.

Huisgodsdiens

Daarom dat die geloofsgemeenskap rondom huisgodsdiens so ’n belangrike vormende invloed in die geloofslewe van ons kinders het. Want daar waar die gesin rondom die Bybel vergader en saam oor die wil van God vir hulle lewe besin, waar hulle beleef hoedat Pa en Ma saam met hulle en vir hulle en vir die wêreld bid, daar begin hulle geloof prakties betekenis kry.

Dit het die vrome ouers van die kind Jesus besef. Daarom dat hulle Hom saamneem na die Paasfees, dat Hy deel mag hê aan die opwindende ervaring om elke dag voor God te lewe.

Maak tog jou kind deel van jou geloofslewe – vandag nog. Beleef saam met hom die fees om God te ontmoet in sy huis, stel belang in sy kategesewerk. Moenie tevrede wees dat ander jou kind se geestelike vorming alleen hanteer nie. Dit is jou dure plig, maar dit is ook jou ongelooflike voorreg om deel te mag hê aan jou kind se geloofsgroei. Hoe heerlik om só aan God se koninkryk te mag bou!




Jesus is nie meer dood nie, sê volgelinge

Kenners voorspel: kopseer vir die Joodse Raad nog lank nie verby nie

JERUSALEM. – Hardnekkige gerugte doen hier die rondte onder volgelinge van Jesus van Nasaret dat hy nie dood is nie. Hy is verlede Vrydag op Golgota gekruisig.

Jesus het na bewering gister, drie dae nadat hy dood en begrawe is, aan verskeie van sy volgelinge verskyn.

Volgens Simon seun van Johannes, die leier van die dissipels, het hy en nog ’n dissipel, Johannes seun van Sebedeus, gisteroggend vroeg gaan ondersoek instel toe hulle gehoor het dat Jesus se liggaam nie meer in die graf is nie. Toe hulle by die graf kom, het hulle net die doeke daar gekry. Van Jesus se liggaam was daar geen teken nie. “Ons is toe huis toe, maar kort daarna het ’n vriendin, Maria Magdalena, vir ons kom vertel dat ons meester aan haar verskyn het. Hy het selfs met haar gepraat.

“Ons was eers skepties, maar gisteraand het ons hom almal gesien. Hy het in lewende lywe voor ons gestaan, en om ons te oortuig dat hy nie ’n spook is nie, het hy selfs ’n stukkie vis saam met ons geëet! Ek het met my eie hande aan hom gevat, en glo my, hy lewe! Dis beslis nie ’n spook wat ons gesien het nie,” het ’n opgewonde Petrus vertel.

Grafskenders

Intussen het die Joodse Raad vanoggend vroeg op ’n nuuskonferensie bekend gemaak dat grafskenders, vermoedelik volgelinge van Jesus, gedurende die nag sy liggaam gesteel en op ’n onbekende plek herbegrawe het. “Ons was bang so iets kan gebeur, en daarom het ons ’n wag by die graf geplaas om dit te bewaak. Ongelukkig het die wag aan die slaap geraak,” het die hoëpriester Kajafas gesê.

Op ’n vraag hoe hy dit verklaar dat so baie mense beweer dat hulle Jesus gesien het, het hy gesê hy het nie ’n verklaring daarvoor nie, en kan maar net bespiegel oor wat werklik gebeur het. “Dit kan ’n goed beplande leuen van die klomp dissipels wees. Dit kan ook wees dat een of twee vir die grafskending verantwoordelik is, en dat hulle die storie dat hy uit die dood opgestaan het, begin het. Die mense van Galilea is maar eenvoudig en liggelowig,” het hy gesê.

Kajafas het geweier om in diskussie te gaan oor Jesus se aansprake dat hy die Messias is, aangesien bloot die gedagte daaraan volgens hom godslasterlik is. Nie eers die berig dat hy uit die dood opgestaan het, kan sy opinie hieroor verander nie, het hy gesê.

Die hoëpriester het gesê hulle het al so baie probleme met Jesus in die verlede gehad, en hulle het gemeen dat dié probleme ná sy teregstelling op ’n end sal wees. Hy het die hoop uitgespreek dat die nuutste storie gou sal oorwaai.

 

JESUS-DISSIPEL STEUN RAAD; ONTKEN OPSTANDING

JERUSALEM. – Nie al die dissipels van Jesus stem saam dat hy lewe nie. Een van sy twaalf vertrouelinge, Tomas, ook bekend as Didimus, het vanoggend tot sy vriende se groot ontsteltenis ten sterkste ontken dat hy Jesus ná sy begrafnis weer gesien het. Hy het gesê dit klink vir hom na ouvroustories, en bygevoeg dat, hoe swaar dit ook al vir hom is, hy in dié geval nie anders kan as om met die Joodse Raad saam te stem nie (lees ook die hoofberig op dié bladsy).

Tomas het aan Bybelkoerant gesê: “As ek nie met my eie oë die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo dat hy lewe nie.”

 


Natuurlik was dit vir die dissipels ongelooflik om te aanvaar dat Jesus lewe. Tomas sê sommer reguit dat hy nie vir dié storie val nie. Ook die Emmausgangers weier aanvanklik om te glo. Hulle vertel vir hulle Reisgenoot: “Nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel …” (Luk. 24:22). Dit klink nie juis na mense wat opgewonde was oor die nuus dat Hy lewe nie! En tog, kort daarna kon hulle nie wag om terug te kom in Jerusalem om die goeie nuus te vertel dat Jesus lewe nie. Want intussen het hulle die Here self gesien.

Dit is die punt. Slegs vir iemand wat Jesus persoonlik ontmoet het, maak die berig van sy opstanding sin. Vir die Joodse Raad en selfs vir die dissipels voordat hulle Hom self gesien het, was dit te veel gevra om te glo.

Die boodskap dat Jesus lewe, sal vandag ook net vir ons betekenis hê as ons Hom iewers langs die pad persoonlik leer ken het. Hoorsê is nie goed genoeg nie. Eers wanneer jy Hom ontmoet as die lewende, opgestane Verlosser, eers dan kan jy soos Tomas aanbiddend kniel en opreg bely (Joh. 20:28): “My Here en my God!”




DIE MESSIAS HET GEKOM!

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die stad van Dawid se inwoners het vandag hulle Messias met swaaiende palmtakke en lofliedere juigend ontvang.

Rabbi Jesus van Nasaret het vanoggend triomferend die stad ingery op die rug van ’n donkievul. Entoesiastiese volgelinge het hulle klere op die pad voor hom oopgegooi. Ander het weer groen takkies op die pad gelê, sodat hy nie op die stowwerige pad hoef te ry nie.

Die optog het al teen die Olyfberg begin toe Jesus se dissipels ’n donkie vir hom gebring het om op te ry. Hoe nader hulle aan die stad gekom het, hoe groter het die skare aangegroei. Hulle het God uit volle bors geprys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het, en die eeue-oue psalm waarin die koning van Israel begroet word, aangehef: “Loof die koning, hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”

’n Baie ooglopende uitsondering op dié feesvierende skare was ’n klompie Fariseërs wat tevergeefs probeer het om die skare stil te maak. Een van die Fariseërs het openlik gesê dit is godslasterlik om ’n mens as Messias te huldig. ’n Ander Fariseër was weer besorg dat die oproer die Romeinse owerhede kan ontstig, en rabbi Jesus gesmeek om ter wille van die vrede die mense tot kalmte te maan.

Rabbi Jesus was sigbaar aangedaan oor die sonderlinge eer wat hom te beurt geval het. Hy was egter nie vir kommentaar beskikbaar nie. Een van sy dissipels, Judas Iskariot, het wel gesê hy dink die verlossing van die Jode is nou nie meer ver nie. “Die Messias sal sommer in ’n japtrap met die Romeine klaarspeel, glo vir my,” het hy met groot nadruk gesê.

Min Jode deel nie die versugting van die skare nie. Of alles sal verloop soos hulle verwag, is egter te betwyfel. Rabbi Jesus is sedert hy op die toneel verskyn het, veral in tradisionele godsdienstige kringe ’n erg omstrede figuur, en dit is ’n ope vraag of hulle sy leiding sal volg.

 

HOUTJUK, OF GEEN JUK?

Profete stry onder mekaar oor die toekoms

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Twee profete het vanoggend hier in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk mekaar só weerspreek dat niemand presies weet wat die woord van die Here is nie.

Die aanleiding tot die teenstrydige uitsprake was ’n profesie van die priester-profeet uit Anatot, Jeremia seun van Hilkia. Hy het jukke met skeie en stroppe gemaak, en een daarvan op sy eie nek gesit. Die ander het hy na koning Sedekia van Juda, en ook die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur met die boodskap dat God dit so beskik het dat al hierdie koninkryke onder die juk van koning Nebukadnesar van Babel moet buig. Hy het bygevoeg dat dit valse profete is wat mense aanmoedig om teen Babel in opstand te kom. Net hulle wat hulle buig onder die gesag van Nebukadnesar sal in hulle vaderland kan bly. Die opstandelinge sal in ballingskap weggevoer word.

Die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon het skerp hierop gereageer. Hy het die juk van Jeremia se nek afgeruk en dit stukkend gebreek en geprofeteer: “So sê die Here: ‘So sal Ek oor twee jaar die juk verbreek wat deur koning Nebukadnesar van Babel gesit is op die nek van die nasies.’”

Jeremia is toe daar weg. Is hy ook verward?

 


Wie en wat moet jy glo?

Hoe weet jy of ’n woord van die Here is of nie? Hoe moes die Israeliete weet wie om te glo – Jeremia of Gananja? Albei profete het immers met groot stelligheid gesê: “So sê die Here.”

Dit was ook die vraag waarmee die Jode gekonfronteer is in die persoon en optrede van Jesus Christus. Want wat Hy gesê en gedoen het, het lynreg ingedruis teen die woord van die skrifgeleerdes en Fariseërs van sy tyd. Daarom probeer die Fariseërs die mense wat Jesus as Messias huldig, stilmaak.

Hoe weet ons vandag wat reg is en wat nie? Wat God se Woord is en wat mensewoord is?

’n Paar riglyne kan dalk help.

  1. Die belangrikste hiervan is dat jy die Here van die Woord persoonlik sal ken. Só begin jy ’n aanvoeling vir sy hart kry.
  2. Verder moet jy die Woord van die Here persoonlik ken. So kan jy ander uitsprake meet aan wat die Here in die verlede gesê en gedoen het. Hy sal immers nie vandag anders handel as voorheen nie. ’n
  3. Derde vereiste is dat jy die verkondiger moet ken: is hy (of sy) ’n persoon met integriteit, of praat hy mense na die mond?
  4. Vierdens moet jy jou eie hart ken. Wat wil jy bo alles hoor? Wat jy graag wil hê, of wat Gód sê? Jeremia begeer en bid (28:6) dat Gananja tog reg mag wees. Maar hy weet God sê anders, en daarom kan hy nie swyg nie.

Net as jy naby aan die Here en sy Woord lewe, gelei deur sy Gees, kan jy onderskei waarop dit neerkom.

Mag Hy jou op die regte pad lei, ook vandag.




Luk 19:28-40 Wat maak jy met Jesus?

Kyk, alles wat Jesus gedoen het, het Hy met ’n doel gedoen. So, toe Jesus daardie dag vir twee van sy dissipels stuur om vir Hom ’n donkie te gaan haal waarop Hy die stad kon inry, was dit ook nie sommer net nie. Dit was nie omdat Hy skielik te moeg was om self die stad in te stap nie. Nee, dit was om daarmee iets te sê van wie Hy is.

Terloops, Jesus ry op ’n jong donkie wat nog nooit iemand op sy rug gedra het nie, net soos Hy later dié week in ’n nuwe, ongebruikte graf neergelê is. Lukas gee vir ons dié besonderhede, want Hy wil hê ons moet raaksien dat ons hier met ’n koning te make het. ’n Koning gebruik nie tweedehandse ware nie; ander se oorskiet nie. Daarom ry Jesus op ’n jong donkie die stad in, om iets te sê van wie Hy is.

Jesus se volgelinge het dit goed verstaan. Daarom stap hulle nie maar net met Hom saam die stad in nie. Hulle trek hulle klere uit en gooi dit op die donkie vir ’n saal, en gooi dit voor Hom op die pad om te sê dat hulle hulleself voor Hom neerlê. Hulle begin lofliedere sing om Hom te prys, met woorde wat dit duidelik maak dat hulle verstaan dat Hy die Koning is, die beloofde Messias: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” sing hulle jubelend, en swaai palmtakke rond.

Die toneel van ’n belangrike persoon wat die stad met ’n prosessie ingery kom, was vir die mense van destyds natuurlik nie vreemd nie, soos ook nie vir ons vandag nie. Nou die dag nog kon ons vir pres Ramaphosa in daardie snaakse voertuig van hom sien, met die opening van die parlement. En koningin Elizabeth ry gereeld in haar koets. Konings en generaals het dit destyds ook gedoen, dikwels met ’n klomp van hulle onderworpe onderdane en slawe agter hulle aan, om te wys hoe belangrik hulle is. Net: ’n koning of ’n groot generaal sou nie op ’n donkie gery het nie. Hulle sou op die blinkste strydros gesit het, spoggerig getooi vir die okkasie.

Die kontras met Jesus se rydier is daarom baie opmerklik. Hy sit op ’n donkie. Matteus het die verband met Sagaria 9:9 vir ons uitgelig: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie …”

Nie op ’n oorlogsperd nie, maar op ’n donkie. Want Jesus kom nie Jerusalem binne as krygsheer nie. Hy kom as die lydende kneg van die Here, die Een wat minder as ’n week later wéér op ’n heuwel buite die stad sou wees, maar hierdie keer nie op ’n donkie se rug nie. Hierdie keer aan ’n kruis vasgespyker. En voor hom uit sou daar dan nie ’n jubelende skare volgelinge wees nie, maar ’n uitjouende skare vervolgers.

Lukas teken hier vir ons ’n prentjie van wat gebeur het met Jesus se intog in die stad, want hy wil hê ons moet onsself ook daar na die Olyfberg verplaas. Hy vra as ’t ware vandag vir ons: by watter groep mense skaar jy jou? Waar lê jou hart? Watter soort volgeling van Jesus is jy? Is jy een van dié wat jou klere voor Jesus neersit? Wat jubelend saam met Hom op pad is?

Daar is nog mense, behalwe Jesus en sy volgelinge, in die toneel wat Lukas vir ons teken. Dis die eienaars van die donkie, wat hulle eiendom gewillig en met vreugde tot Jesus se beskikking stel.

En dan is daar ook ’n aantal Fariseërs. Hulle jubel nie saam nie. Hulle is bekommerd oor wat hulle sien. Die Skrifverklaarders sê dit is moontlik dat hierdie Fariseërs nie teen Jesus gekant was nie. Hulle was ook volgelinge, maar hulle is bang vir die reaksie van die owerhede op die skare se gejubel. Netnou hoor die Romeinse owerhede dit, en dan vertolk hulle dit as ’n opstand. So, maak liewer die mense stil, Jesus, voor daar moeilikheid kom. Ons wil nie probleme hê nie. Bly uit die moeilikheid, ter wille van die vrede. Dis mense wat aan Jesus wou voorskryf wat en hoe Hy behoort op te tree, en wat aanvaarbaar is en wat nie.

Vandag hoor ’n mens nog sulke stemme. Ons moet onthou dat ons nie die enigste mense in die land is nie, sê hulle. Daar is ook Moslems, en Hindoes, en ateïste en so, en ons moenie iets doen wat hulle dalk kan aanstoot gee nie. Daarom, los liewer die godsdiensoefening by die saalbyeenkomste, of die Bybelklasse op skool. En moenie aandring op Christelike feesdae op die nasionale kalender nie. Moenie ’n vergadering met gebed open nie, want nie almal glo soos jy nie.

Dan is daar nog die omstanders ook. Hulle neem nie deel aan die optog nie. Hulle maak nie beswaar nie. Hulle doen niks. Hulle kyk net, asof Jesus en sy saak nie juis belangrik is nie. Of miskien moet hulle nog besluit hoe hulle oor Hom voel.

Ek het ’n idee dít is die mense wat ’n paar dae later saam geskreeu het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Want Jesus se aansprake het hulle ongemaklik gemaak. Jesus se woorde en dade het hulle gedwing om te kies waar hulle met Hom staan, en hulle wou nie kies nie. Dit was makliker om Hom uit die weg te ruim, dan is hulle probleem opgelos.

Waar staan jy vandag? Dís die vraag wat ons in die Lydenstyd opnuut vir onsself, en teenoor die Here, moet antwoord. My eerste reaksie op dié vraag was: Maar natuurlik is ek deel van die volgelinge van Jesus, wat met opgewondenheid juigend agter Hom aanstap. En ek glo dit is julle reaksie ook vanoggend. Natuurlik is Jesus ons Koning. Natuurlik volg ons Hom juigend, jubelend.

Maar wag net gou. Was Petrus nie een van dié wat Jesus met oorgawe gevolg het nie? Wat op ’n keer voortvarend gesê het hy sal by Jesus staan, al verlaat álmal Hom? En Judas Iskariot was óók daar om takke te swaai!

Jy sien, dis maklik om hier in die kerk te sê: “Ja, Here, ek volg U!” Maar Jesus se pad loop soms anders as wat óns sou kies. Hy lei nie altyd soos ons dink reg is nie. Hy maak nie noodwendig soos ons wil hê Hy moet nie. Dis die moeilikheid met Jesus, as julle my sal verskoon dat ek dit so stel: Hy is sy eie baas. Hy volg sy eie kop. Ons het Hom net nooit in die sakkie nie. Daarom maak Hy nie die skare stil ter wille van die vrede nie. Daarom gaan Hy die stad in en dop die tempelplein om. En stap Hy ses dae later met ’n kruis op sy rug uit die stad uit.

As ons Hóm wil volg, het dit implikasies vir ons hele lewe. Het dit implikasies vir die manier waarop ons in ons huise met ons dierbares saamleef. Het dit implikasies vir die manier waarop ek my werk doen, my sake doen, my werknemers behandel, en my kollegas en my seniors. Dit het implikasies vir hoe ek betrokke is in die koninkryk. Dit vra dat ek die stang vasbyt en nie wegskram van die eise van die evangelie nie, dat ek offers moet bring, offers van tyd en moeite en energie en geld. As ons Hom wil volg, gaan dit ons kos.

Lydenstyd keer ons voor, want dit gaan oor lyding: Jesus se lyding vir ons, maar ook ons navolging op sý pad. Ons staan vandag aan die vooraand van Groot Lydensweek. Gaan ons opnuut kies om Hom te volg, al weet ons dit gaan ons kos? Dís die vraag wat ek en jy in die komende week voor Goeie Vrydag moet antwoord.




DIE MESSIAS IS GEBORE, SÊ SKAAPWAGTERS

Van ons Nuwe Testament redaksie

BETLEHEM. – Skaapwagters van die omgewing het teoloë hier verstom met bewerings dat die Messias gebore is. Engele het dit glo laasnag aan hulle vertel. Daarna het hulle self gaan kyk, en die Kindjie in ’n stal gekry.

Volgens die skaapwagters was hulle in die veld besig om hulle skape op te pas, toe hulle die ongelooflike tyding gekry het. Eers was daar net een engel wat die aankondiging gemaak het, maar kort daarna het ’n hele magtige koor van engele by hom aangesluit met ’n loflied tot Gods eer. “Dit was die mooiste musiek wat ek nog ooit gehoor het,” het een van die herders gesê terwyl die ander instemmend knik.

Teoloë met wie Die Bybelkoerant gesels het, is baie skepties oor dié vertelling. “Ek vind dit baie vreemd dat skaapwagters van alle mense die boodskap dat die Messias gekom het, gehoor het,” het rabbi Ariël gesê. “’n Mens sou verwag dat ons teoloë darem seker eerste daarvan sou weet. Buitendien, ons weet almal dat die skaapwagters goed weglê aan die voggies om die nagkoue weg te keer. G’ n wonder hulle sien naderhand engele nie!” ‘n Ander skrifgeleerde, rabbi Johanan, het bygevoeg: “Ons weet almal skaapwagters is onbetroubare getuies. Dis dié dat hulle woord nie in ‘n hof aanvaar word nie. So jammer, maar hierdie storie is darem net te dik vir ‘n daalder.”

Of die herders se verhaal werklikheid of verbeelding is, sal net die tyd leer. Dat die nag hulle lewe verander het, is egter onteenseglik. Bybelkoerant wonder of enige iemand só verwonderd kan wees oor hallusinasies uit ’n bottel.

 

GEBOORTES

BEN JAKOB. Vir Josef, seun van Jakob, en sy vrou, Maria, is die allerfraaiste klein babaseuntjie Jesus in Betlehem gebore. Ons staan in verwondering voor u groot almag, o Heer!

 


Om oor na te dink

Ek ontdek al hoe meer hoeveel anders God as ons is, en hoe anders Hy oor dinge dink as ek.

Die menswording van die Seun van God ís die grootste gebeurtenis in die bestaan van die mensdom. Daaroor is die Bybel baie duidelik. As God die grootste gebeurtenis in mensegeskiedenis laat gebeur, is dit nogal opmerklik dat die hoofkarakters in hierdie ongelooflike drama gewone mense was. Nie die politieke leiers nie, nie groot geleerdes nie, en selfs nie eers die godsdienstige leiers van destyds nie. Nee. Ons lees van Maria, ’n eenvoudige meisie uit Nasaret. Ons lees van haar verloofde, Josef. Hy was ’n doodgewone skrynwerker. En ons lees van skaapwagters. Ruwe, geharde manne. Gewone mense. Eenvoudige mense.

Dit sê vir my iets van die mense onder wie God tuis voel. En dit sê iets van die manier waarop God wil dat ons moet lewe. Prag en praal en luuksheid beïndruk Hom nie juis nie. God voel eerder tuis dáár waar mense in eenvoud en opregtheid lewe.

Mag jy en jou mense ‘n baie geseënde Kersfees beleef. En mag jy, in die gees van Kersfees, in eenvoud en opregtheid die Kind van Betlehem volg, die nuwe jaar in!