Ai verslaan invallers

Is Israel se god werklik so sterk?

Al. – Die aansien van die invallende Hebreeuse magte het gister ’n gevoelige knou gekry toe die klein stadjie Ai hulle elite-aanvalsmag van die stadspoort af verdryf het. In die daaropvolgende hakkejag het talle Israeliete gesneuwel, en het die res die klipskeure ingevlug om die dood te ontkom.

Die nuus van Ai se oorwinning het teen laat gistermiddag reeds die omliggende stede bereik. Die Kanaäniete slaak ’n sug van verligting, omdat die ergste na die slag van Jerigo gevrees is. Stories van ’n onoorwinlike god wat vir hulle veg, is uit alle oorde gehoor. Gelukkig lyk dit nou of dié stories net ’n propagandaset van die Israeliete was.

Die gevaar is waarskynlik nog lank nie verby nie, maar na die slag van Ai het die konings van suidelike Kanaän nuwe moed om die invallers te keer. Berigte uit die Hebreeuse kamp dui juis daarop dat die Israeliete se moed gebreek is. Indien die konings nou saamstaan en vinnig toeslaan, kan hulle dalk vir goed van die invallers ontslae raak. ’n Spitsberaad om hieraan gestalte te gee, is vir môremiddag in Jerusalem belê tussen die Amoritiese konings Adoni-Sedek van Jerusalem, Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon.

  • Lees alles hiervan in Jos. 7.

 

ISRAEL VIER DIE EERSTE KEER DIE GROOT VERSOENDAG

SINAIBERG. – Die Israeliete het gister met gewyde erns, maar ook met groot dankbaarheid, die eerste keer die Groot Versoendag gevier. Tydens die fees is die volk met behulp van verskeie offerhandelinge van hulle sondes gereinig, sodat hulle sonder die skuldlas van hulle sonde voor hulle God kan lewe.

By navraag het Moses, hulle leier, gesê die fees sal voortaan ’n jaarlikse instelling wees en elke jaar op die 10de van die maand Tisri gevier word. Dit is die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die allerheiligste deel van die tabernakel mag ingaan om in die direkte teenwoordigheid van God te verskyn.

Die fees het vroegdag begin toe hoëpriester Aäron ’n jong bul geoffer het om sy eie sonde en dié van al die priesters te versoen. Met die bloed van die bul het hy toe alleen agter die voorhangsel ingegaan na die Allerheiligste. Daar het hy die bloed op die versoendeksel wat bo-oor die verbondsark is, gesprinkel.

Nadat Aäron só van sy eie sondes gereinig is, het hy uitgekom om ook vir die volk se sonde versoening te doen. Daarvoor is twee bokramme na hom gebring: een bok vir die Here, en een vir Asasel. Die bokram vir die Here het hy eerste geoffer, en ook dié bloed die Allerheiligste ingeneem om namens die volk vir hulle sonde by God in te tree. Daarna het hy van die bloed ook op die altaar gesprinkel. Toe is die lewende bok, die een vir Asasel, na hom gebring. Hy het sy twee hande op die bok se kop gelê en al die oortredinge en opstandigheid en sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. So het hy die volk se sondes na die bok oorgedra. Daarna is die bok die woestyn ingejaag, sodat die sondes van die Israeliete uit die laer verdryf kon word.

Een van die ou Israeliete het namens almal gepraat toe hy teenoor Die Bybelkoerant opgemerk het: “Na vandag sal ek nooit weer dieselfde oor sonde dink nie. Ek besef nou eers watter gruwel my sonde vir God moet wees. Hoe wonderlik om daarvan ontslae te kan wees!”

  • Lees van die reëlings rondom die Groot Versoendag in Lev. 16.

 


Wie’s die sondebok?

Toe die Israeliete deur Ai verslaan is, soek Josua iemand om vir die neerlaag te blameer. En, soos helaas so dikwels gebeur, is God die een wat die skuld kry: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei?” (Jos. 7:7). Sedert die heel eerste sonde in Eden is dit immers die mens se taktiek – soek die sondaar elders, sodat jy sonder blaam kan wees. Adam beskuldig Eva, en kom in die proses sommer vir God ook by: “Dis die vrou wat U my gegee het, se skuld” (vgl. Gen. 3:12).

In die handelinge rondom die Groot Versoendag wys God sy volk ’n ander manier om van die sondeskuld ontslae te raak: juis deur die erkenning van hulle eie sonde. Ons gebruik vandag sondebokke om daarmee te sê: daardie een is die oorsaak van die probleem; ek is onskuldig. Met die sondebok van Lev. 16 sê die volk egter: “Ons is skuldig.” Daarom moes Aäron sy twee hande op die kop van die bok lê en “ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely” (Lev. 16:21).

Om vir ander – en selfs vir God! – die blaam te gee, neem nie jou eie skuld weg nie. Dis eers wanneer jy in gebrokenheid staan voor die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29), dat jy waarlik vry word.




Spanning in stad by breekpunt

JERIGO. – Die spanning loop hoog in dié oeroue Kanaänitiese vestingstad. Dit word veroorsaak deur die Israeliete wat, vreemd genoeg, nog geen aanval op Jerigo geloods het nie, hoewel hulle klaarblyklik van plan is om die stad in te neem.

Die stadspoort is as ’n voorsorgmaatreël reeds twee weke lank gesluit. Vyf dae gelede het die Israeliete inderdaad ook na die stadspoort opgeruk. Hulle het egter nie aangeval, soos verwag is nie. Hulle het slegs een maal om die stad gemarsjeer, en toe weer na hulle laer teruggekeer. Dit het die afgelope vyf dae elke dag gebeur, sonder dat die stad aangeval is. In doodse stilte stap hulle elke dag een maal om die stad – eers die soldate, dan sewe priesters met ramshorings, dan volg manne met ’n goue kis op hulle skouers, en dan ’n agterhoede van priesters. Die enigste geluid is dié van die ramshorings wat onophoudelik geblaas word.

Dié vreemde gedrag slaan die stadsvaders en leëraanvoerders dronk. “Ons weet nie wat hulle plan is nie, en daarom weet ons ook nie hoe om ons voor te berei vir die aanval wat beslis nog gaan kom nie,” het een generaal gesê, en bygevoeg: “Toe hulle die eerste keer sonder slag of stoot weer vort is, het die soldate spottend gesê hulle dink seker die mure sal omval as hulle so op die ramshorings blaas, maar nou is dit nie meer snaaks nie. Die manne se moraal word by die dag slegter.”

 

SIMSON DEUR FILISTYNE GEVANG

SORA. – Die stad is in rou gedompel sedert die skoknuus gister hier aangekom het dat die kragman Simson seun van Manoag deur die Filistyne in die Sorekvallei hier naby gevang is. Simson, ’n boorling van Sora, het die Israeliete die afgelope twee dekades gelei, en man-alleen die Filistyne die een nederlaag na die ander toegedien.

Simson was van sy geboorte af aan God gewy. As teken daarvan is sy hare nooit geskeer nie, en het hy dit in sewe lokke gedra. Reeds voor sy geboorte het ’n engel van God aan sy moeder gesê Simson sal ’n besondere man wees en die volk uit die mag van die Filistyne red. Hiervoor het God hom buitengewone krag gegee, wat hy by verskillende geleenthede gebruik het om die vyand te verslaan.

Volgens sy bedroefde moeder is dit onbegryplik dat die Filistyne haar seun kon vang. “Ek kan dit nie verstaan nie. Hulle was almal so bang vir hom. Hy het net na hulle kant toe gekyk, dan slaan hulle op die vlug. Al wat ek kan dink, is dat hulle op die een of ander manier die geheim van sy bonatuurlike krag uitgevind en hom só magteloos gemaak het,” het sy gesê.

Onbevestigde berigte lui dat Simson eergisteraand in die huis van sy vriendin, ene Delila, oorrompel is. Sy oë is blykbaar uitgesteek voordat hy geboei na Gasa gebring is.

 


God se gawes

Jerigo, die eerste stad op Josua se veroweringslys, is uit ’n menslike oogpunt darem werklik op ’n eienaardige manier ingeneem. Sewe dae lank het die lsraeliete bloot om die stad geloop. Al wat hulle gedoen het, was om te loop terwyl die priesters onophoudelik op ramshorings blaas. Toe die mure van die stad op die sewende dag intuimel, was dit nie van die ramshorings se geblêr óf die manskappe se geskreeu nie. Dit was ’n wonderwerk van Bo.

Dit is die hele punt. Die land Kanaän was die Beloofde Land. Dat Israel daar kon woon, was ’n wonder, ’n gawe van God. Daarom neem hulle nie die eerste stad (en simbolies daarmee ook die hele land) met krygsmag of vernuf in nie, maar op só ’n manier dat daar geen twyfel daaroor kan wees dat God die stad vir hulle gegee het nie. Jerigo moes altyd die teken bly van die feit dat Kanaän ’n gawe Gods is, nie ’n land waarop die lsraeliete ’n reg gehad het nie.

God se gawes is nie iets wat ons kan besit in die sin dat ons daaroor volledig beskikkingsreg kry nie. Dit bly steeds gawes wat in afhanklikheid van God telkens weer ontvang moet word. Dit het Simson op ’n baie duur manier geleer: sy krag was nie ’n gawe waaroor hy na willekeur kon beskik nie. Toe hy wakker skrik, het hy gedink hy sal weer uitstap soos die vorige kere en hom losruk. Maar, sê die Bybelskrywer dan, “hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie” (Rig. 16:20).

Laat ons dan die gawes wat God in sy liefde en genade in oorvloed aan ons skenk, met dankbaarheid geniet, maar ook met verantwoordelikheid teenoor Hom van Wie ons dit ontvang het.




DIE ISRAELIETE TREK DEUR DIE JORDAAN

GILGAL. – Die langverwagte – en gevreesde – Israelitiese intog in die land Kanaän het vandag ’n werklikheid geword toe die Israeliete deur die Jordaan getrek het en hier by Gilgal kamp opgestaan het.

Hoewel hulle tot dusver nie die Kanaäniete lastig geval het nie, vrees inwoners dat hulle die land met geweld van hulle sal probeer afneem. Die konings van Jerigo, Ai, Bet-El en Gilgal gaan juis in die lig van hierdie bedreiging oormôre ’n spitsberaad hou.

 

PRINS AMNON VERMOOR DEUR SY BROER

JERUSALEM. – Die hele stad is gister tot stilstand geruk deur die skoknuus dat kroonprins Amnon vermoor is. Sover vasgestel kan word, is Absalom, die tweede aanspraakmaker op koning Dawid se troon, die een wat agter die moord sit.

Teenstrydige berigte het aanvanklik die paleis bereik. Die eerste berigte het gelui dat prins Absalom tydens ’n oesfees in Baäl-Gasor al die koningseuns vermoor het. Jonadab, seun van die koning se broer Samma en ’n boesemvriend van prins Amnon, het egter aan die koning berig dat dit slegs Amnon is wat vermoor is en dat sy ander seuns veilig is. Kort hierna het die prinse opgedaag. Toe hulle hulle vader sien, het hulle hardop begin huil van skok en ontsteltenis, en hy saam met hulle.

Prins Absalom het nie na Jerusalem teruggekeer nie. Sover vasgestel kan word, het hy na Gesur gevlug, waar hy glo om asiel wil aansoek doen by koning Talmai.

Mense na aan die koningshuis sê dat dié moord die kulminasie is van twee jaar van bitter vyandigheid tussen Amnon en Absalom. Hoewel dit om verstaanbare redes nie rugbaar gemaak is nie, het Amnon destyds Absalom se beeldskone suster Tamar verlaag. Die koning was glo woedend, maar hy het niks gedoen om die onreg reg te stel nie. Absalom het hom oor Tamar ontferm, maar hy het sy halfbroer nooit dié onreg vergewe nie.

 

Ontevredenheid oor Eli se seuns kring uit

SILO. – Al meer Israeliete kla oor die gedrag van die priester Eli se seuns, die priesters Hofni en Pinehas. Nie net ontwy hulle die aanbidders se offers deur onregmatig van die vleis vir hulle op te eis nie; daar is selfs sprake daarvan dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting.

Een ontnugterde aanbidder het die gevoel van talle Israeliete opgesom toe hy aan ons korrespondent gesê het: “Hulle maak ’n bespotting van die offerdiens en die priesteramp. As daar nie iets drasties verander nie, kom ek nie weer hierheen nie.”

 


Maak tyd vir jou kind

Dis tragies dat mense wat die Here sonder twyfel innig liefhet én daarby met oorgawe vir Hom lewe, kinders kan hê wat die pad heeltemal byster raak. Jy ken waarskynlik self toegewyde gelowiges wie se kinders nie in hulle spore volg nie.

In die Bybel lees ons ook van sulke mense; mense wat met die groot smart moes saamleef dat hulle kinders weinig erg het aan God en sy gebod. Eli en Dawid was, uit die getuienis van die Bybel self, mense wat naby aan God geleef het. En tog het hulle kinders nie die Here liefgehad nie.

’n Predikant vertel dat sy kind, toe hy die verhaal van Absalom hoor, by sy vrou wou weet hoekom Absalom so stout was terwyl Dawid dan so ’n goeie man was. Haar antwoord was dat Dawid seker maar só besig was om die land te regeer dat hy nie tyd gehad het om sy kinders reg te leer nie. Die kind het daarop begin huil en gevra: “Mamma, wat gaan dan van ons word? Pappa waai net in by die huis, dan waai hy weer uit!”

Het jy tyd vir jou kind? Tyd om só by jou kind te wees dat iets van jou liefde vir die Here, iets van jou toewyding aan Hom en sy Woord afgee op hom?

Dít was die groot beginsel van verbondsopvoeding in die Ou Testament: dat die ouers met hulle kinders sal praat: “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut. 6:7). Daarom beveel Josua ook die volksleiers om ’n monument op te rig daar waar hulle deur die Jordaan getrek het, sodat hulle ’n aanknopingspunt het om met hulle kinders oor die wonderdade van God te praat (Jos. 4:4-7).

Maak tyd vir jou kind!




Vyandelike volk trek saam op Jordaan-oewer

JERIGO. – Die koning het sy kommer uitgespreek oor die saamtrekking van die Israeliete op die oostelike oewer van die Jordaan by Sittim regoor Jerigo. Hy het gister ook die soldate op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.

Die vrees dat Jerigo deur die Israeliete aangeval gaan word, is gister versterk deur gerugte dat twee Israelitiese spioene in die stad opgemerk is.

Hulle is onder andere by die huis van die prostituut Ragab opgemerk, maar toe die soldate ondersoek ingestel het, het hulle reeds haar huis verlaat. Die stadspoort is onmiddellik gesluit, en soldate het ook die pad na die Jordaan gefynkam. Padblokkades is by al die driwwe opgerig. Teen druktyd was die spioene nog op vrye voet.

Spanning loop intussen hoog, aangesien berigte uit die trans-Jordaangebied daarop dui dat die Israeliete ’n gedugte volk is wat boonop dikwels met bonatuurlike hulp oorwinnings behaal. ’n Woordvoerder van die koninklike lyfwag het egter die inwoners tot kalmte gemaan. In ’n verklaring gisteraand het hy gesê dis net ’n kwessie van tyd voordat die spioene vasgetrek word, aangesien hulle vreemd is en nie die omgewing goed ken nie. “As ons hulle eers gevang het, sal ons kan uitvind presies wat hulle plan is, en dan sal ons gereed wees wanneer die inval kom,” het hy gesê.

 

VROU FNUIK VLUGPLAN VAN GENERAAL

KEDES. – Die eer om die gevreesde generaal Sisera te dood, was nie vir Barak, aanvoerder van die Israelitiese leër, beskore nie. Sisera het aan die hand van ’n vrou gesterf.

Die vrou wat oornag ’n volksheldin in Israel geword het, is Jael eggenote van Geber, ’n Keniet wat in die omgewing woon. Geber het in die verlede goeie betrekkinge met koning Jabin gehandhaaf. Toe die Israeliete die oorhand in die veldslag kry, het Sisera by Geber kom skuiling soek. Jael het hom in haar eie tent weggesteek. Nadat sy vir hom dikmelk gegee het, het hy van uitputting aan die slaap geraak. Dit was tóé dat hierdie dapper vrou haar kans waargeneem het. Met ’n hamer en tentpen gewapen, het sy na Sisera gesluip, en die tentpen deur die slaap van sy kop geslaan, sodat sy hom in die grond vasgepen het.

Kort daarna het Barak opgedaag. Maar sy prooi was toe reeds dood.

 

Koning Jabin se weermag verpletter

KEDES. – Die Israelitiese stamme Sebulon en Naftali onder aanvoering van Barak seun van Abinoam en die profetes Debora vrou van Lappidot het gister die gedugte krygsmag van generaal Sisera, leërhoof van Jabin, totaal vernietig.

Barak het uit die rigting van Taborberg met tien duisend man aangeval. Voordat die geveg nog kon begin, het daar egter ’n hewige reënbui uitgesak. In die modderige grond was Sisera se groot troefkaart, naamlik sy nege honderd strydwaens, nutteloos. Party is selfs deur die Kisonspruit meegesleur, sodat Sisera se leër op die vlug geslaan het. Barak het hulle agtervolg en by Garoset-Gojim tot die laaste man toe afgemaai. Ook Sisera is gedood (lees die berig “Vrou fnuik vlugplan” elders in dié uitgawe).

Politieke waarnemers verwag dat dit etlike jare sal duur voordat koning Jabin, wat die afgelope twintig jaar die politieke toneel oorheers het, weer ’n faktor in Kanaän sal wees.

 


God kan jou gebruik!

’n Mens kan maar net wonder hoe die geskiedenis van die Godsvolk sou verloop het as daar nie op kritieke momente vroue na vore getree het om met geloofsmoed hulle deel te doen nie. Vroue soos Sara en Rebekka, en Mirjam; vroue soos Ragab en Debora en Jael. Geen wonder nie dat hulle name in die Bybel verewig word, ten spyte van die feit dat hulle in ’n wêreld gelewe het waarin die vrou eintlik geen plek gehad het nie. Die Jode het immers gebid: “Ek dank U dat ek nie ’n heiden is nie, of ’n hond nie, of ’n vrou nie.” Miskien het dit tyd geword om te bid: “Dankie, Here, dat daar vroue is!”

Die geskiedenis van Ragab en Jael onderstreep ’n baie belangrike feit: dat God dikwels op vreemde, onverwagse maniere werk om sy wil te laat geskied, en dat Hy daarvoor nie noodwendig die voor die hand liggende mense gebruik nie. Hy gebruik mense wat gewillig is om dit met Hom op sy pad te waag.

God kan ook vandag vir jou gebruik om ’n bres vir sy koninkryk te slaan, mits jy gewillig is. In God se hand kan jy wat die Here liefhet, “wees soos die son wat in sy volle krag skyn” (Rig. 5:31).




Moses sterf op Neboberg

SITTIM. – Moses seun van Amram, die leier van die jong volk Israel vir die afgelope veertig jaar, is dood. Hy het eergister vir oulaas sy geliefde volk gegroet en toe, op bevel van God, uit die Moabvlakte opgeklim na Neboberg toe.

Moses het in die verlede dikwels ’n berg uitgeklim om alleen in God se teenwoordigheid te vertoef, maar hierdie keer, het hy gesê, sal hy nie weer terugkeer nie. Hy gaan net kyk hoe die beloofde land lyk, en dan sal hy sterf. Sy opvolger, Josua seun van Nun, het gister ’n soekgeselskap die berg uit gestuur om sy liggaam te gaan haal vir die begrafnis, maar hulle het vanoggend onverrigter sake teruggekeer. Hulle kon sy spoor volg tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo, maar daar het die spoor eenvoudig doodgeloop. Josua het daarop verklaar dat hy aanvaar dat Moses dood is en dat God self hom begrawe het.

Afskeid

Voor sy dood het Moses op dramatiese wyse van sy volk afskeid geneem. Eers het hy die volk van God se teenwoordigheid in die nuwe land verseker, en toe sy opvolger, Josua seun van Nun, aangewys en hom die hande opgelê. Daarna het hy ’n boek aan die Leviete oorhandig waarin al die wette wat hy van God ontvang het, opgeteken is. Hy het die Leviete beveel om die boek langs die verbondsark van die Here te plaas as ’n blywende herinnering dat die Israeliete onder God se bevel staan. Daarna het hy ’n aangrypende lied vir die Israeliete geleer oor die liefde en trou van God ten spyte van die mens se ontrou. Hy het die hoop uitgespreek dat hierdie lied die volk gedurig sal terugtrek na God toe, elke keer as hulle dit sing. Toe het hy vir oulaas sy volk geseën, en daarna alleen die berg uitgeklim.

Van die begin af vir groot dinge bestem

Moses se lewe was van die begin af al bestem vir groot dinge. Hy het by geboorte dramaties die dood vrygespring toe sy moeder hom in die Nyl tussen die riete versteek het sodat farao se moordbendes hom nie kon kry nie. Daar het farao se dogter het hom gekry en as haar eie kind aangeneem. Op veertig het Moses egter na sy mense teruggekeer. Kort voor lank het hy met die Egiptiese slawedrywers gebots en moes hy vlug na Midian. Daar het hy veertig jaar lank gewoon en sy vrou, Sippora dogter van Jetro, ontmoet. Dit was ook hier wat hy die roeping ontvang het om die Israeliete uit die mag van Farao te bevry en na die land Kanaän te lei, ’n taak wat hy met groot onderskeiding verrig het.

 

“MOSES WAS ’N REUS ONDER DIE GROTES”

SITT1M. – Josua seun van Nun, die nuwe leier van die jong volk Israel, het vanoggend hier op ’n huldigingsdiens in ’n rede sy ontslape voorganger beskryf as “die grootste leier wat hierdie volk ooit kon droom om te hê”.

Hy het gesê Moses het die grondslag gelê vir ’n regeringstelsel en ’n gemeenskapslewe. Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, was hulle net ’n ongeorganiseerde klomp slawe. Moses het hulle saamgesnoer tot ’n hegte volk. Dit was nie aldag maklik nie, en hy het dikwels met kwaai teenkanting te make gekry. “Ek het hom soms moedeloos gesien. Ek het hom soms sien huil van frustrasie. Ek het hom woedend gesien. Maar ek het nooit ooit gesien dat hy sy volk afskryf nie. Want Moses het sy mense met sy hele hart liefgehad,” het Josua gesê.

Daar was net een liefde in Moses se lewe groter as dié vir sy volk, en dit was sy liefde vir die Here. “Ek dink nie ek is verkeerd as ek vandag sê daar sal nie weer ’n profeet in Israel optree wat soos Moses is nie. Hy het die Here persoonlik geken. Ek het by hom geleer wat dit beteken om naby God te lewe. Mag dit ook tog elke dag van my waar wees,” het Josua bewoë sy rede afgesluit.

Josua het ’n routyd van dertig dae vir hulle ontslape leier aangekondig. Eers daarna sal hulle met die groot taak begin om die beloofde land in te trek.

 


Om die Here persoonlik te ken

Moses was ’n begenadigde mens; ’n unieke leier en bowenal ’n man wat in ’n baie besondere verhouding met God gestaan het. Tereg is dít die getuigskrif waarmee die Moses-geskiedenis afgesluit word (Deut. 34:10): “Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.” Dit was die geheim van sy sukses: sy innige verhouding met God.

Ons het nie almal die unieke geleenthede wat Moses gehad het om ’n onuitwisbare merk in die geskiedenis van hierdie wêreld te maak nie. Van min van ons sal gesê kan word dat daar nie weer so iemand in die land sal wees nie. Maar die getuigskrif dat Moses die Here persoonlik geken het, kan ook, nee, móét ook van elke gelowige gesê word. Want wanneer die kind van God die Here daagliks in sy binnekamer ontmoet, leer hy Hom ken en groei hy gaandeweg al vaster aan Hom.

O, dat ons Hom só mag ken!




Die held van Karmel kies hasepad

SAMARIA. – Elia die Tisbiet, die profeet van die Here wat verlede week met leeuemoed vier honderd en vyftig profete van Baäl die stryd op Karmelberg aangesê en hulle uiteindelik almal met die hulp van die volk gedood het, het die land uit gevlug.

Sy verdwyning kon nie op ’n méér ongeleë tyd vir die aanbidders van Jahwe gekom het nie, aangesien hulle sy leiding nou baie nodig het. Ná die gebeure by Karmelberg het die hoop opgevlam dat Elia hulle sal kan lei in hulle verset teen die pogings van koningin Isebel om die land heeltemal onder die Baäldiens te bring. Klaarblyklik was dit ’n ydele hoop. Dit was juis ’n boodskap van Isebel wat Elia daartoe beweeg het om die land te verlaat.

Bybelkoerant kon nie daarin slaag om ’n onderhoud met Elia te voer nie, aangesien hy iewers in die woestyn gaan skuil het. Sy slaaf, wat hy in Berseba agtergelaat het, het egter aan ons gesê dat koningin Isebel met ’n boodskapper vir Elia laat weet het, en ons haal aan: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Volgens die slaaf het Elia bang geword en vir sy lewe gevlug.

Hy was glo baie depressief, en het gesê dit lyk vir hom hy stry ’n verlore stryd om die ware geloof weer terug te bring na sy mense toe. Die slaaf het ons meegedeel dat hy baie bekommerd oor sy meester is en wonder of hy hom weer lewend sal sien, aangesien Elia gesê het hy sien nie meer kans om voort te gaan nie. Hy het glo ook gesê die Israeliete het die verbond met God verbreek, en nou staan hy vingeralleen.

In ’n verdere verwikkeling het koningin Isebel vanoggend in ’n persverklaring die Israeliete gevra om kalm te bly en hulle nie te laat intimideer deur die lot van die Baälprofete op Karmelberg nie. Sy het hulle die versekering gegee dat sy geen moeite sal ontsien om die vyande van Baäl uit te roei nie. Sy het ook bekend gemaak dat sy haar vader, koning Etbaäl van Sidon, versoek het om nuwe Baälprofete na Israel te stuur om die leemte te vul wat die dood van die profete gelaat het.

Ondertussen val die reën nog onafgebroke oor die hele land, soos Elia op Karmelberg beloof het. Die boere juig, want die droogte is gebreek en hulle sal nou vir die eerste keer in drie jaar weer kan saai.

 

MOSES LAAT STROME WATER UIT ’N ROTS VLOEI!

MERIBAWATERS. – Moses het vandag hier sy volgelinge verstom toe hy vir hulle water uit ’n rots laat vloei het. Só baie was die water dat almal, ook die vee, na hartelus kon drink.

Die water het nie net die Israeliete se dors geles nie, maar ook hulle veglustigheid gedemp. Hulle was die laaste tyd baie wrewelrig teenoor Moses omdat hy hulle die woestyn ingebring het terwyl hulle in Egipte gewoond was aan volop water. Nadat hulle vanoggend weer begin mor het, het Moses eenvoudig sy kierie gevat en vir die mense gevra of hy vir hulle water uit die rots moet laat kom. Daarna het hy twee maal met die kierie teen die rots geslaan, en siedaar! ’n Kitsfontein.

 

Koning Dawid trou stil-stil

JERUSALEM. – Koning Dawid het vandeesweek hier in die huwelik getree met ’n vooraanstaande weduwee van die stad. Sy is Batseba dogter van Eliam, kaptein in die koninklike leër. Haar eerste man, Urija die Hetiet, was ook ’n offisier in die koninklike leër. Hy het vroeër vanjaar gesneuwel in gevegte om Rabba, die hoofstad van die Ammoniete.

Die huwelik is in die paleis gesluit, en daarna het ’n baie klein geselligheid gevolg. Slegs die intiemste vriende van die koning en sy nuwe bruid was aanwesig. Op ’n vraag waarom daar nie ’n groot bruilof gereël is nie, het die koning geantwoord: “Ek dink nie dit is gepas om ’n luisterryke troue te hê terwyl my soldate in ’n oorlog gewikkel is nie.”

 


Wie meen dat hy staan …

Selfs die grootstes onder die grotes struikel en val, want versoekings en sonde het nou maar eenmaal ’n manier om niemand oor te slaan nie. En dikwels kom dit juis op ’n tydstip dat jy dit die minste verwag. Moses het immers met die episode met Aäron se bloeiende staf opnuut weer die almag van God beleef; Elia se optrede op Karmel troon uit in die Bybelgeskiedenis as ’n geloofsdaad soos min; Dawid was op die toppunt van sy loopbaan as gesalfde van God.

Geen wonder nie dat Paulus in 1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Hy haas hom egter in die volgende vers om ons daarop te wys dat ons staande kán bly; dan nie in eie krag nie, maar deur die werk van God in ons lewe. Hy skryf: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie …”

Staan dan vas in God se krag. Ook vandag.