’N SEUN VIR ADAM EN EVA!

Van ons Ou Testament redaksie

EDENVERLOREN. – Daar was vanoggend groot opgewondenheid toe die heel eerste mensekind gebore is: ’n fris knapie. Eva het gesê sy naam sal Kain wees, en met groot dankbaarheid bygevoeg: “Ek het ’n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!” Op ’n vraag of sy nog kinders oorweeg, het sy instemmend geantwoord. “Ons het ’n opdrag van God gekry om vrugbaar te wees en te vermeerder, en ons beplan om hierdie keer sy bevele nougeset uit te voer,” het Adam gesê.

Daar is aanvanklik gevrees dat die jong egpaar nie sal kan aanpas by die harde werklikheid van ’n lewe buite Eden nie, maar dit wil tog voorkom of hulle nou hulle voete gevind het. Die verantwoordelikheid wat ouerskap op hulle lê, sal hulle nog meer vasbeslote maak om ’n sukses van hulle taak te maak.

 

EK KAN JOU NIE LOS, SÊ GOD

SAMARIA. – In ’n hartroerende pleidooi het die profeet Hosea gister hier die volk Israel tot inkeer geroep. Hy het begin deur die volk te herinner aan God se liefde vir hulle; hoe Hy hulle deur die eeue gelei en gedra het op sy arms. Tog het die volk die rug op Hom gedraai en geweier om tot inkeer te kom.

Hosea waarsku dat daar swaar tye voorlê omdat God hulle in die hande van hulle vyand sal oorgee. Maar, het hy bygevoeg, dit sal nie die einde van die Godsvolk wees nie, want God sal hulle weer terugbring. Met trane in die oë het hy God se boodskap afgelewer: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk …”

Die profeet Hosea het self deur diep waters gegaan met sy eie vrou, Gomer, ’n prostituut wat dikwels aan hom ontrou is. Tog het hy haar elke keer teruggeneem en haar nie verstoot nie. Dit verklaar dalk waarom hy so geroer is deur God se liefde vir sy ontroue volk.

 

Vrou spring dood vry

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Jong vrou het vanoggend hier ’n seker teregstelling vrygespring toe ’n rabbi vir haar in die bres getree het en so voorkom het dat sy gestenig word. Sy is op heter daad betrap waar sy owerspel pleeg, en het ’n gewisse dood deur steniging in die gesig gestaar toe die summiere verhoor ’n verrassende wending geneem het.

Die vrou is deur die skrifgeleerdes en Fariseërs na die jong rabbi Jesus van Nasaret gebring, sodat hy die vonnis wat die Wet van Moses voorskryf, kon oplê. Aanvanklik het hy egter niks gesê nie en gebuk en met sy vinger in die grond geskrywe. Toe hulle egter by hom op ’n uitspraak aandring, het hy met hierdie verbysterende uitspraak gekom: “Laat dié een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Hierop het die beskuldigers een vir een weggeloop, totdat Jesus alleen met die vrou oorgebly het. Daarop het hy die vrou weggestuur met die woorde: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Simon Petrus, een van Jesus se dissipels, het na die gebeure aan ons verteenwoordiger gesê die hele situasie was ’n set om Jesus in diskrediet te bring. As Jesus die vrou laat stenig het soos die Wet van Moses vereis, sou Hy in die moeilikheid by die Romeinse owerheid wees, aangesien doodsvonnisse slegs deur hulle gevel mag word. Het Hy weer gesê hulle moet haar voor die gehate Romeinse owerheid bring, sou Hy in onguns by die volk kom. “Jesus het nie net hulle strik netjies ontwyk nie, Hy het ook aan ’n gevalle vrou ’n tweede kans gegee,” het hy gesê.


 

Om oor na te dink

Die boek Genesis vertel nie net vir ons die verhaal van die skepping en die sondeval en die gepaardgaande verlies van die Tuin van Eden nie – gelukkig nie! Want Genesis – trouens die hele Bybel – se eintlike fokuspunt bly nie hier op aarde, by ons en ons tekortkominge nie. Nee, die Bybel wil ons oë optrek na Bo, om God se groot liefde en genade vir ons raak te sien, ’n liefde groter as ons sonde, ’n genade veel wyer as ons ontrouheid. Daarom los God nie vir Adam en Eva in hulle ellende nie, maar (ontdek hulle tot hulle verbasing) bly Hy met hulle besig, skenk Hy hulle die wonder om ouers te word. Daarom los Hy nie die lsraeliete nie, soos Hy by monde van Hosea so aangrypend verklaar. Daarom los Hy nie die wêreld nie, maar gee Hy sy Seun, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). Daarom haal Jesus nie sy skouers op as ’n vrou wat in sonde geval het, deur die owerhede tereggestel wil word nie.

God sal jou en my ook nie uitlos nie. Al het ons, soos Adam en Eva, alle rede om dit te verwag. Gló dit vandag. Dit is die evangelie.




Wittebrood verby?

Van ons Ou Testament redaksie

EDEN. – Die eerste krake het hier sigbaar geword in die sprokieshuwelik van Adam en Eva. In ’n dag van hoogdrama het dié twee mekaar oor en weer beskuldig toe God hulle gekonfronteer het met die feit dat hulle van die verbode vrugte van die boom van alle kennis geëet het.

Adam het die skuld vir hulle misdryf op Eva gepak. Sy het dit egter heftig ontken dat dit haar plan was. Dit blyk dat daar ’n derde party betrokke is by dié hartseer gebeure: die slang, ’n listige kalant wat daarop uit is om onmin te saai net waar hy kom. Dit was hý wat Eva aangehits het om ongehoorsaam te wees, het sy beweer.

In sy uitspraak het God niemand van blaam onthef nie, en is Adam en Eva, én die slang gestraf. God het ook gesê Hy voorsien dat daar nog ’n lang stryd tussen die slang se nageslag en die mense sal wees.

Dit bly ’n ope vraag wat vorentoe met die jong egpaar sal gebeur. Doemprofete voorspel dat dit die einde van hulle huwelik én van die huwelik as instelling beteken. Antropoloë is egter vol vertroue dat Adam en Eva hierdie terugslag te bowe sal kom.

 

Paradys verlore

Opsigters dramaties verhoor en uit God se tuin verdryf

EDEN. – Die Tuin van Eden het gisteraand met groot hartseer afskeid geneem van ’n bekende en beminde egpaar, Adam en Eva. Hulle was die opsigters van die tuin.

Hulle vertrek kom aan die einde van ’n dramatiese dag wat die ganse skepping tot in sy fondamente geskud het. Ná hulle ongehoorsaamheid vroeër die dag toe hulle van die verbode vrugte geëet het, waaroor ons gister berig het, het daar gisteraand ’n summiere verhoor plaasgevind toe God sy tuin besoek het. Adam en Eva is albei skuldig bevind, maar hulle is nie, soos aanvanklik verwag is, tereggestel nie.

In sy uitspraak het God met diepe hartseer, maar ook baie beslis, vir hulle uit die tuin verdryf. Dit is nog onbekend wat nou van hulle gaan word, aangesien die wêreld buite die tuin geensins so vriendelik teenoor hulle sal wees soos wat hulle in Eden gewoond was nie.

’n Betraande Eva wou nie veel oor die voorval sê nie, behalwe dat die soet vrug ’n baie wrang smaak in haar mond agtergelaat het. “Dit was nie die moeite werd nie,” het sy gesê.

 

NATUUR WREED VERSTEUR, MAAN KENNER

EDEN. – ’n Bekende natuurkenner, dr. Eko Loog, het gister gewaarsku dat die gevolge van Adam en Eva se sonde ’n ernstige gevaar vir die natuur inhou. Hy het daarop gewys dat die delikate ekologiese balans nou versteur is, en dat die mens in die toekoms die natuur fyn sal moet dophou om te voorkom dat die aarde uitgeput raak.

 


Om oor na te dink

Die gevolge van die sonde bly ’n verbysterende saak. Dit versteur alle verhoudings: met jouself, met jou medemens, met die natuur, en veral met God. Daarom sien ons Adam en Eva vir God wegkruip in Eden; daarom hoor ons hoe hulle mekaar voor God beskuldig oor wie nou eintlik vir die sonde verantwoordelik is; daarom hoor ons God se verskriklike uitspraak: “die aarde is deur jou toedoen vervloek” (Gen. 3:17). Alles wat mooi was in God se wonderlike skepping word deur die sonde aangetas, word skeef. Harmonie maak plek vir beskuldigings en agterdog, vyandskap en naywer. In plaas van ’n paradys waarin die mens sonder vrees kan lewe, het die wêreld ’n vyandige plek geword, bring dit dorings en distels voort, oorstromings en aardbewings en droogtes, siektes en epidemies.

Hoe langer ons wêreld voortbestaan, hoe sigbaarder word hierdie gebrokenheid van die skepping: die gat in die osoonlaag, die uitputting van die natuurlike hulpbronne, die langdurige hongersnode; die oorloë en anargie en moord en doodslag; die talle en talle gebroke huwelike; die mens se wanverhouding met God.

En tog is alles nie verlore nie, want God gee nie so maklik sy skepping en sy mense prys nie. Daarom het Hy nie Adam en Eva gelos dat hulle bly wegkruip vir Hom nie. Daarom stuur Hy sy Seun na hierdie gebroke wêreld: dit is sy herstelplan vir die wêreld. Want die Seun van God word mens om die greep van die duiwel op hierdie wêreld te kom breek. Daarom sien ons ook nóú al tekens van God se heerskappy al heerliker deurbreek: in die vordering van die tegnologie, in die nuwe waarde van die vrou in die samelewing, in die oorwinnings vir demokrasie, in die uitbreiding van die Evangelie. “Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20).




RAMP TREF EDEN!

Adam en Eva se toekoms in Paradys onseker

Van ons Ou Testament redaksie

EDEN. – ’n Ramp het vanoggend dié idilliese tuin getref toe Adam en Eva direk teen God se uitdruklike opdrag in geëet het van die vrugte van die boom van alle kennis.

’n Geskokte stilte hang al die hele dag oor die tuin, en die vraag wat op almal se lippe is, is wat nou van Eden gaan word. ’n Kenner het daarop gewys dat God hierdie tuin spesiaal vir Adam en Eva aangelê het. Daar bestaan egter twyfel of God sal toelaat dat hulle ná hierdie daad van verraad nog in die tuin sal kan agterbly. Pessimiste verwag selfs ’n summiere teregstelling as God van die misdaad te hore kom, aangesien Hy van die begin af gewaarsku het dat die dood wag op dié een wat van die vrugte eet.

Ondertussen kon Adam en Eva nog nie vir kommentaar opgespoor word nie. Hulle skuil vermoedelik iewers tussen die bome uit vrees vir God se besoek later vandag.

 

Nuwe God vir Israel?

SINAIBERG. – Die Israelitiese hoofpriester, Aäron, het wenkbroue laat lig toe hy vandeesweek hier die volk opgeroep het om mildelik goud by te dra vir die maak van ’n standbeeld van ’n goue kalf.

Die oproep volg op ’n eis van die volk vroeër dat hy vir hulle ’n god moet maak, aangesien hulle leier, Moses, al meer as vyf weke gelede teen Sinaiberg uitgeklim het om hulle God te ontmoet, en sedertdien nog nie weer gesien is nie. Die vermoede bestaan dat hy in ’n ongeluk op die berg omgekom het.

Aäron het beskuldigings dat hy die volk verlei om ’n afgod te aanbid, heftig ontken. “Ek wil nie ’n nuwe god invoer nie; ek wil slegs die volk tegemoetkom deur vir hulle ’n tasbare, sigbare beeld te gee wat hulle met God in verband kan bring. Die beeld stel ons God, Jahwe, se rydier voor – God bly steeds die Onsigbare, maar nou weet ons minstens waar Hy is as ons wil aanbid. Ek het juis ’n fees tot sy eer afgekondig vir môre.”

Nie al die Israeliete is egter opgewonde oor Aäron se plan nie. “Dit is vir my onbegryplik dat die volk, met Aäron aan die spits, hulle rug kan draai op Jahwe, ná alles wat Hy vir ons gedoen het om ons uit Egipte te red en by die Rietsee te bevry,” het ’n bewoë Kaleb, een van die lojale ondersteuners van Moses, kopskuddend opgemerk. “Sonder God se leiding is ons verlore. As ons mense nie baie gou tot hulle sinne kom nie, gaan hier ’n groot ramp kom, dié kan jy weet.”

Kenners waarsku ook dat Aäron met vuur speel. Hulle wys daarop dat hy met hierdie toegewing die eerste tree gegee het na afgodsdiens.

 

Leuen kos egpaar hul lewe

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Bekende egpaar van die stad, Ananias en Saffira,  het gister hier tragies gesterwe by ’n byeenkoms van die nuwe sekte wat hulleself “Volgelinge van Jesus Christus” noem.

Geskokte lede van die sekte vertel dat die egpaar ten aanskoue van almal by een van hulle samekomste dood is; eers Ananias, en omtrent drie uur later ook sy vrou Saffira. Die oorsaak van hulle dood is nie bekend nie. “Hulle het net eenvoudig in mekaar gesak en op die plek gesterf,” het ’n hartseer vriendin gesê.

Die leier van die sekte, Simon Petrus, het egter kort ná die voorval ’n verklaring uitgereik waarin hy hulle dood as “’n vingerwysing van God” bestempel het. Volgens hom het hulle saamgesweer om vir die gemeente te lieg oor die verkoopprys van ’n stuk grond. “In der waarheid het hulle egter vir God gelieg, en dít mag nie onder gelowiges nie.”

 


Om oor na te dink

Sonde is en bly ’n raaisel – ’n raaisel dat enige iemand dit selfs kan oorweeg om ’n wonderlike, liefdevolle God te ignoreer en sy eie kop te volg.

En tog gebeur dit keer op keer, nie net in Eden en aan die voet van Sinaiberg en in die boesem van die eerste gemeente nie, maar vandag nog, in ons eie lewe! Nie een van ons kan immers die verdoemende uitspraak van die Bybel ontkom nie: “Almal het gesondig en is ver van God af “ (Rom. 3:23).

Laat ons dus nie té gou ons koppe meewarig skud oor die sonde van andere nie. Laat ons liewer vandag ’n oomblik stil word en sonde sien vir wat dit is: onverstaanbare opstand teenoor dié God wat sy alles vir ons oor het én gegee het. Sal ons dan daarmee voortgaan?