Mense wat dink hulle is danig smart

Yster Swart van Die Vierde Kabinet-faam het ‘n sêding gehad: “Mense wat dink hulle is danig smart, is nie altyd so danig smart nie.” Ek het daaraan gedink toe ek weer die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar gelees het (Luk 18:9-14). Want dit was presies die probleem met die Fariseer. Hy het gemeen hy is danig smart.

Dit lyk my God het nie erg aan mense wat dink hulle is wie nie. Daarom waarsku die Bybel op verskillende maniere en plekke teen hoogmoed en hooghartigheid en eiegeregtigheid en dié soort euwels, maar word karaktertrekke soos nederigheid, beskeidenheid, inskiklikheid en sulke dinge as deugde geprys.

Terwyl ons nou in die Epifanie-tyd is, waarin ons oor Jesus se aardse lewe dink, staan dit van Hom ook voorop: sy nederigheid. Sy tuisdorp was so obskuur dat koning Konstantyn se vrou ‘n afvaardiging na Palestina moes stuur om uit te vind waar dié dorp nou eintlik is. En sy geboorteplek gryp nou ook nie juis die verbeelding aan vir die luuksheid van die akkommodasie nie. Sy aardse ouers het nie getel onder die voorstes in die land nie.

G’n wonder Jesus was nie opgewonde oor die Fariseërs met hulle hooghartige houding nie! Ek wonder wat Hy dink van vandag se ingesteldheid van beter, blinker, vernamer.




Waar lê die waarheid?

Ek sit anderdag en blaai deur ’n Christelike glanstydskrif. Dis nie iets wat ek normaalweg doen nie. Dalk is dít die rede hoekom dit my so opval: al die glimlaggende gesigte en opskrifte met uitroeptekens. Toe ek die tydskrif ná ’n paar minute neersit, voel ek lus om te skree. Soos die onderwyseres wat nie ’n vrolike bytjie op die personeel kon hanteer nie. Toe brom sy: “For heaven’s sake, stop being so merry!”

Ek sit die tydskrif met ’n sug neer, bo-op die koerant, en daarin is presies die teenoorgestelde aan die orde. Die een berig ná die ander basuin dit uit: rampe en ellende, moord en korrupsie en wanbestuur. Later is ek lus om my kop iewers in ’n gat te druk en te skree: “Los my net uit!”

Terug voor my rekenaar maak ek facebook oop, net om te lees hoe ateïste en Christene mekaar aanvat oor wie nou kwansuis die waarheid perfek beet het. Dié debat gaan al vir jare aan, en die hartseer is dat niemand juis tot ander insigte gebring word deur die debat nie. Al wat uiteindelik gebeur, is dat dit in ’n moddergooiery en slegsêery ontaard.

Die lewe is nie eenvoudig nie

Ons lewe nou eenmaal in ’n wêreld van kontraste. In dié wêreld moet ons ons weg vind, ook wat geloof betref. En dis nie so eenvoudig soos party hipervroom facebookers dit wil voorstel nie. Jy kry mos die mense vir wie alles glashelder duidelik is, en dit gaan hulle verstand te bowe dat enige iemand van hom of haar kan verskil of enigsins anders na ’n saak kan kyk.

Die lewe is helaas nié so eenvoudig nie. Geloof is nie so eenvoudig nie. Geloof is per slot van rekening ’n saak van … gelóóf, nie aanskoue nie. Dit moet gegló word, nie bewys word nie. Om te stry oor wie reg is en wie verkeerd is, is werklik sinloos. Dis ’n vervlakking van ’n baie persoonlike en intieme proses waarmee elke gelowige van tyd tot tyd worstel. As jy nog nooit gewonder het oor God en of daar régtig ’n lewe na die dood is nie, is jy gelukkig, maar dit beteken ongelukkig dat jy waarskynlik nog nooit baie eerlik en diep oor dié dinge gedink het nie.

Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.

Ek sê nie ons kan nie met sekerhede leef nie. Natúúrlik het ons sekerhede. Ons leef immers met die Bybel en die troos van die Heilige Gees, wat ons telkens verras met nuwe beloftes, nuwe hoop, nuwe insig. Maar dis ’n ander soort sekerheid as dit wat die wetenskap jou bied. Dit bly gelóófsekerheid, waarop jy vertrou, maar wat jy nie kan bewys nie. Jy kan ook nie iemand anders tot insig dwing daarmee nie. Dis ’n sekerheid wat geanker is in ’n Persoon. Paul Althaus het hieroor gesê: “Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.” Dis ’n sekerheid wat berus op vertroue, op ’n verhouding. Dit werk nie met bewyse nie.

Beskeie

Daarom pas dit ons nie om vol bravade en meerderwaardigheid neer te sien op almal wat anders as ons dink en glo nie. Dit pas ons eerder om beskeie te wees, en diep dankbaar dat ons begenadig is om te kan glo, nie omdat ons sulke wonderlike mense is nie, maar omdat God in sy groot liefde ons voorgekeer het.

Die laaste twee aspekte van die vrug van die Gees wat Paulus in Galasiërs 5:22-23 beskryf, is nederigheid en selfbeheersing. In ’n wêreld vol kontraste en waar te veel mense daarop aanspraak maak dat húlle kwansuis presies die waarheid beet het, sal hierdie twee aspekte van Geesvervuldheid ons help om met minsaamheid getuies te wees van die hoop wat in ons leef (vgl 1 Petrus 3:15-16).

Mag jy daagliks jou weg agter die Waarheid aan vind, al is dit soms strompelend (hoe dan ook anders?). En steeds bly glo dat dit – Hý – die enigste Weg is.




1 Pet.5:6 Veilig in Gods kragtige hand

https://www.youtube.com/watch?v=KRIaXzqQ8V4

1 Pet.5:5-11

Ons teksvers sê dat ons ons aan die kragtige hand van God moet onderwerp – en as ons na die Ou Testament kyk, sien ons dat daar baie dinge oor God se hand gesê word. Dit was bv. God se hand wat sy volk Israel uit Egipte gelei het en waarmee Hy die bannelinge uit Babel teruggebring het. Jes 59:1sê: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie …” Daarom, so het ons netnou bely, het die Here Jesus met sy hemelvaart sy plek ingeneem aan die regterhand van God. God se hand is die simbool van God se mag, van God aan die werk.

Maar soms wonder ’n mens waar ons God se kragtige hand dan kan sien. Dink maar aan die nuus van ons tyd, van die misdaad en korrupsie en moorde en ekonomie, en so kan ’n mens aangaan. Mis ons nie juis hierdie kragtige hand in ons wêreld nie? Ons wil so graag hierdie sterk hand van God sien, sien dat Hy aan die werk is, in beheer is.

Waar is die kragtige hand van God dan? Hoekom mis ons dit?

Ek dink ons teksvers wil vanoggend vir ons kom sê: Ons mis dit in ons lewe en wêreld, omdat ons nie ’n oog daarvoor het nie. Ons teksgedeelte wil vir ons 3 sake onderstreep. Om God se kragtige hand te beleef, vra:

  1. onderwerping aan God
  2. nederigheid
  3. vertroue op God

1. Vra onderwerping aan God
As ons bewus wil wees van God se kragtige hand, dan beteken dit dat ons nie net mag lewe met die begeerte dat God se kragtige hand daar sal wees om ons te beskerm nie, maar dat ons voor alles bereid moet wees dat God se hand ons ook moet lei. Dit vra werklik van ons dat ons ons sal onderwerp aan die kragtige hand van God. Dit vra van ons dat ons God se leiding moet begeer, selfs al is sy leiding anders as wat ons dit wil, selfs al loop dit langs vreemde paaie, deur donker dieptes, soos Dawid in Ps.23 sê. Om jou aan God se kragtige hand te onderwerp, beteken om tevrede te wees met sy leiding, in die wete dat Hy die beste weet.

En wanneer ’n mens geleer het om jou aan die kragtige hand van God te onderwerp, en dit daagliks doelbewus doen, dan raak jy ook sensitief vir God se leiding, dan begin jy ook al hoe meer God se hand raaksien, in jou eie lewe, maar ook in die wêreld rondom jou.

Dit beteken natuurlik dat ’n mens wat hom aan die kragtige hand van God onderwerp, nie vol van homself moet wees nie, maar besef dat hy hom voor die hoë God moet buig. En dit bring ons by die 2de vereiste wat ons Skrifgedeelte van ons vra:

2. Vra nederigheid
Vers 6 sê: Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God… ’n Mens wat bewus is van sy eie tekortkominge, sy eie nietigheid voor God, is ’n mens wat nederig voor God is, wat toelaat dat God sy lewe beheer. Maar dit is ook ’n mens wat geleer het dat hy nie só belangrik in hierdie wêreld is dat alles om hom draai en dat almal net moet maak soos hy dit wil hê nie. Dit is ’n mens wat nie net voor God nederig is nie, maar ook teenoor andere: Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (vs.5).

Om nederig te wees, beteken nie dat jy ’n swakkeling is wat maar net toelaat dat almal op jou trap nie. Nee, dit beteken eerder dat jy geleer het om nie só op jouself ingestel te wees dat daar nie plek vir ander mense in jou lewe is nie. ’n Mens wat weet dat hy onder die kragtige hand van God lewe, dat hy deur God gelei en versorg word, is ’n mens wat nederig kan wees, bereid om ander te dien.

Die uitdrukking wat hier in vs.5 gebruik word, stel dit eintlik baie sterker as wat dit in ons vertaling lyk. Hier staan letterlik dat ons nederigheid moet aantrek, “beklee julle met nederigheid” (BDV), dat dit as ’t ware ons uniform moet wees, ons uitkenningsteken. Nederigheid, sê die Bybel, is die kenmerk van ’n gelowige. Dit behoort ook die kenmerk van jou en my te wees.

3. Vra vertroue op God
Daar is net een manier waarop ’n mens in nederigheid jouself aan God kan onderwerp en in nederigheid teenoor jou medemens kan lewe, en dit is as jy volkome op God vertrou. Of miskien moet ’n mens dit nog sterker uitdruk: as jy God self volkome vertrou. As jy jou geheel en al op Hom verlaat, geheel en al oorgee aan Hom, sodat Hy vir jou kan sorg, kan lei op die lewenspad. Wanneer ’n mens jouself so volledig aan God se kragtige hand onderwerp, kom jy vry van die bekommernisse en vrese vir die toekoms. Die sorge van die lewe en van die onbekende toekoms val van jou af, nie omdat jy jou nie daaraan steur nie, nie omdat jy ewe onverantwoordelik voortgaan nie, maar omdat jy weet dat Iemand anders na jou sorge omsien, omdat jy jou bekommernisse en sorge, jou vrese en probleme, na God geneem het. Hy dra die dinge wat vir ons ondraaglik is. Hy sorg vir die dinge waarvoor ons nie kan sorg nie.

Om jou aan die kragtige hand van God te onderwerp en om daarmee saam ook jou sorge op Hom te werp, is natuurlik nie ’n menslike ding om te doen nie. Menslik is om in beheer te wil wees. En dit is dan wat ’n mens platgedruk word deur die bekommernisse van die lewe, sorge waaraan jy gewoonlik self regtig nie veel kan doen nie. Dit is dan dat die toekoms van ons land ’n groot swart berg word, dit is dan dat jy nagte wakker lê oor die vakansiereis wat jou kinders onderneem, en jy elke oomblik verwag dat hulle ’n ongeluk sal maak. Dit is dan dat die kommer oor wat van jou werk gaan word, alle vreugde uit jou lewe wegneem.

Daarom is hierdie teks nie geskryf vir ongelowiges nie. Die Bybel praat hier met mense wat glo. Mense wat God vertrou. Mense wat in nederigheid voor God lewe, mense wat hulle onderwerp aan sy leiding. Súlke mense ontdek telkens weer dat God se kragtige hand daar is om te sorg. Sulke mense leer om sy hand raak te sien, al skreeu alles om jou ’n ander storie.

Sulke mense ontdek ook dat God se hand nie net kragtig is nie, maar ook liefdevol. Dat God se hande vertroos en versorg. Dit sien ons ook in ons Skrifgedeelte: vs.5: … aan die nederiges gee Hy genade… Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
Amen.