Joh 14:23 Smag jy na God se teenwoordigheid?

Dis ’n vreemde gesprek van Jesus, nie waar nie? Jesus wat sê Hy gaan weg, maar tog bly Hy by ons, sy dissipels; Hy is in die Vader en in ons en ons in Hom. Hy sê Hy laat ons nie as weeskinders agter as Hy hemel toe gaan nie, want Hy stuur die Gees om in ons te woon, en dan sê Hy weer Hy en die Vader kom na ons toe: “Ons sal na hom (die een wat Hom liefhet) kom en by hom woon” (vers 23).

Ek weet nie of julle dit presies mooi verstaan nie. Ek moet erken dat daar vir my ’n wasigheid om Jesus se woorde lê, ’n misterie. God se teenwoordigheid by ons en in ons is vir my ’n misterie, iets wat ek nie kan vasgryp en haarfyn kan beskryf nie. Soos iemand in die week vir my sê: sy wens sy kon die teenwoordigheid van God in haar krisis beter, meer werklik, beleef.

Maar dit is hoe God se werk – hoe God Self – vir ons is en altyd sal wees: ’n misterie waarop ons nie ’n greep kan kry nie. Ek moet eerlik sê ek neem met ’n knippie sout die goed wat mense vir my sê as hulle sê God het dít vir hulle gesê of dát gesê, soos dat hulle in die winkelrak moet afloop en daar regs draai en dan die hand uitsteek en dan is dit ’n blikkie Coke en dis wat hy moet gebruik vir sy boodskap van die oggend. Vir my gevoel werk God nie so met ons nie. Of dalk het ek maar net nie daardie soort verhouding met God nie. Ek weet nie.

Wat ek wél weet, is dat Jesus hier op verskillende maniere beloof dat Hy, die Vader én die Gees by ons en in ons is. Dat die drie-enige God deel van ons lewe is en wil wees. Dat God by ons is, elke dag, as Vader om ons te bewaar en te beskerm, as Seun om ons Leidsman te wees, en as Gees om ons Voorspraak te wees.

Dis ook waar dat ons dit nie altyd so beleef nie, en dat daar mense is wat God daarvan beskuldig dat Hy afwesig is in hulle lewe. En dís waaroor hierdie woorde van Jesus gaan: om God se teenwoordigheid in ons lewe. Wat kan ek en jy doen om ’n beter verstaan, en ’n beter gewaarwording, van God se teenwoordigheid te beleef?

Jesus se antwoord is heel eenvoudig: Ons moet Hom liefhê, en dit beteken dat ons sy opdragte uitvoer (vers 15 en 21); ons moet soos Hy leef (vers 19); ons moet sy woorde ter harte neem (vers 23).

Ek onthou, ’n tyd gelede, het ons in die kleingroepleiersgesprek gepraat oor die navolg van Jesus, dat ons sy voorbeeld moet volg en al meer soos Hy moet word. Toe sê een van die kleingroepleiers dat dit van ons vra om die Evangelies beter te bestudeer, want dít is waar ons Jesus se woorde en voorbeeld die beste kry. Dis eintlik so vanselfsprekend dat ’n mens jou kan verwonder dat ons dit nie almal vanself weet nie! As ons Hom liefhet, sal ons sy woorde ter harte neem, sê Jesus.

Ek wonder soms of dit nie presies hier is waar ons probleem ontstaan nie: dat ons te min van die woorde van Jesus maak, dat ons te min Bybel lees, te min daaroor nadink, ons te min in die Woord van God verdiep. Jesus sê die Gees wil ons onder andere herinner aan alles wat Hy gesê het (vers 26), maar as ons nie die Woord lees nie, waaraan kan die Gees ons dan herinner? Ons ontneem só die Gees van ’n manier om met ons te praat. Ons glo tog dat die Bybel God se manier is om met ons te praat, dat dit die Gees se instrument is om ons te lei in die volle waarheid.

Die vrou wat vir my gesê het sy wens sy kan God se teenwoordigheid beter beleef, het óók aan my erken dat sy nie juis baie gereeld Bybel lees nie.

Sê my, lees jý baie Bybel? Lees jy dit en oordink dit en bêre jy dit in jou hart? Dis tog wat die opdrag dat ons Jesus se woorde ter harte moet neem, beteken, nie waar nie? Gee jy aan God die geleentheid om dit wat jy gelees het, in jou hart in te graveer sodat dit deel kan word van wie jy is?

Ek praat nie van enkele mooi teksverse waaraan jy vashou nie. Ek praat van die Bybel. Ek lees gister van ’n vrou wat Spreuke 31:25 as haar teks van die dag gevat het: “Alles aan haar spreek van ’n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.” Sy dink toe hoe sy daarmee ’n fotovers wil maak sodat sy dit op facebook kan post. En terwyl sy daaroor wonder, lees sy die res van die hoofstuk, en daar ontdek sy dat die sterk en edel vrou waarmee sy haarself vereenselwig, dou voor dag soggens opstaan, haar eie klere maak, nie lui is nie … En skielik besef sy dis nie so ’n eenvoudig teks om te gebruik nie, en sy sê haar volgende teks gaan sy beter kies, sodat sy dit nie so uit konteks kan aanhaal nie.

Daar is mense wat sê hulle sal begin glo as God Hom aan hulle openbaar. As ek Jesus se antwoord aan Judas in vers 23en 24 reg verstaan, werk dit nie so nie. Judas vra: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Dan sê Jesus: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” God se teenwoordigheid en sy openbaring, sy bekendmaking van Homself, kom na die mate dat ons onsself verdiep in God se Woord. Dis nie vir almal nie. Dit beloof God Self ook in Jeremia 29:13. Ek lees Eugene Peterson se vertaling in The Message se vertaling: “When you come looking for me, you’ll find me. Yes, when you get serious about finding me and want it more than anything else, I’ll make sure you won’t be disappointed.”

Kom ek sê dit in ander woorde: Jy moenie verwag dat jy ’n wonderlike en innige verhouding met God sal hê, en dat jy sy teenwoordigheid in jou lewe sal ervaar, as jy los van die Bybel leef nie. As jy God se teenwoordigheid en sy openbaring soek, lees jou Bybel en oordink dit; neem dit ter harte en leef dit. Dán sal jy beleef dat God Drie-enig in al sy wonderlike heerlikheid by jou is, en sal Jesus se vrede van jou lewe besit neem (vers 27).

Wat maak jý met Jesus se Woord?




Openb 1:12,13 Draai om!

Donderdag het ons hemelvaart gevier; het ons dit herdenk dat Jesus hemel toe is. Nou is daar mense wat sê: “Ja, Jesus is nou terug hemel toe. Wat nou van ons?” Soos die lidmaat wat ek in Bloemfontein gehad het …

Baie Christene in die tyd van Openbaring het waarskynlik ook so gevoel: asof Jesus weg is. Die kerk is hewig vervolg. Baie gelowiges is doodgemaak net omdat hulle in Christus glo. Johannes, wat dié boek geskryf het, is self na die eiland Patmos verban. Dalk het hy ook daar op die strand op Patmos gestaan en gewonder: nou maar waar ís Christus dan, noudat ons Hom nodig het?

En dan, skielik, verskyn Jesus aan hom – dieselfde Here Jesus met wie hy 3½ jaar lank in Palestina rondgegaan het, langs wie hy op die laaste aand in die bovertrek gesit het by die nagmaal, wat sy ma aan hom toevertrou het toe Hy aan die kruis gehang het. Hierdie selfde Here Jesus verskyn aan hom. Hy is nie weg nie, Hy het Johannes en die kerk nie in die steek gelaat nie, Hy is steeds daar, teenwoordig. Maar tog is Hy nie meer dieselfde nie. Dis nie meer die aardse Jesus wat voor Johannes staan nie, dit is die lewende God self wat aan hom verskyn. As ons na die beelde kyk waarmee Johannes vir Christus hier beskryf, is dit baie duidelik dat hy hier met God self te doen het, en daarom val hy Hom nie om die nek nie, maar val hy voor Hom neer soos ’n dooie, in eerbied en aanbidding.

Want alles het verander toe Christus na die hemel toe opgevaar het. Die dae toe Hy as gewone mens tussen sy dissipels rondbeweeg het, is onherroeplik verby. Christus is nie net ’n mens nie wat op aarde gewandel het nie, Hy is die lewende God. Die hemelvaart wat ons Donderdag gevier het wil hierdie feit opnuut vir ons onderstreep. Ons het nie maar net ’n vriendelike, gawe Jesus nie. Ons volg die heerlike, heilige Koning van hemel en aarde!

Wat doen hierdie Koning van die hemel en aarde daar in die hemel? Die eerste ding wat Johannes daardie dag gesien het, was dat Christus tussen die goue staanlampe staan (vs 13) – dws in die midde van die gemeentes, die kerk. Jesus het ons nie met sy hemelvaart verlaat en Hom in die hemel teruggetrek nie. Hy is steeds by sy kerk om oor ons te waak, om sy kerk op te pas, te beskerm teen die aanslae van die Bose, om sy kerk te regeer en te lei elke dag. Daarom hou Hy ook die sewe sterre (wat simbool is van die gemeenteleiers van die kerk van destyds) in sy regterhand vas (vs 16). Sy regterhand is sy sterk hand, die hand waarmee Hy dinge doen. In hiérdie hand hou Hy die gemeenteleiers vas.

Die Here is nie weg sedert sy hemelvaart nie. Hy is steeds tussen sy gemeentes. Hy is nog altyd ook hier in Petrusburg, sy gemeente, om ons te beskerm en te lei en te regeer. Hy hou ons elke dag in sy regterhand. En as julle nou hoofstuk 2 & 3 lees (ons gaan net een brief lees, vanaand), sal julle sien dat Hy presies weet wat in die gemeentes gebeur. Dit was nie volmaakte gemeentes nie, daar was gebreke en sonde in daardie gemeentes, MAAR Hy het hulle nie gelos nie.

Ek het gesê die Here is steeds by ons teenwoordig in al sy goddelike heerlikheid en majesteit. Maar ons kan Hom natuurlik nie met die blote oog sien nie. Daarvoor het ons ’n geloofsoog nodig. Daarom moes Johannes eers omdraai voordat hy die Here raakgesien het (vs 12).

Miskien is daar vanoggend iemand hier wat voel God het jou vergeet. Jy voel verlate en jy sien nie tekens van God se sorg en teenwoordigheid in jou lewe nie. As dit van jou waar is, moet jy dalk soos Johannes ook eers omdraai. Dalk kyk jy in die verkeerde rigting; soek jy tekens van die Here se teenwoordigheid in die wêreld en jou lewe op verkeerde plekke of in die verkeerde goed – in voorspoed, of sukses, of ’n stywe bankbalans, of goeie gesondheid.

Miskien is dit vir ons ook nodig om ’n keer weer te gaan stilstaan en om te draai, sodat ons weer die Here kan raaksien by ons. Miskien is juis dít die rede waarom ons soms voel asof die Here ons in die steek gelaat het, asof ons alleen hier op die aarde is, omdat ons so besig is met ons eie dinge, met ons werk en ons ontspanning en ons vriende en ons huis en ons politiek en ons geld, dat ons nie die tyd het om te gaan stilstaan en die Here raak te sien nie. Hy ís by ons, maar ons lewe by Hom verby, ons lewe bo-oor Hom, ons lewe asof Hy glad nie bestaan nie – en dan is ons teleurgesteld omdat ons nie die Here as ’n werklikheid in ons lewens beleef nie.

Daarom wil ek vra dat julle nou stil sal word. Neem die tekens van brood en wyn in jou hande. Maak jou oë toe en vorm ’n beeld in jou gedagtes, of in jou hart, van die Here Jesus aan die kruis, en soos Johannes Hom hier beskryf. Ek lees dit weer voor:

Lees vers 12-16 stadig voor, en speel dan die Halleluja-koor van Händel.

Donderdag was hemelvaartdag, hemelvaartfees, want ons Here Jesus Christus het sy troon in die hemel bestyg, vanwaar Hy in al sy heerlikheid en majesteit regeer. Maar Hy is nie net in die hemel nie, Hy is ook by ons, by jou en my, elke dag, om ons te regeer, te bewaar, te beskerm, te lei. Maar dit vra geloofsoë om Hom raak te sien.

Mag die Here gee dat ons in hierdie dae, en in besonder in die pinkstertyd hierdie week, opnuut tot stilstand sal kom, sodat ons bewus kan word en iets kan beleef van sy heerlike, goddelike, troosvolle en beskermende teenwoordigheid. Dan sal ons soos Johannes daar op Patmos met nuwe oë na die wêreld kyk, en met nuwe geloofsmoed en blymoedigheid kan leef.

Amen.




PINKSTER – DIE FEES VAN DIE GEES

Wat is Pinkster?

Dit is weer Pinkstertyd, en in baie kerke sal daar in die tyd van Hemelvaart na Pinkstersondag spesiale gebedsgeleenthede wees om saam te kom en te bid vir ‘n hernude Geesvervuldheid. Dié geseënde gebruik kom al van die middel van die 1800’s in die NG Kerk aan.

Op Pinkstersondag vier die kerk God se groot geskenk aan sy kerk, nl. die uitstorting van die Heilige Gees. Ons lees in Hand 2 dat die Gees op die dissipels gekom het op die Joodse Pinksterfees. Die mense het die geluid van ’n stormwind gehoor en gesien hoe tonge soos vuur op die gelowiges gekom het. Die Gees het aan hulle die gawe om in ander tale te praat geskenk. Die dissipels, wat aan die treur was oor Jesus se weggaan, is op daardie dag vervul met blydskap en het dadelik begin om die nuus van Jesus se opstanding die hele wêreld in te dra. Na aanleiding van Petrus se preek op daardie dag is ’n groot oes vir die koninkryk ingesamel. Omtrent 3000 mense is op daardie Pinkstersondag gedoop. ’n Mens kan amper sê dat die kerk op dié dag gebore is. Pinksterdag is die kerk se verjaardag.

Pinkstersondag is tien dae na Hemelvaart. Soos die heel eerste dissipels in die tyd ná Jesus se hemelvaart biddend gewag het op die gawe wat die Vader belowe het (Hand 1:4,5), is dié tien dae steeds vir die kerk ’n tyd van afwagting en voorbereiding op Pinkster, sodat die Gees die kerk (dit is ons!) weer nuut kan maak en kan uitstuur.

Waar kom Pinkstertyd vandaan?

Pinksterfees kom elke jaar presies 50 dae ná Paassondag, die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood. Dié twee feeste is die belangrikste van al die kerklike feesdae. Die naam Pinkster kom van die Griekse woord pentekoste wat “vyftig” beteken (vgl. ook die Engelse woord Pentecost). Soos die Paasfees, was die Pinksterfees oorspronklik ’n Joodse fees: die fees van die weke (Num 28:26-31) waar hulle God met graan uit die eerste opbrengs van die oes gedank en geprys het oor sy gawes (vgl. Lev 23:15-21). Die Jode het met hierdie fees ook die ontvangs van die wet op Sinaiberg gevier. Vandag vier ons ook Pinkster om God te dank, maar nie sy gawes van graan en die wet nie, maar vir sy gawe van die Heilige Gees.




Pinkster 2021: Die sesde bede van die Ons Vader

’n Mens sou graag na die vorige gebed, nl die gebed om die vergifnis van ons oortredinge, amen wou sê. Want met hierdie gebed het ons tog by die hart van die Evangelie gekom, by die kruis en die genade en vergifnis. Ons het tog niks meer nodig as dit nie!

En tog leer die Here Jesus ons om nie daar te stop nie, om verder te bid: “En laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Hierdie “en” laat ons hard aarde toe kom, in die wêreld wat gekenmerk word deur sy versoeking, deur die Bose wat rondloop soos ’n brullende leeu op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8). Want iemand wat vergifnis ontvang het, het nie daarmee immuun geraak teen die liste van die Bose nie.

Versoeking is ’n realiteit waaraan ons nie ontkom nie. Selfs die heiligste onder ons kom in versoeking. Ek wil amper sê: hoe heiliger jy leef, hoe hewiger word die versoeking. Hoe meer jy uit die genade leef, hoe meer word jy versoek om nie uit die genade te leef nie. Hoe ernstiger jy bid om die vergifnis van jou oortredinge, hoe ernstiger moet jy bid om bewaring in die versoekings. Want, so sê die HK 127: “Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur, nie op om ons aan te val nie.” Met die sesde bede van die Ons Vader bely ons aan die een kant ons broosheid, ons ingebore geneigdheid om maar toe te gee aan die versoeking, ja, bely ons ons boosheid van natuur; en aan die ander kant die ongelooflike taaiheid, die knaendheid van ons “doodsvyande”. Ons kan die eers “een oomblik” bly staan nie, maar hulle hou nie op om ons aan te val nie!

Wat ons in die gebed vra, is dat God deur sy genade ons tog nie in die versoeking moet laat kom nie, dws dat God tog so in ons moet werk dat ons die versoeking kan deurstaan, dat ons in die versoeking tog bewaar mag word. Omdat ons die broosheid en die boosheid van ons hart ken, omdat ons weet dat ons nie een oomblik kan bly staan nie, vlug ons na God toe.

Die versoeking as sodanig is dus nie God se “skuld” nie. ’n Mens sou uit die bede dalk so ’n afleiding kon maak, maar Jakobus (1:13,14) help ons baie gou reg as hy sê: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: `Ek word deur God versoek’ nie, want God kan self nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.” Hoogstens sou ons kon sê dat God in sy genadige beskikking soms versoekings op ons weg toelaat om ons geloof te beproef, sodat die egtheid daarvan getoets kan word (1 Pet 1:6,7); dat God as’t ware vasstel of ons werklik uit die genade en vergifnis leef en wil leef.

Ek dink die gevaar is daar dat ons te veel op die versoekings en verleidings van die Bose fokus, in plaas van die oorwinning in Christus. Daarom skryf Paulus in Rom 8:9: Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. Die laaste woord is nie die versoekings nie, maar God se vernuwende werk in ons deur sy Gees!

God het raad met ons versoekings! Hy het ons doodsvyande geskaakmat deur Christus na die wêreld te stuur. In Christus het God al die planne van die bose gestuit en gefnuik. Want sien, God vra nie van ons iets wat Hy nie alreeds in Christus vir ons gedoen het nie. Ook Christus is versoek. Hy word trouens onmiddellik na sy doop in die Jordaanrivier deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (Mat 4:1). Sy hele lewe staan in die teken van versoeking. Maar met dié verskil: Hy het nooit aan die versoeking toegegee nie. Daarom kon Hy daar aan die kruis in ons plek hang en vir ons sonde betaal, maar ook weer uit die dood opstaan, omdat Hy sonder sonde was. So het Hy die mag, die houvas wat die Bose oor ons het, verbreek. En deur sy Gees werk Hy dié oorwinning in ons eie lewens uit, hoe langer hoe meer.

Dit is waarvoor ons bid in die sesde bede van die Ons Vader. Ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon en bid dat ons nie in die versoeking kom nie, maar van die Bose verlos mag word. Ons mag dit doen, omdat Christus wel in die versoeking gekom, maar nie gesondig het nie, en daarom die Bose oorwin het. In die sesde bede vra ons dat sy oorwinnaarskrag – die krag van die Heilige Gees – in ons werksaam sal bly; skuil ons by Hom teen die aanslae van die Bose.

En as ons so by Hom kom skuil, ontdek ons dat ons nie alleen is nie, dat daar ander ook by Hom skuil, sy kerk, wat saam bid: “laat ons nie in versoeking kom nie.” Want sy krag is genoeg om sy kerk in die versoeking in stand te hou, genoeg om ons te laat volhard, “totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal” (HK 127).

Hiervoor het Hy ons sy Gees gegee. Paulus skryf in Rom 8:2: Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Die Heidelbergse Kategismus sê: Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

Pinkster het aangebreek om ons te bekragtig om staande te bly in hierdie wêreld!

Amen.




Gebed vir Pinkster

God, gewer van die lewe,
u Heilige Gees deurstroom u kerk;
rus ons dan toe deur die gawes van die Gees
om die evangelie van Christus te leef
en maak ons ywerig om u wil te doen,
sodat ons saam met die ganse skepping
die vreugde van die ewige lewe mag deel.
Ons bid dit deur Jesus Christus u Seun ons Here,
wat leef en met U regeer
in die eenheid van die Heilige Gees –
een God, nou en vir altyd.
Amen.

vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England