Jesus het opgestaan

Van die begin af was daar mense wat die werklikheid van Jesus se opstanding bevraagteken het, en geen moeite ontsien om vir almal te laat verstaan dat dit nonsens is nie. Ons lees selfs in die Bybel daarvan (Matt. 28:11-15). Deur die eeue en tot vandag toe probeer mense steeds die waarheid van die opstanding as ’n leuen en ’n versinsel afmaak; iets wat net mense wat nie vir hulleself kan dink nie, kan glo. Die wetenskap is tog onteenseglik in die feit dat ’n dooie nie weer lewend kan word nie.

In die lig van hierdie teenkanting is die manier waarop die verhaal van Jesus se opstanding vertel word, nogal insiggewend. Niemand het gesien hoe Jesus uit die dood opstaan nie; hulle het net gesien die graf is leeg. Die eerste getuies dat Jesus leef, kom boonop van vroue, wat destyds nie as betroubare getuies geag is nie (hulle kon byvoorbeeld nie as getuies in ’n hof optree nie). Die mense wat die opgestane Jesus sien, is buitendien ook nie heeltemal seker dat hulle reg gesien het nie. Eers met die tweede kyk; eers met die vinger in die wonde, eers met die saam eet aan die stukkie vis wat Hy vir hulle gebraai het, daag die sekerheid. Iemand skryf dat die eerste berigte oor Jesus se opstanding eerder ’n fluistering was as ’n jubelende hoera.

Maar presies dié verhale is van die beste bewyse dat Jesus regtig opgestaan het; dat die leë graf nie ’n uitgedinkte storie is nie. Want as jy wil hê mense moet jou glo, vertel jy nie jou storie só nie. Dan sit jy ’n paar gewigtige ooggetuies in en maak die bewyse onomstootlik. Dis nou as jy die storie gefabriseer het. Maar as dit die waarheid is, vertel jy dit soos dit regtig gebeur het, vergesog soos dit ook al mag klink.

Dis hoe die Evangeliste die ongelooflike verhaal vir ons vertel: sober, onaangedik, soos dit gebeur het, met al die misterie daaromheen. Want Jesus het nie net in die verkondiging van die kerk of in die verbeelding van sy fanatieke volgelinge opgestaan nie. Hy het régtig die dood oorwin. Jesus leef! Dít is die Paasevangelie.




Klinkende oorwinning word nagmerrie

MISPA. – Die heldeontvangs wat genl. Jefta se dogter gister hier vir hom gereël het, het in ’n nagmerrie verander toe dit duidelik geword het dat Jefta sy dogter as brandoffer aan die Here sal moet offer. Sy is sy enigste kind.

Jefta het blykbaar voor die stryd teen die Ammoniete ’n gelofte teenoor die Here afgelê dat, as God die Ammoniete heeltemal oorgee in sy mag, hy dié een wat hom uit sy huis uit tegemoet kom wanneer hy behoue van die stryd af terugkeer, as brandoffer sal offer.

Dié hartseer drama volg op een van die grootste oorwinnings in jare, toe Israel onder aanvoering van Jefta seun van Gilead daarin geslaag het om die wurggreep van die Ammoniete na agtien jaar van verdrukking en mishandeling te verbreek. Altesaam twintig stede in die Transjordaan-gebied, van Aroër af tot by Minnit, is teruggewen, en duisende Ammoniete het in die veldslag gesneuwel.

Dié oorwinning was ook ’n persoonlike triomf vir genl. Jefta. Hy het vir jare in ballingskap in Tob gewoon nadat sy broers hom vroeër verdryf het omdat hy die seun van ’n prostituut is. Hy het verlede maand op versoek van die leiers van Gilead na sy geboortestad teruggekeer om die volk aan te voer in hulle stryd teen die Ammoniete.

Jefta het aanvanklik probeer om langs diplomatieke kanale die spanning met die Ammoniete te ontlont, maar toe die onderhandelinge op ’n dooie punt uitgeloop het, het hy die mense van Gilead tot die stryd opgeroep. Dit was tóé dat hy die gelofte aan die Here gemaak het.

Jefta se dogter het haar pa versoek om die offer met twee maande uit te stel sodat sy berge toe kan gaan om daar saam met haar vriendinne te gaan treur oor haar lewe as jong meisie. Sy is nie getroud nie.

Godsdienskenners met wie Bybelkoerant gepraat het, is dit eens dat Jefta geen ander keuse het as om die gelofte teenoor die Here gestand te doen nie. Die algemene gevoel is egter dat Jefta uiters onverantwoordelik was om só ’n gelofte teenoor die Here te maak. “God laat Hom nie dwing en voorskryf nie, allermins met beloftes van menslike offers,” het priester Johannan gesê.

 

Man van God wek seuntjie uit dood op

SUNEM. – Elisa, die man van God, het gister hier tot groot vreugde van die bedroefde ouers hulle seuntjie uit die dood opgewek nadat die kind ’n halwe dag lank dood was.

Die seuntjie het die oggend by sy bejaarde pa op die oesland deurgebring. Terwyl hy daar was, het hy skielik sy kop vasgegryp en vir sy pa gesê: “My kop, my kop!” Sy pa het dadelik ’n slaaf gestuur om hom huis toe te dra, maar hy is teen die middag op sy ma se skoot oorlede. Sy het die kind toe in die kamer wat hulle vir die man van God aangebou het, neergelê en onmiddellik daarna ’n donkie opgesaal en die pad gevat Karmelberg toe, waar Elisa was.

Toe Elisa die tyding kry, het hy alles net so gelos en saam met die vrou na Sunem gekom. Hy het alleen die bovertrek ingegaan, gebid en op die seuntjie gaan lê sodat sy liggaampie weer warm kon word. Tot almal se groot blydskap het die seuntjie verskeie kere genies, en toe sy oë oopgemaak!

Elisa se slaaf Gehasi het aan Bybelkoerant vertel dat die seuntjie se geboorte ook ’n wonderwerk was. “Die vrou is altyd so goed vir meneer as ons hierlangs verbykom dat hy haar graag op ’n gepaste wyse wou bedank. Hy het gemerk dat sy en haar man nie meer jonk is nie en tog kinderloos was. Toe het hy gebid, en sy het hierdie seuntjie ’n jaar later gekry.”

 

PERSOONLIK

Rabbi Jesus van Nasaret en sy dissipels het op ’n uitgebreide reis deur die land vertrek, en beoog om soveel moontlik stede en dorpe aan te doen. Die geselskap sluit ook heelparty vroue in, waaronder Maria Magdalena, Johanna die vrou van Gusa, en Susanna.

 


Vroue in die Bybel

Die Bybel is geskryf in ’n tyd toe slegs mans in die samelewing getel het. As ’n mens egter tussen die reëls lees, word dit baie gou duidelik dat dit ook in die Bybelse tye, soos vandag nog, die godvresende vroue was wat die draers was van die gemeenskap se geloof. Vroue soos die Sunemmitiese ma – ons ken nie eens haar naam nie! – en vroue soos Maria Magdalena, Johanna die vrou van Gusa, en Susanna, wat op eie onkoste die Here Jesus versorg het, en ook “baie ander”, sê Lukas sonder om hulle name te noem (Luk. 8:3). En hoewel sy nog maar pas ’n tiener was, het nóg ’n naamlose, Jefta se dogter, ook hierdie geloofsmoed besit.

Sonder gelowige moeders sal kinders God nie leer ken nie. Sonder gelowige vrouens sal mans die spoor byster raak.
Goddank vir vroue wat glo!




Vyandelike volk trek saam op Jordaan-oewer

JERIGO. – Die koning het sy kommer uitgespreek oor die saamtrekking van die Israeliete op die oostelike oewer van die Jordaan by Sittim regoor Jerigo. Hy het gister ook die soldate op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.

Die vrees dat Jerigo deur die Israeliete aangeval gaan word, is gister versterk deur gerugte dat twee Israelitiese spioene in die stad opgemerk is.

Hulle is onder andere by die huis van die prostituut Ragab opgemerk, maar toe die soldate ondersoek ingestel het, het hulle reeds haar huis verlaat. Die stadspoort is onmiddellik gesluit, en soldate het ook die pad na die Jordaan gefynkam. Padblokkades is by al die driwwe opgerig. Teen druktyd was die spioene nog op vrye voet.

Spanning loop intussen hoog, aangesien berigte uit die trans-Jordaangebied daarop dui dat die Israeliete ’n gedugte volk is wat boonop dikwels met bonatuurlike hulp oorwinnings behaal. ’n Woordvoerder van die koninklike lyfwag het egter die inwoners tot kalmte gemaan. In ’n verklaring gisteraand het hy gesê dis net ’n kwessie van tyd voordat die spioene vasgetrek word, aangesien hulle vreemd is en nie die omgewing goed ken nie. “As ons hulle eers gevang het, sal ons kan uitvind presies wat hulle plan is, en dan sal ons gereed wees wanneer die inval kom,” het hy gesê.

 

VROU FNUIK VLUGPLAN VAN GENERAAL

KEDES. – Die eer om die gevreesde generaal Sisera te dood, was nie vir Barak, aanvoerder van die Israelitiese leër, beskore nie. Sisera het aan die hand van ’n vrou gesterf.

Die vrou wat oornag ’n volksheldin in Israel geword het, is Jael eggenote van Geber, ’n Keniet wat in die omgewing woon. Geber het in die verlede goeie betrekkinge met koning Jabin gehandhaaf. Toe die Israeliete die oorhand in die veldslag kry, het Sisera by Geber kom skuiling soek. Jael het hom in haar eie tent weggesteek. Nadat sy vir hom dikmelk gegee het, het hy van uitputting aan die slaap geraak. Dit was tóé dat hierdie dapper vrou haar kans waargeneem het. Met ’n hamer en tentpen gewapen, het sy na Sisera gesluip, en die tentpen deur die slaap van sy kop geslaan, sodat sy hom in die grond vasgepen het.

Kort daarna het Barak opgedaag. Maar sy prooi was toe reeds dood.

 

Koning Jabin se weermag verpletter

KEDES. – Die Israelitiese stamme Sebulon en Naftali onder aanvoering van Barak seun van Abinoam en die profetes Debora vrou van Lappidot het gister die gedugte krygsmag van generaal Sisera, leërhoof van Jabin, totaal vernietig.

Barak het uit die rigting van Taborberg met tien duisend man aangeval. Voordat die geveg nog kon begin, het daar egter ’n hewige reënbui uitgesak. In die modderige grond was Sisera se groot troefkaart, naamlik sy nege honderd strydwaens, nutteloos. Party is selfs deur die Kisonspruit meegesleur, sodat Sisera se leër op die vlug geslaan het. Barak het hulle agtervolg en by Garoset-Gojim tot die laaste man toe afgemaai. Ook Sisera is gedood (lees die berig “Vrou fnuik vlugplan” elders in dié uitgawe).

Politieke waarnemers verwag dat dit etlike jare sal duur voordat koning Jabin, wat die afgelope twintig jaar die politieke toneel oorheers het, weer ’n faktor in Kanaän sal wees.

 


God kan jou gebruik!

’n Mens kan maar net wonder hoe die geskiedenis van die Godsvolk sou verloop het as daar nie op kritieke momente vroue na vore getree het om met geloofsmoed hulle deel te doen nie. Vroue soos Sara en Rebekka, en Mirjam; vroue soos Ragab en Debora en Jael. Geen wonder nie dat hulle name in die Bybel verewig word, ten spyte van die feit dat hulle in ’n wêreld gelewe het waarin die vrou eintlik geen plek gehad het nie. Die Jode het immers gebid: “Ek dank U dat ek nie ’n heiden is nie, of ’n hond nie, of ’n vrou nie.” Miskien het dit tyd geword om te bid: “Dankie, Here, dat daar vroue is!”

Die geskiedenis van Ragab en Jael onderstreep ’n baie belangrike feit: dat God dikwels op vreemde, onverwagse maniere werk om sy wil te laat geskied, en dat Hy daarvoor nie noodwendig die voor die hand liggende mense gebruik nie. Hy gebruik mense wat gewillig is om dit met Hom op sy pad te waag.

God kan ook vandag vir jou gebruik om ’n bres vir sy koninkryk te slaan, mits jy gewillig is. In God se hand kan jy wat die Here liefhet, “wees soos die son wat in sy volle krag skyn” (Rig. 5:31).