Gebed vir vroue en almal wat deur geslagsgeweld geraak word

Here God,  

ons kom vandag na U met swaar harte. Ons dink aan vroue en meisies wat met geweld, mishandeling, verkragting en vrees leef; aan dié wat vermoor is; en aan almal wat agterbly en rou.

Wees naby aan diegene wat seergekry het. Gee hulle veiligheid, genesing en die moed om hulp te vra. Omring hulle met mense wat luister, glo en met deernis bystaan. Troos dié wat treur, en dra almal wat moeg en bang geword het.

Here, vergewe ons waar ons geweld verswyg, verskoon of gering ag. Maak ons oë oop vir gevaar en ons harte sensitief vir mense se nood. Gee ons moed om op te tree, om veilige ruimtes te skep en om beskerming en regverdigheid te soek.

Verander die harte en dade van dié wat geweld pleeg. Hou hulle aanspreeklik en keer dat nog mense seerkry. Gee wysheid en volharding aan almal wat sorg, beskerm, ondersoek en reg laat geskied.

Here, ons bid ook vir die polisiebeamptes wat geweld teen vroue en meisies ondersoek en probeer keer. Gee hulle wysheid, moed en volharding wanneer die werk swaar en ontmoedigend voel. Beskerm hulle teen gevaar en uitputting. Help hulle om elke slagoffer met waardigheid en deernis te behandel, en gee hulle die nodige hulpbronne en samewerking om oortreders aanspreeklik te hou en verdere geweld te voorkom. Amen.

Maak u kerk ’n plek waar elke mens veilig en waardig is; waar mense wat seergekry het geglo en ondersteun word; en waar liefde nie net met woorde bely word nie, maar in dade sigbaar word.

Here, laat u geregtigheid soos water vloei en u vrede soos ’n stroom wat nooit opdroog nie.  

Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. 

Amen.




Eliëser

uit my boek Mans uit die Bybel

Die man wat slim genoeg was om nie op sy eie ’n groot besluit te neem nie

Sy verhaal

“Hoe gaan Oom vir meneer Isak ’n vrou kry?” vra Heber vir die soveelste keer, die verontwaardiging bitter in sy keel. “Hier kom ons die hele lange ent om ’n vrou te kom haal. Maar ’n vrou is mos nie soos ’n donkiemerrie wat jy uit die trop kan keer en deurkyk, en dan besluit of sy sal deug of nie! Kyk, ek is baie lief vir ons meneer Abraham, en ek dink meneer Isak verdien ’n bobaas-vrou, maar hierdie hele plan stink!” Om sy misnoeë te wys, spoeg hy met mening op die grond langs sy kameel.

“Stadig nou, Heber, stadig nou. Kom ons wag tot ons daar kom, voordat ons besluit dit sal nie werk nie,” paai hy, hoewel die onsekerheid sy maag al dae lank onderstebo het. “Ek klou maar net vas aan die woorde van ons meneer. Hy het belowe: ‘Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ’n vrou van my land af sal kan bring.’”

“Gmf. Dis maklik om so ’n belofte te gee as jy lekker in jou tent kan sit en wag dat ander vir jou seun ’n vrou moet gaan soek!”

“Dis nou genoeg, Heber! Ek wil geen woord verder oor hierdie saak hoor nie.”

Toe hulle ’n hoogtetjie oor gaan, sien hy die stad voor hulle lê, en ’n fontein in die laagte, net buite die stadspoort. By die fontein klim hy af, en kniel in die stowwerige pad, en bid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met jy gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. As ek vir ’n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

Toe hy sy oë oopmaak, staan die mooiste jong vrou wat hy nog gesien het, voor hom, ’n ondeunde vonkel in haar oë.

Lees Genesis 24:1-27

 

Pas jy dalk in dié storie?

Eliëser is nie een van die groot helde van die Bybel nie. Trouens, sy naam (wat heel gepas “God is my hulp” beteken) staan maar net een keer in die Bybel, en dit nie eers in hierdie verhaal nie, maar in Genesis 15:2. Ons lees nooit weer van hom nie. En tog moet hy hier in Genesis 24 ’n sleutelrol in die geskiedenis van God se volk vervul. Die vrou wat hy moes gaan soek, sou immers die ma word deur wie God se volk tot stand sou kom.

Eliëser se probleem was dat hy hier skielik op onbekende terrein beland het. Sy lewe lank was hy gewoond om opdragte uit te voer, en nou, ewe skielik, verwag sy eienaar van hom om self ’n ontsettend belangrike keuse te maak. Hy moet vir Isak ’n vrou uitsoek. En, soos Heber tereg opgemerk het, sy lewe tot op daardie stadium het hom nie juis toegerus om sulke keuses te maak nie. G’n wonder nie dat hy van die begin af bedenkinge oor sy opdrag het, en dit ook teenoor Abraham opper. Abraham het hom aan die diepkant ingegooi, en hy voel glad nie gemaklik daar nie.

Ons is nie almal bestem om die Abrahams en die Isakke van die lewe te wees nie. Die meeste van ons is maar net gewone mense in ’n groot wêreld, wat iewers ’n kleinerige skakel in ’n groot ratwerk vorm. En laat ons maar eerlik wees: baie van ons verkies dit so. Sonder die hoë posisie het jy ook nie die groot verantwoordelikhede nie.

Maar selfs ons gewone mense kom van tyd tot tyd in ’n situasie soos dié waarin Eliëser beland het. ’n Situasie waarin jy ’n belangrike keuse moet maak, en jy voel glad nie opgewasse daarvoor nie. Jy ken daardie gevoel: jy kan aan ’n honderd verskonings dink hoekom jy die besluit moet uitstel. Jy lê en rondrol op jou bed en weet nie watter kant toe nie. 

 

Hoe nou gemaak?

Glo jy in die krag van gebed? Glo jy dat die Here vir jou die antwoord sal gee? Nee, ek vra nie of jy oor die saak bid as jy in so ’n situasie beland nie. Ek vra of jy glo dat gebed ’n verskil sal maak.

Eliëser het dit geglo – en ’n antwoord op sy gebed ontvang, verstommend so. Dis ook wat die Here Jesus ons leer: dat ons moet bid dat God ons elke dag ons daaglikse brood sal gee (Lukas 11:3); dat elkeen wat vra, ontvang (Matteus 5:7,8); dat ons ons bekommernisse op Hom kan werp, want Hy sorg (vgl. 1 Petrus 5:7).

Dis ook wat Dawid gedoen het in Psalm 25:1-5:

Tot U, Here, rig ek my,

my God, op U vertrou ek.

Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,

laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.

Niemand wat sy verwagting in U stel,

sal beskaam word nie.

Dié wat nie op U vertrou nie,

hulle kom in die skande.

 

Maak my u wil bekend, Here,

leer my u paaie.

Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,

want U is God, my redder.

In U stel ek elke dag my verwagting.

 

Eliëser het dit gedoen, en hy is nie teleurgestel nie. Miskien moet ek en jy dit ook probeer?




Gebed oor misdaad en geweld

Here, onse Here!

In ’n wêreld wat U nie ken en eer nie, in ’n wêreld waarin dit vir ons lyk asof die duiwel baas is, in ’n wêreld waarin ons onseker en ook onveilig voel – in hierdie wêreld wil ons U dien. En daarom staan ons met stukkende harte voor U, met soveel vrae, en met opstand in ons gemoed:

∙ mense is in die afgelope week in hierdie land vermoor

∙ ander is van hulle motors en ander besittings beroof

∙ onskuldige babatjies is geaborteer

∙ vroue en dogters is verkrag

∙ mense het hulle werk verloor, en ander soek tevergeefs na werk

∙ mense en selfs kinders slaap in die winter buite in die nat en die koud

∙ ons land se regering kom nie die mas op nie

∙ misdaad, geweld, korrupsie en anargie is aan die orde van die dag

∙ daar is siekes in ons gemeente wat week na week sien hoe hulle liggame al verder en verder deur die siekte afgetakel word

∙ party van ons is hartseer omdat die dood oor ons pad gekom het

∙ party sleep hulle dag na dag voort, vasgevang in ’n huwelik waarmee hulle nie meer raad het nie, met ’n huweliksmaat wat geen maat meer is nie

∙ ander is so ontsettend eensaam –

Here, ons roep na U! Ons wil vanoggend aan U kom vasklou in die geloof, want U is die God wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is! Ons het U nodig, Here, ons het U nodig!

Sonder U kan ons nie van dag tot dag leef nie. Sonder U is hierdie kerk leeg, Here, en sonder U is ons leeg.

Daarom, o Heilige van Israel, vlug ons na U toe! Kom raak ons tog aan met u Woord en deur u Gees, dat ons kan lewe! Open ons verstand dat ons kan verstaan en kan glo, open ons harte dat ons kan liefhê en kan hoop!

Amen.




Job se vrou, wat haar man in die steek gelaat het toe hy haar die nodigste gehad het

Job 1:1-2:10

uet my boek “Skaduvroue in die Bybel”

 

Die huweliksformulier vereis van man en vrou om mekaar by te staan as dit goed gaan én as dit sleg gaan. Toe jy voor die kansel gestaan het, was dit maklik om dit te belowe. Jy en jou bruidegom was immers jonk en blakend gesond. ’n Rooskleurige toekoms het op julle gewag: ’n eie huis, ’n gesin, voorspoed …

Helaas, die lewe werk nie altyd so nie. As dit goed gaan, is dit al klaar moeilik genoeg om die huwelik te laat werk, want jy en jou man dink nie altyd dieselfde oor sake soos kinderopvoeding of geld of ontspanning nie. Tog kry julle dit darem op ’n manier reg om dié knikke te oorkom. Maar as die teenspoed ewe ongevraagd aan die deur kom klop, kry jou huweliksbelofte skielik ’n totaal ander kleur. Jou man verloor sy werk of dalk sy gesondheid, en nou moet jy steeds aan sy sy bly en hom ondersteun. 

Iewers in jou agterkop begin jy wonder of hy nie op een of ander manier skuld het aan sy ellende nie. Van jou vriendinne het dalk ook al skimpe in dié rigting gegooi. Miskien is die Here besig om hom te straf oor iets wat hy gedoen het, iets waarvan jy nie weet nie. Hoekom anders sal die rampe hom dan tref …

 

Die dag het soos enige ander dag begin. Job gaan vroegoggend na die huisaltaar waar hy tot die Here bid soos sy gewoonte is. Daarna kom hy eet. Hulle praat oor koeitjies en kalfies, nie oor gewigtige sake nie. Sy is maar bly sy kon dié reël invoer, want dan kan sy minstens by die ete seker wees Job sal nie aan haar karring oor haar geloof nie. Dis al erg genoeg dat hy hulle almal ná elke fees van die kinders na die altaar sleep om versoening vir hulle sondes te doen. Dit sal seker môre weer gebeur, want die kinders het juis weer vandag ’n fees in die oudste broer se huis. Hulle wou hê sy moet ook kom, maar sy is tog nie vandag lus vir ’n klomp vrolikheid nie. Dis al erg genoeg dat sy in haar man se vrolike gesig moet vaskyk.

Ja, die dag het soos enige ander dag begin. Totdat ou Merda daar aangekom het, gehawend en swaar gewond, met die tyding dat ’n bende uit Skeba hulle kom aanval het. Hulle het al die slawe gedood en al die grootvee gebuit. Ou Merda leef nog omdat die booswigte gedink het hy is dood. Voor hulle nog van die skok kon herstel, kom ’n skaapwagter ook daar aan en vertel dat daar uit die bloute ’n verskriklike donderstorm oor hulle losgebars het. Weerlig het al die kleinvee en die wagters doodgeslaan. Hy is die enigste oorlewende. Job het die bibberende slaaf ’n bietjie water aangebied om hom te kalmeer. Die sot het só gebewe dat hy meer water op haar kosbare mat gemors het as wat in sy keel af is. Net toe kom daar nog ’n man uitasem by hulle aan. Dis een van die kameelwagters, het sy dadelik gesien. Hy was ook gehawend en vol bloed. Galdeërs het hulle hele kameelkudde geroof en al die slawe gedood.

As die slegte tydings jou só een na die ander tref, wonder jy onwillekeurig wanneer dit gaan ophou, en sy was half verlig toe die derde berig van die kamele vertel het, want sy het half gevrees dat iets die kinders kan oorkom. Slegte nuus kom mos altyd in drieë, en die derde berig het beteken die rampe is verby. Sy het swarigheid vir hulle gesien, want alles wat hulle het – ’n hele fortuin – is in drie sinne uit hulle lewens weggeruk. Sy het half verdwaas daaraan gedink dat hulle nou heeltemal verarm is. Gelukkig is die kinders nog daar, en dié sal sekerlik kan uitspring en werk gaan soek om vir hulle te sorg.

Toe kom die vierde boodskapper. Dit is ou Eliëser, een van die kinders se slawe. Sy het nog nooit van hom gehou nie. Sy gesig staan altyd op so ’n treurige plooi dat sy hom net wil klap as sy hom sien, want sy verwag gedurig dat daar ’n gekerm by sy mond sal uitkom. Wat hy vertel, laat haar hele wêreld instort. ’n Stormwind het die huis waarin haar kinders saam geëet het, omgewaai. Hulle is almal dood. Net so sê hy. Hulle is almal dood. Almal. Dood.

Haar kop gaan staan stil, en die pyn in haar bors brand alle ander gewaarwordinge weg. Sy het niks meer oor nie. Hulle besittings, hulle kinders, weg. Wat gaan van hulle word? Wie gaan vir hulle op hulle oudag sorg?

Sy kyk na haar man om krag by hom te kry, maar hy is ook gebroke. Die nuus oor die besittings het hy heel goed gevat, maar toe Eliëser van hulle kinders vertel, het dit hom tussen die oë getref. Hy was tog altyd so erg oor die kinders, en besorg oor hulle. Hoeveel keer het hy nie namens hulle geoffer nie! En wat help al sy offers nou? Waar is die Here noudat hulle Hom nodig het? Waar is Hy?

Soos ’n lewende dooie staan hy op, skeur sy klere en sny sy baard en sy hare af. Toe gaan lê hy op die grond en sê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Prys die Naam van die Here? Is hy nou mal in sy kop? Die skok het hom seker aangetas. Hoe kan enige mens by sy volle verstand die Here prys as Hy sopas alles wat vir hulle lief en dierbaar is, weggeneem het?

***

Dit was drie weke gelede. Job en Eliëser en die ander slaaf wat nog oor is – wat sy naam is, kan en wil sy tog nie weet nie, sy is te seer om enige iets te weet – het hulle kinders begrawe in die ou familiegraf. En die volgende dag vir die stomme ou Merda ook. Daar is nie veel om te eet nie, want Job het hulle laaste lam – ’n hanslam wat in ’n kampie agter die huis was en die weerlig vrygespring het – die volgende oggend aan die Here geoffer. Bid jou aan. Hulle laaste lam!

Intussen het hulle gelewe van die bietjie wat hulle opgeberg het, en van aalmoese wat die bure gestuur het. O, die skande dat sy van ander se aalmoese afhanklik moet wees! Sy is lus en gooi dit in hulle simpatieke gesigte terug. Sy is lus en skree dat sy nie hulle simpatie nodig het nie. Maar sy kan nie, want sy hét die kos nodig wat die mense vir hulle aandra.

En nou, noudat sy hom so bitter nodig het, het Job ook nog siek geword. Kon hy nie ’n beter tyd gekies het om siek te word nie? Hy is oortrek van rooi knoppe. As sy daaraan raak, krul hy van die pyn. Sy hele lyf is vol daarvan. Die knoppe word al groter en bars later oop. ’n Aaklige, stinkende geel sug loop by die sere uit.

Sy staan hom met gevoude arms en aankyk waar hy op die ashoop sit en sy sere met ’n potskerf krap: sy kop kaalgeskeer, die baard af, die klere geskeur, ’n roukleed om, stof op die kop. Haar hart is so stukkend oor haar kinders, sy is so seer binne dat sy nie genoeg energie oor het om nog vir hom ook jammer te wees nie. Die woord ‘pateties’ flits deur haar gedagtes. Job is pateties. ’n Regte sukkelaar. Al sy goed verloor op een enkele dag, en toe nog hulle kinders ook. ’n Tragiese sameloop van omstandighede, sê Job ewe vroom. Maar almal weet sulke rampe kom nie vanself oor jou nie. Dit kom van God. Hy stuur dit om hulle te kasty wat die spoor byster geraak het.

Sy het goed oor die saak nagedink terwyl sy op haar bed lê en rondrol het. Wie kan dan slaap as jou wêreld ineengestort het? Sy self het nie iets verkeerds gedoen nie, so dit kan tog nie haar skuld wees dat die ellende hulle getref het nie. Dit laat net een ander moontlikheid oor. Hoekom het die sere háár nie getref het?

“Hoekom erken jy dit nie, Job?”

“Hoe bedoel jy nou?” vra hy oorbluf.

“Ek praat van die oorsaak van ons ellende. Wat het jy verkeerd gedoen dat God ons so straf?”

“Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Sy stem styg, so asof hy nie kan verstaan waarvan sy praat nie.

“Wel, dis vir my darem bitter snaaks dat die rampe ons sommer so skielik tref. Is dit nie vir jou ook snaaks nie?”

“Snaaks is dit beslis nie.”

“Nou maar hoe verklaar jy die ellende wat oor ons gekom het?”

“Ek het nie ’n verklaring daarvoor nie. Ek weet net dat die Here iewers in alles wat gebeur, tog ook teenwoordig is. Hoe, kan ek nie sê nie.”

“Dis ’n snaakse God wat jy aanbid. As Hy hierdie goed oor ons laat kom sonder dat jy Hom rede gegee het om jou te straf …”

“Ja, wat dan?” vra hy toe sy nie haar sin klaarmaak nie.

“Dan stel ek nie daarin belang om Hom langer te aanbid nie.”

“Hoe kan jy so-iets sê?” Job se oë is groot van die skok.

“Ek kan dit sê omdat ek alles verloor het wat vir my saak maak!” skree sy half histeries. 

“Ons het nie alles verloor nie. Ons het nog die Here.”

“Ja? Moenie dat ek lag nie. Wat moet nóg gebeur voordat jy besef die Here het jou vyand geword? Moet ek ook nog iets oorkom voordat jy dit sal insien, hmm? Hmm?” Sy is so kwaad dat sy hom aan die skouers ruk, sodat hy sy asem intrek van die pyn.

Sy kan sien dat haar woorde hom ontstel, en dit gee haar ’n gevoel van behae. Hy en sy vroom praatjies maak haar siek. Sy wys beskuldigend na hom as sy voorttier: “En hier sit jy so waar as wragtig ewe vroom en sê die Here is iewers in dit alles teenwoordig! As Hy teenwoordig is, hoekom doen Hy niks nie?”

“Ek wens ek het die antwoord geweet.”

“Wel, as jý nie die antwoord weet nie, sal ék vir jou sê wat jy moet doen: vloek God en sterf, dat hierdie hel kan oorgaan, want só kan dit nie aangaan nie.”

Toe kyk hy haar met sulke oneindig hartseer oë aan, oë waarin die leed van die wêreld lê, oë wat sê hy kry háár jammer – pleks hy homself jammer kry! – en hy sê: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

 

Die boek Job waarsku ons dat ons nie te gou moet wees om sondaars te soek as daar rampe oor ons pad kom nie. Die oorsaak van die seer in ons lewens is nie so eenvoudig nie, sê die boek. Want behalwe ons en ons sonde en God, is Satan ook nog daar, en hy skroom nie om rampe oor mense te bring nie, sommer net vir die pret. As hy ’n onskuldige in die ellende kan dompel, hoekom nie?

Ek wonder of Job se vrou anders sou reageer as sy dit verstaan het. Ek twyfel. Want ’n vrou wat haar man die rug toekeer as hy in die diepste ellende verkeer – wie of wat die oorsaak daarvan ook al is – het hom in elk geval nie lief nie. Of so dink ek.




Joh 4:1-30 Jesus kan ook jóú dors les

Lewende water

Hierdie gedeelte gee ons ’n kykie in Jesus se lewe, weg van die gedrang van die skares wat Hom so dikwels toegepak het. Jesus is by Sigar, ’n Samaritaanse dorp. Dis die warmste deel van die dag. Hy is dors, en Hy rus by ’n put. Of dalk was dors nie regtig die hoofsaak nie. Dalk was dit bloot ’n manier om ’n gesprek met die vrou aan te knoop. Ons weet nie.

Wat ons wel weet, is dat die Samaritaanse vrou allerhande jakkalsdraaie gooit toe Jesus vir haar water vra. Eers praat sy oor die kultuurgebruike van destyds (9), en toe praat sy oor ’n skepding (11) en die feit dat die aartsvader Jakob die put gegrawe het (12). Sy probeer die hele tyd met Jesus redeneer om die gesprek weg van haarself te hou.

Jesus stuur egter die gesprek baie netjies weg van hareklowery na dit wat Hy vir die vrou kan bied: die lewende water. Hy sê in vs 14: Wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.

Dink net: ’n fontein in jou binneste, bruisend van lewe! Is dít hoe jy jou geestelike lewe sal beskryf?

Miskien moet ek op dié stadium net eers sê waarvan Jesus hier praat. Wat is die  lewende water wat Hy vir ons wil gee? Daar is veral twee antwoorde, wat eintlik baie na aan mekaar is. Die een is dat die Jode na die Wet (ons sou sekerlik ook kon sê die Bybel) as ’n fontein van lewende water verwys het. Dink maar aan Psalm 1, wat sê die man wat sy vreugde in die Woord van die Here vind en dag en nag daaroor nadink, se lewe is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is. ’n Tweede verklaring kry ons in Joh 7:37-39, waar Jesus by die Huttefees sê: As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. En dan verduidelik Johannes: Hiermee het Hy na die Gees verwys … ’n Mens daarom ook kon sê die lewende water wat Jesus gee, word deur die Gees in ons gewerk, na die mate dat ons mense van die Woord is.

Hoe kry ons deel daaraan?

So hoe kry ons hierdie ongelooflike borrelende fontein lewende water in ons binneste? Jesus sê vir die vrou jy moet dit vir Hom vra (vs 10). Dis water wat Hy ons gee (vers 14), en ons moet daarvan drink (vers 14). Daar is twee goed wat ons moet doen om dit te kry: Jy moet met jou dors na Jesus toe gaan. En dan moet jy die lewende water wat Hy gee, drink.

Jy sien, hierdie fontein lewende water is nie vir almal nie, en dit borrel nie sommer vanself in ons binneste op nie. Dis vir mense wat naby aan die Here leef, Hom volg, mense wat nuutgemaak is deur die werk van die Gees. Of kom ons stel dit anders: dis vir mense wat hulle lewens oopgemaak het dat Jesus kan inkom.

Ek wil vanoggend vir jou vra: Het jy al jou lewe vir die Here oopgemaak? Het Hy al in jou lewe ingestap? Want dit kan gebeur dat jy al jare lank lidmaat van die kerk is, gereeld hier in die kerk sit, maar nog nooit by die punt gekom het dat jy die Here innooi in jou lewe nie. Of soos Jesus sê, nog nooit na Hom toe gekom het nie. Vandag is jou kans! Ek wil jou nooi om met my te kom praat as jy hieroor meer wil weet, of onseker is oor waar jy met die Here staan. Ek wil jou graag help.

Dors

Maar dit lyk my om die Here in jou lewe in te nooi, gaan nog nie die borrelende fontein in jou binneste laat ontspring nie. Ek dink dít is hoekom party van ons vir jare kinders van die Here is, maar net nooit ’n vreugdevolle geloofslewe het nie. Want jy moet dors na hierdie lewende water. Jy moet dit by die Here Jesus soek,  jy moet ’n innige verhouding met die Here hê. En dit kom nie vanself nie. Dit kom deur jouself doelbewus oop te stel vir sy leiding, te smag daarna dat sy Gees jou verander en vernuwe, deur sy Woord jou rigsnoer te maak, deur Jesus in alles na te volg, op Hom gerig te lewe, Hom eerste te stel.

Daarom wil ek nog ’n vraag vra, vir jou wat reeds jou lewe vir die Here oopgemaak het: Dors jy na hierdie water? Leef jy vir die Here? Laat jy Hom toe om jou te rig deur sy Woord en sy Gees? Lees jy jou Bybel en oordink dit dag en nag?

Hoe het die Here nou weer gesê? Elkeen wat van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.

Dink net: ’n fontein met water wat opborrel, binne-in jou! Dís mos die lewe in oorvloed wat Jesus vir jou wil gee!

Weerloos

Net ’n laaste opmerking oor hierdie ontmoeting. Jesus kom weerloos na die vrou (vs 7). Dis heeltemal anders as die aanvaarde gebruike van destyds (vgl v 27). Ek bedoel, Hy is ’n man, en Hy praat met ’n vrou. ’n Rabbi mag nie eers met sy eie vrou of suster of dogter in die openbaar gepraat nie; wat nog van ’n vreemde vrou! (Die Jode het destyds gebid: dankie dat ek nie ’n hond of ’n heiden of ’n vrou is nie. Regtig.) En asof dit nie genoeg is nie, sit Hy nie daar as die Een wat alles kan doen en daarom alles vir die vrou doen nie. Hy sit daar, en maak Homself afhanklik van haar hulp. 

Liewe broers en susters kerkraad, partykeer dink ons ons moet al die antwoorde hê, ons moet al die dinkwerk doen, en dan moet ons nog alles doen ook vir ander.  Dis nie hoe Jesus is nie; dis nie wat gebeur as Hy jou lewe oorneem nie. Jy word nie ’n supergelowige wat presies weet wat om in ’n bepaalde situasie te doen of te sê nie. Jy word ’n instrument, ’n kanaal, deur wie die liefde en genade, die lewende water wat net Hy kan gee, na ander vloei.

Mag julle as leiers van die gemeente hierin vir Jesus volg!

Amen.