Lees die Bybel saam met my
Ek lees elke dag saam met my gemeente ‘n hoofstuk in die Bybel, en skryf ‘n kort besinning oor die hoofstuk.
Jy kan dit ook saam met my doen.
Boeke van die Ou Testament
- Genesis
- Eksodus
- Levitikus
- Numeri
- Deuteronomium
- Josua
- Rigters
- Rut
- 1 Samuel
- 2 Samuel
- 1 Konings
- 2 Konings
- 1 & 2 Kronieke
- Esra
- Nehemia
- Ester
- Job
- Psalms
- Spreuke
- Prediker
- Hooglied
- Jesaja
- Jeremia
- Klaagliedere
- Esegiël
- Daniël
- Hosea
- Joël
- Amos
- Obadja
- Jona
- Miga
- Nahum
- Habakuk
- Sefanja
- Haggai
- Sagaria
- Maleagi
Die woord Genesis beteken “begin”. In hierdie boek lees ons van die begin van alle dinge, en ook die begin van God se spesiale pad met Abraham en sy nageslag. As sulks vorm dit die basis vir die res van die Bybelse verhaal.
Die naam van die boek is afgelei uit die die Grieks, en beteken “uittog”.
Die boek sluit nou aan by die Genesis-verhaal, wat vertel hoe Israel in Egipte beland het. Dit berig oor die bevryding uit Egiptiese onderdrukking, en bevat verhale waarin wettiese materiaal ingewerk is.
Die hooftema van die boek handel oor die verbondsverhouding tussen God en sy volk, wat Hy uit slawerny in Egipte bevry het.
Levitikus is hoofsaaklik wetsliteratuur wat teen die agtergrond van Israel se verblyf by die berg Sinaï afspeel.
Die boek roep die volk van God op om heilig te lewe deur die regte godsdiens te beoefen en hulle lewens rein te hou. God se mense tree immers anders op en leef anders as ongelowiges.
Numeri begin met sensusgetalle; vandaar die naam van die boek. Die boek is ‘n mengsel van wetsvoorskrifte, lyste, ‘n reisverslag, asook seën- en ander spreuke en gedigte.
Een van die belangrikste temas in die boek is die heiligheid van God se volk. Daardeur sluit die boek nou aan by die tweede helfte van die boek Levitikus.
Deuteronomium is geskryf as ‘n lang afskeidsadres van Moses aan die volk, waarin hy hulle herinner aan die Wet van die Here. Hy roep hulle op om aan die Here gehoorsaam te bly, en stel Josua as sy opvolger aan, voordat hy op die berg Nebo sterf.
Die boek Josua vertel die verhaal van die verowering van die land Kanaän. Die leier van Israel is Josua seun van Nun.
Hy is veel meer as ’n militêre leier. Hy is ook die geestelike leier van sy mense, en hy spoor hulle aan om aan God getrou te bly.
Die boek Rigters begin waar die groot veggeneraal Josua dood is. Soos dit ongelukkig dikwels gaan, kom daar ná ’n tyd van groot sukses en oorwinning ’n tyd van kwesbaarheid. Mense verslap hulle waaksaamheid. Dit kan tot heelwat probleme en selfs verval lei.
Dit is die verhaal van die Rigtertyd, wat ook al Israel se Donker Eeue genoem is. Morele en maatskaplike anargie tree in, en die kern van die probleem was dat gehoorsaamheid aan God en sy wet ontbreek het. Elkeen doen wat reg is in sy eie oë (Rig 21:25).
Die boek vertel die verhaal van geloof in die lewe van gewone mense, wat hulle lief en leed voor God uitleef deur omgee en uitreik na ander. Dit vertel hoe God sorg vir mense deur ander mense se dade van trou.
Dit is ook die verhaal van koning Dawid grootouers.
Die boek vertel die verhaal van die oorgang van ‘n losse stamverband tot ‘n koningkryk. Die hooffigure is die profeet Samuel, die eerste koning Saul, en die jongman Dawid.
2 Samuel vertel die geskiedenis van die koninkryk van Israel tydens die regering van koning Dawid.
Die boeke 1 en 2 Konings vorm ‘n eenheid en volg op die boeke 1 en 2 Samuel. Dit is die verhaal van die koninkryke van Israel en Juda, en begin by die troonopvolging van Dawid se seun Salomo. Dit eindig by die val van Jerusalem en die Babiloniese Ballingskap.
Die konings word nie in die eerste plek polities behoordeel nie, maar teologies, en telkens word ‘n koning met die regering van koning Dawid vergelyk.
Die boeke 1 en 2 Konings vorm ‘n eenheid en volg op die boeke 1 en 2 Samuel. Dit is die verhaal van die koninkryke van Israel en Juda, en begin by die troonopvolging van Dawid se seun Salomo. Dit eindig by die val van Jerusalem en die Babiloniese Ballingskap.
Die konings word nie in die eerste plek polities behoordeel nie, maar teologies, en telkens word ‘n koning met die regering van koning Dawid vergelyk.
1 en 2 Kronieke is eintlik een boek, wat in twee gedeel is omdat die boekrolle destyds nie so ‘n lang geskrif kon bevat nie.
Die boek vertel dieselfde verhaal as wat ons in die boeke Samuel en Konings kry, maar die fokus is anders. Dit is onbeskaamd daaroor dat koning Dawid die maatstaf vir ‘n goeie koning is, en dit gee ook meer aandag aan die tempeldiens.
Esra was ‘n priester wat uit Babel na Jerusalem gegaan het om te gaan help met die heropbou van die Joodse volk, en veral om die Jode aan die Wet van God vas te bind. Hy was ‘n tydgenoot van Nehemia.
Nehemia was ‘n hoë amptenaar aan Artasasta van Persië se hof. Toe hy hoor van die haglike posisie waarin Jerusalem en sy volksgenote daar verkeer, onderhandel hy met die koning. Dié stuur hom na Jerusalem om die stad te herbou. Dit doen hy met baie gebed en ondanks baie teenkanting.
Die boek vertel die verhaal van koningin Ester, ‘n Joodse balling in die Persiese hoofstad Susan, wat saam met haar oom Mordegai gewerk het om die Jode van gewisse uitwissing te red.
Die fees waarop die Jode elke jaar hierdie gebeurtenis herdenk, is die Purimfees, en op dié fees word die boek elke jaar gelees.
Hoewel God nêrens in die boek genoem word nie, wemel elke bladsy van sy teenwoordigheid en sorg.
Die Boek Job is ‘n besinning oor lyding en die oorsprong daarvan. Job glo vas dat die rampe en ellende wat hom getref het, nie sy skuld is nie, terwyl sy vriende hom probeer oorreed om sy skuld te bely, sodat die saak opgelos kan word.
Die boek is deel van die wysheidsliteratuur van die Ou Testament.
Die boek Psalms is die Ou Testamentiese kerk se liedereboek. Dit is ook die liedere wat die Here Jesus gesing het toe Hy op aarde was. Dit bevat ‘n groot verskeidenheid gebede, lofliedere en klaagliedere. Dit kom uit die hart van gelowiges, en daarom is dit so ‘n wonderlike boek om te lees en self ook te bid, want dit verwoord ook jou en my diepste versugtinge.
Die boek Spreuke is ‘n versameling antieke wyshede wat saamgestel is om gebruik te word as ‘n handboek om jongmense te leer hoe om te lewe. Die sleutel vir ‘n verstandige lewe kry jy herhaaldelik in die boek: “Ontsag vir die HERE is die begin van kennis.” (1:7 in die 2020-vertaling)
Ek gebruik ‘n ander invalshoek met dié boek. Ek hoop jy geniet dit!
Prediker is deel van die wysheidsliteratuur van die Ou Testament. Die prediker dink na oor die lewe en die sin daarvan, en kom uiteindelik tot die slotsom dat die enigste manier om die lewe te hanteer, is om God te dien en sy gebooie te gehoorsaam (12:13).
Hooglied is ‘n versameling liefdesgedigte. Dit besing die liefde tussen ‘n man en vrou. Dit het deel van die Bybel geword omdat liefde deel is van die lewe en deel van die gawes wat God aan ons gee.
Pogings om die boek te vergeestelik, as sou dit eintlik gaan oor Christus se liefde vir sy bruid, die kerk, is m.i. nie oortuigend nie.
Soos geen ander profetiese boek in die Bybel nie, getuig Jesaja oor die lydende Kneg wat God gaan gebruik in sy omgang met die wêreld. Vir ons as Nuwe Testament lesers is die duidelik dat Jesaja hierdeur na die Here Jesus verwys, die Kneg by uitnemendheid, wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.
Die boek het in twee fases ontstaan: Jes 1-39 kom uit die tyd van Jesaja self, vóór die ballingskap. Jes 40-66 kom uit die ballingskapstyd, waarin die profeet verkondig dat God die Verlosser is, ook vir hulle wat weggevoer is.
Jeremia was ‘n priester uit Anatot. Hy is op baie jong ouderdom deur God geroep om profeet te wees. Hy tree op in die laaste jare van die Koinkryk van Juda, en is ooggetuie van die val van Jerusalem.
Sy groot taak was om die volk, en veral die konings, terug te roep tot diens aan die Here. Daaroor het hy baie teenkanting en lydng verduur.
Die agtergrond vir die boek is die beleëring en verwoesting van Jesusalem en die tempel deur die Babiloniërs in 587-586 vC. Dit is ‘n poging om die ontnugtering en lyding wat die verwoesting meegebring het, te verwerk. Die vraag is: Hoe kan ‘n mens in God bly glo ná die verwoesting en ontnugtering.
Die boek Esegiël handel oor die ondergang en herstel van Israel en Juda. Dit kyk terug en vorentoe: na Israel se verlede en na die naderende ondergang met sy onseker toekoms. Die boek Esegiël gee in die eerste plek ʼn verklaring vir die ondergang van Juda en Jersualem en vir die ballingskap.
Die boek Daniël is ‘n apokaliptiese geskrif, in dieselfde genre as die boek Openbaring. Die eerste deel word as ‘n historiese verhaal aangebied, waar Daniël en sy vriende onder die ergste druk moontlik staande bly en God nie verloën nie.
Die tweede helfte van die boek is tipiese apokaliptiese materiaal met beeldspraak.
Die doel van die boek is om die lesers te bemoedig om staande te bly soos Daniël. God laat nie sy mense aan hulle lot oor nie.
Hosea tree op in die Noordelike Ryk tydens die regering van koning Jerobeam II. Sy huwelik met Gomer is ‘n simbool van God se verhouding met Israel en sy troue liefde teenoor hulle ten spyte van hulle ontrou.
Joël is veral bekend vir sy verwysing na vernietigende sprinkaanplae en droogte, en sien daarin ‘n teken dat die Dag van die Here aan die kom is.
Amos was ‘n gewone boer uit Juda wat die roeping ontvang het om die Here se oordeel oor Israel aan te kondig. Hy spreek veral ‘n skerp oordeel uit teen die afgodsdiens in Israel en sosiale ongeregtigheid.
Obadja spreek ‘n profesie uit teen die volk Edom, wat hullle verlekker het in die ondergang van die Koninkryk van Juda en die val van Jerusalem, en selfs meegedoen het aan die ellende.
Obadja se boodskap van troos is: dinge sal nie vir altyd by soos dit is nie. Daar kom ‘n dag waarop God sal ingryp en die onreg sal regstel. Daarom kan ons met hoop leef.
Jona vertel die verhaal van ‘n ongehoorsame profeet wat nie die Here se opdrag wou uitvoer nie. Hy moes na Israel se aartsvyande in Nineve gaan en daar gaan preek. Hy vlug egter, en dan keer die Here hom voor.
Die verkondiging in die Migaboek is gerig tot mense wat nie hulle dade in ooreenstemming gebring het met hulle geloof in die Here nie. Hulle word gewaarsku om hulle verhouding met God en medemens in orde te bring, of anders die risiko te loop van die Here se vergelding.
Nahum profeteer die val van die Ryk van Assirië. Die Here duld nie onreg vir altyd nie.
In hierdie boek praat Habakuk met God oor die heersende onreg in die wêreld. Hy vra vrae omdat dit vir hom lyk asof God dit oogluikend toelaat.
Sefanja roep die Godsvolk tot bekering in die lig van die dreigende katastrofe op “die dag van die Here”. Dit geld die inwonders van Juda en Jerusalem, maar ook ander nasies. Ná die krisis is daar, op grond van God se genade, ‘n nuwe verhouding met Hom moontlik.
Haggai tree aan die einde van die jaar 520 vC op; dws ná die ballingskap. Die teruggekeerde Judeërs kry swaar, maar Haggai spreek hulle skerp aan omdat hulle nog nie die tempel herbou het nie.
Sagaria was ’n tydgenoot van Haggai. Hoofstukke 1 tot 8 bevat hoofsaaklik ’n aantal visioene oor die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel, die loutering van die volk en die koms van die Messiaanse tydperk. Hoofstukke 9–14 is ’n versameling boodskappe oor die verwagte Messias en die laaste oordeel.
Die boek is een lang strydgesprek tussen die Here, by monde van Maleagi, en sy volk, wat onvergenoegd is oor die Here se sorg, maar eintlik self die oorsaak van die verwydering tussen hulle en God was.
Boeke van die Nuwe Testament
- Matteus
- Markus
- Lukas
- Johannes
- Handelinge
- Romeine
- 1 Korintiërs
- 2 Korintiërs
- Galasiërs
- Efesiërs
- Filippense
- Kolossense
- 1 Tessalonisense
- 2 Tessalonisense
- 1 Timoteus
- 2 Timoteus
- Titus
- Filemon
- Hebreërs
- Jakobus
- 1 Petrus
- 2 Petrus
- 1 Johannes
- 2 Johannes
- 3 Johannes
- Judas
- Openbaring
Matteus skryf sy Evangelie vir mense wat ‘n Joodse agtergrond gehad het. Daarom leun hy sterk op die Ou Testamentiese beloftes om aan te toon dat Jesus die Messias is, die Een wat soos Moses van ouds God se wet op ‘n nuwe wyse interpreteer.
‘n Belangrike tema in sy Evangelie is dat Jesus Immanuel is, God by ons.
Markus vertel die fantastiese nuus dat Jesus eintlik die Seun van God is. Ja, God het sy eie Seun na die wêreld gestuur. Anders as wat baie mense destyds gedink het, het God se Seun nie gekom om te kom heers of selfs om die Romeine “reg te sien” nie. Markus wys vir ons dat Jesus om ’n ander rede na die wêreld gekom het. Hy het gekom om te ly en te sterf. Sy lyding aan die kruis is dus eintlik die bewys dat Hy die Seun van God is.
Die Evangelie volgens Lukas volg die verhaal van Jesus soos die Markus-evangelie dit opgeteken het. Lukas het egter ook materiaal van sy eie wat hy byvoeg om aan sy vertelling ‘n unieke kleur te gee.
Anders as die ander drie sg. sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) is hierdie evangelie meer besinnend. Dit is heelwat later geskryf, toe Johannes al ‘n ou man was, en bevat minder kort vertellings en wonderwerke. Dit is veel meer die neerslag van Johannes se nadenke oor Jesus en wie Hy is.
In sy tweede boek, Handelinge, vervolg Lukas die verhaal waar hy in sy Evangelie gestop het. Dit begin by die vertelling van Jesus se hemelvaart, en fokus op die uitstorting van die Heilige Gees en die vestiging van die vroeë kerk, totdat dit die ganse destydse wêreld bereik het.
In Paulus se Brief aan die Romeine stel hy homself bekend aan die gemeente in Rome. Hy het nie self die gemeente gestig nie, maar skryf aan hulle omdat hy hulle wil besoek op sy voorgenome reis na Spanje.
In sy bekendstelling gee hy ‘n uiteensetting van die evangelie van Jesus Christus. Dit is die volledigste sistematiese beskrywing van die evangelie, en tot vandag toe ‘n onskatbare bydrae tot ons verstaan van Jesus.
Paulus het hierdie brief geskryf aan die gemeente in Korinte. Hy het dié gemeente op sy tweede sendingreis gestig en 18 maande daar gebly. Nadat hy vertrek het, het ander “leraars” die gemeente oorgeneem en Paulus se naam sleg gemaak en sy verkondiging verdag gemaak.
In hierdie brief antwoord Paulus op ‘n aantal vrae wat in die gemeente ontstaan het as gevolg van die verwarring wat die latere leraars gesaai het.
Daar is spanning in die verhouding tussen Paulus en sy eertydse gemeente. Charismatiese leiers het die gemeente oorgeneem en Paulus se gesag as apostel bevraagteken, en ook sy opregtheid toe hy geskryf het dat hy hulle weer wil besoek.
In sy brief verdedig Paulus sy gesag as apostel. Later in die brief blyk dit dat die spanning tussen hom en die gemeente opgelos is.
Paulus se hele verstaan van die evangelie is dat Christus genoeg is om ons kinders van God te maak. Ons kan niks byvoeg by sy verlossingswerk nie, en ons moet ook nie probeer om dit te doen nie.
Die gemeentes in Galasië het hierdie verlossingsboodskap by Paulus gehoor en dit geglo, maar wettiese Joodse gelowiges wou hulle oortuig dat Christus se verlossingswerk alleen nie genoeg is nie. Jy moes die hele (Joodse) wet nougeset nakom, onder andere deur jou te laat besny.
Dit is teen dié dwaalleer wat Paulus in hierdie brief skerp reageer.
Alhoewel hierdie brief bekend staan as die Brief aan die Efesiërs, was dit heel moontlik nie net vir die gelowiges in Efese bedoel nie, maar eerder ‘n omsendbrief aan die verskillende gemeentes in Klein-Asië. In baie manuskripte is daar ‘n spasie waar die gemeente se naam moes wees, sodat elke gemeente hulle eie naam daar kon invul.
Filippi was die eerste gemeente wat Paulus op die Europese vasteland gestig het. Die ontstaan van die gemeente word in Handelinge 16 vertel.
Paulus het ‘n baie besondere verhouding met dié gemeente gehad, en dit straal uit hierdie brief. Hulle was ook die gemeente by uitstek wat hom in sy bediening ondersteun het.
Hierdie brief het baie ooreenkomste met Paulus se brief aan die Efesiërs, wat die vermoede laat ontstaan dat Paulus dit in dieselfde tyd as sy brief aan Efese geskryf het, moontlik vanuit Rome, waar hy in huisarres was, of dalk uit Sesearea, waar hy lank gevange gehou is.
Paulus het nie self die gemeente in Kolosse gestig nie, maar hy het deur Epafras van hulle gehoor. Die gemeente is aan dwaalleer blootgestel, en hy skryf om dié valse leringe te weerlê en hulle te bemoedig in hulle geloof.
Hierdie brief is een van die oudste geskrifte in die Nuwe Testament, en die eerste brief wat Paulus aan ‘n gemeente geskryf het.
Paulus en sy medewerkers was slegs ‘n paar weke in Tessalonika toe Joodse opstokers seker gemaak het dat hulle uit die stad verban word. Hulle het egter ‘n jong gemeente in die stad agtergelaat.
Nä ‘n kort draai in Atene gaan werk Paulus in Korinte, en hy stuur Timoteus om te gaan hoor hoe dit met die gemeente in Tessalonika gaan. Timoteus kom terug met ‘n baie positiewe verslag, maar ook met vrae wat die jong gelowiges gepla het, o.a. oor die wederkoms. Dit gee aanleiding tot hierdie brief.
Paulus het hierdie brief enkele maande ná sy eerste brief aan die gemeente geskryf. Daar het steeds verwarring en onsekerheid oor die wederkoms geheers, en die brief help die gemeente daarmee.
Timoteus was Paulus se geestelike kind. Hy was nog jonk, en in hierdie brief gee Paulus vir hom raad oor hoe hy as dienskneg van die Here moet optree.
Hierdie brief van Paulus aan Timoteus is ‘n ruk ná die eerste brief geskryf, en bevat Paulus se afskeidsraad aan sy jong protogé. Dit is baie persoonlik, en omdat Paulus weet sy tyd is min, is daar ‘n dringendheid in sy brief.
In hierdie brief skryf Paulus aan sy medewerker Titus met voorskrifte om die gemeentes in Kreta te organiseer.
Paulus skryf hierdie kort en baie persoonlike briefie uit die tronk aan Filemon, ‘n gelowige in Kolosse. Hy vra dat Filemon sy weggeloopte slaaf Onesimus sal ontvang, en bes moontlik aan hom wat Paulus is, beskikbaar sal stel.
Hierdie brief is eintlik ‘n lang preek, gerig aan tweede geslag Christene. Die skrywer moedig hulle aan om te volhard in die geloof, want hulle loop gevaar om afvallig te word en verlore te gaan.
Die skrywer van die Brief van Jakobus was waarskynlik die leier van die Jerusalem-gemeente en (half)broer van die Here Jesus. Hy skryf aan gelowiges oor die hele wêreld, en gee praktiese raak oor wat dit beteken om ‘n gelowige te wees. Hy put ryklik uit die wysheid van die boek Spreuke, en ook uit Jesus se leringe.
1 Petrus wil die gelowiges wat erg vervolg en verdruk word omdat hulle in Christus glo, bemoedig. Hulle is deur die bloed van Jesus losgekoop uit die wêreld, sodat hulle vir God kan leef.
Dwaalleer dreig om talle gelowiges van die Evangelie weg te lok. Slegs die ware kennis van God en van Jesus Christus kan hulle daarvan vrywaar. Daarom moet hulle vashou aan dit wat hulle gehoor het van mense wat Jesus persoonlik gesien en gehoor het.
Die brief is laat in die eerste eeu n.C. geskryf, volgens oorlewering deur die apostel Johannes vanuit Efese.
Hy waarsku veral teen die dwaling wat destyds ontstaan het dat Jesus nie werklik liggaamlik mens geword het nie.
Die tema van die brief is: Deur ons geloof in Jesus Christus, die Seun van God, het ons die ewige lewe.
2 Johannes is ‘n kort briefie waarin aan die gemeente raad gegee word oor praktiese aangeleenthede, onder andere oor hoe hulle rondreisende predikers moet ontvang.
Die brief is gerig aan ’n kerkleier, Gaius, om waardering te betuig vir sy hulp aan ander gelowiges en hom te waarsku teen Diotrefes.
Dié kort brief is deur Jesus se halfbroer Judas geskryf. Daarin waarsku hy teen dwaalleer wat ongemerk in die kerk kan insluip.
Die boek is in ‘n (vir ons) vreemde genre geskryf, naamlik ‘n apokaliptiese geskrif. Hierin word God se optrede onthul. Dit wil gelowiges wat vervolg word oor hulle geloof, bemoedig met die versekering dat God by hulle is en in beheer is, al lyk dit soms nie so nie. Uiteindelik sal God seëvier en alles nuut maak.