25 Desember 2023: MARIA SE GELOOF (Luk 1:26-38)

Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. (Luk 1:38, 2020-vertaling)

Watter prentjie het jy in jou kop as jy aan Maria dink?

Elke jaar in die Kerstyd duik Maria as ’t ware weer van voor af op in ons gedagtes. Party mense het ’n baie romantiese beeld van haar, maar ek het ’n vermoede dat die werklikheid van dié meisie van Nasaret glad nie so wonderlik was as die prente wat ons op Kerskaarte en in ons gedagtes van haar het nie. Want in die eerste plek was Maria waarskynlik nie ouer as so 12,13 of dalk 14 jaar nie: iemand van gr 7of 8, dus.

Jonk; eintlik nog kind, nie waar nie? ’n Kind met wie die ongelooflikste ding gebeur. ’n Engel verskyn aan haar, wat natuurlik al klaar raar is. Ek bedoel, aan wie van die mense wat jy ken, het daar al ’n engel verskyn? In Bybelse tye was dit nie anders nie. Engele het nie sommer om elke hoek en draai vir jou gestaan en wag nie!

En wat die engel vir haar vertel het, moes haar, om die minste te sê, onkant gevang het. “Jy gaan ’n baba hê, al het jy nie by ’n man geslaap nie.” Dink julle in in haar situasie. Wat sou haar ouers sê? Wat sou haar verloofde sê? Ek weet wat ék sou gedink het, en heel waarskynlik gesê het ook: Maria was gruwelik. Sy het oor die tou getrap, en noudat sy verwag, soek sy uitkomkans. Dis dié dat sy sulke nonsens loop en vertel. Josef, so weet ons uit die Matteus-verhaal, het daar en dan besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Ek meen, as dit mý verloofde was wat swanger was, sou ek sekerlik ook so gereageer het.

I
So, Maria moes op die minste besef het dat die engel se aankondiging ingrypende implikasies vir haar lewe vorentoe sou hê; dat haar hele lewe op daardie moment onherroeplik verander het. Natuurlik sou sy nog nie verder as die geboorte kon dink nie; natuurlik sou sy nie op daardie stadium al planne agtermekaar kon hê oor wat haar te doen staan met die buite-egtelike swangerskap nie. Maar sy het geweet dis nie ’n eenvoudige ding wat die engel – wat God – vir haar kom sê en van haar verwag nie. Sy sou sekerlik daarmee rekening gehou het dat Josef haar sou los en dat sy die baba as ongehude ma sou moes grootmaak. En in daardie dae was dit nie eintlik iets wat ’n mens gedoen het nie.

En tog, nadat Maria die engel aangehoor het en ’n vraag of wat gevra het om seker te maak sy verstaan wat die engel vir haar gesê het, antwoord sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (v 38).

Probeer jou in Maria se skoene plaas. Nee, dis tog nie moontlik nie. Maar probeer jou indink in ’n situasie waar God van jou ’n moeilike ding vra; ’n ding wat jy voor jou siel weet baie van jou gaan verg; ’n ding wat jou hele toekoms op sy kop gaan keer. Wat sal jy vir God antwoord? Sal jy kans sien om ja te sê vir God, al beteken dit dat jy jou eie toekomsdrome moet laat vaar? Al beteken dit dat hulle vir wie jy die liefste is, dalk teen jou gaan draai?

Maria se antwoord op die engel se boodskap is nie vanselfsprekend nie. Dit het moed gekos om so te antwoord. Geloof verg moed. Geloof kos jou iets. Koning Dawid sê in 2 Sam 24:24: “Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie.” Om gelowig vir God ja te sê, kom teen ’n prys. Want geloof vra dat jy God toelaat om sy wil vir jou lewe uit te werk. Sý wil, nie joune nie. Dís waartoe Maria hier instem.

II
Maar – en dit is baie belangrik – instem beteken nie gelatenheid nie. Geloof beteken nie dat jy sê: As dit dan nou nie anders kan nie, sal ek maar moet ingee nie. Want as ons dít in Maria se antwoord hoor, het ons nie goed geluister nie. Of miskien moet ek sê, die NAV help ons nie op dié punt om Maria se antwoord goed te verstaan nie. In Maria se antwoord slaan daar ’n opgewonde klank deur. Sy spreek ’n wens uit dat God se woord in haar lewe uitgewerk sal word. Daarom die “mag met my gebeur” van die 2020-vertaling. Die NLV vertaal haar antwoord só: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”

Hier is niks van gelatenheid nie. Niks van ’n “ag, arme ek”-houding nie, of van “ek moet maar tevrede wees” nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid, ’n blydskap, omdat God ook deur haar lewe aan die werk is. Daarom, in die volgende paragraaf, hoor ons haar sing, hoor ons hoe sy haar opgewondenheid en vreugde in die Here uitjubel: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

Dit is Kersfees. Dis natuurlik nie moeilik om in hierdie dae opgewonde te wees oor die Kind in die krip en oor God se dade met ons nie. Wie word nie aangegryp deur die eenvoudige verhaal van Josef en Maria en die stal en die sterrekykers en die herders nie?

Maar is jy opgewonde saam met Maria oor wat God besig is om in en veral deur jóú lewe te doen? Is jy saam met haar opgewonde oor die jaar wat kom, oor wat 2024 gaan inhou vir jou as gelowige? Is jy nou al vol blye verwagting oor al die dinge wat die Here se pad vir jou persoonlik beteken?

Want dít is die soort geloof wat God by ons soek. Dis by sulke mense wat Hy tuis is en woning maak – mense soos Maria, wat hulleself tot God se beskikking stel, sodat Hy sy plan in hulle lewens kan uitwerk; mense wat met blydskap en entoesiasme deel wil wees van sy plan, wel wetende dat dit nie noodwendig ’n gelyk pad gaan wees nie.

Geseënde Kersfees!




Bybelkoerant gesels met Josef

Ek moes met ’n swanger vrou trou

 
Sy donkerbruin oë wyk nie voor jou blik nie. Om sy oë is daar baie lagplooitjies, sodat jy dadelik weet: hierdie man se hart is vol vreugde. Maar hy is stillerig, ongemaklik oor die aandag wat skielik op hom val. Af en toe vee hy effens gespanne met ’n growwe skrynwerkershand oor sy ruie baard of oor sy hare. “Ek sal liewer vir jou ’n tafel maak as om ’n onderhoud te doen,” erken hy skamerig.
 
Josef ben Jakob is aan al ons lesers goed bekend, nie soseer oor wie hý is nie, maar oor wie sy vróú is. Hy is die man van Maria die ma van Jesus.
 
Josef vertel: “Dit bly my steeds verbaas dat die Here God vir Maria en vir my uitgekies het om sy Seun groot te maak. Wie is ons nou eintlik, per slot van sake? Ons is albei eenvoudige mense, sonder danige geleerdheid of status. Goed, ons kan albei ons afkoms terugvoer na koning Dawid, maar ek sou myself nou nie juis uitsonder as een van die elite in Israel nie. My ouers was ook maar bitter eenvoudig. Pa was net soos ek ’n skrynwerker. Dit is die enigste lewe wat ek ooit geken het. Vroom, ja, dit was Pa-hulle, en so het hulle ons ook grootgemaak: met ’n heilige ontsag vir die Here God en vir die dinge van die Here en vir die wette van Moses. Hy het altyd gesê die vrese van die Here is die beginsel van die wysheid. Dit het vir my as jong kind baie vreemd geklink, dié ouerige sê-ding, en dan het ek gewonder of dit beteken ons moet vir die Here bang wees? Later eers het ek besef dat daar ’n verskil is tussen bang wees en ontsag en respek hê.”
 

my kop wou dit nie vat nie

Josef pluk-pluk aan sy baard voordat hy aangaan: “So jy sien, ek was baie gesteld daarop om streng volgens die wette van Moses te lewe. Dis hoe ek geleer is. Jy kan jou voorstel watter skok dit vir my was toe ek uitvind my verloofde is swanger. Ek onthou tot vandag nog hoe naar ek was toe Maria dit vir my vertel het, en hoe teleurgesteld ek in haar was. Want jy moet weet, ék was nie die pa van haar baba nie, daarvan was ek baie seker. Sy het vir my vertel dat sy nie by ’n man was nie, en dat die lewe in haar van God self kom, maar my kop wou dit nie vat nie. Ek het gedink dis ’n liegstorie wat sy uitgedink het om haarself te verontskuldig. Ek was in ’n bitter groot dilemma. Ek was lief vir haar – sy is ’n wonderlike mens, jy weet – maar ek het nie kans gesien om met haar te trou as sy al voor ons huwelik begin rondslaap het nie. My ma het altyd vir my gesê ’n mens verander nie ten goede na die huwelik nie, so as ek voor die huwelik goed ontdek waarvan ek glad nie hou nie, moet ek die meisie los, want dit sal nie na die huwelik eensklaps regkom nie.”
 
Josef kyk met daardie bruin kykers van hom diep in my oë, asof hy by my begrip soek, en ek knik onwillekeurig. Dan vertel hy verder: “Ek kon haar seker by die stadsvaders gaan verkla het as ek wou. Hulle sou haar op die daad gestenig het, daarvan is ek seker. Hulle het nie tyd vir vroue met losse sedes nie. Dít wou ek darem ook nie hê nie. Toe besluit ek om liewer ons verlowing stilletjies te verbreek. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want ek was lief vir haar, maar ek het gedink dis die beste onder die omstandighede.
 
“Toe, een nag, verskyn ’n engel aan my en sê ek moenie bang wees om met Maria te trou nie, want dit is die waarheid wat sy gepraat het. Haar baba kom van God af. Ek was so verlig, ek het net daar opgespring en na haar huis toe gegaan. Sy was baie bly, soos jy kan dink.
 

Mense kan nogal wreed wees

“Maar soos die tyd aangestap het, het ek besef dis nie ’n maklike ding om aan ’n swanger meisie verloof te wees nie. Almal het geglo ek is die pa van Maria se ongebore kind. Mense kan nogal wreed wees. Skimpe en openlike beskuldigings, werkskontrakte wat skielik en sonder verduideliking opgesê word, vriende wat jou die rug toekeer, al daardie dinge is ek deur.
 
“Partykeer het ek getwyfel. Ek het dikwels gewonder of ek nie die droom van die engel opgemaak het omdat ek graag vir Maria wóú glo nie. Dan sê ’n stemmetjie hier in my agterkop vir my ek moet haar los, die swangerskap is háár probleem, nie myne nie, en dat ek nie die komplikasies van haar swangerskap nodig het nie. Maar die Here gee baie genade vir ’n mens. Hy vra nie van jou om iets te doen sonder om ook vir jou die krag daarvoor te gee nie. Dit het ek uitgevind. En dis wonderlik om te ontdek dat sy genade vir jou genoeg is. Dit maak al die swaarkry dubbel en dwars die moeite werd.”
 
Sy glimlag is breed as hy sê: “Of ek dit weer sal doen? Maar natuurlik! Niks is meer opwindend as om deel te wees van God se plan nie. Jesus was van die begin af net een groot vreugde in ons huis. En buitendien, ek is lief vir Maria. Sy is ’n vrou duisend.”
 
 

Profiel van Josef:

Hoe het jy jou vrou ontmoet?
Ek ken haar al van kleins af, maar daar was niks tussen ons nie. Toe, een middag laat, was ek baie dors. Ek is af na die spruit om ’n bietjie water te gaan skep. Sy het op ’n rotsbank langs die water gesit, met die laatmiddagson in haar hare … Toe was alles oor. Ek het op daardie oomblik my hart verloor.
 
Watter eienskap van jou vrou is vir jou die mooiste?
Haar toewyding aan God.
 
Watter dinge maak jou bly?
My vrou se glimlag, ’n mooi sonsondergang, ’n voltooide meubelstuk.
 
Wat maak jou bang?
Ek is bang ek sal nie die Here se vertroue in my om sy Seun groot te maak waardig wees nie.
 
Wat maak jou kwaad?
Onbeskofte mense.
 
Wat is jou gunsteling gereg?
Lensiesop en roosterkoek.
 
En jou gunsteling drankie?
’n Sluk water uit die bergstroom agter Nasaret.
 
Stokperdjies?
Ek hou daarvan om in die veld te gaan stap, veral vroegoggend as die dou nog op die blare blink en daar so ’n byt in die lug is. Dit maak jou kop skoon.
 
Wat is die grootste fout wat jy nog gemaak het?
Die dag toe ek besluit het om ons verlowing stilletjies te verbreek. Gelukkig het God dit verhoed!
 
Wat was die grootste oomblik in jou lewe?
Sekerlik die nag toe Jesus gebore is, daar in Betlehem. Ek sal dit nooit vergeet nie. Alles was so stil, en dit het om ons na vars strooi geruik. Vreemde mense was by om Maria te help met die geboorte. Ek was baie senuweeagtig en bang iets loop verkeerd, en ek het baie gebid. Toe ek weer hoor, klink ’n babastemmetjie in my ore op, en Maria roep my om na haar Baba te kom kyk. Ek het my vinger in sy handpalmpie gesit, toe vat Hy my vinger vas. Toe was dit asof die hemelse vrede oor my neerdaal.
 
En die benoudste oomblik?
Dit was die nag nadat ’n paar geleerde manne uit die Ooste ons kom besoek het. ’n Engel het my in ’n droom gewaarsku dat ons moet vlug, want Herodes wou Jesus doodmaak. Ons het sommer daardie selfde nag nog na Egipte gevlug. Net buite Betlehem het ons ’n afdeling soldate teëgekom, en ek het gedink dis klaarpraat, maar hulle het hulle nie aan ons gesteur nie. Ongelooflik, nè?
 
Waarvan hou jy die minste?
Om te draf. Ek haat dit. My pa het altyd gesê mense wat draf, sal kinders ook eet!
 
Wat is jou ideaal in die lewe?
Om ’n goeie man vir Maria te wees, en ’n goeie voorbeeld vir ons kinders.
 
Watter raad wil jy vir ons lesers gee?
Behalwe dat jy die Here jou God moet liefhê met alles wat jy het? Ag nee wat, ek is nou nie juis ’n ou wat vir ander raad kan gee nie, ek sukkel self te veel. Maar as ek iets móét sê, sou ek sê: Dink aan die mooi dinge in die lewe. Moenie op die lelike goed om jou konsentreer nie.
 
Josef se storie word in Mat 1:18-23 vertel.