Luk 17:1-10 ROL MOUE OP EN BEGIN!

Wie van julle kon al ’n wildevyeboom in die see gaan plant, soos die Here hier sê?

Beteken dit dan nou dat ons nie genoeg geloof het nie? Want selfs al is jou geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie, sal jy dit kan doen, sê die Here hier in vers 6.

Dis hoe dit klink as ’n mens dit hier lees, nie waar nie? Maar, en dit is een van die belangrikste dinge wat ’n mens moet onthou as jy die Bybel lees: die Bybel is nie vol losstaande teksverse wat ’n mens sommer so kan uithaal en apart hou nie. Die Bybelse uitsprake pas bymekaar, en daarom moet ons kyk wat staan by hierdie uitspraak van Jesus. Hoekom het Hy dit gesê?

Hierdie gedeelte begin met die uitsprake van die Here wat daarop neerkom dat ons dit nie vir ander moeilik moet maak om die Here te volg nie. Hy sê as jy die oorsaak is dat ander struikel in die geloof, is dit vir jou beter dat jy in die see verdrink (vers 2). Só kosbaar is God se kinders vir Hom: Hy wil nie hê ons mag struikelblokke vir ander wees op die pad agter Jesus aan nie.

Een van die grootste struikelblokke wat ons as Christene in ander se geloofspad kan rol, is liefdeloosheid en onvergewensgesindheid. En ek is bevrees, ons is hier nogal in die moeilikheid. Ek weet hoe dit soms onder mekaar gaan. Hoeveel keer moes ek nie al met mense roei oor rusies nie, en dan word dit net nie opgelos nie. Dit bly broei en broei. Dit breek gesinne en vriendskappe en vennootskappe en huwelike op.

Ja, dis partykeer baie moeilik om iemand te vergewe wat jou te na gekom het. En tog vra die Here dat ons dit moet doen, selfs sewe keer op een dag (vers 4)! Hy leer ons selfs in die Ons Vader om te bid dat God ons sal vergewe soos ons ander vergewe. Want Hy weet goed hoe vernietigend dit kan wees as vergifnis uitbly. Kwaaivriendskap en rusies vervreem mense nie net van mekaar nie, maar ook van God.

Dís hoe dié hoofstuk begin: met Jesus se waarskuwing dat sy dissipels só moet leef dat hulle nie ander uit die hemel uithou nie; dat hulle mekaar moet vergewe.

Die dissipels hoor dit, en hulle voel moedeloos. Wie kan nou só leef? Daarom kom hulle na Jesus toe en vra vir Hom: Here, gee ons meer geloof (vers 5). As ons net meer geloof het, dan sal ons beter in staat wees om ons naaste te vergewe.

Dis dan dat Jesus in vers 6 sê: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” Jesus se antwoord wil vir hulle sê dat jy nie meer geloof nodig het om ander te vergewe nie. Om mekaar te vergewe, vra nie groot geloof nie, want Hy vra nie van ons om wildevyebome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe, en daarvoor het jy nie geloof nodig nie, maar net gehoorsaamheid.

Jesus sê vir sy dissipels: moenie sit en wag dat iets bonatuurliks, iets wonderliks met julle gebeur sodat julle in vrede met mekaar kan leef nie. Rol julle moue op en begin net doen!

Daarom vertel Hy hierdie gelykenis van die slaaf wat die hele dag hard gewerk het in die lande. Dan, as sy taak buite klaar is en hy inkom huis toe, moet hy nog die ete ook voorberei. Dit vra nie groot geloof om dit te kan doen nie, sê Jesus. Dit vra maar net gewilligheid. Dis deel van sy werk as slaaf.

Net so, sê Jesus, is vergifnis deel van kind-van-God-wees. Ons moenie vir ’n wonderwerk van Bo wag voordat ons na mekaar uitreik nie. Ons moet dit doodeenvoudig net doen, want dis hoe die Here Jesus ons voorgeleef het. Hy het tog eerste na ons uitgereik en ons vergewe. As ons nou só teenoor mekaar leef, doen ons niks besonders nie. Dis deel van Christen-wees, en klaar.

Dit laat my dink aan ’n storie wat my vrou my vertel het uit haar kinderdae. Daar het ’n nuwe dominee in die destydse NG Sendingkerk gekom, en nou weet julle hoe dit gaan: die gemeente was baie groot, en daar was baie lidmate. Toe kom die jong dominee op ’n dag by my skoonpa op die plaas, en hy kla verskriklik hoor hoe baie werk daar is, en hoe hy nooit deur sy huisbesoek gaan kom nie. Toe antwoord my skoonpa: Maar dan moet jy maar dadelik begin, dominee!

Ek dink dis iets hiervan wat die Here vir ons ook wil leer: dat ’n groot deel van ons kind-van-God-wees nie soseer ’n saak van groot geloof is nie, maar doodeenvoudig gehoorsaamheid vra. Daarom moet ons ons nie verknies omdat ons nie geloofsreuse soos Abraham of Elia of Andrew Murray of Billy Graham is nie. En ons moenie sit en wag dat een of ander wonderwerk sal gebeur en ons skielik lus raak om die Here van harte te volg nie.

Ons moet net begin!

Amen.




Absalom, wat nie sy pa wou vergewe nie

2 Samuel 15:1-5

 

“Dis ongewoon om ’n besoekie van die koning te kry,” sê Absalom sarkasties toe ’n slaaf vir Dawid na sy binnehof bring. Hy staan lui op, en buig vermakerig.

“Ja, en vrede vir jou ook, Absalom,” kap Dawid terug, en wil dan sy tong afbyt. Hy het hom voorgeneem om ten alle koste kalm te bly, en hier het hy al in sy heel eerste sin droog gemaak. Hy wil sy seun gaan omhels, maar kom nie sover nie.

Die stilte hang swaar tussen hulle. Absalom kyk uitdrukkingloos na hom, sodat hy later ongemaklik sy keel skoonmaak en sê: “Ek het kom vrede maak, my kind.”

“O.”

Toe Absalom nie verder praat nie, sukkel Dawid voort: “Ek verlang na jou, Absalom. Ek dink baie aan jou, sien jou so af en toe op ’n afstand, en dan pyn my hart.” Hy glimlag selfbewus. “Ek begin nou oud word, en ’n mens word seker maar meer sentimenteel soos die jare aanstap. Ek wil … ek kan nie langer so aangaan nie. Dis dié dat ek gekom het.”

“Is dit nie nou ’n bietjie laat daarvoor nie, Pa?” vra Absalom, ongeroer deur Dawid se woorde.

Dis nooit te laat om te vergewe nie, selfs al kom die ongelukkigheid soos dié tussen Absalom en sy pa Dawid ’n lang pad. Absalom het rede gehad om kwaad te wees (Dawid het nie vir Amnon gestraf toe dié Absalom se suster Tamar verkrag het nie), maar sy verhaal skreeu dit uit dat wraak op die lang duur nie baat nie. Dit vernietig almal in die proses.

Nie vergelding nie, maar vergifnis, is die Here se boodskap. In Romeine 12:18-21 staan: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God … Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”




Lameg, wat homself laat geld het

Genesis 4:19-24

’n Klompie jare gelede het ’n insident in die Skiereiland die land geskok. ’n Motoris het ’n ander motoris met ’n hokkiestok doodgeslaan omdat hy aanmekaar vir hom getoet en sy ligte geflits het. Iemand vermoor omdat hy jou kwaad gemaak het?

Ada kyk verskrik op toe sy haar man se bebloede hande sien. “Lameg! Wat het gebeur? Het jy seergekry?”

Lameg skud sy kop vererg. “Dis daai klein niksnuts van ’n Erok. Hy het sowaar as wragtag vir my met ’n klip gegooi. Kyk hier,” beduie hy na ’n kneusplek op sy bobeen.

“Ag nee! Wat sal die kind besiel het?” wil Silla, Lameg se ander vrou, weet.

“Ek weet nie, maar hy sal dit nie weer probeer nie. Ek het hom vrekgemaak met hierdie twee hande van my. Ek laat niemand met my sukkel nie. Nie ék nie.”

“Lameg! Hy is maar net ’n kind,” sê Ada sag.

Lameg skud sy kop en swaai sy vinger dreigend na sy vrouens se kant toe. “Luister julle twee vandag na my, en luister goed: ’n mens wat met my sukkel – of hy nou oud is of jonk, traak my nie – vir hom maak ek net daar op die plek vrek.” Hy slaan met ’n bebloede vuis teen sy bors as hy byvoeg: “My oor-oupagrootjie Kain is sewe maal gewreek, maar ek is tien maal meer van ’n man as wat hy was. Ek wreek my sewe en sewentig maal. Ek, Lameg, vat nie nonsens nie, en klaar!” Toe draai hy om en stap kop-in-die-lug af rivier toe om die bloed van sy hande te gaan afwas.

Ons kom almal in situasies waar ons voel genoeg is genoeg, en die man moet op sy plek gesit word. Onthou dan dat die Here Jesus ook van sewentig maal sewe keer gepraat het – maar dan nie van wraak nie, maar van vergifnis (Matteus 18:22).