Hoofstuk van die dag: Psalm 142

Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie! (vers 6)

Die opskrif van die psalm sê Dawid het dit geskryf toe hy in die spelonk was, in die tyd toe hy vir Saul gevlug het. Jy kan dit gerus lees in 1 Sam 24. Die benoudheid waarin hy was, was dus ernstig.
Daar kom tye wanneer ’n mens sonder moed is; wanneer jou omstandighede dwing om jou te oorweldig. In sulke omstandighede doen Dawid die regte ding: hy vlug met sy nood na God. Terwyl geen mens hom wil of kan help nie en niemand vir hom omgee nie, is God daar om te help.
Teenoor koning Saul sê Dawid dat hy maklik die reg in eie hande kon neem, maar hy het nie, want God behartig sy saak (1 Sam 24:16). Paulus suggereer ook iets hiervan in Fil 4:6-7. In God se hande kan jy rus kry ten spyte van jou omstandighede. Daarom kan Dawid die psalm afsluit met ’n belydenis dat die regverdiges dankbaar om hom sal kom staan wanneer (nie as nie) die Here aan hom goed doen (vers 8).