“Genade, Noag, het jy ’n spook gesien?” vra sy vrou toe hy uiteindelik by die huis kom.
“Nee,” antwoord hy, sy stem dood. “God het met my kom praat. Hy sê ek moet ’n skip bou, groot genoeg vir my en jou en die kinders en hulle vrouens, en ’n klomp diere. Hy gaan ’n vloed stuur wat die hele aarde sal oordek. Almal gaan verdrink.”
“Maar ... dis verskriklik,” is al wat sy uitkry. Dan: “Maar hoekom sou Hy so iets doen?”
“Oor die mense se sonde. Hy sê Hy berou dit dat Hy mense gemaak het, want hulle is korrup en besoedel sy mooi wêreld met hulle sonde.”
“Wel, Hy is reg, hoor.”
“Ja. Maar wat van al die mense? Wat van ons eie mense? Ons moet vanmiddag saam met hulle feesvier, en dit terwyl God se oordeel enige dag oor ons kan losbreek. Wat sê ons vir hulle?”
“Ons moet hulle waarsku, Noag! Miskien, as hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dinge, sal die Here die wêreld spaar! Dis tog oor die mense korrup is dat Hy dit wil vernietig. Maar as hulle hulle sondes los, is dit mos nie meer nodig nie.” Die hoop spring terug in haar oë terwyl sy praat.
“Dink jy hulle sal na ons luister?”
***
Noag besluit om ter wille van Gam se fees vir eers niks te sê nie. Hy kan later met die familie praat. Maar die woorde van God druk swaar op sy hart, en hy kry nie die weemoed van hom afgeskud nie, sodat sy pa later kliphard vra: “Wat is dit vandag met jou, Noag? Is jy dan nie bly oor Gam se verjaardag nie? Vir wat sit jy met so ’n afdraand gesig soos ’n wasklip?”
Hy wil eers maak of hy nie sy pa gehoor het nie, maar dit help nie. Sy pa het so hard gepraat dat almal stilbly en na hom kyk. “Ag, ek weet nie of dit nou ’n goeie tyd is ...” gooi hy wal.
“Ag nee wat, ou Noag,” brul sy een swaer van die ander kant van die vertrek, “nou is dit net so ’n goeie tyd soos enige ander een. Ons is nou almal bymekaar, en ons wil weet wat aangaan.”
“Ja, uit daarmee!” skreeu die ander, nou al lekker vrolik van Gam se wyn en bier.
“Hy is seker beswaard oor ons nie almal so vroom soos hy is nie,” lag Jarmoet, sy broer wat net ouer as hy is. Noag se vroomheid is al vir jare ’n steen des aanstoots vir ’n groot deel van die familie.
Lameg gaan in die middel van die vertrek staan en hou sy hande omhoog. “Wag, mense, gee die man ’n kans. Laat ons hoor wat hy te sê het.”
Almal is nou stil en kyk afwagtend na Noag, sodat hy noodgedwonge vir hulle van sy ontmoeting vertel: “Jarmoet is nader aan die waarheid as wat hy besef,” begin hy, en hou sy hand op toe een weer ’n skewe aanmerking wil skree. “Die Here God het vanoggend aan my verskyn. Hy sê Hy gaan die wêreld vernietig omdat die mense hulle nie aan Hom steur nie en verrot is.”
“Gaan Hy alles met vuur doodbrand, of gaan die hemel op ons koppe val?” lag een van die nefies effens senuweeagtig.
“Hy gaan ’n groot vloed stuur. Almal gaan verdrink. Elke enkele mens op aarde, en die diere. Die hele lot.”
“Nou maar hoekom sê God dit vir jou, ou swaer?”
“Omdat ek ’n ark moet bou vir my en my gesin en vir ’n klomp diere, sodat ons die vloed kan oorleef.”
“Kaptein Noag!” brul Jarmoet. “Wie gaan stuurman wees? Sem of Jafet? Of moet ons verjaardagmaatjie liewer die boot stuur? Bevare seeman Gam!”
“Ahoi, kaptein!” lag een van die ander en spring op aandag.
Noag hou sy hande op om stilte te kry, en na ’n rukkie bedaar die mense tog, hoewel daar kort-kort een proes. “Ek glo ons kan die ramp afweer as ons almal ons tot die Here God bekeer en breek met ons sonde. Daarom pleit ek by julle: moenie grappies oor hierdie ding maak nie. Dis ’n saak van lewe en dood: julle eie lewe. Júlle kan voorkom dat die aarde verdelg word as julle julle tot God wend.”
“Lekker vir ou Noag! Kom ons drink iets op hom,” skree Jarmoet.
“Ja, laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre versuip ons!”
“Behalwe natuurlik oom Noag met sy skip en sy span matrose. Lank lewe kaptein Noag ben Lameg!”
Uit my boek "Die Bybelroman"
Views: 0




