Saul, wie se jaloesie die oorhand gekry het

1 Samuel 19

Jaloesie is ’n snaakse siekte, sê James Dobson. Dit maak almal siek, behalwe die een wat dit het …

Saul glimlag bitter terwyl hy na Dawid se lierspel luister. Ja, dit het hy nou van sy gulhartigheid teenoor hierdie niksnuts van Betlehem. Hy het hom as sy wapendraer aangestel en hom alles geleer van die krygskuns. Dis aan hom, die koning, te danke dat die jongmeisies sing dat Saul sy duisende verslaan het, maar Dawid sy tienduisende. Hy het hom oor die stomme seun ontferm; hom selfs sy dogter Mikal as vrou gegee. En wat het hy daarvan? Die man is besig om die koninkryk by hom te steel! Hy maak die mense teen hom op. Hy het selfs die profeet Samuel teen hom gedraai. Daardie gerugte dat Samuel Dawid tot koning in sy plek gesalf het, het nie uit die lug geval nie. En asof dit nie genoeg is nie, steek die mannetjie vir Jonatan, sy eie seun, teen hom op!

Saul skud sy kop en vat sy spies stywer vas. Dié klug het nou lank genoeg geduur. Dis tyd dat hy die vrede in sy huis herstel en hierdie adder in sy boesem eens en vir altyd verwyder. Hy moet net wag tot Dawid afkyk na sy lier, dan kan hy hom met die spies teen die muur vaspen. Dan sal hy sien wat van die klein opstoker se planne kom!

James Dobson is reg, maar tog ook nie. Op die lange duur affekteer ongebreidelde jaloesie ook die een wat dit het. Daarom het koning Saul uiteindelik as ’n gebroke man op die slagveld gesneuwel. Sy jaloesie het hom uiteindelik nie net van die goue seun van Israel, Dawid, vervreem nie, maar ook van God. G’n wonder nie dat Jakobus in 3:13-16 waarsku dat jaloesie “aards, sinlik, demonies” is nie!