Die man wat net aan homself gedink het

Sy verhaal

Hy sug, en stap met ’n swaar gemoed na sy nefie toe. Hy het vir Haran op sy sterfbed belowe dat hy na sy seun sal omsien, en hy het tot nog toe sy belofte gestand gedoen. Maar langer sal hy nie kan uitstel nie. Eliëser het hom nou al van die soveelste rusie tussen sy veewagters en Lot s’n kom vertel, en die rusies word al hewiger. Daar is net nie genoeg weiveld en suipplekke vir al hul vee nie.
“Oom Abram?” vra Lot verras toe hy by sy tent inbuk.
“Ek wil met jou praat oor ons blyery hier, Lot,” begin hy huiwerig nadat hy sy beker bokmelk gedrink het. Toe Lot nie reageer nie, gaan hy voort: “Ons kan nie so aangaan nie. Daar is gedurig rusies tussen my mense en jou mense.”
“Ja, ek hoor juis vanoggend by Ptuhpah dat dinge gister weer lelik skeefgeloop het by Aner-se-put. Dit was so hittete of die bloed het geloop,” beaam Lot.
“Ja. Dis wat my pla, Lot. Dit hoort nie so nie. Ons is tog familie.”
Lot kyk hom berekenend aan. “Het Oom ’n oplossing?”
Hy trek sy skouers op. “Wel, ou seun, die land is groot en wyd. Miskien moet ons maar ’n entjie uitmekaar trek, sodat daar genoeg weiding en water vir ons diere kan wees.”
“Oom bedoel …?”
“Ja, ou seun. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; as jy regs gaan, gaan ek links. Kom ons stap na die koppie hier agter, dan kan ons mos mooi kyk hoe die land lê, en goed besluit wie waar gaan woon.”
Toe hulle bo-op die koppie staan, draai Lot na die Jordaanvallei se kant toe. Agter hom is dit vaal en droog, en voor hom lê die wêreld geil en groen, al met die vallei langs tot by Soar. Hy beduie na die Jordaan. “Ek sal daardie deel vat.”
So besig is hy om na sy toekomstige tuiste te kyk, dat hy glad nie die seer in sy oom se oë opmerk nie toe dié antwoord: “Dan is dit goed so, ou seun.”

& Genesis 13

Pas jy dalk in dié storie?

’n Mens kan jou nogal verbaas oor hoeveel mense bereid is om op te offer as dit om eiebelang gaan. Soos Lot. Hy offer nie net sy oom se belange (en ook sy vriendskap en ondersteuning) op nie; hy offer ook die beloofde land op ter wille van die voordeel wat hy uit Sodom kan trek. Later sou hy leer dat die offer veel groter is as waarop hy gereken het – sy gemoedsvrede, en uiteindelik ook sy vrou en sy goed (Genesis 19). Ons lees in 2 Petrus 2:7,8 dat Lot “… gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed.” En tog bly hy in Sodom!
Laat ons dit maar erken: selfsug sit diep in elkeen van ons se harte, en verlei ons dikwels om die verkeerde keuses te maak en die verkeerde dinge te sê. Wanneer selfsug die oorhand kry, vergeet ons van ander en hulle belange en gevoelens, loop ons bo-oor ander.

Hoe nou gemaak?

Die Bybel is nogal nie onduidelik oor hierdie saak nie. Jakobus 3:14-16 sê: “Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.” Dis eers as die vrug van die Gees van God in ons lewens begin groei, dat hierdie bose ingesteldheid oorwin kan word. Die heel eerste aspek van hierdie vrug, sê Paulus in Galasiërs 5:22, is liefde. En in 1 Korintiërs 13:5 sê Paulus onder andere van die liefde: dit “soek nie sy eie belang nie”.
Die hele wêreld skree elke dag vir ons dat ons in eie belang moet optree. ’n Gelowige wat verstaan dat God vir hom sorg, kan maak soos Abram daardie dag gemaak het toe Lot gulsig die beste deel vir homself gegryp het: terugstaan, eie belang op die agtergrond skuif, en ruimhartig wees.

image_pdfimage_print

Views: 73

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.