Hoe moet ek dit verstaan? 12
Salig is die armes van gees
Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
Matt 5:3 AFR20
Jy het dit seker al gehoor; veral die ouer mense het dit dikwels gesê: “Salig is die armes van gees.” Dit is ’n aanhaling van Matt 5:3 uit die 1953-vertaling van die Bybel. Dit het hulle dan dikwels met ’n neerbuigende of verskonende stemtoon gesê met verwysing na eenvoudige of agterlike mense, asof God anders na hulle kyk as na gewone mense.
Dit is natuurlik waar dat God ’n sagte plek vir die randfigure het, soos Jesus in sy eie lewe telkens geïllustreer het. Hy is immers uit Nasaret in Galilea, ’n deel van die destydse volk op wie die Jode in Judea neergesien het (vgl Joh 1:46 en 7:42). Sy ouers was eenvoudige mense. Hy het opgekom vir die uitgeworpenes, soos die melaatses, die weduwee by die skatkis, ens.
Wat Jesus in Matt 5:3 sê, het egter niks te make met jou sosiale stand of intellek nie. Dit gaan oor jou ingesteldheid. Om arm van gees te wees, beteken letterlik om nie selfgenoegsaam en bombasties of vol van jouself te wees nie. Die oorspronklike Griekse frase ptōchoi tō pneumati beklemtoon ’n toestand van geestelike nederigheid en afhanklikheid. Dit is nie materiële armoede nie, maar ’n innerlike gesindheid wat die deur oopmaak na die koninkryk van die hemel. Dit is om te erken dat jy nie alles self kan beheer nie, om jou vertroue in God se leiding te plaas, en om nederig en sagmoedig met ander om te gaan.
“Salig is die armes van gees” beteken dat ware geluk en seën lê by dié wat nederig en afhanklik van God is. Dit lê nie by selfgenoegsaamheid of trots nie. Ek hou van die 1983-vertaling, want dit gee Jesus se bedoeling goed weer: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
