Hoe moet ek dit verstaan? 16

Om soos ’n kindjie glo

Ek het al dikwels, wanneer ons in bv. ’n Bybelstudiegroep oor Bybelse vraagstukke praat, iemand hoor sê dat hy of sy nie belangstel in ’n verklaring waar ’n mens die konteks in ag neem, of moet verstaan wat die Bybel bedoel om te wees, of so nie. Ek glo soos ’n kind en lees die Bybel soos dit daar staan, sê hy dan. En daarmee gee hy te kenne dat ’n verklaring wat ingewikkelde konsepte probeer verstaan, onnodig is, of selfs disrespekvol teenoor die Bybel. My probleem met hierdie ingesteldheid is dat ’n kind bereid is om te leer en te luister. Om soos ’n kind te glo beteken om oop te wees vir God se leiding, selfs wanneer dit jou eie idees uitdaag.

Ek het hieraan gedink toe ek reaksie gekry het op my twee skrywes oor die Bybelse skeppingsverhale (Hoe moet ek dit verstaan 15 en 16). En dit het my laat dink aan ’n konsep wat deur die Franse filosoof Paul Ricoeur ontwikkel is, nl. “tweede naïwiteit,” waarmee hy die spanning tussen “ek glo soos ’n kind” en “ek wil ook verstaan” wil help oplos.
“Tweede naïwiteit” is ’n manier van glo ná vrae, twyfel en kritiese nadenke – nie ten spyte daarvan nie, maar daardeur. Dit is ’n geloof wat terugkeer na vertroue, maar nie meer onskuldig of onkundig nie.

Ricoeur onderskei drie fases van geloof:

  1. Eerste naïwiteit
    Dit is die “kinderlike” geloof: waar jy sê jy aanvaar die Bybel letterlik, soos dit daar staan. Jy vra min vrae, en alles is eenvoudig en seker in jou gemoed.
  2. Kritiese afstand
    Wanneer jou geloof uitgedaag word deur vrae, dikwels agv pyn en teleurstelling, of teenstrydighede wat jy in die Bybel raaklees, of insigte uit die wetenskap wat oënskynlik met die Bybelse gegewens bots, bring naïewe geloof jou nie tot rus nie. Vir baie mense is dit asof die boom van hulle geloof uitgeruk word. Dit bring ontnugtering en maak hulle skepties, of sinies, oor die Bybel en geloof.
  3. Tweede naïwiteit
    In hierdie fase gebeur daar iets met jou geloofsverstaan. Jy weet alles maak nie perfek sin nie, en die Bybel rym nie orals mooi nie. Daar is probleme en tekortkominge in ons verstaan van die dinge. En dan maak jy ’n keuse om tog te glo. Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit waar, betekenisvol en lewensdraend is. Omdat jy besef jy kan nie God en sy werk deurvors nie, soos Paulus in 1 Kor 13:12 skryf: Jy kyk in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, en versoen jou daarmee dat jy eendag alles sal verstaan. Dis geloof met ’n oop gemoed.

Dit beteken:
Jy lees Genesis nie meer as ’n wetenskaphandboek nie, maar as waarheid in verhaalvorm.
Jy hoor gelykenisse as meer as net feite – as uitnodigings.
Jy glo in God, nie omdat alles verklaar is nie, maar omdat jy Hom leer ken het.

Jesus self sê in Matt 18:3-4: “Wie nie die koninkryk van God ontvang soos ’n kind nie, sal daar nie ingaan nie.”
Maar Paulus sê ook: “Moenie in julle denke kinders wees nie, maar volwasse” (1 Kor. 14:20)

Dít is tweede naïwiteit – Dit red geloof van oppervlakkigheid; beskerm teen sinisme; laat ruimte vir misterie; en hou jou geloof eerlik én nederig. Dis geloof wat kan sê: “Ek verstaan nie alles nie – en tog glo ek.” Tweede naïwiteit is om weer te glo, nadat jy geleer het hoe om nie meer naïef te wees nie.