Matt 28:18 Jesus stuur jóú

Verplaas jou vir ’n oomblik terug na die dag van die Here Jesus se hemelvaart. Die dissipels is saam op ’n berg bymekaar, op versoek van die Here. Hy wou ’n laaste woordjie met hulle praat en hulle groet voordat Hy terug sou keer na die hemel.

En daar staan die dissipels nou voor Hom in aanbidding. Jesus kyk hulle een vir een aan. Vir 3½ jaar was hulle dag en nag bymekaar, het Hy hulle geleer van die koninkryk van God en God se plan met die wêreld, het hulle gehoor hoe Hy preek, het hulle gesien hoe Hy wonders doen, hoe Hy blindes laat sien, kreupeles laat loop, melaatses genees, selfs dooies uit die dood opwek. Hulle was by toe Hy die storm op see laat bedaar het met ’n enkele woord; hulle het die 5 broodjies en 2 vissies uitgedeel en gesien hoe dit ’n hele skare voed. Hulle het ook gesien hoe Hy ly en aan die kruis sterf, en drie dae later weer opstaan uit die dood.

En nou staan hulle in aanbidding voor Hom, Jesus se eerstespan, maar party van hulle twyfel (vs 17)! Daar was Tomas wat geweier het om te glo Jesus het uit die dood opgestaan; daar was Petrus wat só bang was vir wat mense aan hom kan doen dat hy drie keer ontken het dat hy Jesus se dissipel is. En daar was Johannes en Jakobus, wat so op hulleself en hulle eie belangrikheid ingestel was dat hulle op die aand van Jesus se gevangeneming nog vir Hom kom vra het húlle wil die belangrikste plekke in sy koninkryk hê. Daar was Andreas, wat nooit ’n woord kon uitkry nie …

En vir dié groepie dissipels moet Jesus groet, en vra dat hulle sy taak op aarde voortsit. Húlle moet die hele wêreld ingaan en die mense sy dissipels maak. Hulle, hierdie klompie beteuterde, twyfelende dissipels. ’n Mens kan dit amper nie glo nie. Jy wil vir jouself sê: maar dit kan tog nie wees nie! Hoe kan Jesus dit selfs vir ’n enkele oomblik oorweeg dat dié treurige klompie sy taak kan voortsit? Hoe kan Hy die toekoms van sy kerk op aarde aan húlle toevertrou?

Weet jy wat dink ek? Ek dink, toe God die Vader uit die hemel afgekyk het en dié groepie dissipels gesien het, het Hy ’n groot glimlag op sy gesig gekry. ’n Mens kan nie anders nie; jy móét maar glimlag as jy sien met watter soort mense die Here opgeskeep sit in die kerk, want as jy nie daaroor glimlag nie, sal jy in trane uitbars.

Ja, die Here glimlag, want Hy weet watter groot verrassing daar op hulle wag. Hy weet hoe hulle gaan verander, krag gaan ontvang as Hy hulle met sy Gees aanraak. Hoe dieselfde groepie dissipels inderdaad die wêreld sou ingaan en die evangelie aan die ganse mensdom verkondig. Want jy sien, die Here verwag nie van hulle om in eie krag sy opdrag uit te voer nie.

Kom ons kyk weer na wat die Here Jesus hier sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe …” Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie. Hulle moes in Christus se krag uitgaan. Daarom herinner Jesus hulle aan sy almag vóórdat Hy hulle uitstuur, want dis in sý krag dat hulle sou slaag. En om dit sommer dik te onderstreep dat Hy nie van hulle verwag om op hulle eie vir Hom te getuig nie, sluit Hy sy woorde af met ’n belofte: “Onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie, en hulle het ook nie alleen gegaan nie. Hulle moes gaan in die krag van die Seun van God self, die Koning van die konings aan Wie alle mag in hemel en aarde gegee is, en boonop vergesel Hy hulle! Dáárom kon Jesus sy dissipels uitstuur, al het party getwyfel. Omdat Hý hulle die krag sou gee om die opdrag uit te voer, omdat Hy self saam met hulle sou gaan.

’n Mens dink partykeer, as jy aan die hemelvaart van Jesus dink, dat Jesus Christus nou daar in die hemel aan die regterhand van die Vader op sy troon sit, daar dóér ver weg in die hemel. Maar dis nie wat die Bybel ons leer oor die hemelvaart nie. Christus het nie opgevaar hemel toe en nou sit Hy daar en wag dat die tyd kan omgaan sodat die wederkoms kan aanbreek nie. Hoor wat sê die Woord: “Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul” (Ef 4:10).

Christus se hemelvaart beteken nie dat Hy nou in die hemel stil op sy troon sit nie. Dit beteken dat Hy tot die hoogste eer verhef is, sodat Hy vanuit die hemel alles met sy magtige teenwoordigheid kan vul; sodat Hy in hierdie wêreld teenwoordig kan wees, sodat Hy in ons lewens teenwoordig kan wees, by ons kan wees en ons kan besiel om getuies vir Hom te wees, sodat elke knie voor Hom kan buig en elke tong bely dat Hy die Here is.

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels,” sê die Here vir ons óók. Ja, vir my en vir jou.

Kyk ’n bietjie om jou. Wat sien jy? Sien jy Petrusse en Johannesse en Jakobusse? Sien jy geloofsreuse, of sien jy gewone mense wat soms ook maar twyfel en kleingelowig is? Gaan kyk as jy by die huis kom, in die spieël, en vra jouself af: sal die Here mý kan gebruik? Wat gaan jou antwoord wees? Gaan jy soos ’n Moses van ouds sê: Nee, Here, nou het U ’n groot flater begaan. Ek is die verkeerde ou. Gebruik liewer iemand anders. Ek kan nie. Of gaan jy verby jouself kyk, en die Een wat jou roep en wil gebruik in hierdie wêreld, raaksien waar Hy langs jou staan? Waar Hy sê: Aan My is alle mag gegee. En onthou, Ek is by jou …

Die Here Jesus se laaste opdrag op daardie heel eerste hemelvaartdag geld vandag, 20 eeue later, op hierdie hemelvaartdag nog net so vir ons elkeen. God stuur vandag ook vir jou en my uit, al is ons swakke mense, al wankel ons geloof ook soms, al voel ons soms so onwaardig en onbekwaam. Want ons is nie alleen nie. Ons, jy en ek, doen dit nie in eie krag nie.

Die opgestane Here Jesus, aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is, Hý stuur ons uit. Hý is deur sy Gees by ons om ons toe te rus en te lei – dis tog hoekom ons oor tien dae Pinksterfees vier – sodat elkeen van ons ons roeping as sy kinders kan vervul.

Is jy in?

Amen.