Rig 6:14 MET GOD SE TOERUSTING KAN JY DIENSBAAR WEES
Dis vir my nogal interessant, die opmerking wat Gideon maak toe die Engel van die Here aan hom verskyn. Hy vra: “Waar is al (die Here se) magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’” (vs 13). Klink dit nie bekend nie? Ons dink baie kere dit was vir die mense in die Bybelse tyd makliker om te glo, want die Here het links en regs wonderwerke gedoen. Maar hier verwyt Gideon die Here en sê hy hoor ook maar net hoe die mense sê in die ou dae was dit so, maar hý sien niks daarvan as hy om hom kyk nie.
Waar is die Here as ons Hom nodig het? Dís wat Gideon eintlik hier vra. Waar is sy wonderdade? Hoekom doen Hy dan niks nie? Hoekom gryp Hy dan nie in nie?
Die ironie van die verhaal is dat God reeds besig was om in te gryp terwyl Gideon kla. Maar Gideon sien dit nie raak nie, want hy kyk op die verkeerde plek. Hy soek wonderwerke reguit uit die hemel, terwyl hý al die tyd God se plan was. Hý was God se wonderdade. Hy het dit nog net nie geweet nie!
Ons ken almal die verhaal van Gideon, en hoe die Here hom gebruik het om met net 300 man by hom, die ganse leër van die Midianiete te verpletter. Daarom praat ons vandag van ’n Gideonsbende as ons wil sê dat ’n paar mense ’n reusetaak vermag het.
Maar die verhaal van Gideon begin nie by sy ongelooflike heldedaad nie. Om die waarheid te sê, as ons hom aanvanklik leer ken, is hy ’n taamlik astrante en ook bangerige outjie wat vol twyfel is en telkens opnuut tekens soek om verseker te word dat die Here nog by hom is. Ons het gelees hoe hy koring in ’n parskuip uitslaan – en die van u wat weet hoe dit werk, sal besef dat ’n parskuip die laaste plek is wat ’n mens vir só ’n taak moet gebruik. ’n Mens het ’n dorsvloer, ’n oop plek nodig waar jy die uitgeslaande koringare in die lug kan gooi sodat die wind die kaf kan wegwaai en net die koringkorrels kan terugval. Maar Gideon staan in die parskuip, want hy is bang vir die Midianiete. En later, as hy sy pa se Baäl-altaar moet gaan afbreek, doen hy dit in die nag, stilletjies, bang hy word uitgevang.
Ja-nee, die geheim van Gideon se sukses is nie sy onverskrokke en dapper hart nie. Gideon is ’n bangbroek. En as hy na homself kyk, sê hy ook sommer reguit dat hy nie die regte man vir die werk is nie (vs 15): “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”
Dié soort antwoord het ek ook al gehoor. ’n Mens hoor dit dikwels as jy met iemand praat oor werk in die koninkryk. “Nee, ek dink nie ek sal dit kan doen nie. Ek is maar net ’n gewone mens. Vra liewer iemand anders.” Of: “Ek kan nie eintlik sulke soort dinge doen nie.” Of: “Ek het nie tyd nie.” Of: … Maar genoeg. Julle sal weet waarvan ek praat. Dalk het jy self ook al so ’n verskoning voorgegooi oor hoekom jy nie eintlik die regte persoon vir die taak is nie.
Vra maar vir Gideon. Hy sou aan ’n handvol mense kon dink wat in sy oë beter geskik sou wees vir die taak. Maar in God se oë was hy die man. God soek nie noodwendig die mees bekwame mens, die een met die meeste selfvertroue of die sterkste wil of die dapperste hart nie. Hy soek iemand wat bereid is om gebruik te word. Want die nodige toerusting vir die taak gee Hy self. Hier in Rig 6 sien ons hoe God Gideon se geloof versterk en hom toerus vir die groot taak wat op hom gewag het.
• Heel eerste staan God se belofte dat Hyself by Gideon sal wees. In vers 16 belowe Hy: “Ek is by jou …”
• Hy versterk Gideon se geloof met tekens – die offer wat aan die brand slaan, en later die vlies wat vol dou is (of nie is nie). Later sou nog meer tekens volg.
• Hy is bereid om ’n pad met Gideon te loop. Hy wag geduldig dat Gideon maar eers die kos gaan klaarmaak (vs 18); Hy laat toe dat Gideon die vlieswol uitsit, en die volgende nag weer.
• God gooi Gideon ook nie aan die diep kant in nie. Hy gee hom eers ’n kleiner opdrag – om die afgodsaltaar te gaan afbreek – sodat hy in sy geloof versterk kan word voordat hy die groot taak – om die Midianiete te verslaan – kan aanpak. God verwag nie van jou en my om eensklaps geloofsreuse te word nie! Maar as ons nie eers wil begin nie, gaan ons ook nêrens kom nie.
• God voorsien soms hulp uit onverwagse oorde. Gideon se eie pa, die eienaar van die afgodsaltaar, tree vir hom in die bres. ’n Mens dink so dikwels, as jy vir die Here iets moet doen, dat jy dit alles alleen sal moet doen en dan raak jy moedeloos nog voordat jy begin het. Maar God sal jou nie los dat jy alleen moet aansukkel nie, want dis nie hoe Hy met ons werk nie.
• Natuurlik, die grootste van al die toerusting wat God gee, is sy Heilige Gees self. Dit lees ons in vs 34: “Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem …”
Die Here kon natuurlik die Midianiete verdryf het sonder die hulp van Gideon. Maar Hy doen dit nie, want dis nie hoe Hy gekies het om met ons te werk nie. Hy wil mense gebruik. Toe die Here Jesus op die donkie Jerusalem inry, was daar ’n hele skare mense wat Hom vergesel het en God geprys het. Die Fariseërs wou toe hê Hy moet die mense stilmaak, maar dan sê Jesus (Luk 19:40): “As hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep.” God kán die klippe gebruik om sy wil te doen. Hy kan op ander maniere sy Naam grootmaak in ons dorp. Hy kan op wonderbaarlike maniere sy koninkryk laat kom, maar dit is nie hoe Hy besluit het om die wêreld vir Hom te wen nie. Hy wil mense gebruik. Hy wil ons gebruik. Hy wil jóú gebruik.
Gideon het nie gedink hy is ’n geskikte kandidaat nie, maar God laat hom nie wegkom met sy verskonings nie.
Partykeer wonder ek of ons die Here genoeg kans gee om met ons te praat sodat Hy ons sover kan kry om ja te sê vir die werk waarvoor Hy ons nodig het.
Amen.
