Joh 1:14 en 16 Die Woord het mens geword
Die evangelie, die goeie nuus wat die Bybel aan ons oordra, is dat God met ons praat en wil praat. Van die begin af was dit so, en reg deur die Bybel hoor ons dit telkens: God is ’n sprekende God. God praat, want Hy is nie in Homself gekeer nie. Hy kommunikeer in Sigself, en met ons.
Dis hoe ons in die eerste boek van die Bybel God leer ken. In die begin het God die hemel en die aarde gemaak, uit niks uit, deur sy magswoord (Gen 1). In Psalm 33:9 lees ons: Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar.
Johannes sluit in sy Evangelie hierby aan. Hy herinner ons dat God ’n sprekende God is, van die begin af. Dit is waaroor die evangelie gaan, wil Johannes vir ons onderstreep: Met Jesus se menswording het God aarde toe gekom om met ons te kom praat. Daarom noem Johannes die Seun van God die Logos; die Woord, want dit is wat Hy kom doen het – deur Jesus het God sy boodskap van genade en waarheid aan ons kom oordra (vgl vers 17). Die Hebreërskrywer (1:1-3a) stel dit só:
In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun … Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese.
In Johannes 14:9b sê Jesus dit self ook: Wie My sien, sien die Vader.
Kom ek sê dit nog ’n keer: in Jesus kom God aan die woord; hoor ons God praat. Wat ons nou by die groot vraag bring: Waar staan jy met Jesus? Sal jy sy stem herken? Jesus het mos in Joh 10 vertel dat sy skape na hulle herder se stem luister en nie ’n vreemde sal volg nie, omdat hulle sy stem nie ken nie (10:3-5).
So dís die eerste uitdaging: dat ons Jesus só goed sal ken dat ons sy stem sal herken; dat ons Hom sal hoor praat te midde van al die ander stemme om ons. Want in die moderne wêreld word ons oordonder deur die media-geraas en deur ander stemme wat meeding om ons aandag: TV, koerant, Facebook, WhatsApp … Dit raak later so ’n groot gedruis dat ons God nie meer goed kan hoor nie.
Ek sê nie al dié ander stemme wat om ons opklink en meeding om ons aandag is noodwendig uit die bose nie, maar as ons dit nie soms doelbewus uitdoof nie, gaan ons sukkel om God se stem tussen al die ander te hoor. Want God praat nie hard nie. Hy oordonder ons nie. Hy skree nie. Hy praat sag, en net dié wat hulle op sy stem instel, sal Hom hoor.
Daar is mos die wonderlike deel van die Elia-verhaal, waar hy gevlug het vir Isebel en dan in ’n grot by die berg Horeb gaan wegkruip het (1 Kon 19). Toe kom God na hom en sê hy moet uitkom, Hy wil met hom praat. Dan is daar ’n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, maar die Here was nie in die wind nie. Toe kom daar ’n aardbewing, maar ook in die aardbewing was die Here nie, of in die vuur daarná nie. Ná die vuur was daar ’n sagte gesuis, of soos die NAV vertaal het, ’n sagte suising in die windstilte, en toe weet Elia God is daar (1 Kon 19:11-13).
God oordonder ons nie met sy stem nie, hoewel Hy dit natuurlik ook kan doen, soos ons dikwels in die Ou Testament lees, bv by die berg Sinai. Dit was nog altyd so. Dikwels moet jy jou ore spits om Hom te kan hoor. Daarom, toe God sy Woord na die wêreld gestuur het, basuin Hy dit nie uit op die pleine van Jerusalem nie. Nee, Hy begin sy bediening in Galilea, weg van die geraas, en die mense moes moeite doen om Hom te gaan soek. Hulle moes hulle gewone besig-wees los sodat hulle God se Woord kon hoor.
So, kom ek vra jou: Wat is die hardste stem in jou ore? Of anders gestel: Is Jesus se stem die hardste stem in jou lewe? Dís die vraag. Hoor jy God nog praat?
Wat is jou antwoord? As jou antwoord nee is, het jy ’n baie groot probleem. Want dan het die Woord tevergeefs vir jou mens geword!
Dalk dink jy nou: Dis waar. Ek sukkel om die geraas van ander stemme in my lewe af te skakel. En ek weet goed, dit ís nie so eenvoudig nie. Dit vra groot selfdissipline. Dit vra dat jy tyd moet maak om God te hoor. Dit vra dat jy ’n plek moet kry waar jy stil kan word, sodat al die ander geraas uitgedoof kan word – jou binnekamer, of iewers in die natuur, sodat jy sonder steurings die Woord kan hoor praat. Hoe het Jesus nou weer gesê? Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is … (Matt 6:6) Sit af jou selfoon. Skakel die radio of TV of rekenaar af. En neem dan God se Woord in jou hand, en lees dit luisterend, met gespitste ore. Laat God toe om met jou te praat. Maar wees gewaarsku: moenie haastig wees nie, want dan gaan jy lankal weer met die geraas in jou ore sit voordat God aan die woord gekom het.
God se Woord word mens. Dit is die hart van die evangelie, sê Johannes 1. Hy het aarde toe gekom, want Hy wil met ons praat. Maar as ons nie stil word en die geraas van die lewe om ons afskakel nie, gaan ons Hom nie hoor nie.
En van hoor gepraat: Ons kan nie kies wat ons wil hoor as ons God se stem toelaat in ons lewe nie. As ons na God luister, moet ons na alles wat Hy sê, luister. As jy nie na alles luister wat Hy vir jou sê nie, gaan jy uiteindelik niks hoor wat Hy sê nie. Want God se Woord bring nie net troos en genade nie. Dit bring ook die waarheid (vs 17). God se Woord is nie net vol wonderlike genade-beloftes nie, dit stel sonde en verkeerdhede aan die kaak. As jy van sy genade wil hoor, sal jy ook na sy waarheid moet luister. En dikwels is dit wat ons die minste wil hoor, juis dit wat ons die nodigste het om te hoor.
Mag ons, ek en jy, genoeg tyd maak om God se stem in sy geskrewe Woord, die Bybel, te hoor. Net dan sal die lewende Woord, Jesus Christus, by jou inwoon. En dan sal jy ook uit sy oorvloed genade op genade ontvang.
Amen.
