Job se vrou, wat haar man in die steek gelaat het toe hy haar die nodigste gehad het

Job 1:1-2:10

uet my boek “Skaduvroue in die Bybel”

 

Die huweliksformulier vereis van man en vrou om mekaar by te staan as dit goed gaan én as dit sleg gaan. Toe jy voor die kansel gestaan het, was dit maklik om dit te belowe. Jy en jou bruidegom was immers jonk en blakend gesond. ’n Rooskleurige toekoms het op julle gewag: ’n eie huis, ’n gesin, voorspoed …

Helaas, die lewe werk nie altyd so nie. As dit goed gaan, is dit al klaar moeilik genoeg om die huwelik te laat werk, want jy en jou man dink nie altyd dieselfde oor sake soos kinderopvoeding of geld of ontspanning nie. Tog kry julle dit darem op ’n manier reg om dié knikke te oorkom. Maar as die teenspoed ewe ongevraagd aan die deur kom klop, kry jou huweliksbelofte skielik ’n totaal ander kleur. Jou man verloor sy werk of dalk sy gesondheid, en nou moet jy steeds aan sy sy bly en hom ondersteun. 

Iewers in jou agterkop begin jy wonder of hy nie op een of ander manier skuld het aan sy ellende nie. Van jou vriendinne het dalk ook al skimpe in dié rigting gegooi. Miskien is die Here besig om hom te straf oor iets wat hy gedoen het, iets waarvan jy nie weet nie. Hoekom anders sal die rampe hom dan tref …

 

Die dag het soos enige ander dag begin. Job gaan vroegoggend na die huisaltaar waar hy tot die Here bid soos sy gewoonte is. Daarna kom hy eet. Hulle praat oor koeitjies en kalfies, nie oor gewigtige sake nie. Sy is maar bly sy kon dié reël invoer, want dan kan sy minstens by die ete seker wees Job sal nie aan haar karring oor haar geloof nie. Dis al erg genoeg dat hy hulle almal ná elke fees van die kinders na die altaar sleep om versoening vir hulle sondes te doen. Dit sal seker môre weer gebeur, want die kinders het juis weer vandag ’n fees in die oudste broer se huis. Hulle wou hê sy moet ook kom, maar sy is tog nie vandag lus vir ’n klomp vrolikheid nie. Dis al erg genoeg dat sy in haar man se vrolike gesig moet vaskyk.

Ja, die dag het soos enige ander dag begin. Totdat ou Merda daar aangekom het, gehawend en swaar gewond, met die tyding dat ’n bende uit Skeba hulle kom aanval het. Hulle het al die slawe gedood en al die grootvee gebuit. Ou Merda leef nog omdat die booswigte gedink het hy is dood. Voor hulle nog van die skok kon herstel, kom ’n skaapwagter ook daar aan en vertel dat daar uit die bloute ’n verskriklike donderstorm oor hulle losgebars het. Weerlig het al die kleinvee en die wagters doodgeslaan. Hy is die enigste oorlewende. Job het die bibberende slaaf ’n bietjie water aangebied om hom te kalmeer. Die sot het só gebewe dat hy meer water op haar kosbare mat gemors het as wat in sy keel af is. Net toe kom daar nog ’n man uitasem by hulle aan. Dis een van die kameelwagters, het sy dadelik gesien. Hy was ook gehawend en vol bloed. Galdeërs het hulle hele kameelkudde geroof en al die slawe gedood.

As die slegte tydings jou só een na die ander tref, wonder jy onwillekeurig wanneer dit gaan ophou, en sy was half verlig toe die derde berig van die kamele vertel het, want sy het half gevrees dat iets die kinders kan oorkom. Slegte nuus kom mos altyd in drieë, en die derde berig het beteken die rampe is verby. Sy het swarigheid vir hulle gesien, want alles wat hulle het – ’n hele fortuin – is in drie sinne uit hulle lewens weggeruk. Sy het half verdwaas daaraan gedink dat hulle nou heeltemal verarm is. Gelukkig is die kinders nog daar, en dié sal sekerlik kan uitspring en werk gaan soek om vir hulle te sorg.

Toe kom die vierde boodskapper. Dit is ou Eliëser, een van die kinders se slawe. Sy het nog nooit van hom gehou nie. Sy gesig staan altyd op so ’n treurige plooi dat sy hom net wil klap as sy hom sien, want sy verwag gedurig dat daar ’n gekerm by sy mond sal uitkom. Wat hy vertel, laat haar hele wêreld instort. ’n Stormwind het die huis waarin haar kinders saam geëet het, omgewaai. Hulle is almal dood. Net so sê hy. Hulle is almal dood. Almal. Dood.

Haar kop gaan staan stil, en die pyn in haar bors brand alle ander gewaarwordinge weg. Sy het niks meer oor nie. Hulle besittings, hulle kinders, weg. Wat gaan van hulle word? Wie gaan vir hulle op hulle oudag sorg?

Sy kyk na haar man om krag by hom te kry, maar hy is ook gebroke. Die nuus oor die besittings het hy heel goed gevat, maar toe Eliëser van hulle kinders vertel, het dit hom tussen die oë getref. Hy was tog altyd so erg oor die kinders, en besorg oor hulle. Hoeveel keer het hy nie namens hulle geoffer nie! En wat help al sy offers nou? Waar is die Here noudat hulle Hom nodig het? Waar is Hy?

Soos ’n lewende dooie staan hy op, skeur sy klere en sny sy baard en sy hare af. Toe gaan lê hy op die grond en sê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Prys die Naam van die Here? Is hy nou mal in sy kop? Die skok het hom seker aangetas. Hoe kan enige mens by sy volle verstand die Here prys as Hy sopas alles wat vir hulle lief en dierbaar is, weggeneem het?

***

Dit was drie weke gelede. Job en Eliëser en die ander slaaf wat nog oor is – wat sy naam is, kan en wil sy tog nie weet nie, sy is te seer om enige iets te weet – het hulle kinders begrawe in die ou familiegraf. En die volgende dag vir die stomme ou Merda ook. Daar is nie veel om te eet nie, want Job het hulle laaste lam – ’n hanslam wat in ’n kampie agter die huis was en die weerlig vrygespring het – die volgende oggend aan die Here geoffer. Bid jou aan. Hulle laaste lam!

Intussen het hulle gelewe van die bietjie wat hulle opgeberg het, en van aalmoese wat die bure gestuur het. O, die skande dat sy van ander se aalmoese afhanklik moet wees! Sy is lus en gooi dit in hulle simpatieke gesigte terug. Sy is lus en skree dat sy nie hulle simpatie nodig het nie. Maar sy kan nie, want sy hét die kos nodig wat die mense vir hulle aandra.

En nou, noudat sy hom so bitter nodig het, het Job ook nog siek geword. Kon hy nie ’n beter tyd gekies het om siek te word nie? Hy is oortrek van rooi knoppe. As sy daaraan raak, krul hy van die pyn. Sy hele lyf is vol daarvan. Die knoppe word al groter en bars later oop. ’n Aaklige, stinkende geel sug loop by die sere uit.

Sy staan hom met gevoude arms en aankyk waar hy op die ashoop sit en sy sere met ’n potskerf krap: sy kop kaalgeskeer, die baard af, die klere geskeur, ’n roukleed om, stof op die kop. Haar hart is so stukkend oor haar kinders, sy is so seer binne dat sy nie genoeg energie oor het om nog vir hom ook jammer te wees nie. Die woord ‘pateties’ flits deur haar gedagtes. Job is pateties. ’n Regte sukkelaar. Al sy goed verloor op een enkele dag, en toe nog hulle kinders ook. ’n Tragiese sameloop van omstandighede, sê Job ewe vroom. Maar almal weet sulke rampe kom nie vanself oor jou nie. Dit kom van God. Hy stuur dit om hulle te kasty wat die spoor byster geraak het.

Sy het goed oor die saak nagedink terwyl sy op haar bed lê en rondrol het. Wie kan dan slaap as jou wêreld ineengestort het? Sy self het nie iets verkeerds gedoen nie, so dit kan tog nie haar skuld wees dat die ellende hulle getref het nie. Dit laat net een ander moontlikheid oor. Hoekom het die sere háár nie getref het?

“Hoekom erken jy dit nie, Job?”

“Hoe bedoel jy nou?” vra hy oorbluf.

“Ek praat van die oorsaak van ons ellende. Wat het jy verkeerd gedoen dat God ons so straf?”

“Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Sy stem styg, so asof hy nie kan verstaan waarvan sy praat nie.

“Wel, dis vir my darem bitter snaaks dat die rampe ons sommer so skielik tref. Is dit nie vir jou ook snaaks nie?”

“Snaaks is dit beslis nie.”

“Nou maar hoe verklaar jy die ellende wat oor ons gekom het?”

“Ek het nie ’n verklaring daarvoor nie. Ek weet net dat die Here iewers in alles wat gebeur, tog ook teenwoordig is. Hoe, kan ek nie sê nie.”

“Dis ’n snaakse God wat jy aanbid. As Hy hierdie goed oor ons laat kom sonder dat jy Hom rede gegee het om jou te straf …”

“Ja, wat dan?” vra hy toe sy nie haar sin klaarmaak nie.

“Dan stel ek nie daarin belang om Hom langer te aanbid nie.”

“Hoe kan jy so-iets sê?” Job se oë is groot van die skok.

“Ek kan dit sê omdat ek alles verloor het wat vir my saak maak!” skree sy half histeries. 

“Ons het nie alles verloor nie. Ons het nog die Here.”

“Ja? Moenie dat ek lag nie. Wat moet nóg gebeur voordat jy besef die Here het jou vyand geword? Moet ek ook nog iets oorkom voordat jy dit sal insien, hmm? Hmm?” Sy is so kwaad dat sy hom aan die skouers ruk, sodat hy sy asem intrek van die pyn.

Sy kan sien dat haar woorde hom ontstel, en dit gee haar ’n gevoel van behae. Hy en sy vroom praatjies maak haar siek. Sy wys beskuldigend na hom as sy voorttier: “En hier sit jy so waar as wragtig ewe vroom en sê die Here is iewers in dit alles teenwoordig! As Hy teenwoordig is, hoekom doen Hy niks nie?”

“Ek wens ek het die antwoord geweet.”

“Wel, as jý nie die antwoord weet nie, sal ék vir jou sê wat jy moet doen: vloek God en sterf, dat hierdie hel kan oorgaan, want só kan dit nie aangaan nie.”

Toe kyk hy haar met sulke oneindig hartseer oë aan, oë waarin die leed van die wêreld lê, oë wat sê hy kry háár jammer – pleks hy homself jammer kry! – en hy sê: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

 

Die boek Job waarsku ons dat ons nie te gou moet wees om sondaars te soek as daar rampe oor ons pad kom nie. Die oorsaak van die seer in ons lewens is nie so eenvoudig nie, sê die boek. Want behalwe ons en ons sonde en God, is Satan ook nog daar, en hy skroom nie om rampe oor mense te bring nie, sommer net vir die pret. As hy ’n onskuldige in die ellende kan dompel, hoekom nie?

Ek wonder of Job se vrou anders sou reageer as sy dit verstaan het. Ek twyfel. Want ’n vrou wat haar man die rug toekeer as hy in die diepste ellende verkeer – wie of wat die oorsaak daarvan ook al is – het hom in elk geval nie lief nie. Of so dink ek.