Tamar, die vrou wat haar eie skoonpa verlei het

uit my boek “Skaduvroue van die Bybel”
Genesis 38

Tamar het nie ’n gelukkige lewe gehad nie. Dit het só gekom. Juda seun van Jakob het drie seuns gehad: Er, Onan en Sela. Tamar was met die oudste seun Er getroud, maar hy is dood voordat Tamar vir hom kinders kon gee. Toe, volgens die gebruik van destyds, het haar skoonpa haar aan sy tweede seun Onan as vrou gegee. Die idee was dat sy by Onan kinders moes hê wat dan Er se naam kon laat voortleef, en sy deel van die erfenis sou ontvang. Die kinders sou dus wetlik nie Onan se kinders wees nie, maar Er s’n. En dis net hier waar die probleme begin het, want Er as oudste seun was geregtig op dubbeld soveel van die erfenis as sy twee broers. Onan het sy somme gemaak en besluit dat dít nie ’n voordelige situasie is nie. As Tamar (en Er dus) kinderloos bly, word hy wat Onan is, die oudste erfgenaam wat die dubbele deel erf. Dis som werk so: Juda het drie seuns. Sy oudste, Er, erf dus die helfte van sy goed, en sy ander twee elkeen ’n kwart. Maar as Er nie erf nie, bly daar net twee erfgename oor, en kry Onan as die oudste oorlewende seun die dubbele deel, want dan twee-derdes van die erfenis is, in plaas van die een kwart wat hy sal erf as Er ’n nageslag het. Sy oplossing is eenvoudig: hy sorg dat Tamar nie by hom swanger word nie.

Onan het hom lelik misgis, want, soos die oumense altyd gesê het, God slaap nie. Dit was nie lank nie, toe is Onan óók dood.

Nou was Juda volgens die familiereg van destyds verplig om Tamar vir sy derde seun Sela as vrou te gee, nie net sodat sy kinders vir Er kon baar nie, maar ook sodat sy versorg kan wees. Sonder ’n man en kinders was ’n vrou destyds heeltemal weerloos. Maar Juda vertrou nie die vrede nie. Twee van sy seuns is al dood nadat hulle met Tamar getrou het. Vir hom beteken dit net een ding: Tamar spel moeilikheid. Hy wil nie die risiko loop dat sy enigste oorblywende seun ook soos sy broers sterf nie. Daarom stuur hy vir Tamar terug na haar pa. Sela is nog te jonk om te trou, sê hy vir haar. Sy moet maar by haar pa se huis gaan wag totdat Sela oud genoeg is.

Juda het geen plan gehad om Tamar te laat haal as Sela oud genoeg is nie. Wat hom betref, kan sy weduwee in haar pa se huis bly. Hy gaan nie sy seun se lewe op die spel plaas ter wille van haar nie. Dis tóé dat Tamar besluit om die reg in eie hande te neem.

 

***

 

“Ek het jou swaertjie gister daar by die mark in Timna raakgeloop,” loop en gesels Alwa terwyl hulle aanstap na die spruit om water te gaan skep. “Hy het nogal ’n mooi man geword, hoor. Groot en sterk en aantreklik, nes sy pa, met so ’n woeste baard.”

“Jong, daardie klomp mag mooi lyk, maar ek sê vir jou, hulle het almal harte van klip, die hele lot van hulle.”

Alwa steek half verbaas vas oor haar vriendin se bitterheid. “Jy klink ontevrede met die wêreld.”

Tamar haal die swaar waterkruik van haar skouer af en gaan daarop sit. Sy sug diep toe sy vra: “Hoe sou jy gevoel het as jy soos ’n melaatse behandel word? Hoeveel jaar loop ek nou al in hierdie rougewaad rond? Skoonpa het belowe dat ek met Sela kan trou sodra hy oud genoeg is, en hoe lyk dit vir jou: is ek Sela se vrou? Ek weet nie wanneer laas my skoonpa hom dit verwerdig het om selfs net navraag te doen oor hoe dit met my gaan nie. My broers is glad nie daarmee geneë dat ek op hulle nekke lê nie. Hulle sê Skoonpa moet vir my sorg, en hulle is reg. Maar hy hou sy lyf baie skaars. Ek kan maar krepeer wat hom betref.”

“Hoekom gaan praat jy nie met hom nie? Verduidelik aan hom jou posisie, en dat jou broers kriewelrig raak.”

“En waar sal ek hom miskien in die hande kry? Laas wat ek gehoor het, was hy by Kesib. Hoe sal ek nou daar kan kom?” Sy skud haar kop. “Buitendien, hy sal hom nie aan my steur nie. Ek het dit sommer in sy oë gesien toe hy my destyds na my pa se huis toe teruggestuur het.”

“Ek sal darem tóg probeer as ek jy is. Jy kan niks verloor nie. En hy is nie meer in Kesib nie. Ek het gehoor hy is op pad na Timna toe om sy kleinvee te laat skeer. Jy kan hom mos sommer daar onder by die Enajim gaan voorkeer as hy daar verbytrek met sy vee.”

Tamar skud haar kop en tel weer die kruik op. “Met hom gaan praat, net sodat hy my weer kan wegstoot? Dit sal die dag wees!”

Alwa hou voet by stuk. “Ek dink dis nou die regte goeie tyd, jong. Ek verstaan jou skoonma is nou die anderdag oorlede, en die routyd is nou net om. Miskien het haar dood jou skoonpa se hart ’n bietjie sagter gemaak.”

“Ek kan nie juis sê ek is spyt om te hoor sy is dood nie. Ma Bat-Sua was ’n gifpyl, dit kan ek jou sê. Maar Skoonpa was baie lief vir haar. Ek kon dit nooit verstaan nie, maar so snaaks is die wêreld mos.”

Die hele dag bly dit in haar agterkop draai, dié ding dat haar skoonpa skaars ’n klipgooi van haar af gaan verbytrek. En stadigaan begin ’n plan in haar kop vorm aanneem, sodat sy, toe sy vir Alwa later dié dag groet, sê: “Miskien is jy reg. Miskien moet ek tog maar probeer om my skoonpa tot ander insigte te bring. Ek gaan hom môre by die poort van Enajim inwag. Dan kyk ons wat gebeur.”

Alwa glimlag breed. “Dis ’n goeie besluit, Tamar. Jy kan niks verloor nie.”

 

***

 

Vroeg die volgende oggend maak sy klaar. Sy glimlag by haarself toe sy deur die veld aanstap na Enajim. Sy het die nag haar plan netjies uitgewerk. Sy gaan haar skoonpa in eie munt terugbetaal. Alles werk perfek saam: dis die regte tyd van die maand; dis skeertyd en daarom sal haar skoonpa in die regte bui wees; en om alles te kroon, het hy pas ’n routyd agter die rug. Hy sal nie haar sjarme kan weerstaan nie.

Kort na dagbreek kom sy by Enajim aan. Buite sig van die pad trek sy haar rouklere uit en vermom haar soos ’n prostituut, swaar gesluier soos prostitute dikwels maak om ’n anonimiteit te skep wat haar kliënte op hulle gemak stel.

Sy moet in die loop van die oggend ’n hele paar lastige mans wegwys. Mans is ook almal dieselfde, dink sy wrewelrig. Trek jou soos ’n prostituut aan, en hulle sak op jou toe soos ’n swerm brommers op ’n stuk vrot vis.

Teen die laat-oggend kom haar skoonpa uiteindelik met sy trop kleinvee verby, en sy glimlag agter die sluier. Nou is dit haar kans om haar regmatige deel op te eis. Sy maak die riempie los wat waar kleed voor vasvang, sodat die hals oopval. Toe loop sy met swaaiende heupe oor die pad, vlak voor Juda verby, en verdwyn aan die anderkant van die pad agter ’n digte bos, maar nie voordat sy omkyk en met haar kop ’n uitnodiging aan Juda wink nie.

Haar hart klop woes in haar keel toe sy deur die bosse kyk wat Juda maak. Alles hang af van wat in die volgende paar minute gaan gebeur. As hy nie die aas gevat het nie, is haar toekoms donker, maar as hy agter haar aankom, het sy miskien, net miskien, ’n nuwe kans op ’n toekoms.

Sy sien hy staar haar agterna, ’n skewe laggie om sy lippe. Dan draai hy terug na sy vee, en sy wil-wil moed verloor. Hy staan en praat met iemand. Sy trek haar asem skerp in as sy hom herken. Dis sowaar Sela, groot en breed van skouer, wat ’n klipgooi van haar af staan; die een aan wie sy beloof is, maar met wie sy klaarblyklik nooit sal trou nie.

Sy wens sy kan hoor wat hulle sê, sodat die gehamer van haar hart kan bedaar. Juda beduie redelik woes met die pad na Timna se kant toe, en staan toe hand in die sy eenkant en kyk hoe sy mense die diere verbyvat na die skeerders in Timna toe. Toe die laaste skape uit sy sig verdwyn, verander sy hele houding. Hy trek sy skouers agteroor, kam met sy vingers deur sy baard, en kom dan na haar toe aangestap waar sy agter die bosse wag. 

As sy nie so gespanne was nie, sou sy seker uitgebars het van die lag oor sy ydelheid. Maar haar maag is op ’n knop. Sê nou hy herken haar aan haar stem? Sê nou hy pluk die sluier af en sien dis sy, of hy … Nee, sy mag nie eers daaraan dink dat alles nie sal uitwerk soos sy beplan het nie. Dit móét net werk, kom wat wil, anders is haar toekoms verby.

Toe hy voor haar staan, is dit met die grootste moeite dat sy kalm bly. Sy sien die bekende gelaatstrekke van haar skoonpa voor haar, die plooitjies om die oë, die kenmerkende trek om die mond. Hy het oud geword. Daar was ’n tyd toe sy nogal lief was vir hom, destyds toe sy nog met Er getroud was, toe sy en hy saam gehuil het oor Er se ontydige dood. Tóé was hy baie teer teenoor haar, en het hy alles gedoen wat ’n man behoort te doen teenoor sy skoondogter. Hy het haar na Onan gebring. 

Maar toe sterf Onan óók, sommer so skielik een nag nadat hy weer, soos die ander kere wat hy by haar gekom het, gesorg het dat sy saad op die grond stort, en nie in haar nie. Onan het sy verdiende loon gekry omdat hy nie sy plig teenoor haar nagekom het nie. Maar dít wou, of kon – hoe sal sy weet wat in ’n pa se kop omgaan? – Juda nie insien nie. Hy het haar verwyt dat sy verantwoordelik is vir sy seuns se dood. Hoe verweer jy jou teen so ’n verwyt, om nie te sê beskuldiging nie? Hoe sê jy vir jou skoonpa sy seuns was deugniete wat nie respek vir God en sy gebod het nie? Dat hulle dood is omdat God met hulle ontevrede was? Dis in elk geval wat sý dink, dat hulle dood is omdat hulle nie geleef het soos God vra nie.

Sy het haar vroeër nooit juis te veel aan die God van haar man en sy mense gesteur nie, miskien omdat die twee broers met wie sy getroud was, hulle ook nie aan Hom gesteur het nie. Sy het maar aangegaan om die gode van Kanaän te aanbid, soos sy grootgeword het, en hulle het haar laat begaan. Maar daar was tye toe sy kon sien dat Juda se geloof vir hom belangrik is. En die kere toe hulle vir ’n offerande na Er se oupa Jakob gegaan het, het sy ’n totaal ander indruk van geloof gekry as wat sy by haar eie ouerhuis en by Er en Onan gekry het; het sy iets egs in die offerhandeling en die oubaas se gebede aangevoel wat haar aan die dink gesit het oor die gode in haar ouerhuis.

Deesdae bid sy nie meer tot die gode in haar ouerhuis nie. Maar sy weet ook nie genoeg van die God van Jakob om Hom te aanbid nie. Miskien, eendag, sal sy die moed bymekaarskraap om met die oubaas te gaan gesels oor sy geloof. Of dalk, in ander omstandighede, kan sy met Juda praat.

Maar nou moet sy eers haar plan deurvoer. Haar moed is skielik weg. Dis een ding om in jou bed te lê en beplan hoe jy jou skoonpa gaan verlei, maar dis ’n ander storie as hy in lewende lywe voor jou staan en na jou kyk soos hy nou na haar kyk. Sy vat verleë die kleed voor haar borste vas om dit toe te hou, maar Juda gryp haar hand vas. 

“Los, dis mooi,” sê hy, sy stem skor. Hy lek oor sy lippe en sê dan: “Kom! Ek wil met jou seks hê.”

Haar hand lê stil in sy growwe veewagtershande. Haar skoonpa se hande. Met moeite druk sy dié gedagtes terug, en sê met ’n hees stem, sodat hy dit nie sal herken nie: “Wat sal jy my daarvoor betaal?”

“’n Boklam. Hoe klink dit vir jou? Is dit genoeg?”

“Ja, seker, maar ek sien nie die boklam nie.”

“Nee, my kleinvee word hierdie week in Timna geskeer. Jy het hulle mos gesien toe my mense hier verby is met hulle. Ek sal die boklam vir jou aanstuur sodra ek in Timna kom.”

Sy trek haar hand uit syne en knik. “Goed, dis reg so, maar intussen sal jy vir my ’n pand moet gee. Dis nie dat ek jou nie vertrou nie, maar dis my beleid. Ek kan nie van beloftes lewe nie, jy weet.”

“Dis in die haak. Maar watse pand kan ek jou gee?”

Sy probeer om nie te wys hoe tevrede sy is nie, maar innerlik juig sy. Dinge verloop beter as wat sy ooit kon hoop. Sy beduie na sy olyfhoutkierie. Sy weet hy is baie heilig op die kierie, want sy vrou het dit nog vir hom gegee. “Daardie kierie van jou. En jou seëlring met die silwer ketting.”

Juda se oë vernou toe hy haar agterdogtig aankyk: “Wat weet jy van my seëlring met die silwer ketting? Ken ek jou nie dalk nie?”

Sy lag om haar blaps te verbloem en sê dan: “Ek ken mans. Jy is nie die eerste een met wie ek te doen kry nie, en ook nie die eerste een wat ’n pand vir my moet gee nie. Die meeste van julle dra julle seëlring aan ’n ketting om die nek, want aan jou vinger is dit mos net in die pad as jy met die skape en bokke werk. Is ek reg?” daag sy hom uit.

Juda antwoord nie; trek net sy skouers op en haal dan die ketting met die seëlring van sy nek en gee dit saam met sy kierie aan haar. “Jy moet mooi hierna kyk. Ek heg nogal sentimentele waarde daaraan.”

“Ek sal dit soos my eie lewe oppas,” sê sy eerlik en met drif. Maar toe sy die pand by hom vat, verdwyn haar bravade. Haar hand bewe effens toe sy haar kleed van haar skouers laat afgly. “Nouja, jy het my liggaam gekoop. Hoe wil jy dit doen?”

 

***

 

Genesis 38 is seker een van die hartverskeurendste hoofstukke in die Ou Testament. Dit lyk of daar nie hoop kan wees vir God se volk as sy mense só lyk nie. Er is goddeloos, Onan selfsugtig, Juda vertrap die reg van ’n weerlose jong vrou onder sy bygelowige voete. En dan, om alles te kroon, is daar nog Tamar ook: ’n vrou wat haar eie skoonpa verlei.

Dis vir my maar moeilik om uit my gerieflike studeerkamer ’n oordeel te vel oor wat Tamar gedoen het. My vroom hart sê vir my ek sou anders as Tamar gemaak het. Miskien sou ek weer ’n slag met Juda gaan praat het, by hom gaan pleit het, probeer het om hom rede te laat verstaan. Maar dan moet ek dadelik byvoeg: Ek het nie vir Juda persoonlik geken soos Tamar hom geken het nie. Uit sy optrede later, toe hy hoor sy is swanger, lyk dit nie vir my of hy ’n baie maklike man was om mee te praat nie. En verder was ek nog nooit só weerloos nie, só uitgelewer aan die nukke en grille van ander nie. 

So, ek moet erken dat ek nie heeltemal seker is Tamar hoort in dié boek nie, al is ek nie opgewonde oor wat sy aangevang het nie. Al troos vir my in hierdie verhaal is dat Juda darem uiteindelik erken dat hý, en nie Tamar nie, die skuldige een is. En die feit dat haar naam óók in die geslagsregister van Jesus in Matteus 1 opgeneem is, sê tog dat sy in die oë van die Here genade gevind het.

Dalk het Tamar op haar aweregse manier Juda se oë oopgemaak vir die ongelooflike dubbele standaarde waarmee hy optree. Dalk het dit meegehelp dat Juda iewers langs die pad verander het, want as ons hom weer ontmoet in Genesis 43 en 44 is hy ’n totaal ander mens. Lees dit gerus – sy woorde daar teenoor Jakob én teenoor die farao is werklik hartroerend. Wys jou net. God kan ’n reguit hou met ’n krom stok soos Tamar slaan.