KINDERPREEK
Op ’n dag hoor Jesus sy goeie vriend Lasarus is baie, baie siek. Lasarus se susters, Marta en Maria, was bekommerd oor hulle broer, en toe laat hulle vir Jesus weet Hy moet kom help. Maar toe Jesus in die dorpie waar hulle gewoon het, kom, was Lasarus al klaar dood en begrawe.
Weet julle wat dit beteken as iemand dood is?
Hy sal nooit weer met jou kan praat of opstaan of loop of lag of iets nie.
Hoe dink julle het Marta en Maria gevoel toe hulle broer dood is?
Hulle was baie, baie hartseer. Hulle het net daar in hulle huis gesit en huil.
Lees nou 11:33-35
Het julle dit gehoor? Jesus het saam met hulle gehuil! Hoekom, dink julle?
Omdat Jesus vir hulle, en vir Lasarus, lief was. Jesus was saam met hulle hartseer oor Lasarus se dood.
Dit is hoe wonderlik Jesus is. Hy wéét hoe ons voel, en dit raak Hom..
Jesus het vir hulle gevra hulle moet vir Hom gaan wys waar hulle Lasarus begrawe het. Nou kyk, in daardie dae was grafte anders as vandag. Vandag begrawe hulle mos mense in ’n kis in die grond. Maar in Jesus se tyd het hulle die mense in ’n grafkamer begrawe. Dit was amper soos ’n grot wat hulle in die rots uitgekap het, en dan sit hulle ’n groot klip voor die gat.
Wys hoe dit gelyk het.
Toe gaan staan Jesus voor die graf en Hy sê die mense moet die klip wegrol. Die mense wou nie, want Lasarus was al vier dae lank dood, en dan begin dit sleg ruik, maar Jesus wou nie hoor nie. Toe rol hulle maar die klip weg. En Jesus roep toe hard: “Lasarus, kom uit!”
Kan iemand wat dood en begrawe is, hoor en opstaan en begin loop? Nee, natuurlik nie. Maar Jesus het dit nogtans gevra, en daar kom Lasarus uit die graf!
Dis net God wat so-iets kan doen! En Jesus, want Hy is ook God! Hy kan alles doen. Dis hoekom ons in Hom glo, want selfs die dood is nie sterk genoeg vir Hom nie.
Joh 11: 25,26 JESUS BRING HOOP
Die dood is vir ons almal ’n vreeslike ding: ons was nog nie een daar nie. Maar die meeste van ons het al by ’n graf gestaan, en ondervind dat die dood vernietigend is: dit vernietig ’n lewe, dit breek verhoudinge plotseling af, dit bring smart.
Die dood is vir ons vreeslik. Maar het jy al gewonder hoe God oor die dood voel? Die dood wat hierdie wonderlike skepping van Hom so lelik skend. Die dood wat vir sy kinders soveel hartseer kan bring. Hoe dink Gód oor die dood?
Hier in ons gelese gedeelte kry ons so ’n klein kykie in God se hart, as Jesus, die Seun van God, by die graf van ’n vriend van Hom staan. Ons sien hier dat Jesus saam met hulle huil (33, 35, 38). Vir God is die dood van ’n dierbare nie maar net een van daardie dinge wat ook weer sal verbygaan nie. Want ons smart gryp Hom aan die hart. Daarom sê Ps 116:15: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” “Toe Jesus sien dat Maria huil,” staan dit hier, “het sy gemoed vol geskied en Hy was aangedaan.”
Ons mag maar huil by die dood van ’n geliefde. Die Here Jesus het ook by ’n graf gehuil. En Hy huil vandag ook saam met elkeen wat stukkend is.
Maar hierdie gedeelte wil vir ons meer sê. Want as Johannes hier skryf dat Jesus gehuil het, gebruik hy eintlik ’n baie sterk uitdrukking wat nie in ons Afrikaanse Vertaling so duidelik uitkom nie. In die Afrikaans staan hier: sy gemoed het vol geskiet (vs 33, 38). In die Ou Vertaling het daar gestaan: “het Hy geweldig bewoë geword”. Die AFR20 vertaal dit weer: “diep bewoë” en “hewig ontsteld”. Ons sou ook kon vertaal: Hy het kwaad geword, of: Hy het in opstand gekom. Jesus kom in opstand, Hy is woedend, want die dood breek God se skepping stukkend. Hy is in opstand, want dít is nie hoe God die wêreld gemaak het nie. Dit was nie sy plan dat die dood só ’n stuk hartseer in ons lewens moet wees nie.
Dáárom het Jesus na hierdie wêreld gekom: om die dood te kom oorwin! Of miskien moet ons sê: om die Bose te oorwin wat van die dood ’n wrede, verwoestende instrument gemaak het. Jesus kom in opstand teen die heerskappy van die dood, só in opstand dat Hy die dood oorwin, dat Hy self opstaan uit die dood, en ons met Hom saam! Daarom kon Hy vir Marta verseker (25,26): “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Daarom ook dat Hy aan die begin van hierdie gebeurtenis (11:4) vir sy dissipels verseker: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Só het Lasarus se dood en opstanding, meer as enige ander wonder wat Jesus gedoen het, God se mag, sy almag, getoon. Selfs die dood neem voor sý woord die wyk.
Ek het aan die begin vir die kinders gesê Jesus bring troos, want Hy huil saam met ons. Maar Jesus het nie na Marta en Maria gegaan, net maar om hulle te troos en saam met hulle te treur nie. Hy het gegaan om vir hulle hoop te gee. Om vir hulle uitsig uit hierdie stukkende bestaan te gee. Daarom sê Hy: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Jy sien, as jy in Jesus glo, is die graf nie die laaste strepie van jou lewe nie. Dan is die dood nie die laaste woord wat oor jou gesê sal word nie. Dan breek die lewe oop, breek die grense van ons lewe oop na die ewigheid, na ’n lewe anderkant die dood en graf.
Dít is wat Jesus kom doen het. Hy het die graf ingegaan sodat Hy dit kon oopbreek, nie net omdat Hyself opgestaan het uit die dood nie, maar omdat Hy dit vir óns gedoen het, sodat óns nie deur die graf vasgevang sal word nie.
Waaroor hierdie hoofstuk eintlik gaan, is HOOP. Ons kan leef met hoop, want Jesus het die dood oopgebreek. Dit is wat ons vanoggend die die Nagmaal vier.
Amen.
Views: 18



