Psalm 103 Die Here is vol liefde en ontferming

Ons is natuurlik nie almal op dieselfde plek in die lewe vanmiddag nie. Dalk is jy ook waar Dawid is; is jy net eenvoudig oorweldig deur die wonder van God se liefde en genade vir jou. En wil jy God saam met Dawid (vs 1,2) loof en prys oor sy goedheid en grootheid en genade en liefde in die seisoen wat verby is:

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

En in vs.20-22 is dit asof hy sy arms oopmaak en almal nooi om saam met hom te jubel:

Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!

Maar dalk is jy nié vandag heeltemal waar Dawid is nie. Dalk wens jy jy kon ook soos hy oor God voel, maar daar is te veel dinge op jou gemoed wat jou van God wegtrek. Jy is bekommerd, of gestres oor die seisoen wat kom, want almal waarsku dat dit ’n droë somer gaan wees vanweë die El Niño-verskynsel.

Kom ons kyk vir ’n oomblik hoekom Dawid so is bly dat dit vir hom onmoontlik is om daaroor stil te bly. Hy het ontdek dat die Here hom liefhet, ten spyte daarvan dat hy maar net ’n sondige mens is, ’n nietige mens wat nie voor die Here bestaansreg het nie. Hy sê in vs.15 en 16 dat hy soos ’n grashalm of ’n veldblom is wat in die lente groei, maar nie kan weerstand bied teen die warm woestynwinde van die somer nie. Dawid weet: as die Here hom behandel soos wat hy verdien om behandel te word, sal hy net soos daardie veldblom wees. Hy sal oombliklik vergaan, vir ewig verlore wees. Maar die Here doen dit nie! Dit is die wonder waarvan Dawid hier so pragtig sing: dat God hom nie straf oor al sy sonde nie, maar vergewe. Dat God nie in toorn na hom kyk nie, maar met liefde en ontferming! 

Hoor hoe mooi sing hy daarvan in vs.8 en verder:

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie… Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien… Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Só is die Here! Onpeilbaar groot in sy liefde, ’n liefde so groot soos die afstand tussen hemel en aarde, ’n liefde so groot dat dit nie gemeet kan word nie, ’n liefde so groot dat Hy sy eie Seun gegee het om ons almal te kan red, ’n liefde so groot dat Hy ons nie in ons sonde los nie, maar sy Seun in ons plek tot sonde gemaak het sodat Hy ons kan vergewe. 

Só is die Here! Oneindig groot in sy ontferming, in sy barmhartigheid, sodat Hy teenoor ons is soos ’n vader, ’n vader wat alles oor het vir sy kinders. Daarom het Hy ons nie aan ons lot oorgelaat nie, maar ons elkeen by die naam geroep, vir ons kom opsoek, vir ons aangeneem as sy kinders, vir ons gesorg, gesorg vir die diere en die lande, want ons is vir Hom kosbaar!

Ek het gesê, nie almal voel soos Dawid nie. Dalk voel jy glad nie so nie; voel jy ver van God af, so ver dat jy selfs wonder of Hy regtig bestaan. Maar dit hoef nie so te wees nie! Dit kan weer gebeur dat ek en jy heel jaar deur opgewonde bly oor God se wonderlike liefde en ontferming. En in hierdie psalm wys Dawid vir ons hoe dit kan gebeur. 

Ps 103 leer vir ons dat, as ons aan God toegewy lewe, ons ook die wonder van sy grootheid opnuut weer sal ontdek. Vier keer in hierdie psalm sê Dawid dat die liefde en ontferming van die Here net beleef word deur dié wat Hom dien (vs. 11, 13, 17 en 18). Want dit is wanneer ’n mens die Here dien, wanneer jy toegewy aan die Here lewe, dit is dan dat jy nader aan die Here kom.

Ek dink die fout wat ons soms maak, is dat ons in tye wanneer ons ver van die Here voel, ophou om sy teenwoordigheid op te soek. En so dryf ’n mens al hoe verder van Hom af weg en voel dit vir jou of Hy nie vir jou omgee nie. Dawid sê, dis eers wanneer jy die Here dien en vir Hom lewe, dat jy sy teenwoordigheid en liefde werklik beleef. 

Daar is mos daardie aangrypende lied uit die Elijah van Felix Mendelssohn: If with all you heart ye truly seek Me, you shall ever surely find Me. Thus says your God.

Kom dan, kom ons maak opnuut weer erns met ons verhouding met God. Kom ons dien opnuut weer die Here met oorgawe. Kom ons wy ons opnuut aan die Here toe. Kom ons maak tyd vir God, tyd vir sy Woord, tyd vir gebed, tyd vir diens aan ons naaste. Kom ons stel onsself tot sy beskikking, dat Hy ons deur sy Gees en sy Woord kan lei, dat ons kan groei in die geloof, groei op die pad van heiligmaking, dat ons nader aan God kan lewe. Dan sal die nuwe seisoen weer ’n belewenis wees, ’n hernude ontdekking van God se grootheid, God se liefde, God se barmhartigheid. Dan kan ons saam met die psalm sing:

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet!

Amen.




Lot

Die man wat net aan homself gedink het

Sy verhaal

Hy sug, en stap met ’n swaar gemoed na sy nefie toe. Hy het vir Haran op sy sterfbed belowe dat hy na sy seun sal omsien, en hy het tot nog toe sy belofte gestand gedoen. Maar langer sal hy nie kan uitstel nie. Eliëser het hom nou al van die soveelste rusie tussen sy veewagters en Lot s’n kom vertel, en die rusies word al hewiger. Daar is net nie genoeg weiveld en suipplekke vir al hul vee nie.
“Oom Abram?” vra Lot verras toe hy by sy tent inbuk.
“Ek wil met jou praat oor ons blyery hier, Lot,” begin hy huiwerig nadat hy sy beker bokmelk gedrink het. Toe Lot nie reageer nie, gaan hy voort: “Ons kan nie so aangaan nie. Daar is gedurig rusies tussen my mense en jou mense.”
“Ja, ek hoor juis vanoggend by Ptuhpah dat dinge gister weer lelik skeefgeloop het by Aner-se-put. Dit was so hittete of die bloed het geloop,” beaam Lot.
“Ja. Dis wat my pla, Lot. Dit hoort nie so nie. Ons is tog familie.”
Lot kyk hom berekenend aan. “Het Oom ’n oplossing?”
Hy trek sy skouers op. “Wel, ou seun, die land is groot en wyd. Miskien moet ons maar ’n entjie uitmekaar trek, sodat daar genoeg weiding en water vir ons diere kan wees.”
“Oom bedoel …?”
“Ja, ou seun. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; as jy regs gaan, gaan ek links. Kom ons stap na die koppie hier agter, dan kan ons mos mooi kyk hoe die land lê, en goed besluit wie waar gaan woon.”
Toe hulle bo-op die koppie staan, draai Lot na die Jordaanvallei se kant toe. Agter hom is dit vaal en droog, en voor hom lê die wêreld geil en groen, al met die vallei langs tot by Soar. Hy beduie na die Jordaan. “Ek sal daardie deel vat.”
So besig is hy om na sy toekomstige tuiste te kyk, dat hy glad nie die seer in sy oom se oë opmerk nie toe dié antwoord: “Dan is dit goed so, ou seun.”

& Genesis 13

Pas jy dalk in dié storie?

’n Mens kan jou nogal verbaas oor hoeveel mense bereid is om op te offer as dit om eiebelang gaan. Soos Lot. Hy offer nie net sy oom se belange (en ook sy vriendskap en ondersteuning) op nie; hy offer ook die beloofde land op ter wille van die voordeel wat hy uit Sodom kan trek. Later sou hy leer dat die offer veel groter is as waarop hy gereken het – sy gemoedsvrede, en uiteindelik ook sy vrou en sy goed (Genesis 19). Ons lees in 2 Petrus 2:7,8 dat Lot “… gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed.” En tog bly hy in Sodom!
Laat ons dit maar erken: selfsug sit diep in elkeen van ons se harte, en verlei ons dikwels om die verkeerde keuses te maak en die verkeerde dinge te sê. Wanneer selfsug die oorhand kry, vergeet ons van ander en hulle belange en gevoelens, loop ons bo-oor ander.

Hoe nou gemaak?

Die Bybel is nogal nie onduidelik oor hierdie saak nie. Jakobus 3:14-16 sê: “Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.” Dis eers as die vrug van die Gees van God in ons lewens begin groei, dat hierdie bose ingesteldheid oorwin kan word. Die heel eerste aspek van hierdie vrug, sê Paulus in Galasiërs 5:22, is liefde. En in 1 Korintiërs 13:5 sê Paulus onder andere van die liefde: dit “soek nie sy eie belang nie”.
Die hele wêreld skree elke dag vir ons dat ons in eie belang moet optree. ’n Gelowige wat verstaan dat God vir hom sorg, kan maak soos Abram daardie dag gemaak het toe Lot gulsig die beste deel vir homself gegryp het: terugstaan, eie belang op die agtergrond skuif, en ruimhartig wees.




Daardie eerste vonkie …

Saam lees:
Lees Gen. 2:4-25
Saam oordink:
Dit was die wonderlikste oomblik in Adam se jong lewe, daardie moment toe hy uit die slaap wakker word, en hier kom die mooiste lewende wese wat hy nog gesien het, na hom toe aangestap: die vrou wat die Here vir hom gemaak het. Só verruk is hy met hierdie vrou, dat hy op die plek ’n minnelied vir haar komponeer! Die wysie ken ons ongelukkig nie, maar die woorde het vir ons behoue gebly (Gen. 2:23):
“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;
sy is uit die man geneem.”
In elke verhouding is daar só ’n eerste kyk. Miskien was dit regtig die eerste keer dat julle mekaar gesien het. Of miskien was dit net die eerste keer dat julle mekaar regtig raakgesien het, ontdek het dat daar ’n vonk tussen julle is. Dié vonk, die eerste ontwaking van die liefde, is een van die wonderlikste gawes wat God in sy skepping ingebou het. Want Hy wil nie hê dat mense alleen deur die lewe moet gaan nie. Daarom bewerk Hy dit so dat ons lewensmaats ontmoet.
Saam praat:
♡ Hoe het dit gebeur dat julle mekaar “ontdek” het? Kan julle nog onthou wanneer daardie eerste liefdesvonk geskiet het?
♡ Vertel vir mekaar wat dit was wat jou die eerste keer aangetrokke tot jou lewensmaat gemaak het.
♡ Adam het ’n lied gesing om aan sy liefde en verrukking uiting te gee. Hoe het júlle dit destyds teenoor mekaar gedoen?
Saam bid:
♡ Dank die Here vir daardie eerste vonk van die liefde.
♡ Dank die Here vir die lewensmaats wat julle in mekaar gevind het.
♡ Bid dat Hy julle sal help om daagliks dié liefdesvonk weer aan te blaas.
❝ Liefde word nie gemeet aan hoeveel kere julle mekaar aanraak nie, maar aan die aantal kere wat julle mekaar bereik. ❞
Cathy Morancy
uit my en Elmien se boek “Voor ons gaan slaap“



Lot se vrou

Te verknog aan haar goed

Genesis 19:1-28

Materialisme is die wêreldbeskouing waarin die waarde van alles en almal in terme van geld en rykdom gemeet word. Op ’n manier is ons almal kinders van ’n materialistiese samelewing, en daarom kom ons dikwels nie eers agter dat ons óók ’n prooi van hierdie siek verskynsel geword het nie. ’n Ryk man van die bodorp sal ook by óns meer respek en agting kry as die versukkelde man van die onderdorp, nie omdat hy noodwendig ’n beter mens is nie, maar bloot omdat sy geld en blyplek aan hom groter status gee. In die fliek “Fiddler on the Roof” sing Tevje daarvan in die liedjie “If I were a rich man”. Hy sê as hy ryk was, sal almal na hom kom vir raad, nie omdat hy slim is nie, maar, sê hy, as jy ryk is, dink mense jy is wys ook …

***

“Maak nou gou, Vrou!” por Lot haar vir die soveelste keer aan, maar sy laat haar nie aanjaag nie. Dis háár huis, en háár goed. Sy kyk weer om haar in die vertrek. Die dowwe lig van die lampies laat die skadu’s dans op die kosbaarhede wat sy op die tafel gepak het. Haar hele lewe lê voor haar uitgestal. Daar is die fyn porselein wat sy uit Tirus laat kom het, en die pragtige koperbeeldjie wat sy in die mark in Jerusalem gekoop het toe sy eenkeer saam met Lot daar was. Haar hand gly liefderik oor die bonkige tafel van sederhout, ingevoer uit Libanon.
“Dis al byna sonop!” kom Lot se stem, half histeries hierdie keer. “Die mans sê as ons nie nou gaan nie, kan ons dit maar los.”
“Is Kedar en Logmar al hier?” Dis hulle dogters se verloofdes. Lot het hulle gewaarsku dat die stad verwoes gaan word en gevra om saam met hulle te vlug.
“Nee. Maar ons kan nie langer wag nie.” Hy kyk half verdwaas na die goed wat sy bymekaargeskraap het. “Hoe dink jy gaan ons dit alles saamgeneem kry? Dis minstens tien donkievragte!”
Sy trek haar skouers op. “So? Jy het genoeg donkies.”
Haar man kom voor haar staan en sit sy hande op haar skouers. Hy skud haar asof hy haar tot haar sinne wil ruk. “Daar is nie tyd om die donkies te gaan haal nie. Ons moet nóú gaan, en nie ’n oomblik later nie.”
Sy vou haar arms voor haar bors en maak haar rug styf. “Ek gaan nêrens sonder hierdie paar goedjies nie, en dis klaar!” Sy skud sy hande van haar skouers af en tel die wynkruik met die fyn druiwemotief van die tafel af op. “Weet jy hoeveel ek hiervoor betaal het? Dertig sikkels silwer! En jy wil hê ek moet die net so agterlaat, dat ander kan kom en dit kan vat?” Sy skud haar kop beslis. “Nee, my man, hierdie kruik en al hierdie goed gaan saam, en klaar!”
Lot lig sy hande pleitend op. “Maar verstaan jy dan nie …”
“Ek verstaan maar alte goed. Twee wildvreemde mans kom by ons aan en praat allerhande stories van Sodom en Gomorra wat verwoes gaan word, en jy vreet dit vir soetkoek op. Nou moet ons in die middel van die nag die hasepad kies, nugter weet waarheen.”
“Dis nie wildvreemde mans nie, en jy weet dit. Dis boodskappers van God self.”
“Dis wat jý sê. En jy sal eerder ons twee dierbare dogters opoffer as om hierdie vreemdelinge aan die stadsmense uit te lewer. Ek kry nou nog die ritteltit as ek net daaraan dink. Gelukkig het die stadsmense mannelyf gesoek, anders was ons dogters …”
“Moenie nou weer daarmee begin nie, Vrou! Ons moet gaan.”
“Ja, ja, ek weet, anders word ons saam met die stad verwoes, soos jou kosbare gaste beweer,” val sy hom in die rede, haar stem moeg. “Ek weet nie of hulle van God kom en of hulle die waarheid praat nie. Dit traak my nie wie hulle is nie. Al wat ek weet, is dat jy van my verwag om álles wat vir my lief en dierbaar is, net so te los. Alles. Hoe kan jy dit van my vra?” Sy tel een van die fyngeweefde onderklede van die hopie op die tafel af op en druk haar gesig daarin om die trane te smoor.
“Ons het nie nou tyd om hier te staan en ginnegaap nie. Ons moet uit die stad uit, en sommer nóú.”
“Kry dan minstens vir ons ’n paar donkies, dat ons my goed kan saamvat.”
“Ons kan weer vir jou goed koop. Maar dan moet ons lewendig uit dié plek kom voordat die Here se toorn losbars.”
Een van die vreemdelinge – sy verbeel haar hy het homself voorgestel as Migael – kom in die vertrek in. Hy maak die hortjies oop en beduie na die horison, waar die donkerte aan die wyk is voor die nuwe dag. “Kom nou!” sê hy dringend vir Lot. “Vat jou vrou en jou twee dogters en kom, anders sterf julle almal saam met die stad.”
Sy gaan sit in een van die stoele – ’n pragtige riempiestoel met ivoor inlegsels – en kruis haar bene voordat sy vir Lot sê: “Sê vir hierdie man ek is nog nie gereed nie. Ek sal kom sodra jy die donkies vir my gaan haal het.”
Net toe kom die ander man ook die vertrek in, met hulle dogters agter hom aan. “Dis tyd. Julle móét nou gaan,” sê hy beslis.
“Sê vir hulle, Lot!” Haar man kan tog so swak wees as daar druk op hom is.
Maar die manne se geduld is op. Hulle trek haar aan die arms uit die stoel uit op en sleep haar agter hulle aan, die huis uit.
“My goed!” kerm sy, maar hulle hoor nie.
Toe hulle buite die stad is, sê Migael: “Vlug vir julle lewe! Maak dat julle hier wegkom voordat die oordele van die Here die stad tref! Moenie êrens langs die pad stop om te rus nie. Moenie eens omkyk nie, want dan sal die toorn van die Here julle ook tref! Sorg dat julle in die berge kom, want daar sal julle veilig wees.”
“Asseblief tog, Meneer,” soebat Lot, “ek en my vrou is nie meer jonk nie. Ons sal nooit die berge betyds haal nie. Kan ons nie maar net tot by die klein dorpie daar anderkant vlug nie?”
“Goed,” sê die man, “vlug dan maar soontoe. Ek sal die dorpie ter wille van julle spaar.”
“Dankie, Meneer,” sê Lot, sy stem pateties.
Sy talm nog, want met dié dat die mans hulle so hardhandig uit die stad geboender het, het sy op die ou end niks met haar saamgebring nie. Maar Lot is vreesbevange, en sleep haar aan haar arm agter hom aan. “Kom, Vrou, jy het gehoor wat die mense sê!”
“Gaan jy solank met die meisiekinders vooruit. Ek móét my nuwe kleed gaan haal. Ek kan nie só kaal padgee nie.”
“Nee, Ma, ek gaan saam met Ma,” laat hulle oudste hoor. “Ek gaan nie sonder Kedar nie.”
Maar Lot wil nie hoor nie. Hy sleep hulle behoorlik agter hom aan, asof iets hom jaag.
“Jy maak my seer!” kla sy.
“As jy belowe om nie om te draai nie, sal ek jou nie so hoef te trek nie.” Kortaf, asof hy vir haar kwaad is of iets.
“Gee jy dan nie om dat alles wat vir ons lief en dierbaar is, in Sodom agterbly nie?”
“Júlle is al wat vir my lief en dierbaar is. Die goed in Sodom is net goed. Vervangbaar. Maar julle nie.”
Hulle is al naby die dorpie toe Lot uiteindelik haar hand los, en sy haar kans kry. Sy maak of sy haar sandaalgespe vasmaak, sodat hy ’n entjie voor haar uit stap. Toe spring sy om en hardloop terug na haar huis en haar goed. Lot verstaan nie. Hy is ’n mansmens; hy sal nooit verstaan nie. Daar is so baie van die goed wat sy net eenvoudig móét gaan haal.
Sy het seker so ’n honderd treë gehardloop toe die wêreld om haar begin vergaan. Groot skeure verskyn plotseling oral in die aarde, en rook borrel daaruit. Sy sal moet gou maak, voordat haar goed vir altyd onder die grond verdwyn. Sy gee nog ’n paar haastige treë, en steek dan verskrik vas as ’n kolom vuurwarm lawa reg voor haar uit die grond spuit. Dis skielik so verskriklik warm, asof die lug om haar aan die brand geslaan het …

***

Materialisme is so oud soos die berge self. In Jakobus 2:1 e.v. kla Jakobus die gemeente oor hierdie einste saak aan, en in die verhaal van Lot se vrou sien ons hoe gevaarlik dié sonde is. As jou geld en goed jou baas is, tas dit jou oordeel aan en maak dit dat jy die domste dinge aanvang. G’n wonder nie dat Jesus ons waarsku dat ons nie God én Mammon kan dien nie (Matteus 6:24)!




Abram

Die man wat ’n witleuen vertel het

Sy verhaal

SAKEMAN UIT EGIPTE GESIT
MEMPHIS. – ’n Skatryk Semitiese donkiehandelaar, Abram seun van Tera, is gister met vrou en besittings en al gedeporteer. Die uitsettingsbevel is deur die farao self uitgereik nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Abram en die farao ontstaan het.
Abram se beeldskone vrou, Sarai, was volgens ingeligte bronne in die paleis die oorsaak van die breekspul. Na wat verneem word, was die farao, wat alom bekend daarvoor is dat hy ’n oog vir mooi vroue het, onder die indruk dat Sarai Abram se suster is, en hy was van voorneme om met haar te trou. Nadat sy egter in sy harem opgeneem is, het die een ramp na die ander die paleis getref. Die farao het onraad vermoed en Abram gekonfronteer. Dit kom toe uit dat Abram self die storie versprei het dat Sarai sy suster is, omdat hy vir sy lewe gevrees het. Hy was glo bang iemand vermoor hom om sy vrou in die hande te kan kry!
Kenners het hulle verbasing uitgespreek oor die feit dat Abram toegelaat is om sy besittings saam te neem. ’n Aansienlike deel daarvan is naamlik geskenke wat die farao nog vir hom gegee het toe hy Sarai die hof gemaak het. “Dit moet ’n merkwaardige vrou wees dat die farao haar én haar man se lewe gespaar het ten spyte van die vernederende ervaring,” het een van die paleisamptenare gesê.

Genesis 12:10-20

Pas jy dalk in dié storie?

’n Mens skrik so half as jy dié berig lees. Was Abram dan nie die man wat met groot geloofsmoed uit sy land en van sy mense af weggetrek het, die vreemde in, net omdat God dit beveel het nie? Hoe op dees aarde kon dit gebeur dat ’n geloofsreus soos hy so lelik kleitrap as dit by die waarheid kom?
’n Mens skrik, want jy besef: selfs die grootstes onder die grotes is nie immuun teen die verleiding van die sonde nie. Jy val makliker vas as wat jy dink. As dit met Abram kon gebeur, wie is ons dan …
Terwyl ek dié verhaal gelees het, het ek verleë teruggedink aan ’n insident in my hoërskooljare, toe ek my wiskunde-onderwyser verseker het dat ek wel die somme op ’n los vel papier gedoen het, maar dat ek dit by die huis vergeet het. Die waarheid was dat ek nie gedink het dit was huiswerk toe hy gesê het ons moet voorbeelde van die bewerking tuis gaan oefen nie, want ek het die berekening heel goed onder die knie gehad. Sou die waarheid my nie beter gehelp het daardie oggend nie? Sou die waarheid Abram en Sarai nie baie verleentheid gespaar het daar in Egipte nie?

Hoe nou gemaak?

Ons lewe nie in ’n wêreld waarin daar ’n hoë premie op die waarheid gestel word nie. Elke liewe dag van ons lewe word ons met leuens gepeper: deur die advertensiebedryf, verkoopsagente, die politici, die media. Jy weet later nie meer wat jy moet glo nie. In die howe is die eed van “die waarheid, die hele waarheid en niks anders nie as die waarheid” wat getuies moet aflê, ’n klug. G’n wonder Pilatus trek sy skouers oor hierdie saak op en vra: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38) in Jesus se verhoor nie!
’n Soektog deur die Bybel na die woord “waarheid” lewer nogal interessante resultate op. In die Nuwe Testament is dit veral die Johannes-evangelie wat telkens na hierdie begrip terugkom. In Johannes 1:14 skryf hy dat die Seun van God vol genade en waarheid is. In dieselfde Evangelie (14:6) sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” En die Heilige Gees, wat Jesus in sy plek stuur om ons te kom troos, noem Hy ook “die Gees van die waarheid” (14:17). Hierteenoor stel Hy die duiwel. Die duiwel, sê Jesus in Johannes 8:44, “… staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”
Wanneer God in ons begin werk, verander Hy ons sodat ons al meer soos Jesus begin lyk (vgl. Romeine 8:29). Een van Jesus se karaktertrekke wat in ons na vore kom as God ons verander, is dat die waarheid ook vir ons al hoe kosbaarder word. Daarom skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:6 van die liefde, wat die kenmerk van die gelowige is: “Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.”
Wanneer ons in ’n hoek is, is dit dikwels die maklikste uitweg om ons los te lieg, soos Abram probeer doen het. Maar as ek en jy die beeld van ons hemelse Verlosser dra, is só ’n kits-oplossing nooit ’n moontlikheid nie. Daarom moet ons miskien nóg ’n nota by die vorige een voeg:

Spreuke 12:19
Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ’n oomblik.