Die lewe. Daarvan het die nagmaal ons vanoggend vertel. Die Here Jesus sê: “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (v 57). As jy wil lewe, dan moet jy die Here eet. Dit sê ons teks. Dit het die nagmaal ook gesê. HK 79 stel dit so: “... soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe.”
Dit is duidelik: Nie die brood en wyn van die nagmaal voed ons siele nie, nie die nagmaal self gee ons die lewe nie, maar die Here Jesus Christus. Hy gee ons die lewe. Die brood en wyn van die nagmaal wil ons net vanoggend daaraan herinner, opnuut daarop wys.
En omdat dit so is, daarom kan ons nie vanoggend tevrede hier weggaan en dink: Nou is ons weer reg vir nog ’n maand tot die volgende nagmaal nie. Dit is immers nie die nagmaal wat ons voed nie, maar Christus. Die nagmaal het dan juis vir ons opnuut kom vertel dat ons Jesus Christus nodig het. Daarom praat die Here in ons teksgedeelte nie net van sy liggaam en bloed as die ware voedsel en drank wat ons moet eet en drink nie, Hy sê ook baie duidelik hoe ons dit moet doen: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
Ons moet in Hom bly. Elke dag, elke oomblik, nie net wanneer ons Bybel lees of bid of kerk toe gaan nie, maar ook wanneer ons werk, ontspan, blywend by Hom wees. Die nagmaal wil ons nie vanoggend vol genade pomp (met respek gesê; dit is Rooms) sodat ons weer kan hou tot die volgende nagmaal nie; die nagmaal wil vir ons kom vertel dat ons voortdurend in die Here moet bly, gedurig aan Hom moet vashou, nie een enkele dag kan lewe sonder om onsself aan Christus oor te gee nie. Deurdat ons die brood en wyn geëet het, het ons aan God bely: Ons het Christus nodig. Hy alleen kan aan ons die lewe gee. Ons wil in Hom bly, by Hom bly, sodat Hy ons kan vashou, kan dra, vir ons skuiling kan gee elke dag.
Daarom kan ons nie vanoggend houtgerus by die kerk uitstap en dink: Nou ja, dit was goed om vanoggend hier te wees, en daarmee klaar nie. Die nagmaal moet uitloop op ’n lewe wat elke dag aan Christus toegewy is, soos ons teksvers sê: Hy wat Christus eet, lewe ook deur Hom.
Maar wat beteken dit nou prakties? Hoe lewe ’n mens deur Christus? Hoe bly ’n mens in Hom? Dit lyk my dit is ’n lewe waarin ’n mens die Here Jesus persoonlik ken en vertrou, in voortdurende gebedsgemeenskap met Hom lewe, met Hom praat, na Hom in sy Woord en deur die Gees luister. Maar dan ook ’n lewe waarin ons elke dag opnuut weer vir Hom kies, waarin ons deur ons dade bevestig dat ons vir Hom gekies het.
Dit gaan hier dus nie net om die ontvang van Christus se genade nie, maar ook daarom dat ons dit moet uitleef, nie vir onsself hou nie, maar dit uitdeel aan ander. Só bly jy in Christus. Die groot hervormer, Martin Luther, skryf oor die nagmaal dat dit jou alles opeis, en praat dan van mense wat nie hiertoe bereid is nie, as hy sê: “Hulle hoor dit graag dat die sakrament aan hulle hulp, bystand en selfs die gemeenskap met Christus gee, maar hulle wil dit nie werklik ’n gemeenskaplike saak máák nie. Hulle weier om die armes te help, die sondaars te verdra, vir die ellendiges te sorg, met die lydendes mee te ly en vir ander te bid.”
Wie nagmaal gebruik het, se lewe word dus bepaal deur sy verhouding met die Here. Hy bly in Hom, voortdurend, elke dag. Die wonderlike is nou dat hierdie bly in Christus nie net ’n opdrag aan ons is nie, maar ook ’n gawe aan ons. Die Here roep ons nie net op om in Hom te bly nie, Hy belowe ons ook dat Hy in ons sal bly. “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (56) Daarom is die nagmaal ook nie nét maar ’n herinnering aan die kruisdood van Christus nie. Wanneer ons die brood en wyn eet en drink, gebeur daar ook iets, omdat Christus daardeur, deur die werk van die Heilige Gees, Homself aan ons gee, Homself aan ons verbind, soos HK 76 sê: “Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met ... Christus se ... geseënde liggaam verenig te word, dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is...”
Broer en suster, deur die nagmaal ontvang ons die lewe, omdat ons in en deur die nagmaal vir Christus self ontvang. Maar juis omdat ons van Hom die lewe ontvang het, roep die nagmaal ons op om ook nou vir Hom te gaan lewe. “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.”
Amen.
Views: 3



