Eva, die vrou wat alles opgemors het

Genesis 2 tot 4

Eva was nie net verantwoordelik daarvoor dat die mensdom die paradys kwyt is nie; sy het ook die diskriminasie en onderdrukking van geslagte en geslagte vroue deur die eeue op haar gewete. Ek wonder partykeer of sy besef presies hóéveel ellende daardie fatale hap veroorsaak het. Miskien tog. Miskien juis sy, wat beter as enige een van ons besef wat die mensdom en veral die vrouegeslag verloor het toe hulle uit die Tuin van Eden geskop is – sy was tog daar! Miskien het sy haar dade terdeë berou …

Haar hart hamer waarskuwend in haar keel toe sy haar hand uitsteek en aan die vrug raak. Die vrug se skil is blink en glad; die rooi wang vol belofte van heerlike soet sappigheid wat binne-in skuil. Sy sluk die oormaat speeksel wat in haar mond versamel, moeisaam weg en kyk rond, maar niemand sien haar nie. Sy kyk weer, en ruik die soet geur wat om die boom hang. Ja-nee, dis beslis die lekkerste vrug wat sy nog gesien het. Sy kan dit byna proe.
Sy kyk nog ’n keer om en pluk dan die vrug. Dit lê swaar en koel in haar handpalm, vol belofte van heerlikheid en van kennis in hom opgesluit. Een ou happie, net een. Dit kan tog nie so erg wees nie. As God dit gemaak het, moet dit mos goed wees. En om soos God te wees! Hulle sal alles kan ken, hulle eie besluite kan neem … Die moontlikhede verbyster haar.
Die vrug kraak onder haar tande, en sy sap oorweldig haar tong met sy verruklike geure. Dis die lekkerste vrug wat sy nóg geproe het. Gulsig vat sy nog ’n hap, en nog een, totdat sy later met net die stronk in haar hand staan. Sy wens Adam was hier om dit ook te proe. Gelukkig is daar nog ’n ryp vrug vir hom ook. Sonder om verder te dink, pluk sy dit vir Adam en loop af na die rivier waar sy weet hy sal wees.
Adam lyk eers skepties. “Ons mag dit nie eet nie, en jy weet dit,” sê hy streng. “God het gesê die dag as ons dit eet, is ons dood.” Hy kyk agterdogtig na die vrug en raak nie daaraan nie.
“Wel, ek is nie dood nie, is ek?” antwoord sy kordaat. “Jy móét dit net proe. Dis die lekkerste van al die vrugte.” Sy hou weer die vrug na hom toe uit. “Toe, vat ’n hap. Jy sal nie spyt wees nie.”
Hy vat die vrug by haar en bekyk dit versigtig. Sy vinger gly oor die gladde skil.
“Ruik net hoe geurig is dit,” por Eva hom aan.
Hy ruik eers, en dan vat hy sy eerste hap. Sy oë gaan onwillekeurig toe van die behaaglikheid. “Is nogal lekker!” sê hy al kouende, en vat nog ’n hap. Die sap loop in sy baard af. Hy vee dit met sy hande weg, en vee dan sy hande aan sy boude af.
Eva hou hom dop terwyl hy sy hande afvee, en haar gesig trek op ’n verontwaardigde plooi. “Sies, maar jy eet morsig. En skaam jy jou nie om so … so onbedek rond te loop nie, Adam?”
Hy is eers half verbaas, en dan vervies hy hom op die plek. “Waarvan praat jy, Eva? Ek het nog nooit anders rondgeloop nie. Hoekom pla dit jou nou ewe skielik? En in elk geval, jy is net so onbedek soos ek. Hoekom moet ék dit nou skielik ontgeld?”
Eva se mond val oop. Só het Adam nog nooit met haar gepraat nie! Sy wou hom tog net reghelp. Dit was nou regtig nie nodig dat hy so … Sy soek na ’n woord vir Adam se houding, maar sy kry nie een nie. Sy het hom nog nooit kwaad gesien nie, en self was sy dit ook nog nie, altans nie voor vandag nie. Maar dis nie nou die tyd om daaroor te wonder nie. Hulle het ’n probleem wat opgelos moet word. Sy dwing haarself om te glimlag en sê: “Ek weet nie hoekom dit my ewe skielik pla nie, maar ek dink nie ons behoort so te loop nie. Ons moet ’n plan maak om ons te bedek.”
Adam sug, en knik dan. “Goed. Ek dink ons moet blare gebruik. Die vyeboom daar anderkant het lekker groot blare. Ons kan grashalms vleg om die blare om ons lywe vas te bind.”
Daardie aand, toe God soos gewoonlik in die tuin kom wandel, kruip hulle weg, bang om verslag te doen van die dag se gebeure.

***

Eva skud haar kop treurig toe sy aan dié dag terugdink. Sy sal nooit die teleurstelling en woede in God se stem vergeet nie. Vervloekte slang! Hoekom het sy ooit na hom geluister?
Na sy die vrug geëet het was daar soveel nuwe emosies wat sy skielik begin ervaar het, emosies waarvoor hulle aanvanklik nie eens name gehad het nie: woede, agterdog, skaamte, skuldgevoelens, teleurstelling … In haar gedagtes herleef sy dit nog asof dit gister was: Adam wat ewe skynheilig die vinger na haar wys en vir God sê: “Dis die vrou wat U my gegee het. Dis haar skuld. Sý het die vrug na my toe gebring en gesê ek moet dit eet, dit smaak lekker.” Asof hy nie ook soos sy daarvan geëet het nie!
Die vrug hét lekker gesmaak. Maar die nasmaak is bitter, galbitter. As sy dit maar net geweet het, as sy maar net haar ore toegedruk het toe die slang met haar begin praat het, dan was hulle nou nog in die Tuin van Eden.
Sy trek die velmantel wat God vir haar gegee het, stywer om haar skouers. Die wind sny vandag gevaarlik koud oor die vlakte, en selfs in die grot is dit ysig. Waar sou Adam bly? Hy is nou al wie weet wanneer weg om te kyk of hy nie in die veld iets te ete kan kry nie. Vandat hulle uit die Tuin van Eden geskop is, moet hulle elke dag verder en verder na kos soek en vat dit al langer en langer, want die vrugtebome en bessies is maar skaars. Hulle het later selfs in die grond begin krap om te kyk of daar nie ’n knol of ’n eetbare wortel of iets is nie, maar dié is net so skaars. Sy wil-wil hom jammer kry, maar dan skop die ongebore kind woes in haar sodat die pyn momenteel deur haar ruk, en haar jammerte is weg. Hý het haar swanger gemaak, en nou kan hý vir hulle kos soek. Sy wonder hoe lank dit nog sal wees voordat die kleintjie kom. Die maan het nou al nege keer vol geword sedert sy laas bloed gesien het, en dit voel die laaste dag of so of die kleintjie al laer in haar maag afsak. Sy hoop nie hy val uit nie!
Sy wonder hoe die kleintjie gaan uitkom. Sy is baie bang, want God het gesê haar swangerskap gaan swaar wees, en sy sal met pyn kinders in die wêreld bring. Die swangerskap ís swaar, die hemel weet. Eers elke oggend so naar dat sy wou dood, en later die ongemak. Sy weet nie hoe om te slaap nie, want die kleintjie in haar maag is al in die pad. En sy bly kortasem. Sy wens die kind wil kom dat sy weer haar lyf vir haarself kan hê.
’n Kramppyn trek deur haar onderlyf sodat sy onwillekeurig na haar asem snak. Sou dit die begin van die geboorte wees? Waar is daardie vervlakste mansmens as sy hom nodig het?

Berou kom mos altyd te laat. Dit was toe so, en vandag is dit nog steeds die geval. Jy weet voor jou siel dit is verkeerd, en jy weet ook jy gaan agterna spyt wees, maar jy doen dit in elk geval. Dis die misterie van die sonde. Ons verbeel ons die kortstondige genot van die oomblik weeg swaarder as die slegte nagevolge. Of is ons jou werklik waar so onnosel om te glo daar sal nie nagevolge wees nie? Sou Eva regtig die slang geglo het toe hy God se doodsvonnis oor ongehoorsaamheid weggepraat het?




Gebed ná die prediking

Ons dank U, Here, vir u Woord, wat ons vanoggend opnuut weer diep laat nadink. Ons dank U, Here, vir u Wet, wat vir ons die pad aandui waarop ons moet loop. Ons dank U, Here, vir Uself. Dankie dat U dit nog steeds met ons waag, al is ons mense wat u telkemale teleurstel en bedroef.

Gee, Here, vir ons die moed en die wil om anders te lewe, want ons moet bely dat sonder U wat in ons werk, sonder U wat ons gewillig en bekwaam maak, ons nie u wil sal kan doen nie. Gee ons ook die blymoedigheid om met vreugde as u kinders te lewe. Help ons om nie onder die beproewings en versoekings wat oor ons pad kom, te gaan lê nie. Help ons om met blymoedigheid standvastig te bly, omdat ons weet dat U deur alles heen met ons besig is en ons vorm tot bruikbare kinders in u diens.

Ons bid vir hulle wat in hierdie week by ’n oop graf moes staan, vir troos; ons bid vir hulle wat in die week mediese behandeling en operasies moet ondergaan, vir bemoediging en genesing; ons bid vir hulle wat stukkend is omdat die lewe hard en wreed is, vir heling.

Ons bid dat ons oë oop mag wees, dat ons daders van u Woord mag word wat U en ons naaste dien.

Ons bid vir ons kinders, veral hulle wat in hierdie dae eksamens moet aflê. Help hulle om ook in dié beproewing blymoedig te bly.
En nou, Here – word verheerlik in ons lewens!

Amen.




Bybelkarakters – Adam

Die man wat met ’n skoon lei kon begin

Sy verhaal

Hy kyk oorstelp na die wêreld om hom. Daar is oral nuwe dinge. Álles is nuut, en wonderlik. Hy buig af, trek ’n blom nader. Die fluweelsagte pienk blare voel broos onder sy vingers. Versigtig, bang om die blom seer te maak, druk hy sy neus teen die kelk en ruik daaraan. Die sagte soet geur laat hom behaaglik opkyk. “Dis ’n roos,” sê hy beslis.

Behaaglik strek hy hom op die gras onder ’n boom uit en kyk lui hoe die vroegmiddagson helder strepe deur die skadus onder die boom trek. Die lewe is mooi, dink hy terwyl sy oë twee voëls se moeitelose vlug volg. Dis reiers, besluit hy en maak sy oë toe.

As daar net nog iemand soos hy was, iemand met wie hy die wêreld kon deel, iemand om mee te gesels …

Hy word wakker van ’n gekriewel in sy neus, en nies onwillekeurig. Haar klokhelder laggie klink in sy ore, en dis vir hom die mooiste klank wat hy nog gehoor het. Mooier selfs as die voëls se sang. Toe hy sy oë oopmaak, kyk hy vas in haar bruin oë waar sy nuuskierig oor hom buig, haar hare op sy wang. Sy hart gee ’n ruk. Iets so moois het hy hom nooit kon voorstel nie. Versigtig streel hy oor haar wang, en vat dan aan sy eie bebaarde gesig. Dan kan hy nie meer sy opgewondenheid bedwing nie. Hy spring op en gaan voor haar staan, sy hande op haar skouer.

“Uiteindelik! Een uit myself, een soos ek! Ek noem jou ‘vrou’.”

Genesis 2

Pas jy dalk in dié storie?

Ek onthou hoe verlig ek was toe ek na ses jaar in my eerste gemeente ’n beroep gekry het. Ek kon wegkom van al die foute wat ek gemaak het, en voor begin, hopelik dié keer met ’n bietjie meer wysheid en ervaring. ’n Jaar of wat later het ek besef dat nuut nie vir altyd is nie. Dit gaan oor, en soos die nuut begin verweer, so word jou lewensblaadjie maar weer vol geskryf, én sluip daar onvermydelik maar weer foute in. Miskien nie altyd dieselfde foute nie, maar foute is daar.

Laat ons dit tog maar aan onsself erken: aan hierdie kant van die graf sal ons bly foute maak. ’n Nuwe blaadjie gaan ons nie daarvan vrywaar nie, en ons gaan net soos Adam ook weldra foute maak. Of miskien moet ek nie sê net soos Adam nie; miskien moet ek sê omdat Adam. Omdat Adam nie sy blaadjie kon skoon hou nie, kan ons ook nie, want ons is kinders van Adam, wat die sondesmet by hom geërf het.

Hoe nou gemaak?

Miskien moet ons daarom nie droom van die nuwe, skoon lei wat ná Adam se streke vir altyd vuil gekrap is nie. Miskien moet ons eerder begin werk maak van die lei wat ons het. Of dan: toelaat dat God werk maak daarvan. In 2 Korintiërs 5:17 belowe Hy ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Letterlik staan dit in die Grieks dat so-iemand ’n nuwe skepping is, so nuut soos Adam! Jy kán die man in hierdie storie wees, wat met nuwe oë alles om jou sien, wat met nuwe verwondering na jou vrou kyk en weer raaksien hoe wonderlik vróú sy is. Wat met nuwe moed jou tienerseun se nukke kan hanteer. Wat met nuwe entoesiasme jou werk aanpak.

Ek dink dit is wat die digter in Klaagliedere 3:21-33 ontdek het. Lees dit biddend deur, en staan op om as ’n nuutgemaakte mens met ’n skoon lei te begin!

Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.
Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
laat hy hom diep verootmoedig
—miskien is daar hoop—
laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie;
as Hy beproewing oor ’n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.



Hoe moet ek dit verstaan? 22

God wou Moses doodmaak

En op pad, by die oornagplek, het die HERE hom teëgekom en hom probeer doodmaak. Toe neem Sippora ‘n vuursteen, besny haar seun en raak sy voete daarmee aan en sê: ‘Jy is vir my ‘n bloedbruidegom.’ Toe het Hy hom met rus gelaat.
Eks 4:24-26

Hierdie is ’n baie vreemde en raaiselagtige gebeurtenis, wat ek nie nou volledig kan behandel nie. Maar ek dink die hoofgedagte is dat die HERE Moses wil gebruik as leier om sy volk uit Egipte uit te lei. Maar op pad terug Egiipte toe keer die HERE hom voor omdat hy ongehoorsaam was aan die bevel om sy seuns te besny. Dit sou ondenkbaar wees dat hy self ongehoorsaam is aan een van die mees basiese bepalings van die verbond.

Ons weet nie hoekom Gersom nie besny is nie. Dalk omdat Sippora, ’n Midianiet, nie daarvoor geneë was nie? Of dalk omdat Moses die besnydenis uitgestel het? Die teks gee ons nie ’n antwoord hierop nie.

Moses se voete is waarskynlik ’n eufemistiese verwysing na sy geslagsdele. Deur die bloed van Gersom se besnydenis red Sippora nou vir Moses deurdat sy die verbondseis wat Moses nagelaat het, nagekom het.

Dié gebeurtenis staan opgeteken om ons te herinner dat God se uitverkore werktuie nie bokant die eise van die verbond staan nie. Hoe groter die roeping, hoe groter die verantwoordelikheid. Jakobus skryf later (Jak 3:1) dat leiers strenger as ander beoordeel word: “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”

Samevattend kan ons sê:
• God neem sy verbond ernstig op.
• Gehoorsaamheid begin by die leier.
• God se genade hef nie sy heiligheid op nie.
• Die teken van die verbond is nie bloot simbolies nie; dit vra verbondstrou.
• Sippora tree onverwags op as die een wat deur haar daad Moses se lewe red.




Gen 13:1-18 OM DIE ONSIENLIKE TE SIEN

Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Want rykdom en besittings het die manier om in jou hart te kom kruip, en só diep in jou hart in te kruip dat dit later jou optrede bepaal. Dit is ook wat hier in ons teksgedeelte gebeur het. Abram en Lot het ryk geword in die land Kanaän. Vers 2 en 5 spel dit pertinent vir ons uit: (lees dit)

En toe, soos dit maar gaan, het daar spanning ontstaan tussen Abram se mense en Lot s’n. Daar was net nie genoeg plek vir hulle albei nie. Die oorvloed van hulle besittings het begin om probleme tussen hulle te veroorsaak.

Nou laat ek sommer dadelik sê: As sodanig is daar natuurlik niks verkeerd met baie besittings en rykdom nie. Ook dit is gawes wat God in sy goedheid vir ’n mens kan gee. Tog leer die ervaring dat dit nie in die praktyk altyd so glad werk nie. Besittings dra inherent die kiem van versoeking met hom saam. In ons mensehande groei dit uit tot ongesonde proporsies. Dit vang ons vas en vul ons lewe sodat, voor ons ons kom kry, ons nie meer leef vir God en ons naaste nie, maar vir onsself en teen Hom en ons naaste. Dit is presies wat hier in ons teksgedeelte gebeur met Abram en Lot. Hulle mense begin onder mekaar stry, onder mekaar wedywer om die beste te kry. Onder die veewagters het die reël gegeld: Elke man vir homself. En as die ander een nou in die proses seerkry, is dit jammer, maar ongelukkig is dit nou eenmaal hoe dit gaan in die wêreld. Die lewe is hard, ou broer.

Julle sal weet, dit is nie so onbekend in ons eie tyd nie. Dit gaan so in die sakewêreld – die groot maatskappye druk eenvoudig almal uit die pad om die monopolie te bekom; dit gaan so in die verhoudingslewe – ’n persoon van wie ek nie van hou nie, loop ek uit die pad, ek sorg dat ek genoeg skietgoed kry om hom in die grond in te boor as die geleentheid hom voordoen; dit gaan helaas vir baie mense ook so in die politiek – ek eis alles in hierdie mooi land van ons vir myself en my eie mense op. Daarom ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe in die land. Daarom is daar iets soos xenofobie.

Wat doen Abram dan? Abram tree na vore as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid. Hy wil tot elke prys ’n getwis vermy. Dis nogal baie anders as wat ons hom leer ken het in Gen 12. Daar dink hy net aan homself, vertel leuens oor sy huwelik met Sarai, net om sy eie bas te red, met die verskriklikste gevolge vir die mense van Egipte – gaan lees weer Gen 12! Maar hier sien ons ’n ander Abram. Abram het gaandeweg, ook deur sy eie foute en sonde (Gen 12!) geleer om anders oor die dinge te dink. Ons sien Abram hier as ’n man van vrede, ’n man wat vyandskap en onmin tot elke prys wil vermy.

So terloops, daar is rede om te vermoed dat hierdie gedeelte so pertinent hier vertel word as ’n waarskuwing, ’n les aan die latere konings van Israel wat dikwels baie bloeddorstig was, wat oorlog en geweld as die enigste oplossing vir hulle politieke probleme gesien het – die soort standpunt wat ’n mens vandag nog by party mense hoor.

Gen 13 is opgeteken om vir die konings van Israel te leer: Daar is ook ’n ander manier om jou sake te hanteer. Konfrontasie is nie die enigste oplossing nie, en beslis ook nie die Bybelse oplossing nie. Ons sien vir Abram hier as ’n man van vrede, wat onmin en vyandskap tot elke prys wil vermy.

Die rede vir Abram se optrede lê in sy verstaan van sy roeping. God het vir Abram in Gen 11 geroep om ’n seën vir die nasies te wees. En nou lees ons hier in 13:7: “Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon.” Daarom wil Abram tot elke prys ’n getwis vermy: ter wille van sy roeping in hierdie wêreld, ter wille van sy getuienis, ter wille van die seën wat hy moes uitdra na die nasies, ter wille van God! Daarom was hy bereid om homself en sy belange tweede te stel. Omdat Abram met God en met God se doel met sy lewe erns gemaak het, kies hy die pad van versoening in hierdie wêreld, ook al moes hy baie in die proses (op tydelike gebied in elk geval) inboet.

Lot het hom nie gesteur aan hierdie dinge nie; met sy geloof het sy keuses in die lewe in elk geval niks te doen gehad nie. Maar dis weer ’n preek op sy eie. Lot kies ewe selfsugtig die beste deel vir homself. En dit terwyl dit tog die senior persoon se voorreg was om te kies. Lot kies ’n gebied wat so volop water het “soos ’n tuin van die Here”, en Abram sit met ’n stuk droë, half-woestynland oor. Soos die bekende Engelse gesegde lui: “Nice guys come second!”

En tog – so staan dit in 13:14 – na dit alles sê die Here vir Abram: Kyk tog rond … na alle kante. Alles wat jy sien, gee Ek aan jou en jou nageslag. Dít is die troos en die oorwinning van die geloof. Dat God vir jou sorg. Dat Hy na jou omsien, dat Hy jou belange behartig, dat Hy self jou sake bestuur.

Abram kon grootmoedig wees, onselfsugtig wees, omdat hy God se hand gesien het, omdat hy God vertrou het, God se beloftes vasgehou het. Omdat hy geweet het God sal sorg. Hier sien ons geloof, soos die Hebreërskrywer baie jare later sê, wat die Onsienlike sien; geloof wat weet dat die lewe meer is as kos en klere; geloof wat weet dat ‘n mens nie regtig leef van brood (of besittings of enigiets wat geld kan koop) alleen nie, maar van die Woord en die beloftes van God.

Abram het nog net beloftes gehad, en tog was dit vir hom genoeg om sy lewe en sy besluite daarvolgens in te rig. Ons het soveel meer as Abram. Ons het immers die bewys dat God ons liefhet en ons nooit in die steek laat nie: Jesus Christus, Immanuel, God met ons!

Amen.