Hagar

Die vrou wat ’n groot kop gekry het

Genesis 16

Snaaks hoedat party mense hulleself kan verhef oor sake wat geen prestasie van hulle eie is nie. Die skreiendste hiervan is seker wanneer ’n vrou wat nooit enige probleme gehad het om swanger te word nie, meerderwaardig praat oor dié of daardie vrou wat mos nie kinders kan hê nie of tog so sukkel om swanger te word, siestog, so asof dit hulle eie goedheid is wat kinders in hulle skoot geplaas het. Ons lees op twee plekke in die Bybel van sulke vroue: Peninna, die tweede vrou van Elkana, die profeet Samuel se pa (1 Samuel 1); en dan ook Hagar, die slavin van Sarai. Albei het groot koppe gekry omdat húlle kinders kon hê terwyl hulle mans se eerste vrou kinderloos was. (Dit laat ’n mens nogal wonder hoe op aarde party mense deesdae weer kan pleit dat poligamie gewettig moet word! Maar dit net so terloops.)

***

Sy was al lankal jaloers op mevrou Sarai, dit erken Hagar ruiterlik aan haarself. Nie soseer omdat sy ’n slavin is en mevrou Sarai vry nie; dit sekerlik ook! Maar veral omdat Mevrou die wonderlikste man het. Meneer Abram het sulke sagte oë. Sy het dit al die heel eerste dag gesien, toe die farao haar daar in Egipte aan Mevrou gegee het as slavin. Meneer Abram is ’n goeie man, van die puntjie van sy groottoon tot op die kroontjie van sy grys kop. Hy sal nie ’n vlieg seermaak nie. En hy was altyd hoflik met haar, al is sy ’n slavin. Hulle het mekaar dikwels gesien, want sy moes Mevrou altyd help met haar klere en met die kamer en so. En dan, as Meneer so liefdevol met Mevrou gepraat het, of aan haar wang gestreel het, of haar gesoen het voordat hy weggaan, wou sy skree van frustrasie. Maar sy het nie, want sy is ’n slavin en sy moet haar plek ken.
Maar nou is al dié dinge iets van die verlede. Sy kan haar geluk skaars glo. Meneer het haar as byvrou geneem, en wanneer hy saans na haar tent toe kom, is sy liefdevolle aanraking háre. Weliswaar net vir kort rukkies op ’n keer, maar dis al ’n begin. Sy glimlag by haarself. Ja-nee, sy is nie so ’n treurige vrou soos Mevrou nie. Hoe lank is Mevrou al Meneer se vrou? Sy weet nie eens nie, maar dit moet baie lank wees. En in al daardie jare het Mevrou nie eers een keer swanger geword nie. Nie eers soveel as ’n miskraam nie! Niks. En hier is sy, skaars ’n maand lank Meneer se byvrou, en haar maandstonde het al klaar weggebly. Vanoggend was sy naar ook, so sy wéét. Sy gaan Meneer se eersteling in die wêreld bring. Sy weet sommer dit gaan ’n seunskind wees, groot en sterk en wild soos sy. En dan, as hy eers die erfgenaam van Meneer se skatte is – en daar is baie, meer as wat sy ooit kon droom een mens kan besit – dan sal sy wat Hagar is soos ’n koningin lewe.
Sy sit die wasgoed van Mevrou neer en kyk op na waar haar meneer se skape wei. Sy probeer die trop tel, maar laat dit later vaar. Daar is te veel om te tel. En dan is daar nog die donkies, en die kamele, en die beeste, om nie van al die slawe te praat nie … Sy vryf oor haar buik, en glimlag weer. Die baba wat sy dra, gaan van haar ’n skatryk vrou maak.
Sy kyk na die bondel wasgoed voor haar, en daarvandaan op na Mevrou se tent. Haar mondhoeke trek af van die bitterheid. Hoekom moet sy wat Meneer se eersteling verwag, sy wat die ma van die erfgenaam gaan word, hoekom moet sý nog met sleurwerk soos wasgoed opgesaal wees? Wat is Mevrou beter as sy?
Sy staan van haar knieë af op, bondel die wasgoed in haar arms en loop na Sarai se tent. Dinge sal nou moet verander en sommer gou ook! “Sarai!” roep sy, haar stem skril.
Sarai kom verbaas by die tent uit. “My goeiste, Hagar, is jy tog nie al klaar met die wasgoed nie?”
“Nee. Ek het nog nie begin nie,” antwoord sy bitsig, en gooi die wasgoed met ’n groot gebaar in die stof voor die tent neer. “Ek het besluit ek is nie langer jou meid nie. Jy kan dit self gaan was.”
Sarai word bleek. “Hoe durf jy so met my praat!”
Hagar vou haar arms voor haar bors en kap terug: “Ek kan maak soos ek wil. Ek verwag Meneer se seun, en dis meer as wat jy ooit sal kan sê. So moenie dink ek gaan langer enige snert van jou vat nie. Verstaan ons mekaar?”
“Nee, Hagar, ons verstaan mekaar glad en geheel nie,” antwoord Sarai, nou kalmer nadat die eerste skok effens bedaar het. “Ek is bly om te hoor jy het so gou swanger geword, want dan is dit nie meer nodig dat Meneer saans by jou tent ’n draai maak nie. En verder moet jy een ding sommer baie gou verstaan, ou sussa: die feit dat jy verwag, maak jou nie my speelmaat nie. Jy is my slavin, en dit is wat jy sal bly, verwagting of te not.”
Hagar trek haar asem in om ’n antwoord terug te blaf, maar Sarai is al halfpad terug in haar tent in. Met die wegloop sê sy: “Daardie wasgoed is nie skoon nie, sien ek. Jy beter dit skoon kry voor vanaand, want dit lyk my daar kom reën aan.”
“Ek sal my nie langer laat rondstoot deur ’n onvrugbare ou bok nie!” skree Hagar. “Ek is ook Meneer se vrou, ’n régte vrou wat vir hom kinders sal gee. Ek hoef nie na jou gesanik te luister nie.” Met dié draai sy op haar hak om en loop kop in die lug weg.

***

James Dobson het gesê: “Verwaandheid is ’n eienaardige siekte. Dit maak almal siek, behalwe die een wat dit het.” Maar dis nie heeltemal waar nie. Verwaandheid tas tog die een met die groot kop óók aan. Dit verwring haar perspektief. Sy sien net haar eie kant van ’n saak. Ander se gevoelens en motiewe tel nie. Sy word ’n heldin in haar eie oë, en die mense om haar word die uitvaagsels, die minderwaardiges, die onwaardiges. Daarom hoef sy nie meer ander met respek te behandel nie, want hulle is dit nie werd nie. Net sý, die grote deurlugtige, is al die respek en eerbied waardig. Verwaandheid is sowaar ’n snaakse siekte!




Lot se dogters

Hulle het hulle dilemma op die verkeerde manier opgelos

Genesis 19:29-38

Lot se dogters het ’n baie groot probleem gehad. Ná die ramp wat hulle ma se lewe geëis het, het hulle pa ’n kluisenaar geword en in die berge gaan wegkruip. In ’n samelewing waar jou pa namens jou onderhandelings met die oog op ’n huwelik moes aanknoop, is dit bykans onmoontlik om getroud te kom as jou pa in ’n grot woon en weier om uit die berge pad te gee …

***

“Wat gaan van ons word, Ousus?” wil sy die soveelste keer weet. Haar stem bewe.
“Ek weet nie. My kop is al stukkend gedink, maar ek kry nie ’n oplossing nie. Al wat ek weet is dat ons mans sal moet kry, want as ons nie kinders het nie …” Sy maak nie haar sin klaar nie, maar dis ook nie nodig nie. Sonder kinders het jy nie ’n toekoms of ’n oudag om voor te wag nie, en niemand wat na jou sal omsien as jy swak en oud is nie.
“Wel, óns sal iets moet doen. Jy en ek. Want Pá gaan nie vir ons mans kry nie. En daar is niemand anders wat ons kan help nie. In elk geval nie hier in die berge nie. Ek weet nie wanneer laas ek ’n ander mens gesien het nie.” Sy kyk moedeloos na die grot waar hulle pa in ’n patetiese bondeltjie voor die vuur sit en bewe. “As Ma net hier was! Sy sou geweet het wat om te doen.”
“As Ma hier was, was ons nie nou in hierdie penarie nie. Dis net vandat sy dood is, dat Pa so snaaks geword het. Weet jy dat hy die anderdag vir my Mamma gesê het. Hy het na my gekyk asof ek Ma is, en toe vir my probeer soen! Ek het so groot geskrik, ek het sommer weggehardloop.”
“Siestog, jong. Pa mis Ma baie. Hy was baie lief vir haar.”
“Ek weet. Dis agter háár aan dat hy besluit het om in Sodom te gaan woon. Oom Abraham was destyds baie ontsteld daaroor, maar Ma wou niks weet nie, en Pa het maar ewe gedwee gemaak soos Ma gesê het.”
“Wat dink jy sou Ma gemaak het as sy hier was?”
“Ek weet nie. Maar miskien …” Sy kry ’n veraf kyk in haar oë, en ’n halwe glimlag speel om haar mondhoeke.
“Miskien wat? Vertel, jong!” por haar jonger suster haar aan toe sy nie dadelik verder praat nie.
“Pa mis Ma baie. Dit weet ons albei.”
“Ja, maar hoe gaan dit ons help om mans in die hande te kry?”
“Maklik! Ons maak of ons Ma is, en dan slaap ons by Pa, en dan kry ons by hóm kinders!”
“Ag nee sies man! Dis ’n walglike plan. By Pá slaap? Nooit.”
“Het jy ’n beter plan?”
“Nee, maar dis g’n stuk ’n plan wat jy het nie. Dis ’n siek besigheid, dis wat dit is. En buitendien, Pa sal sy fout agterkom lank voordat … jy weet wat.” Sy bloos verleë by die gedagte.
“Hy sal niks agterkom nie, want ek gaan hom eers dronk maak. Nou nie té dronk nie, want hy moet darem nog sy ding kan doen, maar dronk genoeg om nie mooi te weet wat is wat nie.” Sy vryf haar hande teen mekaar, ingenome met haar blink idee. “Ek onthou nog hoe Ma hom altyd so in die nek gebyt het. Dit maak hom rasend, het Ma my eenkeer vertel. Net vanaand nog doen ek dit ook. Pa sal nie weet wát hom getref het nie. Ek wonder hoekom ek nie al lankal daaraan gedink het nie?”

***

Lot se dogters was nie regtig in ’n doodloopstraat nie. Daar was altyd die moontlikheid dat hulle hulle kon beroep op hulle oom Abraham se goedhartigheid. Hy het hulle tog al by ’n vorige geleentheid ook gehelp, die keer toe hulle as slawe gevang is deur Kedorlaomer se manne (Genesis 14). Hy sou beslis vir hulle goeie mans kon kry.
Hoekom hulle teen dié uitweg besluit het, weet nugter. Miskien is dit die aanvaarbaarste om te sê as jy in die noute is, kan jy maklik ’n dwase uitweg kies. ’n Benoude kat maak benoude spronge, sê die spreekwoord. Daarom is dit so belangrik dat ’n mens jou keuses biddend moet maak, sodat die Heilige Gees jou in jou besluite kan lei, soos Dawid in Psalm 16:8 (ou vertaling) gesê het: “Ek stel die Here altyddeur voor my. Omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.” Anders kan jy lelik struikel, soos Lot se dogters …




Lot

Die man wat net aan homself gedink het

Sy verhaal

Hy sug, en stap met ’n swaar gemoed na sy nefie toe. Hy het vir Haran op sy sterfbed belowe dat hy na sy seun sal omsien, en hy het tot nog toe sy belofte gestand gedoen. Maar langer sal hy nie kan uitstel nie. Eliëser het hom nou al van die soveelste rusie tussen sy veewagters en Lot s’n kom vertel, en die rusies word al hewiger. Daar is net nie genoeg weiveld en suipplekke vir al hul vee nie.
“Oom Abram?” vra Lot verras toe hy by sy tent inbuk.
“Ek wil met jou praat oor ons blyery hier, Lot,” begin hy huiwerig nadat hy sy beker bokmelk gedrink het. Toe Lot nie reageer nie, gaan hy voort: “Ons kan nie so aangaan nie. Daar is gedurig rusies tussen my mense en jou mense.”
“Ja, ek hoor juis vanoggend by Ptuhpah dat dinge gister weer lelik skeefgeloop het by Aner-se-put. Dit was so hittete of die bloed het geloop,” beaam Lot.
“Ja. Dis wat my pla, Lot. Dit hoort nie so nie. Ons is tog familie.”
Lot kyk hom berekenend aan. “Het Oom ’n oplossing?”
Hy trek sy skouers op. “Wel, ou seun, die land is groot en wyd. Miskien moet ons maar ’n entjie uitmekaar trek, sodat daar genoeg weiding en water vir ons diere kan wees.”
“Oom bedoel …?”
“Ja, ou seun. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; as jy regs gaan, gaan ek links. Kom ons stap na die koppie hier agter, dan kan ons mos mooi kyk hoe die land lê, en goed besluit wie waar gaan woon.”
Toe hulle bo-op die koppie staan, draai Lot na die Jordaanvallei se kant toe. Agter hom is dit vaal en droog, en voor hom lê die wêreld geil en groen, al met die vallei langs tot by Soar. Hy beduie na die Jordaan. “Ek sal daardie deel vat.”
So besig is hy om na sy toekomstige tuiste te kyk, dat hy glad nie die seer in sy oom se oë opmerk nie toe dié antwoord: “Dan is dit goed so, ou seun.”

& Genesis 13

Pas jy dalk in dié storie?

’n Mens kan jou nogal verbaas oor hoeveel mense bereid is om op te offer as dit om eiebelang gaan. Soos Lot. Hy offer nie net sy oom se belange (en ook sy vriendskap en ondersteuning) op nie; hy offer ook die beloofde land op ter wille van die voordeel wat hy uit Sodom kan trek. Later sou hy leer dat die offer veel groter is as waarop hy gereken het – sy gemoedsvrede, en uiteindelik ook sy vrou en sy goed (Genesis 19). Ons lees in 2 Petrus 2:7,8 dat Lot “… gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed.” En tog bly hy in Sodom!
Laat ons dit maar erken: selfsug sit diep in elkeen van ons se harte, en verlei ons dikwels om die verkeerde keuses te maak en die verkeerde dinge te sê. Wanneer selfsug die oorhand kry, vergeet ons van ander en hulle belange en gevoelens, loop ons bo-oor ander.

Hoe nou gemaak?

Die Bybel is nogal nie onduidelik oor hierdie saak nie. Jakobus 3:14-16 sê: “Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.” Dis eers as die vrug van die Gees van God in ons lewens begin groei, dat hierdie bose ingesteldheid oorwin kan word. Die heel eerste aspek van hierdie vrug, sê Paulus in Galasiërs 5:22, is liefde. En in 1 Korintiërs 13:5 sê Paulus onder andere van die liefde: dit “soek nie sy eie belang nie”.
Die hele wêreld skree elke dag vir ons dat ons in eie belang moet optree. ’n Gelowige wat verstaan dat God vir hom sorg, kan maak soos Abram daardie dag gemaak het toe Lot gulsig die beste deel vir homself gegryp het: terugstaan, eie belang op die agtergrond skuif, en ruimhartig wees.




Lot se vrou

Te verknog aan haar goed

Genesis 19:1-28

Materialisme is die wêreldbeskouing waarin die waarde van alles en almal in terme van geld en rykdom gemeet word. Op ’n manier is ons almal kinders van ’n materialistiese samelewing, en daarom kom ons dikwels nie eers agter dat ons óók ’n prooi van hierdie siek verskynsel geword het nie. ’n Ryk man van die bodorp sal ook by óns meer respek en agting kry as die versukkelde man van die onderdorp, nie omdat hy noodwendig ’n beter mens is nie, maar bloot omdat sy geld en blyplek aan hom groter status gee. In die fliek “Fiddler on the Roof” sing Tevje daarvan in die liedjie “If I were a rich man”. Hy sê as hy ryk was, sal almal na hom kom vir raad, nie omdat hy slim is nie, maar, sê hy, as jy ryk is, dink mense jy is wys ook …

***

“Maak nou gou, Vrou!” por Lot haar vir die soveelste keer aan, maar sy laat haar nie aanjaag nie. Dis háár huis, en háár goed. Sy kyk weer om haar in die vertrek. Die dowwe lig van die lampies laat die skadu’s dans op die kosbaarhede wat sy op die tafel gepak het. Haar hele lewe lê voor haar uitgestal. Daar is die fyn porselein wat sy uit Tirus laat kom het, en die pragtige koperbeeldjie wat sy in die mark in Jerusalem gekoop het toe sy eenkeer saam met Lot daar was. Haar hand gly liefderik oor die bonkige tafel van sederhout, ingevoer uit Libanon.
“Dis al byna sonop!” kom Lot se stem, half histeries hierdie keer. “Die mans sê as ons nie nou gaan nie, kan ons dit maar los.”
“Is Kedar en Logmar al hier?” Dis hulle dogters se verloofdes. Lot het hulle gewaarsku dat die stad verwoes gaan word en gevra om saam met hulle te vlug.
“Nee. Maar ons kan nie langer wag nie.” Hy kyk half verdwaas na die goed wat sy bymekaargeskraap het. “Hoe dink jy gaan ons dit alles saamgeneem kry? Dis minstens tien donkievragte!”
Sy trek haar skouers op. “So? Jy het genoeg donkies.”
Haar man kom voor haar staan en sit sy hande op haar skouers. Hy skud haar asof hy haar tot haar sinne wil ruk. “Daar is nie tyd om die donkies te gaan haal nie. Ons moet nóú gaan, en nie ’n oomblik later nie.”
Sy vou haar arms voor haar bors en maak haar rug styf. “Ek gaan nêrens sonder hierdie paar goedjies nie, en dis klaar!” Sy skud sy hande van haar skouers af en tel die wynkruik met die fyn druiwemotief van die tafel af op. “Weet jy hoeveel ek hiervoor betaal het? Dertig sikkels silwer! En jy wil hê ek moet die net so agterlaat, dat ander kan kom en dit kan vat?” Sy skud haar kop beslis. “Nee, my man, hierdie kruik en al hierdie goed gaan saam, en klaar!”
Lot lig sy hande pleitend op. “Maar verstaan jy dan nie …”
“Ek verstaan maar alte goed. Twee wildvreemde mans kom by ons aan en praat allerhande stories van Sodom en Gomorra wat verwoes gaan word, en jy vreet dit vir soetkoek op. Nou moet ons in die middel van die nag die hasepad kies, nugter weet waarheen.”
“Dis nie wildvreemde mans nie, en jy weet dit. Dis boodskappers van God self.”
“Dis wat jý sê. En jy sal eerder ons twee dierbare dogters opoffer as om hierdie vreemdelinge aan die stadsmense uit te lewer. Ek kry nou nog die ritteltit as ek net daaraan dink. Gelukkig het die stadsmense mannelyf gesoek, anders was ons dogters …”
“Moenie nou weer daarmee begin nie, Vrou! Ons moet gaan.”
“Ja, ja, ek weet, anders word ons saam met die stad verwoes, soos jou kosbare gaste beweer,” val sy hom in die rede, haar stem moeg. “Ek weet nie of hulle van God kom en of hulle die waarheid praat nie. Dit traak my nie wie hulle is nie. Al wat ek weet, is dat jy van my verwag om álles wat vir my lief en dierbaar is, net so te los. Alles. Hoe kan jy dit van my vra?” Sy tel een van die fyngeweefde onderklede van die hopie op die tafel af op en druk haar gesig daarin om die trane te smoor.
“Ons het nie nou tyd om hier te staan en ginnegaap nie. Ons moet uit die stad uit, en sommer nóú.”
“Kry dan minstens vir ons ’n paar donkies, dat ons my goed kan saamvat.”
“Ons kan weer vir jou goed koop. Maar dan moet ons lewendig uit dié plek kom voordat die Here se toorn losbars.”
Een van die vreemdelinge – sy verbeel haar hy het homself voorgestel as Migael – kom in die vertrek in. Hy maak die hortjies oop en beduie na die horison, waar die donkerte aan die wyk is voor die nuwe dag. “Kom nou!” sê hy dringend vir Lot. “Vat jou vrou en jou twee dogters en kom, anders sterf julle almal saam met die stad.”
Sy gaan sit in een van die stoele – ’n pragtige riempiestoel met ivoor inlegsels – en kruis haar bene voordat sy vir Lot sê: “Sê vir hierdie man ek is nog nie gereed nie. Ek sal kom sodra jy die donkies vir my gaan haal het.”
Net toe kom die ander man ook die vertrek in, met hulle dogters agter hom aan. “Dis tyd. Julle móét nou gaan,” sê hy beslis.
“Sê vir hulle, Lot!” Haar man kan tog so swak wees as daar druk op hom is.
Maar die manne se geduld is op. Hulle trek haar aan die arms uit die stoel uit op en sleep haar agter hulle aan, die huis uit.
“My goed!” kerm sy, maar hulle hoor nie.
Toe hulle buite die stad is, sê Migael: “Vlug vir julle lewe! Maak dat julle hier wegkom voordat die oordele van die Here die stad tref! Moenie êrens langs die pad stop om te rus nie. Moenie eens omkyk nie, want dan sal die toorn van die Here julle ook tref! Sorg dat julle in die berge kom, want daar sal julle veilig wees.”
“Asseblief tog, Meneer,” soebat Lot, “ek en my vrou is nie meer jonk nie. Ons sal nooit die berge betyds haal nie. Kan ons nie maar net tot by die klein dorpie daar anderkant vlug nie?”
“Goed,” sê die man, “vlug dan maar soontoe. Ek sal die dorpie ter wille van julle spaar.”
“Dankie, Meneer,” sê Lot, sy stem pateties.
Sy talm nog, want met dié dat die mans hulle so hardhandig uit die stad geboender het, het sy op die ou end niks met haar saamgebring nie. Maar Lot is vreesbevange, en sleep haar aan haar arm agter hom aan. “Kom, Vrou, jy het gehoor wat die mense sê!”
“Gaan jy solank met die meisiekinders vooruit. Ek móét my nuwe kleed gaan haal. Ek kan nie só kaal padgee nie.”
“Nee, Ma, ek gaan saam met Ma,” laat hulle oudste hoor. “Ek gaan nie sonder Kedar nie.”
Maar Lot wil nie hoor nie. Hy sleep hulle behoorlik agter hom aan, asof iets hom jaag.
“Jy maak my seer!” kla sy.
“As jy belowe om nie om te draai nie, sal ek jou nie so hoef te trek nie.” Kortaf, asof hy vir haar kwaad is of iets.
“Gee jy dan nie om dat alles wat vir ons lief en dierbaar is, in Sodom agterbly nie?”
“Júlle is al wat vir my lief en dierbaar is. Die goed in Sodom is net goed. Vervangbaar. Maar julle nie.”
Hulle is al naby die dorpie toe Lot uiteindelik haar hand los, en sy haar kans kry. Sy maak of sy haar sandaalgespe vasmaak, sodat hy ’n entjie voor haar uit stap. Toe spring sy om en hardloop terug na haar huis en haar goed. Lot verstaan nie. Hy is ’n mansmens; hy sal nooit verstaan nie. Daar is so baie van die goed wat sy net eenvoudig móét gaan haal.
Sy het seker so ’n honderd treë gehardloop toe die wêreld om haar begin vergaan. Groot skeure verskyn plotseling oral in die aarde, en rook borrel daaruit. Sy sal moet gou maak, voordat haar goed vir altyd onder die grond verdwyn. Sy gee nog ’n paar haastige treë, en steek dan verskrik vas as ’n kolom vuurwarm lawa reg voor haar uit die grond spuit. Dis skielik so verskriklik warm, asof die lug om haar aan die brand geslaan het …

***

Materialisme is so oud soos die berge self. In Jakobus 2:1 e.v. kla Jakobus die gemeente oor hierdie einste saak aan, en in die verhaal van Lot se vrou sien ons hoe gevaarlik dié sonde is. As jou geld en goed jou baas is, tas dit jou oordeel aan en maak dit dat jy die domste dinge aanvang. G’n wonder nie dat Jesus ons waarsku dat ons nie God én Mammon kan dien nie (Matteus 6:24)!




Abram

Die man wat ’n witleuen vertel het

Sy verhaal

SAKEMAN UIT EGIPTE GESIT
MEMPHIS. – ’n Skatryk Semitiese donkiehandelaar, Abram seun van Tera, is gister met vrou en besittings en al gedeporteer. Die uitsettingsbevel is deur die farao self uitgereik nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Abram en die farao ontstaan het.
Abram se beeldskone vrou, Sarai, was volgens ingeligte bronne in die paleis die oorsaak van die breekspul. Na wat verneem word, was die farao, wat alom bekend daarvoor is dat hy ’n oog vir mooi vroue het, onder die indruk dat Sarai Abram se suster is, en hy was van voorneme om met haar te trou. Nadat sy egter in sy harem opgeneem is, het die een ramp na die ander die paleis getref. Die farao het onraad vermoed en Abram gekonfronteer. Dit kom toe uit dat Abram self die storie versprei het dat Sarai sy suster is, omdat hy vir sy lewe gevrees het. Hy was glo bang iemand vermoor hom om sy vrou in die hande te kan kry!
Kenners het hulle verbasing uitgespreek oor die feit dat Abram toegelaat is om sy besittings saam te neem. ’n Aansienlike deel daarvan is naamlik geskenke wat die farao nog vir hom gegee het toe hy Sarai die hof gemaak het. “Dit moet ’n merkwaardige vrou wees dat die farao haar én haar man se lewe gespaar het ten spyte van die vernederende ervaring,” het een van die paleisamptenare gesê.

Genesis 12:10-20

Pas jy dalk in dié storie?

’n Mens skrik so half as jy dié berig lees. Was Abram dan nie die man wat met groot geloofsmoed uit sy land en van sy mense af weggetrek het, die vreemde in, net omdat God dit beveel het nie? Hoe op dees aarde kon dit gebeur dat ’n geloofsreus soos hy so lelik kleitrap as dit by die waarheid kom?
’n Mens skrik, want jy besef: selfs die grootstes onder die grotes is nie immuun teen die verleiding van die sonde nie. Jy val makliker vas as wat jy dink. As dit met Abram kon gebeur, wie is ons dan …
Terwyl ek dié verhaal gelees het, het ek verleë teruggedink aan ’n insident in my hoërskooljare, toe ek my wiskunde-onderwyser verseker het dat ek wel die somme op ’n los vel papier gedoen het, maar dat ek dit by die huis vergeet het. Die waarheid was dat ek nie gedink het dit was huiswerk toe hy gesê het ons moet voorbeelde van die bewerking tuis gaan oefen nie, want ek het die berekening heel goed onder die knie gehad. Sou die waarheid my nie beter gehelp het daardie oggend nie? Sou die waarheid Abram en Sarai nie baie verleentheid gespaar het daar in Egipte nie?

Hoe nou gemaak?

Ons lewe nie in ’n wêreld waarin daar ’n hoë premie op die waarheid gestel word nie. Elke liewe dag van ons lewe word ons met leuens gepeper: deur die advertensiebedryf, verkoopsagente, die politici, die media. Jy weet later nie meer wat jy moet glo nie. In die howe is die eed van “die waarheid, die hele waarheid en niks anders nie as die waarheid” wat getuies moet aflê, ’n klug. G’n wonder Pilatus trek sy skouers oor hierdie saak op en vra: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38) in Jesus se verhoor nie!
’n Soektog deur die Bybel na die woord “waarheid” lewer nogal interessante resultate op. In die Nuwe Testament is dit veral die Johannes-evangelie wat telkens na hierdie begrip terugkom. In Johannes 1:14 skryf hy dat die Seun van God vol genade en waarheid is. In dieselfde Evangelie (14:6) sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” En die Heilige Gees, wat Jesus in sy plek stuur om ons te kom troos, noem Hy ook “die Gees van die waarheid” (14:17). Hierteenoor stel Hy die duiwel. Die duiwel, sê Jesus in Johannes 8:44, “… staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”
Wanneer God in ons begin werk, verander Hy ons sodat ons al meer soos Jesus begin lyk (vgl. Romeine 8:29). Een van Jesus se karaktertrekke wat in ons na vore kom as God ons verander, is dat die waarheid ook vir ons al hoe kosbaarder word. Daarom skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:6 van die liefde, wat die kenmerk van die gelowige is: “Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.”
Wanneer ons in ’n hoek is, is dit dikwels die maklikste uitweg om ons los te lieg, soos Abram probeer doen het. Maar as ek en jy die beeld van ons hemelse Verlosser dra, is só ’n kits-oplossing nooit ’n moontlikheid nie. Daarom moet ons miskien nóg ’n nota by die vorige een voeg:

Spreuke 12:19
Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ’n oomblik.




Job

Die man wat aan God bly vasklou het

Sy verhaal

Hy sien hoe sy hande-in-die sye na hom staan en kyk, ’n ontevrede trek op haar gesig. Sou sy hom dalk verkwalik vir wat gebeur het? Die hemel weet, hy voel al sleg genoeg soos dit is!
Hy vat ’n potskerf van die ashoop en krap al om een van die swere waarmee sy hele lyf oortrek is. Die gekrap wil nie juis help nie, maar dit troos darem as hy so al rondom die swere … “Sssss,” trek hy sy asem skerp in as die pyn deur sy lyf skiet. Hy het per ongeluk ’n sweer raakgekrap.
“Jy weet, Job, ek sal jou nooit verstaan nie,” sê sy.
“Wat is dit dan nou?”
“Kyk om jou: jy het niks meer oor nie. Jou osse, jou donkies, jou kleinvee, jou kamele, jou slawe, jou kinders …” ’n Snik klink in haar keel toe sy dit sê, sodat sy moet sluk. “Ons kinders! – ons het niks oor nie. Niks! En kyk hoe lyk jy! Net ’n patetiese bondel stinkende swere. En wat sê jy? ‘Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.’ Gmf!”
Haar stem koggel hom as sy hom namaak, en elke woord is ’n dolksteek in sy hart. Maar hy byt op sy tande en sê niks, kyk haar net met hartseer oë aan. Hoe graag sou hy nie wou hê dat sy hom in sy donkerste uur moet bystaan nie!
“Vir wat sit jy net daar en sê niks? Vervloek God, man. Dis al wat nog vir jou oorbly. Vervloek God en sterf dan.”
Toe kan hy dit nie meer hou nie, en al die seer van die afgelope paar weke borrel uit. “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
“Hoe kan jy in God bly glo as Hy al dié dinge oor jou gebring het?”
“Hoe kan ek ophou glo? Hy is dan al wat ek oor het.”

Job 1:1-2:10

Pas jy dalk in dié storie?

Dis maklik om in God te glo as alles met jou goed gaan. Dis dan maklik om vir almal te vertel dat God groot is en goed is. Jy beleef immers elke dag hoedat Hy sorg en voorsien.
Dit het met Job ook goed gegaan, en hy het in God geglo. Die duiwel het egter ’n teorie gehad oor Job se geloof. Sy teorie was dat dit nie net maklik is om te glo as dit goed gaan nie. Sy teorie was dat jy glo juis omdat dit goed gaan. Omdat jy gesond is, omdat jy ’n goeie werk het, omdat jou finansies redelik is, omdat jy ’n goeie vrou en oulike kinders het. Omdat jy al hierdie dinge het, glo jy, want jy weet dis Hy wat dit vir jou gegee het. Dit sou dom wees om op te hou glo en die rug op die Een te draai wat vir jou sorg. Dit sou net so onnosel wees as om die gans wat die goue eiers lê, te slag. So gaan Satan se teorie.
En dan gebeur die onverstaanbare. God laat Satan toe om sy teorie in die praktyk te toets, en Job bewys Satan verkeerd, maar met watter katastrofale gevolge vir hom en sy huis! Hy verloor alles wat hy het; alles wat vir hom lief en dierbaar was. Sy vrou raak bitter en draai die rug op God en op hom; sy vriende vermaan hom om te erken dat dit op een of ander manier sy eie skuld is dat alles oor hom gekom het. En Job sit alleen. Hy verstaan nie wat aan die gang is nie.

Hoe nou gemaak?

Ek moet erken dat ek ook nie verstaan wat in die Job-verhaal gebeur nie. Hoekom laat God Satan toe om Job en sy dierbares te tref? Waarom raak Hy betrokke in so ’n soort weddenskap waarin Job ’n proefkonyn word, uitgelewer aan die nukke en grille van Satan? Goed, Satan mag nie sy lewe geneem het nie, maar ek verbeel my dit sou vir Job verkieslik gewees het bo wat hy alles moes deurmaak!
Wat is hier aan die gang? Ek weet nie. Ek weet regtig nie, want dit wat hier gebeur, skeur die prentjie van God wat ek in my kop omdra, nogal taamlik stukkend. Is Hy dan nie ’n God van liefde nie? Het Jesus dan nie gekom, dat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10) nie?
Miskien is dit die beste om te maak soos Job. Hy verstaan ook nie wat aan die gang is nie. Al wat hy in sy nood en onbegrip kon doen, is om aan God vas te klou, al lyk God vir hom skielik glad nie so vriendelik nie. Hy weier om vir God te los, want God self was die enigste sekerheid wat hy oorgehad het. Net God.
En gaandeweg, deur sy worsteling om te verstaan wat met hom gebeur, ontdek hy dat dit nie hy is wat aan God vasklou nie; dis God wat hóm vashou! Hoor wat bely hy in Job 19:25-27:

“Ek weet dat my Losser leef,
uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!
Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, 
sal ek nog lewe en God sien.
Ek sal Hóm sien,
met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.
Ek smag daarna met my hele lewe.”

Klou vas, verbete! En weet dat God jóú ook nie sal los nie, want ons Verlosser leef, en Hy hét op die aarde triomfeer. Op Golgota.