Eva, die vrou wat alles opgemors het

Genesis 2 tot 4

Eva was nie net verantwoordelik daarvoor dat die mensdom die paradys kwyt is nie; sy het ook die diskriminasie en onderdrukking van geslagte en geslagte vroue deur die eeue op haar gewete. Ek wonder partykeer of sy besef presies hóéveel ellende daardie fatale hap veroorsaak het. Miskien tog. Miskien juis sy, wat beter as enige een van ons besef wat die mensdom en veral die vrouegeslag verloor het toe hulle uit die Tuin van Eden geskop is – sy was tog daar! Miskien het sy haar dade terdeë berou …

Haar hart hamer waarskuwend in haar keel toe sy haar hand uitsteek en aan die vrug raak. Die vrug se skil is blink en glad; die rooi wang vol belofte van heerlike soet sappigheid wat binne-in skuil. Sy sluk die oormaat speeksel wat in haar mond versamel, moeisaam weg en kyk rond, maar niemand sien haar nie. Sy kyk weer, en ruik die soet geur wat om die boom hang. Ja-nee, dis beslis die lekkerste vrug wat sy nog gesien het. Sy kan dit byna proe.
Sy kyk nog ’n keer om en pluk dan die vrug. Dit lê swaar en koel in haar handpalm, vol belofte van heerlikheid en van kennis in hom opgesluit. Een ou happie, net een. Dit kan tog nie so erg wees nie. As God dit gemaak het, moet dit mos goed wees. En om soos God te wees! Hulle sal alles kan ken, hulle eie besluite kan neem … Die moontlikhede verbyster haar.
Die vrug kraak onder haar tande, en sy sap oorweldig haar tong met sy verruklike geure. Dis die lekkerste vrug wat sy nóg geproe het. Gulsig vat sy nog ’n hap, en nog een, totdat sy later met net die stronk in haar hand staan. Sy wens Adam was hier om dit ook te proe. Gelukkig is daar nog ’n ryp vrug vir hom ook. Sonder om verder te dink, pluk sy dit vir Adam en loop af na die rivier waar sy weet hy sal wees.
Adam lyk eers skepties. “Ons mag dit nie eet nie, en jy weet dit,” sê hy streng. “God het gesê die dag as ons dit eet, is ons dood.” Hy kyk agterdogtig na die vrug en raak nie daaraan nie.
“Wel, ek is nie dood nie, is ek?” antwoord sy kordaat. “Jy móét dit net proe. Dis die lekkerste van al die vrugte.” Sy hou weer die vrug na hom toe uit. “Toe, vat ’n hap. Jy sal nie spyt wees nie.”
Hy vat die vrug by haar en bekyk dit versigtig. Sy vinger gly oor die gladde skil.
“Ruik net hoe geurig is dit,” por Eva hom aan.
Hy ruik eers, en dan vat hy sy eerste hap. Sy oë gaan onwillekeurig toe van die behaaglikheid. “Is nogal lekker!” sê hy al kouende, en vat nog ’n hap. Die sap loop in sy baard af. Hy vee dit met sy hande weg, en vee dan sy hande aan sy boude af.
Eva hou hom dop terwyl hy sy hande afvee, en haar gesig trek op ’n verontwaardigde plooi. “Sies, maar jy eet morsig. En skaam jy jou nie om so … so onbedek rond te loop nie, Adam?”
Hy is eers half verbaas, en dan vervies hy hom op die plek. “Waarvan praat jy, Eva? Ek het nog nooit anders rondgeloop nie. Hoekom pla dit jou nou ewe skielik? En in elk geval, jy is net so onbedek soos ek. Hoekom moet ék dit nou skielik ontgeld?”
Eva se mond val oop. Só het Adam nog nooit met haar gepraat nie! Sy wou hom tog net reghelp. Dit was nou regtig nie nodig dat hy so … Sy soek na ’n woord vir Adam se houding, maar sy kry nie een nie. Sy het hom nog nooit kwaad gesien nie, en self was sy dit ook nog nie, altans nie voor vandag nie. Maar dis nie nou die tyd om daaroor te wonder nie. Hulle het ’n probleem wat opgelos moet word. Sy dwing haarself om te glimlag en sê: “Ek weet nie hoekom dit my ewe skielik pla nie, maar ek dink nie ons behoort so te loop nie. Ons moet ’n plan maak om ons te bedek.”
Adam sug, en knik dan. “Goed. Ek dink ons moet blare gebruik. Die vyeboom daar anderkant het lekker groot blare. Ons kan grashalms vleg om die blare om ons lywe vas te bind.”
Daardie aand, toe God soos gewoonlik in die tuin kom wandel, kruip hulle weg, bang om verslag te doen van die dag se gebeure.

***

Eva skud haar kop treurig toe sy aan dié dag terugdink. Sy sal nooit die teleurstelling en woede in God se stem vergeet nie. Vervloekte slang! Hoekom het sy ooit na hom geluister?
Na sy die vrug geëet het was daar soveel nuwe emosies wat sy skielik begin ervaar het, emosies waarvoor hulle aanvanklik nie eens name gehad het nie: woede, agterdog, skaamte, skuldgevoelens, teleurstelling … In haar gedagtes herleef sy dit nog asof dit gister was: Adam wat ewe skynheilig die vinger na haar wys en vir God sê: “Dis die vrou wat U my gegee het. Dis haar skuld. Sý het die vrug na my toe gebring en gesê ek moet dit eet, dit smaak lekker.” Asof hy nie ook soos sy daarvan geëet het nie!
Die vrug hét lekker gesmaak. Maar die nasmaak is bitter, galbitter. As sy dit maar net geweet het, as sy maar net haar ore toegedruk het toe die slang met haar begin praat het, dan was hulle nou nog in die Tuin van Eden.
Sy trek die velmantel wat God vir haar gegee het, stywer om haar skouers. Die wind sny vandag gevaarlik koud oor die vlakte, en selfs in die grot is dit ysig. Waar sou Adam bly? Hy is nou al wie weet wanneer weg om te kyk of hy nie in die veld iets te ete kan kry nie. Vandat hulle uit die Tuin van Eden geskop is, moet hulle elke dag verder en verder na kos soek en vat dit al langer en langer, want die vrugtebome en bessies is maar skaars. Hulle het later selfs in die grond begin krap om te kyk of daar nie ’n knol of ’n eetbare wortel of iets is nie, maar dié is net so skaars. Sy wil-wil hom jammer kry, maar dan skop die ongebore kind woes in haar sodat die pyn momenteel deur haar ruk, en haar jammerte is weg. Hý het haar swanger gemaak, en nou kan hý vir hulle kos soek. Sy wonder hoe lank dit nog sal wees voordat die kleintjie kom. Die maan het nou al nege keer vol geword sedert sy laas bloed gesien het, en dit voel die laaste dag of so of die kleintjie al laer in haar maag afsak. Sy hoop nie hy val uit nie!
Sy wonder hoe die kleintjie gaan uitkom. Sy is baie bang, want God het gesê haar swangerskap gaan swaar wees, en sy sal met pyn kinders in die wêreld bring. Die swangerskap ís swaar, die hemel weet. Eers elke oggend so naar dat sy wou dood, en later die ongemak. Sy weet nie hoe om te slaap nie, want die kleintjie in haar maag is al in die pad. En sy bly kortasem. Sy wens die kind wil kom dat sy weer haar lyf vir haarself kan hê.
’n Kramppyn trek deur haar onderlyf sodat sy onwillekeurig na haar asem snak. Sou dit die begin van die geboorte wees? Waar is daardie vervlakste mansmens as sy hom nodig het?

Berou kom mos altyd te laat. Dit was toe so, en vandag is dit nog steeds die geval. Jy weet voor jou siel dit is verkeerd, en jy weet ook jy gaan agterna spyt wees, maar jy doen dit in elk geval. Dis die misterie van die sonde. Ons verbeel ons die kortstondige genot van die oomblik weeg swaarder as die slegte nagevolge. Of is ons jou werklik waar so onnosel om te glo daar sal nie nagevolge wees nie? Sou Eva regtig die slang geglo het toe hy God se doodsvonnis oor ongehoorsaamheid weggepraat het?




Bybelkarakters – Adam

Die man wat met ’n skoon lei kon begin

Sy verhaal

Hy kyk oorstelp na die wêreld om hom. Daar is oral nuwe dinge. Álles is nuut, en wonderlik. Hy buig af, trek ’n blom nader. Die fluweelsagte pienk blare voel broos onder sy vingers. Versigtig, bang om die blom seer te maak, druk hy sy neus teen die kelk en ruik daaraan. Die sagte soet geur laat hom behaaglik opkyk. “Dis ’n roos,” sê hy beslis.

Behaaglik strek hy hom op die gras onder ’n boom uit en kyk lui hoe die vroegmiddagson helder strepe deur die skadus onder die boom trek. Die lewe is mooi, dink hy terwyl sy oë twee voëls se moeitelose vlug volg. Dis reiers, besluit hy en maak sy oë toe.

As daar net nog iemand soos hy was, iemand met wie hy die wêreld kon deel, iemand om mee te gesels …

Hy word wakker van ’n gekriewel in sy neus, en nies onwillekeurig. Haar klokhelder laggie klink in sy ore, en dis vir hom die mooiste klank wat hy nog gehoor het. Mooier selfs as die voëls se sang. Toe hy sy oë oopmaak, kyk hy vas in haar bruin oë waar sy nuuskierig oor hom buig, haar hare op sy wang. Sy hart gee ’n ruk. Iets so moois het hy hom nooit kon voorstel nie. Versigtig streel hy oor haar wang, en vat dan aan sy eie bebaarde gesig. Dan kan hy nie meer sy opgewondenheid bedwing nie. Hy spring op en gaan voor haar staan, sy hande op haar skouer.

“Uiteindelik! Een uit myself, een soos ek! Ek noem jou ‘vrou’.”

Genesis 2

Pas jy dalk in dié storie?

Ek onthou hoe verlig ek was toe ek na ses jaar in my eerste gemeente ’n beroep gekry het. Ek kon wegkom van al die foute wat ek gemaak het, en voor begin, hopelik dié keer met ’n bietjie meer wysheid en ervaring. ’n Jaar of wat later het ek besef dat nuut nie vir altyd is nie. Dit gaan oor, en soos die nuut begin verweer, so word jou lewensblaadjie maar weer vol geskryf, én sluip daar onvermydelik maar weer foute in. Miskien nie altyd dieselfde foute nie, maar foute is daar.

Laat ons dit tog maar aan onsself erken: aan hierdie kant van die graf sal ons bly foute maak. ’n Nuwe blaadjie gaan ons nie daarvan vrywaar nie, en ons gaan net soos Adam ook weldra foute maak. Of miskien moet ek nie sê net soos Adam nie; miskien moet ek sê omdat Adam. Omdat Adam nie sy blaadjie kon skoon hou nie, kan ons ook nie, want ons is kinders van Adam, wat die sondesmet by hom geërf het.

Hoe nou gemaak?

Miskien moet ons daarom nie droom van die nuwe, skoon lei wat ná Adam se streke vir altyd vuil gekrap is nie. Miskien moet ons eerder begin werk maak van die lei wat ons het. Of dan: toelaat dat God werk maak daarvan. In 2 Korintiërs 5:17 belowe Hy ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Letterlik staan dit in die Grieks dat so-iemand ’n nuwe skepping is, so nuut soos Adam! Jy kán die man in hierdie storie wees, wat met nuwe oë alles om jou sien, wat met nuwe verwondering na jou vrou kyk en weer raaksien hoe wonderlik vróú sy is. Wat met nuwe moed jou tienerseun se nukke kan hanteer. Wat met nuwe entoesiasme jou werk aanpak.

Ek dink dit is wat die digter in Klaagliedere 3:21-33 ontdek het. Lees dit biddend deur, en staan op om as ’n nuutgemaakte mens met ’n skoon lei te begin!

Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.
Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
laat hy hom diep verootmoedig
—miskien is daar hoop—
laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie;
as Hy beproewing oor ’n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.