Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 36

Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. (2 Kron 36:19)

Ná Josia se dood in 609 vC was die verval vinnig – van ’n gerekende koninkryk tot ruïnes in net 23 jaar. Jerusalm is in 586 vC ingeneem. Die vernietiging was omvattend, en die menseverlies ondenkbaar. Die Galdeërs was genadeloos. Die Koninkryk van Juda sou nooit weer herrys nie. ’n Mens kan jou nie die ellende regtig indink nie. Ps 137 verwoord iets daarvan.
Dit was nie onverwags nie, soos die Kronis gou is om ons te herinner. By monde van die profeet Jeremia het God gewaarsku en gepleit, en uiteindelik sy hand van Jerusalem teruggetrek (vers 21).
En tog was God nie klaar met sy volk nie. Tydens die ballingskap het twee ander profete die ballinge se hoop laat opvlam: Esegiël en Jesaja het ’n tyd verwag waarin God weer as Herder vir sy volk sou optree. Iets daarvan het begin realiseer toe die Persiese koning Kores in 538 vC ’n bevel uitvaardig wat die ballinge toegelaat het om na hulle geboorteland terug te keer.
Dat dit kon gebeur, is net genade van Bo. Só is God, vandag nog.

Naskrif: Ons het nou die hele Bybel deurgelees! Ek beplan om met hierdie rubriek voort te gaan, want die Bybel bly God se stem in ons lewe. Môre begin ons (DV) die Brief aan die Efesiërs lees, en Sondae kom die Psalms aan die beurt.
As jy van my vorige dagstukkies wil lees, kan jy gerus op my webwerf gaan kyk by https://bybelkoerant.co.za/lees-die-bybel-saam-met-my/
Seënwense!




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 35

Josia het Neko egter nie met rus gelaat nie. Hy het hom vermom met die oog op die geveg en nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie. (2 Kron 35:22)

Hierdie tragedie speel af te midde van die magstryd van die wêreldmoondhede van destyds – Assirië, Babel en Egipte. Assirië is deur Babel verslaan en Nineve het geval. Egipte was bekommerd oor die opkoms van Babel en het die Assiriërs te hulp gesnel. Hiervoor het hulle deur Juda getrek, tot Josia se misnoeë. Hy het waarskynlik gevrees dat Assirië, met Egipte se hulp, weer tot hulle ou glorie sal herrys. Daarom keer hy Neko se magte voor. Dit was ’n noodlottige besluit, want op die slagveld sneuwel hierdie knap, Godvresende koning.
Interessant dat die enigste verwysing na God in die hele vertelling uit die mond van Neko kom (vers 21). Die Kronis het dit geïnterpreteer as God wat deur Neko praat (vers 22). Dit is so dat mense wat nie glo nie, deur God gebruik kan word. Ek sou egter meer gerus gewees het as ek gelees het dat Josia self vir God geraadpleeg het voordat hy hom in ander volke se magstryde begeef het.
Spreuke 3:5,6 sou hom goed te pas gekom het.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 34

Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is. (2 Kron 34:14)

Josia was, naas Dawid en Salomo, waarskynlik die grootste koning van Juda. In sy tyd het die ryk uitgebrei tot die grense wat in Dawid se tyd daar was. Hy was maar ag jaar oud toe hy koning geword het, en het omvangryke godsdienstige herstel-aksies geloods en die afgodsdiens vernietig. Op ses en twintig jarige ouderdom gee hy opdrag dat die tempel herstel word na jare van verval. Afgodsaltare was daar opgerig, vreemde gode is daar vereer, en die gebou het begin verweer.
Tydens die herstel ontdek die priester Gilkija die wetboek van Moses. Dit was vermoedelik die boek Deuteronomium, waar die groot klem val op die belangrikheid van menseverhoudings. Dié boek ruk Josia tot in sy diepste wese (vers 19). Hy besef, by die aanhoor van die wet, hoe ver die volk afgedwaal het, en hoe diep hulle voor God skuldig staan (vers 21).
Die Bybel is vandag nog kragtig om ons op die regte spoor te help. Die vraag is of ons dit ernstig genoeg opneem.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 33

Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, en gebid. (2 Kron 33:12-13a)

Manasse was een van die slegste konings van Juda. Waaraan jy ook al kan dink, dit het hy gedoen. Baäl-aanbidding, gewyde pale, verering van die hemelliggame, goëlery, waarsêery, toordery, oproep van geeste, verbranding van sy eie seuns … Noem maar op. Hy het selfs ’n afgodsbeeld binne-in die tempel opgestel (vers 7). Die Konings-boek vertel dat Jerusalem van hoek tot kant vol bloed was, só baie mense het hy laat doodmaak (2 Kon 21:16). Volgens oorlewering het hy selfs die profeet Jesaja in stukke laat opsaag (vgl Heb 11:37).
Hy het hom nie aan die waarskuwings van die Here gesteur nie (vers 10). Eers toe hy met hake deur sy neus en in kettings geboei in Babel beland het en waarskynlik daar erg gemartel is, het hy hom bedink. Die gode wat hy gedien het, het hom nie in sy nood gehelp nie. Soos die verlore seun in die gelykenis het hy tot inkeer gekom en hom tot God gewend. En – God herstel hom in sy koningskap!
Dis sowaar nooit te laat om na God te draai nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 32

By ons is meer as by hom. By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg. (2 Kron 32:7-8)

Die Assiriese bedreiging was wesenlik. Assirië was destyds die magtigste koninkryk, en ook die wreedste. Hulle het met afgryslike martelmetodes vrees by hulle teenstanders ingeboesem. Hulle magsgebied het in Hiskia se tyd tot teen Juda gestrek. Die Noordelike Ryk is finaal deur Sanherib se oupa vernietig, en nou was dit Juda se beurt. Die godsdienshervormings waarmee Hiskia weggedoen het met die Assiriese gode is immers as ’n daad van verset teen Assirië beskou (vgl 2 Kron 28:16 e.v.).
Hiskia se toespraak is aangrypend. Soos ’n Elisa van ouds (2 Kon 6:16) verseker hy sy mense van God se oormag (vers 7-8). Dit beteken egter nie dat hulle armpies gevou kon sit nie. Hy gee opdrag dat die stad versterk moet word, wapens gemaak word en watervoorsiening aandag kry, ingeval van ’n beleg.
Sanherib se optrede is hoe Satan vandag nog met ons maak. Hy stuur manne om met misleiding twyfel in die Judeërs se hart te saai (vers 13-16). Sal God régtig kan help soos hulle dink?
Natúúrlik kan ons op Hom vertrou. Hy is meer (vers 7).




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 31

Asarja die hoëpriester uit die huis van Sadok het vir hom gesê: “Vandat die offergawes by die huis van die Here begin inkom het, is hier meer as genoeg om te eet en daar bly baie oor. Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so ’n massa goed oor.” (2 Kron 31:10)

’n Lidmaat het vir my gesê, toe ek verduidelik het hoe ons dankoffers behoort te werk: “As almal só hulle offers gee, wat gaan die kerk met al die geld maak?” Inderdaad! Dink net hoeveel méér die kerk sou kon doen in terme van barmhartigheidswerk en die verkondiging van die evangelie. Dis presies wat in Hiskia se tyd gebeur het. Die offers was so baie dat hulle ekstra stoorruimte moes inrig en personeel moes aanstel om dit te hanteer (vers 11 e.v.). En vir die eerste keer ’n jare kon die volk se offers aangewend word om die priesters en Leviete weer voltyds in diens van die Here te stel.
Dis die vreemde ekonomie van God. As jy toe-hand leef, kan jy nie die Here se seën verwag nie. Maar as jy jou heelhartig aan Hom wy, gee Hy sy seëninge, meer as wat jy ooit kan verstaan (vgl 2 Kor 9:8).