Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 30

Ook in Juda was die hand van God werksaam. Hy het hulle die koning en die amptenare se bevel wat op sy opdrag berus het, eendragtig laat gehoorsaam. (2 Kron 30:12)

My houtwerkonderwyser het altyd gesê, wanneer hy ’n skewe laai of kassie uitmekaar slaan sodat jy dit weer moet lym: “As iets die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om dit goed te doen.” Dis wat Hiskia en die leiers besef het. Om die paasfees in die eerste maand te vier soos voorgeskryf was, sou nie deug nie. Daarom besluit hulle om die paasfees na die tweede maand te skuif, soos God dit in Num 9:6-12 vergun het.
Iets wonderliks het met dié fees gebeur: dit het die Israeliete en Judeërs, wat lank deur politieke besluite van mekaar geskei is, weer bymekaar gebring. En die priesters en Leviete wat afgedwaal het, het skaam gekry en na die Here teruggekeer (vers 15). So het almal hulle eendragtig tot God gekeer (vers 12).
Mense wat saam in God se teenwoordigheid is, verander. Almal in Jerusalem het besef dat terugkeer na God implikasies het, en hulle het terstond die afgodsaltare afgebreek en weggegooi (vers 14).
Dit is wat in die Nagmaal gebeur – Christus verander ons.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 29

En nou het ek my voorgeneem om ’n verbond te sluit met die Here die God van Israel … (2 Kron 29:10)

Toe Hiskia koning geword het, was alles teen hom. Die land was verlam deur afgodsdiens; die tempel gesluit. Dis asof die Here weggejaag is uit die land. Hiskia beskryf iets daarvan in verse 5 tot 9. Die situasie moes omgekeer word, maar hoe? Sy vrome oupa Jotam kon dit nie regkry nie (27:2).
Hoe maak jy reg wat verkeerd is? En hoe neem jy jou mense met jou saam? Hiskia het besef dat ’n bietjie afstof en regmaak aan die verwaarloosde tempel nie die verskil gaan maak nie. ’n Ware, grondige hartsverandering was nodig.
Eerstens behels dit ’n nuwe verbond, ’n verbintenis om God te dien (vers 10). Daarvoor moes dit wat verkeerd was, uitgegooi word. Die tempel moes gereinig word en alles wat nie daar gehoort het nie, moes weggegooi word (vers 16). Eers toe kon hulle met die Here regmaak deur sonde-offers en dankoffers (vers 20-36), vergesel met lofsang (vers 28).
As dinge in jou geloofslewe skeefgeloop het, is meer as kosmetiese veranderinge nodig. ’n Nuwe verbintenis aan God is nodig. Oortuigings, gewoontes en lewenswyses moet eers opgeruim word. Eers dan kan jou geloof weer bloei.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 28

Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies. (2 Kron 28:14)

Agas was ongetwyfeld een van die goddeloosste konings van Juda. ’n Mens walg eintlik as jy lees dat hy sy eie kinders geoffer het (vers 3). Hy het God se steun volledig verbeur, en hoe slegter dit gegaan het, hoe paniekeriger het hy geword en enige ding gedoen om sy situasie te beredder, behalwe om na die Here terug te keer. Uiteindelik het hy selfs die tempel gesluit (vers 24)! Die Kronis sê hy het die Here uitgetart (ver 25), al het hy ewe skynheilig vir Jesaja gesê hy sal nie die Here tart nie (Jes 7:12; lees gerus daardie hoofstuk).
En tog, te midde van hierdie laagtepunt in Juda se bestaan, gebeur daar ’n aangrypende ding wat wys dat God nie weg is nie. Israel het Juda verpletterend verslaan en 200 000 vroue en kinders krygsgevange geneem. Toe gryp God in by monde van sy profeet Oded (vers 9), en soos die barmhartige Samaritaan in Jesus se gelykenis, ontferm hierdie Samaritane hulle oor die krygsgevangenes. Hulle het hulle geklee en hulle wonde versorg, op donkies gelaai en saam met die buit teruggeneem na Juda (vers 14-15).




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 27

Jotam het magtig geword, want hy het sy pad reg gehou voor die Here sy God. (2 Kron 27:6)

Jotam se verhaal word relatief kort in die Bybel weergegee. Al wat die Kronis eintlik oor hom vertel, is dat hy gedoen het wat reg is in die oë van die Here (vers 2) en sy pad voor die Here reg gehou het (vers 6). Daarom het die Here vir hom gesorg en sy koningskap geseën. Ongelukkig kan dieselfde nie van sy onderdane gesê word nie. Die afgodsdiens was te diep ingegrawe in die land. Atalia se invloed het tot lank ná haar dood voortgeduur, en selfs die vroom konings het gesukkel. Samaria se sweer is ongeneeslik, dit het gesprei tot by Juda en Jerusalem (vgl Miga 1:9).
Dat Jotam, ondanks sy mense se goddeloosheid, die regte pad geloop het, spreek boekdele van sy geloof. Dis relatief maklik om te glo as almal om jou ook glo, maar as die hele wêreld afvallig word, is dit soveel moeiliker om staande te bly. Die fluisterstem van Satan word dan ’n magtige gedruis in jou ore: Almal los die kerk, almal maak wat hulle lus het, hoekom nie jy ook nie?
Moenie ingee nie! God sal jou help deur sy Gees.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 26

Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. (2 Kron 26:16)

Arrogansie is ’n beroepsrisiko vir hulle wat in magsposisies is. Mag en aansien kan ’n mens maklik verlei om te dink dat jy bo uitgekom het deur jou eie vernuf. En jy kan dan begin dink dat reëls net vir gewone mense geld; dat jy bo reëls verhewe is, of dat jy jou eie reëls maak, want jy is anders.
Dit was koning Ussia se ondergang. Hy was maar sestien toe hy koning geword het, en was ’n wonderlike koning omdat hy die raad van die priester Sagaria gevolg het (vers 1-5). Maar later, ná sy militêre suksesse, het hy sy hand oorspeel deur homself dinge aan te matig wat slegs vir priesters beskore was (vers 16). Die dringende waarskuwings van die priester Asarja het op dowe ore geval. Daarom het God hom met melaatsheid getref, wat sy einde beteken het.
Hoogmoed kom inderdaad voor die val (Spr 16:18; Jes 5:15) Daarom waarsku Paulus in Rom 12:3 dat ’n mens beskeie moet wees. Dit was ook ’n saak waaroor Jesus dikwels met sy dissipels gepraat het (bv Matt 18:1-3 en Matt 20:25-28).




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 25

Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie. (2 Kron 25:2)

Halfhartige geloof kan nie staande bly nie. Dis die waarheid wat koning Amasia se lewensverhaal onderstreep. Die Here Jesus het nogal daaroor gepraat. In Luk 9:62 lees ons dat Hy gesê het: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” Jesus vra heelhartige navolgers, mense wat Hom onwrikbaar en bewustelik volg.
Daar is te veel kerkmense wat deel van die gemeente is sonder dat hulle eintlik daaroor gedink en dan besluit het om navolgers van Jesus te wees. Hulle is in die kerk omdat dit is hoe hulle grootgeword het. Dis tradisie om aan die kerk te behoort. Hulle doen mee, maar hulle doen dit nie uit oortuiging nie. Sulke lidmate is uiters kwesbaar vir die versoekings en verleidings van die wêreld. Dis soos in Jesus se gelykenis van die saaier, waar die saad wat op die klipbank geval het, dit nie gemaak het nie omdat dit nie ordentlik wortel geskied het nie (Mark 4:5-6).
Lees gerus Heb 12:1-3, en neem dan opnuut die besluit om die Here heelhartig te volg.