Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 10

Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. (2 Kron 10:15)

Die noordelike stamme was ongelukkig. Hulle kry swaar, en die koning moet die las ligter maak. Hy moet na sy mense luister en hulle belange voorop stel. Dis immers wat ’n goeie koning doen – hy regeer om dit vir sy mense ’n goeie land te maak waar hulle kan floreer. Dit was wat Salomo self gebid het in Ps 72:6: “Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante, soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.”
Rehabeam het hiervan niks verstaan nie. Vir hom was die volk sy onderdane met wie hy kon maak soos hy wou. Trouens, hy sou dit selfs beter as sy pa doen en die spreekwoordelike bloed uit hulle tap vir persoonlike verryking. Dit klink nogal bekend in ons huidige konteks, nie waar nie?
Die noodwendige gevolg van Rehabeam en sy vriende se kortsigtigheid was die skeuring van die ryk. Nooit weer sou die glorie van Dawid en Salomo terugkeer nie; dit was vir altyd verlore. Maar God het nie sy mense vergeet nie. ’n Ander Seun van Dawid sou kom, ’n regverdige, nederige Koning (Sag 9:9). Dis op Hom wat ons ons hoop vestig.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 9

Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg. (2 Kron 9:31)

Die Kronis gee aan die einde van Salomo se lewe ’n kort opsomming van sy fabelagtige rykdom, sy roem en wysheid. En dan as ’n laaste sin (vers 31): “Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.” Dit word die inleiding wat vertel van die geleidelike ondergang van die koninkryk met sy verbysterende skatte. Want Rehabeam, so lees ons in die volgende hoofstuk, het dit nie in hom gehad om sy pa se skoene vol te staan nie. Dis hoekom Jesus ons vermaan om vir ons skatte bymekaar te maak waar mot en roes dit nie sal uitroei of diewe dit sal steel nie (Matt 6:19).
As ’n mens die verhaal van Salomo lees soos die skrywer van die boek Konings dit vertel, is daar heelwat negatiewe berigte oor hom. Die Kronis, wat baie later sy verhaal neerpen, laat dit gewoon weg, omdat hy waarskynlik gedink het dis nie nodig om Salomo se karakter te beswadder nie. Daarom konsentreer hy op die positiewe.
Hoe praat en beoordeel jý ander? As ons glo in ’n God wat vergewe, moet ons anders oor ander begin praat.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 8

So is al Salomo se werk afgehandel, van die dag af dat die fondamente van die huis van die Here gelê is totdat Salomo die tempel voltooi het. (2 Kron 8:16)

Die Kronis kon baie meer oor Salomo se regering geskryf het as hy wou. Hy verkies egter om te fokus op die infrastruktuur wat Salomo gevestig het (vers 4-7), wat ook voorraadstede ingesluit het. Die hoofdoel van die infrastruktuur was om die uitgebreide erediens by die tempel moontlik te maak (vers 12-15). Vir die Kronis was Salomo se groot nalatenskap die tempel wat hy gebou het, en hy vat dit in een sin saam in vers 16.
Wat is jóú nalatenskap? Waaraan sal mense dink as hulle jou lewe beskryf? Dís die vraag waarmee die Bybel ons vandag laat. Natuurlik is ons met meer dinge besig elke dag as net godsdienstige handelinge. Jy werk aan jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou buurt. Deur dit alles bou jy ’n lewe, maar, wil die Kronis jou herinner, dit moet só gefokus word dat jou lewe voor die Here en jou diens aan Hom eerste kom. In die woorde van die Here Jesus (Matt 6:33): “… beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God …”




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 7

Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ (2 Kron 7:21)

Jy wonder dalk hoekom hierdie verskriklike waarskuwing in dieselfde hoofstuk staan wat vertel dat die Here die tempel met sy magtige teenwoordigheid gevul het (vers 1). Dié waarskuwing is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit staan ook in Lev 26:14 e.v. en elders. Maar die Kronis het dit juis hier bygevoeg, gedagtig aan die feit dat sy lesers Jode in ballingskap was; mense wat gesien het hoe die fantastiese tempel in rook en as opgegaan het, en gewonder het wat dan van God se trou en beskerming geword het.
Wat gebeur het, bly inderdaad ’n raaisel. Hoe kon ’n nasie wat op soveel verskillende maniere daarvan verseker is dat die lewende God by hulle is, en wat geleef het met God se belofte van ewige trou en seën, hoe kon hulle die rug op God draai?
Dit is so onverstaanbaar soos die sonde self. Daarom pas ootmoed hier, want wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12). Net God se trou kan ons staande hou (1 Kor 10:13).




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 6

Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie [ … ] en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel … (2 Kron 6:32-33)

Salomo se gebed by die inwyding van die tempel help ons om te verstaan waarvoor die tempel daar is. Enersyds was dit net ’n tempel wat onmoontlik God kon bevat (vers 18). Andersyds het God die tempel met sy teenwoordigheid geseën (vers 6), wat die tempel ’n heilige simbool gemaak het.
Hierdie gebalanseerde siening van Salomo het ongelukkig later in die slag gebly. In Jesus se tyd het die Jode dit as meer as net ’n gebou gesien, en waar Salomo die tempel as ’n gebedshuis vir al die nasies beskou het (vers 32-33; vgl ook Jes 56:7), het Herodes se tempel ’n ekstra voorhof vir die heidene gehad. Verder as dit durf nie-Jode nie gegaan het in Jesus se tyd nie. Ongelukkig het veral die priesters die tempel vir dinge anders as gebed gebruik; ’n rowersnes, sê Jesus (Mark 11:17).
Vandag moet die kerk steeds ’n wegwyser na God wees; ’n aanbiddingsplek waar almal welkom is.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 5

Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” (2 Kron 5:13)

Wat ’n aangrypende geleentheid moes dit nie gewees het nie! Presies gelyk, soos een man, laat hulle ’n magtige loflied tot eer van God opklink. Dit kon net sowel ’n Britse koninklike geleentheid gewees het, netjies ingeoefen en perfek uitgevoer. Die prag en praal, die rye en rye priesters en Levitiese tempelsangers, geklee in wit linne, was aangrypend in eenvoud en gewydheid.
Ons eie eredienste, dikwels sober en sonder tierlantyntjies, staan in skerp kontras met daardie uitbundige jubeling. Ongelukkig is daar heeltemal te veel stroewe gesigte as óns die loflied aanhef. Ek glo ons kan iets by die Israeliete van ouds leer oor vreugdevolle aanbidding, want die Here ís moes goed. Daar is geen einde aan sy liefde nie (vers 13).
Die ooreenkoms tussen ons eredienste en daardie besondere dag is natuurlik dat die Here se magtige teenwoordigheid ook óns kerke vul. O, dat ons ’n aanvoeling daarvoor mag hê!