Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 3 – 4

Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was. (2 Kron 3:1)

Die berg Moria word net op een ander plek in die Bybel vermeld, en dit is in Gen 22:1-19, waar God Abraham beveel om sy seun Isak te gaan offer. Dit is op dieselfde plek, op die dorsvloer van Arauna, waar Dawid op God se bevel ’n altaar gebou het, maak die Kronis dit duidelik (1 Kron 21:15). Die keuse van die bouperseel vir die tempel was dus nie lukraak nie. Dit het van Bo gekom, en Dawid het naby genoeg aan die Here geleef om sy leiding te verstaan en te volg.
Ek wonder hoeveel goed-bedoelde planne loop skeef omdat dit nie op die regte plek begin nie; omdat dit by onsself en óns idees en ideale begin, en nie by God en sy leiding nie. Dit is ’n soort refrein van Dawid in die Psalms (130:7, 131:3; vgl 5:4): “Wag op die Here …”
Dit vra natuurlik dat jy nie te veel van jouself en jou eie vermoëns dink nie (Ps 131:1; vgl Jak 4:15).




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 2

Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom ’n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? (2 Kron 2:6)

Destyds is geglo dat ’n tempel die huis van die bepaalde godheid is, en dat die godheid daardeur as ’t ware aan daardie tempel vas is. Dit is waarskynlik hoe koning Hiram ook gedink het. Salomo was egter gou om hom reg te help. Die tempel wat hy wil bou, is wel daar om die Here te dien en te eer, maar dit kon nooit God se woonplek wees nie (vers 6). Daarvoor was God te groot.
Dié siening het die Jode gehelp om ondanks die ballingskap te bly glo. Al was die tempel verwoes, en al was die land waaraan Jahwe verbind is, verower, het dit nie afbreuk gedoen aan wie Jahwe is nie. Hy is, soos Salomo skryf, groter as die tempel of die land Israel.
God is groter as ’n tempel of ’n kerk waarin Hy vereer en gedien word. Daarom kan ons Hom ook buite die kerk ontmoet, want Hy is oral. Ons is egter nie panteïste wat glo God en sy wêreld is een nie. Ook die wêreld kan Hom nie bevat nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Kronieke 1

Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer? (2 Kron 1:10)

Dié ontmoeting van Salomo met God laat my altyd wonder wat ék sou kies as ek in sy skoene was. Ons weet vandag dat wat Salomo gekies het, die beste was. God het immers self so gesê (vers 11). Maar as jy dit nie geweet het nie, en God sê vir jou dat jy moet vra wat Hy jou moet gee, wat sou jy gekies het?
Dalk moet ons die vraag so effens verder terugvat. Salomo se eerste daad as koning was om die Here te raadpleeg. Hy het wysheid gevra, sodat hy ’n goeie koning vir sy mense kon wees. As ons politici tog só gesteld was!
Maar weer terug by onsself. Waar begin jy as jy in ’n nuwe situasie of werk kom? Salomo wou nie op sy eie insig steun nie (vgl Spr 3:5-6), want hy het besef dat hy slegs in afhanklikheid van God, en deur sy leiding, ’n sukses van sy koningskap kon maak.
Dis alles ’n kwessie van prioriteite. Wie of wat is voor-op in jou lewe, gedagtes, drome en beplanning?




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 29

En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. (1 Kron 29:13-14)

Die skrywer van die boeke 1 en 2 Konings vertel dat die opvolging van Dawid se regering ’n spanningsvolle tyd was, met verskillende seuns wat hulle pa wou opvolg, en verskillende magsbasisse, wat slegs met netjiese voetwerk van Dawid en Salomo bestuur kon word. Die Kronis laat dié onstuimige berigte uit, want sy hoof fokus was op die trou van God, wat Hy aan Dawid en Salomo geskenk het.
Omdat hy ’n ander fokus gehad het, kon hy ook ander sake in sy vertelling beklemtoon, soos die ongelooflike groot skat wat Dawid en die leiers van die volk geskenk het vir die bou van die tempel. Die hele volk was daaroor bly (vers 9). Dawid se gebed by dié skenking is veral insiggewend. Hy erken dat dít wat hulle vir God gegee het, eintlik maar net God se gawes is wat hulle aan Hom teruggegee het.
Dink jy só oor jou dankoffers? En juig jy daaroor, soos Dawid-hulle?




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 28

En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ’n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. (1 Kron 28:9).

Koning Dawid se einde het nou vinnig nader gekom. As ons na 1 Kon 2 kyk, was dit min of meer die laaste oudiënsie met sy onderdane, en ook sy laaste opdragte aan sy seun, wat op die drumpel van sy kroning gestaan het. ’n Groot deel van Dawid se gesprek met Salomo handel oor sy droom om ’n tempel vir die Here op te rig; ’n droom wat Salomo nou sal moet verwesenlik. Dawid het al die voorbereidings daarvoor gedoen. Salomo kon as ’t ware net begin.
Dawid se instruksies vir Salomo word omraam deur sy versekering dat God by hom sal wees (vers 9 en 20). Belangriker, nog, is sy vermaning dat hy moeite moet doen om God te ken en heelhartig en gewillig te dien (vers 9).
God se teenwoordigheid en sorg, en ons hartlike, gewillige diens aan Hom, gaan hand aan hand.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 26 – 27

Agitofel was die raadgewer van die koning, en die Arkiet Gusai was die vriend van die koning. (1 Kron 27:33)

Ons kry in dié hoofstukke ’n idee van die omvangryke hervormings wat koning Dawid in die staatsdiens ingevoer het. Daar is haas nie ’n faset van die lewe in Israel waaroor sy mense nie regeer het nie. Nie net die aanbidding en reël van die godsdiens nie, maar ook die administrasie, finansies, en wet en orde is omvattend vernuwe. Dit verskil dramaties van koning Saul se bewind. ’n Mens kry die indruk dat Saul min of meer op die patroon van die destydse rigters regeer het, met net ’n handjievol amptenare wat hom bygestaan het.
In dié opsig kan ’n mens Dawid vergelyk met Moses. Moses moes ’n klomp slawe se bestaan omvorm na ’n georganiseerde nomadiese volk. Dawid het hierop voortgebou en dié volkslewe hervorm tot ’n doeltreffende staat waarin die burgers in rus en vrede hulle gang kon gaan. Dis eintlik verstommend dat iemand wat as eenvoudige skaapwagter begin het, só ’n magtige staatsmasjien kon skep.
Natuurlik het hy die toerusting van God gekry (1 Sam 16:13), maar hy het hom ook omring met goeie raadgewers. Geen mens kan immers alleen God se werk doen nie.