Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 23 – 25

Dawid en die amptenare in beheer het die seuns van Asaf, Heman en Jedutun vir ’n besondere diens afgesonder. Hulle was mense wat onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete opgetree het. (1 Kron 25:1)

Soos Martin Luther en JS Bach vir baie Protestantse gelowiges sinoniem geword het met goeie kerkmusiek, was Asaf in Oud-Israel dié tempelmusikus. Hy was een van die leiers onder die musici wat koning Dawid aangestel het (15:7 en 16:4-5). Asaf (en sy nageslag) het in die gilde van tempelmusici en -sangers uitgestaan as leier van Israel se aanbidding, in die koningstyd en ná die terugkeer uit ballingskap (vgl Neh 7:44).
Asaf was nie net ’n begaafde musikus nie, hoewel hy veral bekend was as speler van kopersimbale (16:5); hy word elders ook ’n siener genoem (2 Kron 29:30), en het vir Dawid as profeet opgetree (1 Kron 25:2). Hy was ’n begaafde man wat deur musiek en sang die boodskap van die Here bekend gemaak het. Altesaam twaalf psalms (Ps 50 en 73-83) kom uit sy pen.
Twee eienskappe het hom laat uitstaan. Hy was begaafd as musikus, maar hy het ook naby die Here geleef as profeet en siener. Dít het aan sy werk blywende waarde gegee.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 22

Mag die Here jou tog net verstand en insig gee en die nodige opdragte in verband met Israel, dat jy die wet van die Here jou God kan nakom. (1 Kron 22:12)

Ons praat altyd van Salomo se tempel, maar eintlik is dit net soveel Dawid s’n. Hy het die bouplanne, die boumateriaal (1 Kron 28:11-21), die bouterrein, en selfs die spesiale instrumente waarop die tempelmusici gespeel het (2 Kron 7:6) – alles het hy voorsien. Salomo kon daarom feitlik dadelik begin met die bou van sy pa se tempel.
Dawid was in die ware sin van die woord Salomo se mentor. Hy wens sy seun die verstand en insig van die Here toe, sodat hy ’n goeie koning vir Israel sal wees. En Salomo volg getrou sy pa se leiding. Toe hy koning word, was dit presies waarvoor hy gebid het (2 Kron 1:10): “Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?”
Is jou verhouding met die Here ook so, dat jou nageslag in jou spore kan volg? Los jy vir hulle iets waarop hulle kan voortbou? En is jou verhouding met jou mense so dat jou kinders jou sal wil volg?




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 21

Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om ’n sensus van Israel te hou. (1 Kron 21:1)

Ons lees hierdie selfde verhaal ook in 2 Sam 24. Die eerste vers verskil egter in die twee vertellings. In 2 Sam 24 lees ons dat die Here Dawid aangehits het om ’n sensus te hou, maar die Kronis sê dat dit Satan was (vers 1). Dit is ’n voorbeeld van hoe verskillende skrywers dieselfde gebeurtenis vertolk. Die Kronis het die duiwel se vingerafdrukke gesien in wat gebeur het.
Sy weergawe herinner sterk aan ’n gebeurtenis in Jesus se lewe, onmiddelik nadat Hy gedoop is. Ons lees dat Satan Jesus oor ’n tydperk van 40 dae versoek het (Luk4:1-13). Jesus kon Satan se versoekings weerstaan, maar Dawid nie. Dawid het ingegee, ondanks Joab se ernstige waarskuwing (vers 3). Dis die misterie van die sonde en Satan se rol daarin. Selfs ’n man na God se hart kan hiervoor swig.
Gelukkig eindig die hoofstuk nie daar nie. Die wonder van God se beskikking is dat Hy selfs ons sonde in diens kan neem. Só word Dawid se sonde die manier waarop Arauna se dorsvloer in sy besit gekom het (vers 22), waarop Salomo later die tempel opgerig het (2 Kron 3:1).




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 18 – 20

Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer. (1 Kron 18:14)

Oorlog, oorlog, oorlog! Ons lees in 20:1 dat die lentetyd destyds die oorlogseisoen was. Dis hoe dit gegaan het. Dawid was ’n kind van sy tyd, en het lustig hieraan deelgeneem. Vir ons moderne mense klink dit nie goed nie. Ons lees van die matelose ellende wat oorlog in bv. die Oekraïne en Gasa bring, en dit laat ons skrik vir Dawid se kampanjes. Duisende soldate het gesneuwel, en perde is vermink. En dan staan daar boonop dat die Here vir Dawid gehelp het (18:6 en 13).
Miskien moet ons só daarna kyk: Dawid se taak was om die volk Israel te beveilig en die koninkryk te vestig. Voor hom was dit nie moontlik nie, want hulle is voortdurend deur die buurvolke bedreig en besteel. Lees gerus die boek Rigters hieroor. As teenvoeter teen die veglustige bure het Israel ’n leier nodig gehad om vrede in die land te vestig. Dit was Dawid. Boonop het hy met reg en billikheid geregeer; iets wat nie vanselfsprekend was nie.
In ’n stukkende wêreld moet ’n mens soms harde besluite neem. Jy sal net reg besluit as jy naby God leef.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 17

Ek maak aan jou bekend dat die Here vir jou ’n koningshuis sal vestig. (1 Kron 17:10)

Die Here was goed vir Dawid. Onder sy bewind het daar vrede in die land gekom. Hy het die ark na Jerusalem gebring en die godsdiens georganiseer, omdat die woestyn-reëlings onnodig was noudat Israel nie meer ’n swerwersvolk was nie. Dawid se godsdienstige hervormings het ’n ingrypende en blywende wending in Israel se geloofsbeoefening tot gevolg gehad het. En nou, om die Here te eer, wou hy ’n tempel vir Hom oprig.
Dis mos hoe ons ook redeneer. Om dankie te sê vir al God se sorg en voorsiening, wil ons graag vir Hom iets doen, soos Dawid. Maar God was nie te vinde vir dié plan nie. Dis nie Dawid wat in beheer is nie. God is. Sy plan vir Dawid is baie groter as wat Dawid ooit kon droom. Nie Dawid wat vir God ’n huis bou nie, maar God wat vir Dawid ’n koningshuis, ’n dinastie skep (vers 10).
Paulus skryf later (Rom 11:35): “Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
Natúúrlik wil God ons alles hê, maar dan nie as terugbetaling vir sy goedheid nie. Dit gee Hy verniet.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 16

Hierna is almal huis toe, en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën. (1 Kron 16:43)

Nadat die ark in Jerusalem aangekom het, het Dawid begin met ’n uitgebreide program om die aanbidding weer op koers te kry. Tydens die jare wat die ark onder Filistynse beheer was, was normale godsdienstige aanbidding nie moontlik nie; ook omdat Silo, waar die ark gestaan het, verwoes is (1 Sam 4). Die nekslag was toe Saul die hele priesterfamilie by Nob tereggestel het (1 Sam 22). Daarmee het die amptelike offerdiens tot stilstand gekom.
Dawid het twee dinge gedoen: hy het die offerdiens weer aan die gang gekry onder leiding van priester Sadok in Gibeon (vers 39-40), en die Leviete, wat nou nie meer die taak gehad het om die ark en tabernakel rond te dra nie, het hy herorganiseer as poortwagte en tempelsangers (vers 37-38).
Te midde van dié bedrywighede het hy nie sy gesin afgeskeep nie. Nadat hy die volk geseën het en getrakteer het met eetgoed (vers 2-3), het hy na sy huis gegaan om ook sy gesin te seën en met hulle fees te vier (vers 43).
Al is jou program ook hóé vol, moet daar tyd wees om saam met jou gesin voor die Here te buig.