Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 15

Saul se dogter Mikal […] het hom in stilte verag. (1 Kron 15:29)

Volgens 2 Sam 6:20-23 het Mikal Dawid verag omdat hy hom, volgens haar, onwaardig gedra het. Dis nie heeltemal duidelik wat, in haar oë, onwaardig was nie. Dalk omdat hy sonder sy koninklike gewaad in die openbaar verskyn het? Dalk omdat hy van vreugde gespring en gedans het? Dalk omdat hy hom deur sy optrede en klere met die priesters vereenselwig het? Alles dinge wat volgens haar nie gepas het by Dawid se koninklike status nie. Of dalk was dit doodgewoon jaloesie van haar kant af. Sy was immers koning Saul se dogter. Sy het blou bloed in haar are gehad, en Dawid nie. En nou het Dawid alles bereik wat haar pa nie kon nie.
Dalk was dit iets van alles. Hoe dit ook al sy, dit het die lelikste in Mikal na vore gebring. Sy het op Dawid neergesien en hom verag. Sy het gedink sy weet van beter en dit het haar hoogmoedig gemaak.
In Eseg 16:49-50 sê God dat Sodom se probleem hoogmoed was, en in Mark 7:22 sê Jesus dat hoogmoed een van die dinge is wat ’n mens onrein maak. Lees ook hoe Jesus dit uitspel in Luk 18:9-14!




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 14

Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het, want sy koningskap het hoë aansien gekry ter wille van die Here se volk Israel. (1 Kron 14:2)

Dink vir ’n oomblik terug aan Dawid se nederige begin as die jongste van Isai se sewe seuns. Hy moes sy pa se kleinvee oppas en is nie werd geag om aan die oorlog teen die Filistyne deel te neem nie. En nou is hy koning van ’n opkomende wêreldmoondheid. Sy opgang is verbluffend. In twee veldslae breek hy die Filistyne se mag; iets wat Saul nooit kon doen nie. Hy kry erkenning van koning Hiram van Tirus. Die klomp seuns wat vir hom in Jerusalem gebore is, vertel ook iets van sy aansien op die internasionale politieke terrein. Verdrae met ander volke is destyds dikwels verstewig deur met ’n vrou van die ander volk te trou.
En tog, ondanks hierdie ongelooflike opgang, bly Dawid nederig-afhanklik van die Here. Dawid besef dat dit nie sy vernuf en staatsmanskap was nie, maar die Here se werk (vers 2 en 17). Selfs die slagveld het hy biddend betree (vers 10, 14 en 16).
Die versoeking bly groot om jou sukses kop toe te vat (vgl Luk 12:19 en Rom 12:3).




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 13

Dan bring ons die ark van ons God na ons toe terug; in Saul se tyd het ons ons nie daaroor bekommer nie. (1 Kron 13:3)

Die ark van God, ook genoem die Verbondsark, was die heiligste voorwerp in Israel se godsdiens (Eks 25:10-22). Dit was vir Israel ’n teken van God se teenwoordigheid onder hulle.
Dié ark is deur die Filistyne buitgemaak in die tyd toe Eli nog in Silo hoëpriester was, meer as vyftig jaar tevore, nog voor Saul koning was. En nou wil Dawid die ark na Jerusalem bring. Hy praat met sy mense en almal stem saam: dit is reg en moet gebeur.
Die plan misluk egter skouspelagtig toe Ussa sterf. Hoekom? Was dit ’n verkeerde plan? Wou God dit nie gehad het nie? Hoekom gebeur dit soms dat dinge wat ons met die beste bedoelings beplan, misluk? Meestal is daar nie ’n maklike antwoord nie. Dis gewoon deel van die gebroke werklikheid. Soms kan ons egter teleurstellings terugvoer na oordeelsfoute wat ons gemaak het, soos hier, toe Dawid die ark met ’n militêre triomfmars na sy stad wou neem, in plaas van as ’n geestelike prosessie.
Wanneer jy met heilige dinge, en met die heilige God self, te make het, moet jy suutjies trap.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 12

… van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan …_ (1 Kron 12:32)

Ons lees van tyd tot tyd in die Bybel van mense wat visioene of drome gekry het om hulle te lei. Die mense van die Issaskarstam was nie deel van dié uitverkore groep nie. Dit was gewone mense wat insig gehad het; wat die breër prentjie kon raaksien en daaruit besluite kon neem en leiding kon gee. Hulle het nie ’n ekstatiese moment beleef of drome of visioene gehad nie. Hulle het nie bonatuurlike tekens beleef nie. Hulle het net gewone dinge in hulle wêreld sien gebeur en allerlei gerugte gehoor. Hulle het net fyn op die gebeure en die gerugte gelet, daaroor nagedink en toe opgetree.
So stroom die mense na Dawid, want hulle het in hom God se antwoord op Israel se nood gesien (vers 18). Uiteindelik was dié honderde mense wat hulle by Dawid gevoeg het, die geheim van sy sukses as veggeneraal en koning, want hulle het die kern van sy persoonlike leër gevorm. So het God voorsien deur mense wat ontvanklik was vir sy leiding. Vandag nog gebeur dit, mits ons naby God leef en ’n fyn aanvoeling ontwikkel (Fil 1:9).




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 11

Dawid het al hoe sterker geword, en die Here die Almagtige was by hom. (1 Kron 11:9)

Dis sekerlik elke gelowige se versugting dat die Here by hom sal wees, soos by Dawid. As jy dít kan beleef, sal jy vir elke nuwe dag, elke uitdaging wat oor jou pad kom, kans sien. In Ps 18:30 sê Dawid dit self.
Die groot vraag is: Hoe het Dawid geweet die Here is by hom? Dis nie asof die Here sigbaar of selfs hoorbaar teenwoordig was in sy lewe nie. Hy het die Here se nabyheid ervaar in die gewone (en buitengewone) dinge wat oor sy pad gekom het – mense wat hom ondersteun het (in vers 10-47 is ’n lang lys van lojale manne). Daar was die spesiale oomblik toe die hele Israel hulle aan hom verbind het (vers 1). Daar was ’n nuwe hoofstad wat hy kon betrek en verfraai en uitbou.
Natuurlik het hierdie dinge nie in sy skoot geval nie. Dawid het hard gewerk, en moes lank wag, vir die geleenthede wat oor sy pad gekom het. Ek wonder of ons nie dikwels God se teenwoordigheid mis omdat ons verwag dat ons begeertes dadelik vervul moet word nie? Of dalk omdat ons God se sorg in die alledaagse miskyk?




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 9:35 – 10:14

Saul is dood oor die troubreuk wat hy teenoor die Here begaan het deurdat hy aan die bevel van die Here ongehoorsaam was, en ook deurdat hy raad gevra het by ’n gees in plaas van die Here te raadpleeg. (1 Kron 10:13-14a)

Saul is ’n tragiese figuur. Hy het soveel potensiaal gehad. Hy was rysig van gestalte, nederig (1 Sam 10:20-24), toegerus deur die Gees (1 Sam 10:6) en het daarby die hele Israel se lojaliteit gehad. Maar van al hierdie dinge vertel die Kronis ons niks nie, want uiteindelik het dit nie ’n verskil aan Saul se regering gemaak nie. Hy het klaaglik misluk omdat hy aan die Here ontrou geword het. Die toppunt daarvan was toe hy die dodebesweerder van En-Dor besoek het (1 Sam 28:7 ev). Daarom sterf hy in wanhoop op Gilboa, en sy seuns saam met hom.
Saul se lewe bly ’n verskriklike waarskuwing dat ’n goeie begin nie al is wat saak maak nie, al sê ons: “Goed begin is half gewin.” Dis hoe jy klaarmaak, wat belangrik is. End-uit volhard, sê Heb 3:14. Dit is ook wat Paulus aan die einde vir Timoteus (2 Tim 4:7) skryf.
As jy deel van die Kronis se vertelling was, wat sou hy oor jóú skryf?