Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 8:1 – 9:34

Die eerste inwoners wat hulle daarna op hulle eie grond in hulle stede gevestig het, was naas die gewone Israeliete die priesters, die Leviete en die tempelslawe. (1 Kron 9:2)

Die Kronis sluit sy lyste van geslagsregisters af deur te konsentreer op die families wat ná die ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Sy doel met die geslagsregisters word hierdeur duidelik: hy wil hê sy lesers (dws die ná-eksiliese Joodse gemeenskap) moet weet dat hulle wortels in die ou Israelitiese geslagte lê. Hulle is steeds die volk van God, al het hulle voorvaders troubreuk teenoor God gepleeg (9:1b).
Interessant vir my is die groot klomp priesters en Leviete, en veral die groot verskeidenheid van take wat die Leviete moes behartig, van poortwagte (9:17ev); versorgers van die offergereedskap (9:28); versorgers van die meel ens. wat by die offers gebruik is (9:29b); salfmengers ((9:30); bakkers (9:31-32); en, les bes, tempelsangers (9:33) wat voltyds vir die musiek moes sorg.
Vergelyk dít met die voltydse personeel van ons moderne kerke – predikant(e), ’n orrelis of musiekleier, die koster, die terreinbestuurder en -werkers, die saakgelastigde, die kassier. Die vergelyking is maar power. Daar is natuurlik nie geld vir meer poste nie, maar dit is die gevolg van dankofferbydraes wat dikwels veel te wense oorlaat.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 6 – 7

Die volgende manne het die diens verrig saam met hulle seuns: van die Kehatgroep was daar Heman die tempelsanger, seun van Joël seun van Samuel, wie se geslag teruggaan oor Elkana … (1 Kron 6:33-34a)

Ek het altyd gewonder hoe dit kon wees dat Samuel, wat volgens 1 Sam 1:1 uit die Efraimsberge kom, later ’n priester in Silo kon word. Ek het veronderstel dat hy ’n Efraimiet was. Hier in 1 Kron 6 is dit egter duidelik dat hy ’n bloubloed Leviet was wat sy voorsate kon terugvoer na Kehat, Levi se tweede seun. Ons lees dat Samuel se twee seuns nie soos hy was nie en korrup was (1 Sam 8:3). ’n Mens sou kon dink dat Samuel se lyn daar sou eindig, maar hier staan sy kleinseun Heman baie prominent as die leier van die tempelsangers.
God se genade loop inderdaad deur die bedding van families. Hy sê mos Hy betoon sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet (Eks 20:6). ’n Swartskaap hier en daar beteken nie die einde van die storie nie. Ook nie van jou eie nageslag nie. As jy Hom liefhet en gehoorsaam, sal sy liefde jou mense en jou nageslag oordek. Dis die evangelie.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 5

Ruben was die oudste seun van Israel, maar omdat hy bloedskande gepleeg het met ’n vrou van sy pa, is sy rang van oudste seun oorgedra op die seuns van Josef seun van Israel, en daarom word Ruben nie as oudste in die geslagsregister opgeneem nie. (1 Kron 5:1)

Destyds het die leierskap van ’n familie, met al die status en verantwoordelikhede daarvan, na die oudste seun gegaan (die sg. eersgeboortereg). Dit het o.a. beteken dat hy dubbeld soveel erf as sy broers. Vir Ruben was dit egter nie genoeg nie. Hy wou meer hê. Hy wou eintlik alles hê. Daarom lê hy beslag op sy pa se byvrou Bilha. Die een wat die harem oorneem, is immers baas. Daarom het Absalom ook, toe hy sy pa Dawid onttroon, heel eerste op Dawid se harem beslag gelê (2 Sam 16:21-22). Ruben het egter sy hand oorspeel, en só sy eersgeboortereg verbeur (Gen 35:22 en 49:4). Josef het daarom die dubbele erfporsie gekry. Sy twee seuns, Efraim en Manasse, het elkeen ’n volwaardige deel gekry.
Ruben het God se sorg verruil vir eiebelang en selfsug. Maar wanneer God nie meer jou enigste troos in lewe en in sterwe is nie (Heidelbergse Kategismus Vr 1), draai jou lewe vas.




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 3 – 4

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” (1 Kron 4:10)

Jy het waarskynlik al van Jabes se gebed gehoor. Bruce Wilkinson se boekie hieroor was ’n topverkoper. Daarin maak hy van Jabes se gebed ’n soort mantra, ’n formule waarmee jy God se seën kan verseker. Baie gelowiges het na aanleiding hiervan begin om daagliks Jabes se gebed te bid, in die verwagting dat God hulle sal seën.
Ek dink nie ons behoort Jabes se gebed só te misbruik nie. Dan eerder die Ons Vader, waarin die Here Jesus ons leer om te bid vir ons daaglikse brood (God se voorsiening vir ons tydelike behoeftes).
Ons moet Jabes se gebed in konteks verstaan. “Jabes” beteken “smart”, verwysende na sy traumatiese geboorte (1 Kron 4:9). Sy ma het hom met dié naam opgesaal, maar Jabes het geweier om onder die oordeel van só ’n naam te leef, en hom tot God gewend.
So word Jabes simbool van iemand wat eerder op God vertrou as om deur ’n slegte naam beheers te word. En God het hom gehoor!




Hoofstuk van die dag: 1 Kronieke 2

Juda se skoondogter Tamar het vir hom Peres en Serag in die wêreld gebring. (1 Kron 2:4)

Anders as wat ons van ’n “gewone” geslagsregister sou verwag, behandel die Kronis nie die stamvaders se nageslag van oudste na jongste nie. Juda s’n kom eerste aan die beurt, want dit is die fokus van die boek. Dawid kom immers uit die nageslag van Juda.
Heelwat van die name wat hier genoem word, is aan ons bekend. Die Jode sou bes moontlik tuis gevoel het in hierdie register, want hulle kon hulle eie stamlyn na dié mense terugvoer.
Dit sal baie tyd in beslag neem, maar tog die moeite werd wees om die verhale uit die ander boeke hier by te lees, soos bv die geskiedenis van Juda se seuns Er, Onan en Sela, wat uiteindelik nie deel van die register geword het nie, maar wel Peres en Serag, wat Juda by Tamar verwek het (vers 3 en 4, vgl Gen 38). Of Boas se storie (vers 11 en 12, vgl die boek Rut). Kaleb se naam is nogal groot geskryf (vers 18-50). Hy was die geloofsheld wat teen die ander verkenners gesê het hulle moet God vertrou (Num 13:30-31).
As jóú naam iewers opduik, wat sal mense van jou onthou?




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot die boek Kronieke

Hierdie kort video sal jou ’n goeie oorsig oor die uitleg en doel van die boek gee: