Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 5

… enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. (1 Joh 5:4)

Jy sal uit dure ondervinding weet dat wat Johannes hier skryf, nie so eenvoudig is nie. In vers 3 skryf hy selfs dat God se gebooie nie moeilik is om te gehoorsaam nie. Asof dit sommer maklik is om ’n sondelose lewe te lei! Intussen duur jou stryd teen die sonde en versoekings voort …
Maar ’n mens moet verder lees om te verstaan wat Johannes sê. Hy skryf dat ons kan oorwin deur ons geloof (vers 4). Dit is: geloof in Jesus, wat reeds oorwin het. Jou oorwinning kom dus nie uit jou eie pogings en eie gevegte teen Satan en versoekings nie, maar deur te rus in die groot Oorwinnaar. Wie in Hom glo, het in en met Jesus se oorwinning oor die sonde en die dood óók reeds die sondige wêreld oorwin.
Om God se gebooie te gehoorsaam, moet jy nie net vanuit jou menslike hoek daarna kyk nie, maar vanuit Christus se oorwinning. Nie deur jou prestasie nie, maar deur jou geloofsverbondenheid aan Christus se oorwinning, sal jy slaag.

Naskrif: Môre lees ons verder aan die briewe van Johannes.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 4

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. (1 Joh 4:12)

Ons lewe in ’n tyd waarin die evangelie soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie beskikbaar is vir mense. Die Bybel is die top boekverkoper sedert die uitvinding van die boekdrukkuns. Tog is dit vandag nog net so moontlik om aan al dié boodskappe te ontkom as jy wil. ’n Radio of TV kan jy afskakel, die kerk kan jy vermy, en jy hoef nie ’n Bybel te besit of ’n geestelike boek te lees as jy nie wil nie. Om die waarheid te sê, dis vandag, in die naam van godsdiensvryheid, makliker as vroeër om jou ore toe te druk vir die verkondiging van die evangelie. Baie van ons het grootgeword met skole waar die Bybel baie sigbaar en hoorbaar is; deesdae is daar al meer druk op skole om geen godsdiens te hê nie.
Johannes verseker ons dat niemand God kan afskakel in sy lewe nie; nie as ons sy liefde leef nie. Want, sê Johannes, Hy word sigbaar en hoorbaar deur óns, sy kinders, as ons liefhet (vers 12).
Jý is God se boodskap!




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 3

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. (1 Joh 3:16)

Haat teenoor liefde. Moord teenoor jouself weggee. Kain teenoor Jesus. Dís hoe radikaal ons navolging van Jesus is.
Die liefde waarvan Johannes hier skryf, is agapé, dié soort liefde wat gee sonder om terug te verwag. William Barclay vertaal dit met “onvernietigbare goedgesindheid”. Dis nie ’n liefde waarmee die wêreld gemaklik is nie (vers 13), want dit trek ’n streep deur alle vorme van selfsug en selfverryking en eersug. Daar is ’n sagtheid in hulle wat so liefheid, ’n genaakbaarheid, ’n warmte. G’n wonder nie dat Jesus gesê het dat die wêreld sal weet dat ons aan Hom behoort as hulle dié liefde onder ons beleef (vgl Joh 13:35).
Die vroeë kerk het met rasse skrede gegroei, juis omdat daar ’n besondere liefdesband tussen gelowiges was (vgl Hand 2:47). Dit is, helaas, nie meer so nie. Kerke en gemeentes baklei met mekaar en skeur; dit gaan dan kwansuis om die korrekte verstaan van die Bybel. Maar ten diepste lê dit by die vraag of ons liefhet en daarin slaag om mekaar in liefde te verdra (vers 11; Ef 4:2).




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 2

As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. (1 Joh 2:9)

Met ’n jeugdiens het die kerkraad dit goed gedink om al die koshuiskinders van die plaaslike hoërskool na die erediens te nooi. Dit was ’n Afrikaanse skool, maar die oorgrote meerderheid van die kinders was bruin en swart. Daardie oggend was die kerk vol kinders, en ons het ’n geseënde erediens gehad. Ná die tyd sê ’n lidmaat vir my dis reg so, ons kan seker maak wat ons wil en nooi wie ons wil, maar ek moet net weet: as ons weer so maak, sal sy nie haar voet in die kerk sit nie.
Dis natuurlik ’n nadraai van Apartheid. Daar was ’n tyd toe ’n groot deel van die gemeente so sou gereageer het. Genadiglik was dit dié keer net die een lidmaat. Johannes sê as ons só dink oor die kerk en wie welkom is en wie nie, leef ons steeds in die duisternis (vers 9). Dan is my Christenskap ondergeskik aan my Afrikanerskap.
Ek het in my hart gehuil toe ek huis toe gegaan het. Hoeveel onbekeerde harte is daar in die kerk?




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 1

As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. (1 Joh 1:8 AFR2020)

Ons is sondaars. Hier staan dit in soveel woorde: “As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie […] As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie” (vers 8 en 10). Dis nou nie juis ’n gewilde ding om te sê in die moderne wêreld nie. ’n Lidmaat het my by geleentheid verwyt omdat ek haar telkens in die erediens daaraan herinner dat sy ’n sondaar is. Sy sê sy wil dit nie hoor nie. Sy wil hoor sy is wonderlik.
Nee, ons moet dit maar weer hoor: ons is sondaars. Ons is nie wonderlik nie. Gód is wonderlik. Hy is die Een wat ons liefhet. Hy is die Een wat ons vergewe. Hy is die Een wat kom sterwe het omdat ons sondaars is. Sý bloed reinig ons van alle kwaad (vers 9).
Bely jy dit oor jouself: Ek is ’n sondaar. Ek is skuldig. Mý sonde het Christus sy lewe gekos. En … ontvang dan Christus se reiniging en vergifnis.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes Inleiding

Hierdie videotjie sal jou ‘n oorsig oor die brief gee: