Hoofstuk van die dag: 1 Konings 16

Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. (vers 30)

Jerobeam het die goue kalwerdiens in Israel ingevoer, maar sy bedoeling daarmee was nie om weg van Jahwe te draai nie. Die goue kalwers was rydiere vir die Here, en moes God se teenwoordigheid simboliseer. In God se oë was die kalwerdiens egter iets afskuweliks, hoewel die aanbidding van Jahwe steeds die staatsgodsdiens was.
Agab het verder gegaan en die Baäldiens aktief bevorder. Hy het met ’n uitlandse vrou, Isebel, getrou (vers 31). Sy was die dogter van die Sidoniese koning Etbaäl, ’n hoëpriester van Baäl. Onder haar invloed het Agab ook begin om Baäl dien, soos Salomo in sy latere jare (1 Kon 11:4). Hy het selfs ’n Baäl-tempel in Samaria gebou. G’n wonder nie dat die skrywer opmerk dat hy meer gedoen het om die Here uit te tart as al die konings voor hom (vers 33). Hierdeur het hy die Kanaänitiese afgodsdiens vir die Israeliete aanvaarbaar gemaak, en het die Baäldiens begin om die diens aan Jahwe uit te druk.
Miskien was dít Agab se grootste sonde, dat hy ander saam met hom weg van Jahwe gelok het.




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 15

Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie. (vers 3)

Koning Dawid was die maatstaf waaraan al die konings van Juda gemeet is. Min het ’n regmerkie van die skrywer gekry; Asa (vers 11) was een van die uitsonderings, Abia nie (vers 3).
Dawid was nie sonder sonde nie, soos die skrywer ons in vers 5 herinner as hy die hele smartlike verhaal van sy owerspel met Batseba en die moord op haar man Urija oproep. Hy was ’n briljante krygsgeneraal, maar as politikus en pa het hy maar vrot gevaar. Tog word hy dié voorbeeld in die Ou Testament van ’n man na God se hart (1 Sam 13:14 en Hand 13:22).
Ons kan twee dinge hieruit leer. As jy gesondig het, is dit nie die einde van jou pad met God nie, mits jy jou natuurlik in berou na die Here draai. By Hom is daar altyd vergifnis te vind, selfs vir owerspel en moord! Verder verwag God nie van jou om in alle opsigte perfek te wees nie. Maar wat ononderhandelbaar is, is dat jy Hom moet liefhê, soos Dawid. Dán is jy iemand na God se hart.




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 14

Die duur van Jerobeam se koningskap was twee en twintig jaar. Hy is oorlede, en sy seun Nadab het hom as koning opgevolg. (vers 20)

Jerobeam, die eerste koning van die noordelike stamme (genoem “Israel” in onderskeiding van die suidelike ryk “Juda”) het sekerlik meer uitgerig in sy twee en twintig jaar as dit waaroor die Bybel berig. Maar bo-oor alles wat hy gedoen het, staan die sonde waartoe Jerobeam die volk verlei het (vers 16).
Ons sien dit ook in die berigte oor die ander konings van Israel en Juda, bv Rehabeam (vers 21-24 en 31). Hulle word uit ’n Bybelse perspektief beoordeel, nie ’n politieke perspektief nie. As die koning nie geleef het in toewyding aan die Here nie (vers 8), wat is daar eintlik oor hom te sê?
Uiteindelik is dit die vraag wat ons elkeen moet beantwoord: Wat sal God oor jou lewe, jou doen en late, sê? Jesus het vir ons die antwoord gegee in Mark 8:36 (Afrikaanse Ou Vertaling): “Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?” Net as jy jouself verloën, jou kruis opneem en Hom volg (Mark 8:34), sal jy God se lof ontvang.




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 13

Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook ’n profeet net soos jy, en ’n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!” Maar die óú profeet het vir hom gelieg. (vers 18)

Wat het die ou profeet besiel om die profeet uit Juda na sy huis te bring? En hoe moes die profeet uit Juda geweet het die ou profeet lieg vir hom?
Ons het gister gesien dat jy God, nie mense alleen nie, moet raadpleeg voor jy besluit. My predikant-pa het gesê, as hy ’n beroep oorweeg, hy sal slegs die beroep aanvaar as die Here baie duidelik vir hom wys hy moet gaan. Die Here het hom gelei tot waar hy is, en die Here moet hom lei om weg te gaan, anders bly hy net daar.
Dit was die jonger profeet se probleem. Die Here se eie bevel en hoorsê opdragte kan nie ewe veel gewig tel nie. Welmenende mense (die ou profeet?) kan maklik sê hulle praat namens die Here, maar uiteindelik moet jy sélf by God die saak uitklaar. Net dan kan jy met vreugde die besluit neem, want dit kom van die Here.




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 12

Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne … (vers 13-14)

’n Breuklyn in die stammeverbond wat die volk Israel uitgemaak het, het reg deur Dawid se regering gedreig om die Israeliete in twee te skeur. Absalom het hierop ingespeel (2 Sam 15:1-5) met sy staatsgreep, maar Dawid kon dit afweer omdat hy ’n elite gevegseenheid gehad het, terwyl Absalom se leër uit gewone burgers bestaan het.
Met Salomo het daar tydelik vrede gekom, maar dit was ’n brose een. Toe Rehabeam die noordelike stamme ontmoet om sy troonopvolging te formaliseer, skeur die ryk finaal, want die rykmanskind en sy vriende sien nie mense raak nie. Mag en rykdom was al waaraan hulle gedink het.
Jerobeam was ongelukkig ook nie die antwoord nie. Dit is verstommend dat hy dink goue kalwers is ’n goeie idee (vers 28). Goue kalwers, en dit ná die fiasko van Eks 32?!
Nóg Rehabeam, nóg Jerobeam, het God geraadpleeg in hulle besluite (verse 6-8 en 28). As jy net by mense raad vra en nie by God nie, moet jy nie ’n goeie uitkoms verwag nie. Dink maar aan Josua-hulle en die Gibeoniete (Jos 9:14).




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 11

Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het. (vers 3)

Salomo se hordes vroue bring ’n mens by die vraag: “Wanneer is genoeg genoeg?” Vir Salomo was die antwoord klaarblyklik: nooit. Hy kon nie genoeg aan goud en aansien kry nie, en hy kon nie genoeg aan vroue kry nie. En dit terwyl die Here in Deut 17:17 baie duidelik daarteen gewaarsku het.
Salomo het sy eie ondergang bewerk deur sy gulsigheid. Maar ons kom óók in die versoeking om altyd net meer en meer te wil hê. Die probleem is dat die aarde se voorrade nie onbeperk is nie, en as jy meer vat as wat jy behoort, gaan iets of iemand daaronder ly. Die aarde as habitat is vinnig besig om verby omdraai uitgesuig te word deur ons gulsigheid. En in Suid-Afrika is die gulsigheid van party mense haas ongekend, sodat die verskil tussen die rykes en die armes van die ergste in die wêreld is.
Daar is nie genoeg dat almal kan gryp net soveel hulle wil nie. Dis hoekom die wêreld lyk soos hy lyk. So kom ons leef soberder in 2023, sodat die mense en die aarde kan asem skep.

Mag 2023 vir jou genoeg seëninge bring en jy opnuut vir God leer ken as die groot Voorsiener!