Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 5


Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God … (vers 6)

Petrus praat heelwat van nederigheid in hierdie gedeelte. Hy skryf ons moet almal teenoor mekaar nederig wees; dat God aan die nederiges genade gee; dat ons ons in nederigheid aan die kragtige hand van God moet onderwerp. Dis of hy vir ons wil sê, as hy dink hoe ’n gelowige moet wees en lyk, dat nederigheid die een kenmerk is wat vir hom uitstaan.

As jy na die vrug van die Gees kyk wat Paulus in Gal 5:22 en 23 beskryf, sien jy dat nederigheid ook een van die karaktertrekke is wat hy daar noem. G’n wonder nie, want eintlik beskryf hy daar hoe Jesus gelyk het. Jesus het immers oor Homself in Matt 11:29 gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

Dis wat navolging van Christus inhou: om al meer die karaktertrekke van die Here Jesus te hê.

So iets gebeur natuurlik nie vanself in ’n mens se lewe nie. Dit gebeur na die mate dat jy jou aan God se kragtige hand onderwerp, soos Petrus van ons vra in vers 6.

 

Naskrif: Ons gaan môre die boek Obadja lees, en Saterdag begin ons (DV) met die boek Handelinge. Seënwense!





Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 4

Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. (vers 7)

In hierdie hoofstuk help Petrus ons om te verstaan dat ons as navolgers van Christus met die sonde klaar is en dus nie meer deelneem aan die sondige praktyke wat mense doen nie (vers 1-6).

Petrus sê dit kan maklik gebeur, wanneer ons aan die hand van iemand anders ly of ons sien dat hulle ’n sondige lewe lei, dat ons daardie persoon wil veroordeel. Los dit vir God, sê hy (vers 5 en 6). Daar is nie tyd om jou oor ander se doen en late te verknies nie. Nee, nou is die tyd om selfbeheersd en nugter te wees, sodat jy kan bid. As ’n mens se kop vol is van dinge wat jou oor ander pla, of vol van die sorge van die lewe, kan jy nie stil word voor God nie.

Een van die versoekings in dié dae is dat ons die hele tyd besig is met die korona-virus. Dit hou ons denke besig, maak ons angstig. Dan is jy nie gereed om in God se teenwoordigheid te kom en na te dink oor wat God se wil vir jou nóú vra nie.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 3

Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. (vers 15-16)

Petrus is steeds besig om ons lyding in perspektief te plaas in hierdie hoofstuk. Hoe ek en jy ons lyding en die onreg wat ons aangedoen het, hanteer, kan ’n kragtige getuienis word in die hand van die Here.

Die sleutel hier is _beskeidenheid_. Een van die groot beskuldigings wat teen Christene gemaak word, is die arrogante houding (“ek is reg en jy is verkeerd”) waarmee ons met mense wat nie soos ons glo nie, oor geloofsake praat. Dit kommunikeer nie goed nie; dit oortuig nie, dit stoot mense af. Iemand het gesê: “Niemand het nog ooit begin glo omdat hy ’n argument verloor het nie.”

Kom ons leef vandag met blymoedigheid en beskeidenheid en verheerlik God só in ons lewens.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 2

Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. (vers 20-21)

Petrus skryf in vers 18 aan “bediendes” (letterlik slawe); en onthou, slawe het géén regte gehad nie. Hulle is dikwels deur ’n wrede eienaar mishandel, en hulle kon daar niks aan doen nie. ’n Mens hoef nie ’n goeie verbeelding te hê om te weet hoe sulke mense gevoel het nie: verontwaardig, kwaad …

Petrus sê: Op so ’n punt moet hulle (en ons) onthou: Dis nie net ons wat so onskuldig ly nie. Jesus Christus het ook so vir ons gely, en veel erger nog – Hy is doodgemaak, gekruisig, onskuldig, sonder om terug te baklei, al kon Hy ook.

Soos Hy nie terug baklei en beledig en gedreig het nie, so verwag God van ons om ook, as ons ly, nie terug te baklei nie (vers 21).

Daarom noem Petrus sy lesers “vreemdelinge in die wêreld” (vers 11). Ons ís anders as ander mense, en ons móét anders as die wêreld optree en lyk en dink en reageer.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 1

Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. (vers 2)

Petrus begin sy brief deur ons daarop te wys dat ons nie sommer net mense is wat ook toevallig op aarde is nie; ons is nie sommer net mense wat toevallig aan die kerk van die Here Jesus behoort nie; ons is tussen al die ander mense van hierdie wêreld deur God uitgekies om aan Hom te behoort! Ons is spesiaal! Ons is die Koning van hierdie wêreld se broers en susters! Ons is prinse en prinsesse.

As ons dít reg verstaan, as ons dit eers mooi gesnap het, sal ons heeltemal anders leef in hierdie stukkende wêreld. Ons is immers kinders van die Allerhoogste God, deur Homself uitgekies om Syne te wees! Hy het ons met sy eie Seun se bloed losgekoop uit die sondebande, losgekoop uit hierdie wêreld met sy goddelose waardes.

Ons is ook uitgekies om aan Hom gehoorsaam te wees. Dit is jou en my roeping vandag.