Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 31

Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin. (vers 4)

’n Mens wil-wil vir Saul jammer kry, want sy laaste dag was een uitgerekte marteling. Hy sien hoe Israel die geveg teen die Filistyne verloor, en hoe sy drie oudste seuns sneuwel. In uiterste wanhoop neem hy sy eie lewe, wel wetende dat hy ’n vreeslike dood sou sterf as die Filistyne hom lewend vang.
Dit is egter so dat hy die moontlikheid gehad het om ’n groot leier vir Israel te wees. Die Here het hom immers self gekies om koning te wees en met sy Gees toegerus. Maar sy eie prioriteite het swaarder geweeg as gehoorsaamheid. So het hy eers Samuel se ondersteuning verloor, en daarná ’n obsessie ontwikkel oor Dawid. Dit het gekulmineer in sy opdrag om al die priesters van Nob en hulle gesinne uit te wis. Daarmee het hy alle brûe terug na God verbrand.
’n Mens kan nie God se stem in jou lewe stilmaak en Hom ignoreer, en dan verwag Hy moet vir jou intree as jy in die moeilikheid beland nie.
Ja, God is altyd daar vir ons, mits ons naby Hom leef.

_Naskrif:_ Môre begin ons met die Brief aan die Kolossense




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 30

Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God. (vers 6)

In skrille kontras met koning Saul, wat hom in sy paniek tot ’n dodebesweerder gewend het, vlug Dawid in sy nood na God. ’n Mens se karakter en geloofsdiepte word veral sigbaar wanneer jy in die nood is.
Dawid was natuurlik nie blaamloos oor die ramp wat hulle mense in Siklag getref het nie. Hy moes nie die stad weerloos gelaat het nie, veral nie ná sy herhaalde strooptogte teen die mense in die suide nie. Hy aanvaar egter nie die situasie gelate nie, maar tree onmiddellik sterk op. Met die Here se goedkeuring sit hulle die Amalekiete agterna en verslaan hulle in ’n verrassingsaanval. En toe die verdeling van die buit ’n strydpunt onder sy manne word, ontlont hy die situasie deur die buit as ’n geskenk van die Here te bestempel (vers 23).
Hy deel dit selfs met die stede van Juda.
’n Mens moenie suinig wees met dit wat die Here tot jou beskikking stel nie.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 29

Maar die leiers van die Filistyne het hulle vererg en vir Akis gesê: “Laat die man omdraai en laat hy teruggaan na sy plek toe wat jy vir hom aangewys het. Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.” (vers 4)

Dawid se bondgenootskap met koning Akis het hom in ’n baie groot dilemma geplaas. As Akis se persoonlike lyfwag móés hy saam met die Filistyne teen sy eie mense gaan veg, of hy nou wou of nie. ’n Mens kan maar net wonder wat sou gebeur het as hy wel moes gaan veg.
Gelukkig het dit nie gebeur nie, want die Here het ’n stokkie daarvoor gesteek deurdat die ander Filistynse leiers Dawid nie vertrou het nie. So kon Dawid wegstap van die oorlog af, en kon hy nie later beskuldig word dat hy ’n aandeel aan Saul en sy seuns se dood gehad het nie.
Dalk het Dawid aan hierdie gebeurtenis gedink toe hy Psalm 37 gedig het? Hy bely dat die Here die koers bepaal van die mens met wie se pad Hy tevrede is (vers 23). Daarom kan ek en jy rustig woon en werk (vers 3). Die Here sal sorg (vers 5) en die hulp wees van die regverdiges (vers 17).




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 28

(Saul) het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie … (vers 6)

Hier bereik Saul se lewe ’n absolute laagtepunt. ’n Mens kan jou eintlik nie ’n slegter einde indink nie. Hy het begin met die toerusting van die Gees, en hy eindig waar hy ’n waarsêersgees moet raadpleeg omdat God se Gees hom verlaat het.
Dis nie verbasend nie dat die Here Saul nie antwoord nie. Saul het immers vir alle praktiese doeleindes self die stem van God stilgemaak toe hy die priesters van Nob laat vermoor het. Daarmee het hy ook die ondersteuning van die profete van God verloor.
In sy desperaatheid doen hy die ondenkbare. Hy raadpleeg ’n Kanaänitiese dodebesweerder; iets wat uitdruklik in die Bybel verbied is. Deut 18:9-14 noem dit ’n afskuwelike praktyk, en vroeër het Saul self opdrag gegee dat hierdie bedrywe uitgeroei moet word.
Maar wat moet ’n mens doen as die Here stil is? Sekerlik nie met okkultiese bedrywighede deurmekaar raak nie. As Saul liewer tot inkeer gekom het en sy skuld voor God bely het! Agter die okkulte staan die duiwel en grynslag. Deur hierdie daad, sê 1 Kron 10:13-14, het hy sy eie doodsvonnis geteken. Sy verlede het hom ingehaal.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 27

Dawid het geen man of vrou laat lewe om na Gat toe te bring nie, want hy het gedink: anders verklik hulle ons en sê: “Dit is wat Dawid gedoen het.” Dit het hy gedoen so lank hy op die platteland by die Filistyne gewoon het. (vers 11)

Vir ons as moderne lesers is Dawid se optrede onverdedigbaar. Talle mense het gevolglik groot vrae oor die gewelddadigheid van die Ou Testament in die dinge wat daarin beskryf word. Destyds was dit egter nie vreemd nie. Dit is hoe plundertogte gevoer is, en ons moet versigtig wees om ons moderne verstaan van menseregte aan die Bybelkarakters op te dring.
Tog is die saak ook nie só eenvoudig nie. Toe Dawid later koning geword het, was sy een groot droom om ’n tempel in Jerusalem te bou (2 Sam 7). Hoewel die profeet Natan aanvanklik gedink het dis ’n goeie idee, stuur die Here hom terug na Dawid om hom te keer. Die rede was dat Dawid te veel bloed vergiet het (1 Kron 22:8),
Ek weet nie wat Dawid anders moes doen in die sestien maande wat hy in Siklag gewoon het nie, maar dat God nie waardering gehad het nie vir die groot bloedspoor wat hy agtergelaat het, is onteenseglik.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 26

… die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie. (vers 23)

Ondanks al Saul se mooi woorde het Dawid hom steeds nie vertrou nie. Hy gaan nie saam met hom terug soos Saul versoek het nie. Hulle het mekaar ná hierdie ontmoeting nie weer gesien nie, en Saul het sy agtervolging gestaak, waarskynlik omdat die Filistynse bedreiging al groter geword het.
Paulus gee ook leiding oor die situasie waarin Dawid hom bevind het. Hy skryf in Rom 13:1-7 dat ons ons aan die gesag van die owerheid moet onderwerp. Soos in Dawid se geval was die Romeinse owerheid nie Christene goedgesind nie, en tog was dit deel van God se verordening.
Ons moet leer om die persoon en die instelling te skei. Die persoon mag vrot wees, maar ons moet steeds sy of haar amp respekteer.
Dit was Dawid se oorweging. Dit het implikasies op talle terreine – politiek, onderwys, kerk, gesin. Die Heidelbergse Kategismus (vraag 104) sê só oor die vyfde gebod: “Ek moet […] almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. [..] Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.”