Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 19

Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. (vers 12)

Daar is mense wat glo dat jy die soort lewe kry wat jy verdien. Leef jy goed, kry jy seëninge. Leef jy sleg, tref die teenspoed jou.
Hierdie hoofstuk is ’n keerpunt in Dawid se lewe. Hy moes vlug, anders sou Saul hom doodgemaak het. Niks sou hierná weer dieselfde wees nie. Dawid en Mikal se huwelik was vir alle praktiese doeleindes verby, want hy kon nie na haar terugkeer nie, en Saul het haar met ’n ander man laat trou.
Dit gebeur ondanks die feit dat Dawid sy beste vir Saul gee. ’n Mens kan nie uit wat met jou gebeur, aflei dat die Here met jou tevrede is, of ontevrede is nie.
Dawid word onskuldig uit die land gejaag, maar hy verdwyn nie van die radar nie, want God is by hom (Ps 23:4). Eers gebruik Hy Saul se eie kinders, Jonatan en Mikal, om Dawid te red, en later sy getroue profeet Samuel.
God waarborg nie ’n rustige lewe vir sy kinders nie, maar Hy waarborg sy teenwoordigheid. Daarom kan ons tot rus kom in Hom.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 18

Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. (vers 15)

Jaloesie begin waar jy meer begaan is oor jou reputasie as oor jou plig of roeping. Dit beduiwel jou gesonde oordeel en stroop jou van innerlike vreugde en vrede.
Die tragedie van jaloesie is dat dit meestal iemand is wat self baie het, wat in hierdie strik trap. Saul was die koning. Hy was aansienlik van gestalte en stewig op sy troon. Maar hy gun dit nie vir Dawid dat die son oor hom ook skyn nie.
Dawid het nie probeer om Saul te onttroon nie, maar Saul kon dit nie sien nie. Hy het ook nie verstaan dat dit sy eie skuld is dat sy beeld onder die volk getaan het nie. Hy het hom al meer teruggetrek, en uit sy optrede in die geveg met Goliat is dit duidelik dat hy nie ’n inspirerende leier was nie. Maar in plaas daarvan om die fout by homself te soek, fokus hy op Dawid en word hy obsessief oor sy wraakplanne.
Paulus skryf in Gal 5:20-21 dat iemand wat hom skuldig maak aan jaloesie, nie die koninkryk van God sal beërwe nie. So laat ons hierteen waak. Dis ’n ernstige saak!




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 17

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.” (vers 45)

Die geveg tussen Goliat en Dawid begin waar Dawid in verontwaardiging reageer oor die situasie waarin hulle is. Wat hom betref, is dit nie maar net ’n uitdaging van ’n Filistynse baasvegter aan die Israeliete nie. Goliat het die lewende God beledig (vers 26). Dit was nie net ’n geveg tussen twee soldate nie, maar deel van ’n magstryd tussen die Filistynse gode en die God van Israel.
Dáárom sien Dawid kans om te gaan veg, want hy gaan om die eer van God te verdedig. Sy wapens is nie belangrik nie. Die Naam van die Here is belangrik (vers 45). Uiteindelik behoort die oorwinning ook nie aan Dawid nie, maar aan die Here.
Waar is die grote Saul wat kop en skouers bo sy volksgenote uitstaan? Hoekom aanvaar hý nie die uitdaging nie? Seker oor dieselfde rede as hoekom óns nie in beweging kom as die eer van God op die spel is nie. Ons bly maar stil, of kyk anderpad.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 16

Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. (vers 7)

Samuel maak dieselfde fout as wat ons dikwels doen. Ons beoordeel mense op uiterlike dinge: voorkoms, status, rykdom, invloed … In die fliek “Fiddler on the roof” sing Tevye: “If I were a rich man … When you’re rich, they think you really know!” Dis hoe mense nog altyd was. Wat jy het, tel meer as wie jy is.
God is nie so nie. Hy voel Hom dikwels tuis by die nederiges, die geringes, die eenvoudiges, die armes. Daarom word Jesus groot in ’n eenvoudige huis in Nasaret, ver weg van die vernames en rykes en invloedrykes van sy dag. Jesus het gesê (Luk 6:20): “Geseënd is julle wat arm is …” en erken dat Hy nie eers ’n plek het wat Hy sy eie kan noem nie (Luk 9:58). ’n Geleende donkie was vir Hom goed genoeg toe Hy Jerusalem inkom vir sy laaste Paasfees (Luk 19:28-40).
Die man na God se hart (1 Sam 13:14) was nie so imposant soos Saul nie. Sy pa Isai was ook nie skatryk soos Kis nie. Maar Dawid se hart was op die regte plek. Hy het die Here liefgehad.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 15

Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. (vers 15)

Saul se reaksie toe Samuel hom konfronteer, laat my aan twee gebeurtenisse dink. Die eerste is Aäron se reaksie toe Moses hom oor die goue kalf gekonfronteer het – hy het dadelik die skuld op die volk gepak. “U weet self hoe sleg die volk is,” verskoon hy homself (Eks 32:22). Die ander voorval is toe die profeet Natan vir Dawid gaan spreek het oor sy owerspel met Batseba en sy moord op Urija. Dawid se reaksie (2 Sam 12:13) was: “Ek het gesondig teen die Here.”
Dit gebeur met ons almal dat ons een of ander tyd droogmaak en sondig (Rom 3:23). Dit is deel van ons gevalle menslike natuur. Hoe ons reageer wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word, wys wat in ons steek. Saul se lamsakkige verskoning beïndruk ongelukkig nie.
Samuel se uitspraak (vers 22-23) laat ’n mens diep nadink. Gehoorsaamheid aan die Here se woord kom voor alles. Weerspannigheid en eiesinnigheid noem hy in een asem met waarsêery en afgodery.
Daarom bid Jesus presies dit vir ons – toegewydheid aan God se woord (Joh 17:17).




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 14

Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.” (vers 6)

Die kontras tussen Saul en sy seun Jonatan is onmiskykbaar. Saul is besluiteloos en neem nie leiding nie, terwyl Jonatan met geloof en waagmoed die inisiatief neem. Saul tree paniekerig op en neem dom besluite om God met sy eed te dwing om hulle te help, terwyl Jonatan (soos Gideon voor hom) die oormag takel.
Dawid eggo Jonatan se woorde in Ps 18:30: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Dis immers Hy wat met vyf garsbrode en twee vissies ’n skare mense kan voed (Joh 6:9).
Jonatan het dit geglo en daarvolgens gehandel. Hy het nie soos sy pa onder ’n granaatboom gesit en wag dat iets gebeur nie (vers 2). Daarmee daag hy jou en my uit om ons geloof in dade om te sit. Uiteindelik hang die resultaat nie van ons en ons vermoëns en middele af nie, maar van God. Hy kan red, deur baie of deur min (vers 6).
Ons glo dit almal, maar tree ons so op?