Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 6

Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. (1 Tim 6:12 AFR2020)

Een van die misverstande oor Christen-wees is dat, omdat Christus klaar alles gedoen het dat ons verlos kan word, onsself niks hoef te doen nie. Daarom is daar, helaas, te veel Christene wat nie saam stry vir die Koninkryk nie, wat as ’t ware op die soustrein hemel toe ry.
Ek sê dit is ’n misverstand. In die gelykenis van die goue muntstukke sê die eienaar vir die slaaf wat die een muntstuk weggesteek het, hy is ’n lui en slegte slaaf (Matt 25:26). Jesus praat van die geloofspad as een van kruis opneem en Hom volg (Matt 16:24,25). Hy het ook gewaarsku dat iemand wat Hom volg, nie soos een kan wees wat sy hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk nie (Luk 9:62).
Bonhoeffer het tereg gesê dat genade sonder navolging van Christus goedkoop genade is. Genade is egter nie goedkoop nie. Dit is baie duur; dit het Christus sy lewe gekos. Daarom praat Paulus van die geloofspad as ’n stryd, en dat ons die ewige lewe moet aangryp (vers 12). Navolging kos jou.

Naskrif: Môre begin ons met die brief aan die Hebreërs.




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 5

’n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid. (1 Tim 5:1-2)

Paulus lê in hierdie hoofstuk baie klem op respek teenoor ander; daarom moet jy ouer mense met liefde reghelp as dit nodig is, en jonger mense soos jou gelykes. Die hele samelewing is op hierdie verwagting gebou. Dit is natuurlik in navolging van die Vyfde Gebod (Eks 20:12). Hierdie basiese ordentlikheid is ongelukkig nie meer deel van die lewe nie. ’n Mens lees gereeld dat skoolkinders die onderwysers viktimiseer of selfs fisiek aanval.
Dit gebeur ongelukkig ook in die kerk, waar jonger leraars hulle wil op ander afdwing. Die ouer predikant word ongelukkig te dikwels uit die gemeente uitgewerk as die jong predikant nie met hom of haar tevrede is nie. Dit veroorsaak baie skade in die gemeente. Daarom dat Paulus ’n spesiale woord vir Timoteus het oor hoe gemeenteleiers hanteer moet word (vers 17-19). Die kerk kan baie hartseer gespaar word as ons almal Paulus se raad aan Timoteus ter harte neem en uitleef.
Bid tog vir die leiers in jou gemeente!




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 4

Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. (1 Tim 4:1)

Dit is deesdae toenemend moeilik om te weet wat is reg en wat verkeerd is. Daar was ’n tyd toe ons almal presies geweet het wat is sonde en wat nie. Ons het reëls gehad oor dans en dobbel en Sondagsheiliging; ons het geweet dat apartheid reg is en gays verkeerd, en dat growwe taal nie pas by gelowiges nie. Ons het presies geweet, en die kerk het dit baie netjies vir ons uitgespel. Vandag is ons glad nie meer so seker oor baie dinge nie.
In Timoteus se tyd was dit ook so, want daar was dwaalleraars wat die gemeentelede verwar het met die soort goed wat hulle verkondig (vers 1-5).
Wat is die kerk se taak in sulke tye waarin daar talle stemme opgaan, vreemde stemme wat mense kan verwar? Ons moet goed op ons lewe en ons leer fokus en daarin volhard, is Paulus se raad. Só sal ons onsself in hierdie verwarrende wêreld red, én die wat na ons luister (vers 16).




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 3

Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar. (1 Tim 3:11)

In verse 1 tot 8 is Paulus besig om te sê watter eienskappe die leiers van die gemeente moet hê. Dit gaan nie vir hom oor status of stand nie; dit gaan om karaktertrekke. Leiers hoef nie uit die rykes of die slimmes gekies te word nie. Hulle moet van goeie karakter wees (vers 1, 8 en 11). Eintlik geld dit alle lidmate van die gemeente.
Dis natuurlik nie waar ons almal as gelowiges begin nie. Onlangse gelowiges (vers 6) kan dalk sukkel, waarsku hy. As God jou kies om aan Hom te behoort, vat Hy jou net soos jy is, maar Hy los jou natuurlik nie soos jy is nie. Hy werk aan jou karakter, daagliks deur sy Gees, om al hoe meer soos Christus te word (2 Kor 3:18).
Interessant dat hy, wanneer hy oor leiers praat, ook spesifiek vroue noem (vers 11). Waarskynlik was vroue al in Paulus se tyd deel van die leierskap in die gemeente. Vroue is immers nie tweedeklas gelowiges nie. En hulle moet, net soos die (ander?) diakens, onkreukbaar wees (vgl vers 8).




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 1

Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit op die regte manier gebruik. (1 Tim 1:8)

Paulus praat hier van die regte manier van die wet gebruik. Wat is dan die verkeerde manier? Dis om die wet te sien as ’n stel reëls wat jou inperk en as ’t ware jou pret in die lewe bederf: jy mag nie dít nie, jy mag nie dát nie. Alles is verbode, en jy voel ingehok deur die wet. Paulus skryf in Kol 2:20-23 dat ons saam met Christus gesterf het en dus dood is vir hierdie soort wettiese godsdiens.
Dís nie hoe God se wet bedoel is om te werk nie, as ’n tiran wat alle vreugde uit die lewe weer nie. God se wet is daar, juis sodat ons met vreugde kan leef, omdat dit ons beskerm teen ’n lewenswyse wat ons kwaad kan aandoen (vers 9,10). Die wet is nie soos drade wat ons inperk nie. Dis eerder kantlyne wat vir ons aandui waar ons met oorgawe kan leef en die spel van die lewe voluit kan geniet. Daarom noem Jakobus die wet “die volmaakte wet wat ’n mens vry maak” sodat ons gelukkig kan leef (Jak 1:25).




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief: