Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 6

Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. (vers 10, 2020-vertaling)

Dis merkwaardig hoe dikwels die Bybel waarsku oor die najaag van rykdom. Jesus het al gesê ons kan nie God én Mammon (dws geld of besittings) dien nie. Nie dat rykdom op sigself verkeerd is nie. Ons lees in die Bybel van talle ryk gelowiges. Dis net dat dit sterk bene verg om rykdom te dra. Daarom Paulus se waarskuwing. Dié wat wil ryk word, val in versoekinig (vers 9). Die gevaar van hooghartigheid is wesenlik; so ook die wegskuif van jou vertroue op God na jou vertroue op jou eie skatte (vers17).
Daar is mense wat uit godsdiens geld maak (vers 5); vandag steeds – kerkleiers en tele-evangeliste wat nie skroom om hulle mense te melk vir meer nie, sodat hulle in weelde kan leef van die bydraes wat vir die saak van die Here bedoel is.
Paulus pleit vir ’n lewe van vergenoegdheid (vers 8), van tevrede wees met wat jy het (vers 6). Sy raad aan Timoteus is om weg te vlug van ’n sieklike sug na rykdom en eerder te streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding en minsaamheid (vers 11). Dít is die hemelse skatte wat ons bymekaar moet maak (Matt 6:19-21).

Naskrif: Môre begin ons met die boek Klaagliedere.




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 5

Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. (vers 3)

Die rede hoekom Paulus ’n relatief groot deel van sy brief aan die kwessie van weduwees afstaan, is tweërlei. Eerstens was die versorging van weduwees altyd ’n belangrike saak vir God se mense. Daar is in die Ou Testament verskillende wette wat die posisie van die weduwee beskerm teen uitbuiting (Deut 10:18; 24:17; Jes 1:17); God is immers self die regter van die weduwee (Ps. 68:6). Andersyds was daar destyds baie weduwees in die samelewing omdat vrouens meestal heelwat jonger as hulle eggenote was, en ook omdat die onstuimige en onveilige tye (oorloë, reise ens) dikwels mans ontydig laat sterf het.
Paulus gee hier heelwat raad oor hoe dié weduwees gehelp moet word, en wanneer. Twee sake staan vir my uit: Dié wat gehelp word, moet regtig op die kerk se hulp aangewese wees (vers 3). Die kerk se bronne moet verantwoordelik aangewend word en mag nie misbruik word nie. Te dikwels versaak kinders hulle plig teenoor hulle bejaarde ouers (Eks 20:12) sodat die kerk moet ingryp!
Tweedens beteken dit nie dat ontvangers van alimentasie tot bedelaars gedegradeer mag word nie. Hulle kan steeds ’n rol speel in die gemeente, vandaar die lys van dienende weduwees (vers 9).




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 4

Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. (vers 7)

Wat is die kerk se taak in tye waarin daar stemme opgaan wat mense kan verwar?
Paulus se raad aan Timoteus kan ons help. In ’n neutedop: fokus op die Here en op jou eie lewe voor Hom, nie op ander en hulle verkeerde standpunte nie.
Hy sê ons moet op ons hoede wees vir dwaalleer (vers 1-5) en wegbly van ’n gestryery met andersdenkendes (vers 7). Dit verg geloofsonderskeiding en toewyding aan God (vers 7). In plaas daarvan om ander te wil reghelp, kyk liewer na jouself, soos die Here Jesus ons geleer het (Matt 7:5). Moenie so besig wees met ander se verkeerde sienings dat jy jou eie geestelike lewe afskeep nie. Verder: wees vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid (vers 12). Eers dan sal ander hulle aan ons steur (vers 16).
Om Christen te wees in ’n tyd waarin daar nie glashelder antwoorde op al ons vrae is nie, is uitdagend. Dit vra dat ons self agter Jesus sal aanloop; dat ons in beskeidenheid en met integriteit die liefde van Christus sal uitleef (vers 16).




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 3

Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. (vers 15)

Dis merkwaardig hoe Paulus oor die gemeente praat. Niks minder nie as die huisgesin van die lewende God! ’n Mens kry soms die indruk dat die gemeente vir baie mense net maar nóg ’n klub is naas die ACVV of die VLV. Nee, sê Paulus. Die gemeente is van ’n ander orde. Dit is die lewende God s’n. En boonop met ’n baie hoë roeping – draer en beskermer van die waarheid!
Dis nie die ouderlinge en diakens wat die draers en beskermers van die waarheid is nie. Die gemeente het hierdie belangrike taak. Dit is: elke enkele lidmaat speel ’n rol in die kerk se getuienis in die wêreld. Niemand kan agteroor sit en dink ander mense het die verantwoordelikheid gekry nie.
Die waarheid wat aan die gemeente se sorg en beskerming toevertrou is, is nie ’n wollerige vaagheid nie. Die waarheid is die evangelie van Jesus Christus (vers 16; vgl Joh 14:6). Ons moet Jesus-mense wees.




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 2

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense … sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. (vers 1-2)

Paulus se riglyne in hoofstuk 2 en 3 gaan alles daaroor dat lidmate só moet leef dat die gemeente rustig en stil kan wees en hulle aan God kan toewy. Só gaan daar ’n getuienis uit na buitestaanders, sodat alle mense gered kan word (vers 3).
Die (vir ons vreemde) riglyne oor hoe vrouens moet optree (vers 9-15), moet in die lig hiervan verstaan word. Ons moenie wat hier staan, lees as iets wat vir alle vroue en alle tye geld nie. As ons vandag in die kerk die voorskrifte toepas wat Paulus hier vir die vroue in Efese gee, sal dit kontraproduktief wees. Dit sal juis nie tot ’n rustige en stil lewe bydra (soos Paulus se oogmerk met sy reëlings was) nie.
Dit gaan daaroor dat ons só moet lewe dat die wonder van ’n herstelde verhouding met God in ons optrede sigbaar word (vers 5-6). Ter wille van ons getuienis moet ons daarom soms offers bring en afstand doen van ons regte.




Hoofstuk van die dag: 1 Timoteus 1

Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. (vers 3)

Partykeer voel ’n mens as gelowige lus om jou hande in die lug te gooi, jou goed te vat en te loop. Dis wanneer die druk vir jou te veel word. Kerkmense stry onder mekaar (en met ongelowiges!) oor goed wat nie geloof in God bevorder nie (vers 4). Dit verwar eerder mense en wek nie liefde nie (vers 5).
Timoteus het dit moeilik in Efese gehad, juis omdat dwaalleraars soos Himeneus en Aleksander in die gemeente werksaam was (vers 20: vgl 2 Tim 2:17-18). Boonop was hy nog jonk en het hy nie opgewasse gevoel vir sy taak nie (1 Tim 4:12). Sy menslike reaksie was om te vlug. Paulus dring egter by hom aan om in Efese te bly en met sy werk voort te gaan. Deur op jou pos te bly is immers hoe ’n mens die versoekings en die listige aanslae van die Bose kan weerstaan, soos Paulus in sy brief aan die einste Efesiërs geskryf het (Ef 6:10-17).
Vasbyt in die geloof. Dís ons roeping.